Unesco

Unesco is die Engelse afkorting vir United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies), 'n spesiale organisasie van die Verenigde Nasies wat in 1945 gestig is en sy hoofkwartier in die Franse hoofstad Parys het. Tans het 192 lande as lede en 'n verdere ses as geassosieerde lede by Unesco aangesluit, waaronder ook Suid-Afrika, een van die twintig stigterslede.

Unesco is onderverdeel in 'n Algemene Konferensie van alle lidlande wat elke twee jaar vergader en 'n Uitvoerende Raad met 58 lede (wat deur die Algemene Konferensie verkies word), terwyl die Sekretariaat-Generaal Unesco se bedrywighede bestuur. Die laasgenoemde word deur die Sekretaris-Generaal bestuur wat vir 'n ampstermyn van vier jaar verkies word. Die huidige Sekretaris-Generaal is Koïchiro Matsuura (Japan) wat hierdie amp reeds sedert 15 November 1999 beklee.

Unesco is veral werksaam op die gebied van die onderwys, sosiale wetenskappe, natuurwetenskappe, die internasionale kulturele samewerking en die inligtingsbedryf (wat onder meer die pers, uitsaaidienste, televisie en filmkuns asook moderne kommunikasietegnologie insluit). Unesco bevorder ook geletterdheid in ontwikkelende lande en bewaar die wêreldkultuurerfenis. Die lys van wêrelderfenisgebiede word deur Unesco saamgestel.

Flag of UNESCO
Die vlag van Unesco
UNESCO member states
Lidlande van Unesco

Doelstellings

Unesco beywer hom veral vir die reg op 'n basiese opleiding vir almal en loods gesondheids- en higiëneprogramme. Die bestryding van vigs en dwelmsug en die heropbou van die onderwysstelsel in gebiede, wat deur natuurrampe getref of deur burgeroorloë verwoes is, vorm tans 'n belangrike bestanddeel van Unesco se internasionale bedrywighede.

Aktiwiteite op wetenskaplike gebied sluit die bevordering van die internasionale samewerking ten opsigte van die oseanografie, hidrologie, geologie en omgewingswetenskappe in. Die bewaring van biologiese spesies en die beskerming van waterhulpbronne staan bo-op die lys van Unesco se doelstellings in hierdie verband.

Unesco doen ook navorsing oor die toepassing van moderne wetenskappe en die gevare wat dit inhou. Die afdeling Kommunikasie en inligting ondersoek probleme in verband met die opkoms van 'n wêreldwye inligtings- en kennismaatskappy. Persvryheid en toegang tot belangrike inligting geniet besondere aandag, en Unesco verskaf 'n verskeidenheid dienste aan ontwikkelende lande soos die opleiding van joernaliste en die opbou van nuusdienste en radiostasies.

Die bewaring van die kulturele erfenis van die mensdom word deur 'n onderafdeling van Unesco bevorder, die World Heritage Committee (die "Wêrelderfenis-komitee").

Unesco is tans besig om 'n ooreenkoms vir die bewaring van die kulturele diversiteit uit te werk en koördineer ook aktiwiteite in verband met die Verenige Nasies se Wêrelddekade van Onderwys vir Volhoubare Ontwikkeling (2005-2014).

Personeel en begroting

Unesco het sowat 2 100 medewerkers uit 170 lande in diens (van wie 700 in die organisasie se 53 streekkantore wêreldwyd). Die begroting vir die boekjaar 2008/2009 is VSA-$ 648 miljoen en word deur die lidlande (onder meer Japan met 'n aandeel van 25, Duitsland 13,34 en Frankryk 8,86 persent) asook vrywillige bydraes gefinansier.

Die twintig stigterslede

Bronliteratuur

  • Der Fischer Weltalmanach 2008. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2007, bl. 597

Eksterne skakels

Verenigde Nasies: Gespesialiseerde Organisasies Vlag van die VN
IAEA | ICAO | IFAD | ILO | IMO | ITU | FAO | UNESCO | UNICEF | UNIDO | Wêreldposunie | Wêreldbank | WGO | WIPO | WMO
Asmara

Asmara (Arabies: أسمرة, Tigrinya: ኣስመራ, voorheen Asmera) is die hoofstad en grootste stad van Eritrea met 'n bevolking van 804 000 in 2017 en 'n oppervlakte van 45 km². Die stad is in die sentrum van Eritrea in die Groot Skeurvallei geleë. Asmara is bekend vir sy goed bewaarde koloniale Italiaanse Mondernistiese argitektuur. Die Mondernistiese stad van Asmara is in 2017 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Bakoe

Bakoe (Azerbeidjans: Bakı [bɑˈcɯ]) is die hoofstad en grootste stad van Azerbeidjan. Die stad is in die ooste van die land aan die Kaspiese See geleë.

Met 'n oppervlakte van 2 130 km² en 'n bevolking van meer as twee miljoen in 2011 is Bakoe die grootste stad in Azerbeidjan en die hele Kaukasus-streek. Met 'n verskeidenheid universiteite en ander tersiêre onderwysinstellings, navorsingsinstitute, teaters en museums fungeer die stad as die opvoedkundige en kulturele sentrum van Azerbeidjan.

Vanweë sy ligging langs 'n aantal beduidende handelspaaie het Bakoe al vroeg in sy geskiedenis 'n beduidende rol in die Kaukasus-streek gespeel. Sy ryk kulturele erfenis van paleise, moskees en vestings in die geskiedkundige ou stad het grotendeels bewaar gebly en in 2000 die status van Unesco-wêrelderfenisgebied gekry.

Danksy sy ligging te midde van 'n belangrike olieveld vorm Bakoe die middelpunt van Azerbeidjan se pyplynstelsel en beskik daarnaas oor 'n beduidende seehawe vir die uitvoer van ru-olie.

Sedert 2016 is Bakoe die tuiste van die Formule Een Azerbaijan Grand Prix wat op 19 Junie 2016 deur Nico Rosberg en 25 Junie 2017 deur Daniel Ricciardo onderskeidelik gewen is.

Bern

Bern (Frans: Berne, Italiaans en Retoromaans: Berna, Bernse Duits: Bärn) is die federale hoofstad (regeringsetel‎) van Switserland en die administratiewe sentrum van die kanton Bern. Met 'n bevolking van 137 597 is Bern die vierde grootste stad in Switserland na Zürich, Genève en Basel.

Die stad is in 1191 deur die Zähringen-dinastie gestig en het in 1218 die status van Vrye Ryksstad binne die Heilige Romeinse Ryk gekry. In 1353 het Bern as die agste stad tot die Switserse Konfederasie toegetree.

Ná die groot brandramp van die jaar 1405 is die historiese stadskern volgens die Renaissance-styl in sandsteen heropgebou. Die stadsentrum het met sy kenmerkende arkades het grotendeels in die oorspronklike vorm bewaar gebly en is in 1983 deur UNESCO tot wêrelderfenisgebied verklaar. Bern word as een van die indrukwekkendste voorbeelde van Middeleeuse stadsargitektuur in Europa beskou.

Gedurende sy bloeitydperk in die 16de en 17de eeu het Bern tot die grootste stadstaat noord van die Alpe ontwikkel. In 1848 is Bern as die setel van die federale owerhede van Switserland gekies. In die volgende jaar het Bern ook die hoofkwartier van die staatsbeheerde PTT geword.

In 1874 is die Wêreldposunie in Bern gestig.

Drakensberge

Die Drakensberge, wat oor 'n afstand van byna 1 000 kilometer van die Kaapse Stormberge deur die Vrystaat en KwaZulu-Natal tot by die Wolkberg in Limpopo strek, is die grootste bergreeks in Suider-Afrika.

Die Drakensberge skei die hoogplato van die Suid-Afrikaanse binneland van die laerliggende kusgebiede in die ooste van die land en is die grootste waterskeiding. Die Oranje- en Tugelarivier, twee van Suid-Afrika se grootste riviere, het hulle oorsprong by die Mont-aux-Sources (Frans: "Berg by die bronne").

Sneeuval kom gereeld voor in die winter, terwyl mis en reën die hele jaar kan voorkom.

Die Koninklike Natalse Nasionale Park is een van die mees bekende in Suid-Afrika. Naas die oorsprong van die Tugelarivier en die tweede hoogste waterval ter wêreld, die Tugelawaterval (912 meter), spog die park met meer as 170 voëlspesies, waaronder die bedreigde lammervanger. Die sentrale gedeelte van die bergreeks beskik oor 'n groot aantal voetslaanpaaie, wat ook toegang bied tot die rotskuns van die Boesmans.

Die uKhahlamba of Nasionale Drakensbergpark in KwaZulu-Natal is deur Unesco in 2000 as wêrelderfenisgebied gelys.

Florence

Florence (Italiaans: Firenze) is 'n stad in Italië, die hoofstad van die streek Toskane, en die provinsie Florence. Die stad het omtrent 382 000 inwoners en is aan die Arno-rivier geleë. Dit is die bakermat van die renaissance en hiermee een van die bekendste kultuurstede in Europa. Die historiese sentrum van Florence is in 1982 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Ghana

Ghana, amptelik die Republiek Ghana (Engels: Republic of Ghana), is 'n land in Wes-Afrika. Dit het 'n oppervlakte van 238 535 en 'n bevolking van 27 miljoen in 2014 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Accra, geleë langs die suidkus aan die Golf van Guinee. 'n Ander belangrike stad is Kumasi, bekend as geboorteplek van Kofi Annan, die Verenigde Nasies se sewende sekretaris-generaal. Voor sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk op 6 Maart 1957 het Ghana as Goudkus (Gold Coast) bekend gestaan, genoem ná goud, Ghana se belangrikste handelsware. "Ghana" beteken "oorlogskoning" in die Soninke-taal en is afgelei van die Koninkryk van Ghana.

Ghana word begrens deur Ivoorkus in die weste, Burkina Faso in die noorde, Togo in die ooste asook die Golf van Guinee en die Atlantiese Oseaan in die suide. Die Voltarivier en sy drie groot sytakke Swart-Volta, Wit-Volta en Rooi-Volta dreineer die land. Die Voltarivier word deur die Akosombodam tot die Voltameer opgedam, die wêreld se grootste mensgemaakte meer volgens oppervlakte en Ghana se belangrikste energiebron.

Naby Ghana se mees suidelike punt is Groß-Friedrichsburg, die eerste Duitse kolonie in Afrika en sedert 1979 'n Unesco-wêrelderfenisgebied, geleë. Dit is in 1683 deur generaal von Groeben uit Brandenburg gestig en in 1717 aan Nederland verkoop.

Havana

Havana (Spaans: La Habana) is die hoofstad van Kuba. Die stad is op 25 Augustus 1515 deur die Spanjaarde onder Diego Velázquez de Cuéllar as Villa de San Cristóbal de La Habana gestig en op 16 November 1519 tot die huidige plek geskuif. Koning Filips II van Spanje het op 20 Desember 1592 stadstatus aan Havana verleen. Tydens die Spaanse koloniale bewind was Havana die belangrikste hawestad in die Amerikas.

Met 'n bevolking van 2 135 498 is Havana die grootste stad van Kuba asook van Wes-Indië. Die stad is in die noordoostee van die eiland aan die kus van die Golf van Meksiko net 150 kilometer suid van Florida geleë. Die oustad La Habana Vieja en die Spaanse vesting is in 1982 deur UNESCO as 'n wêrelderfenisgebied gelys.

Jerusalem

Jerusalem (Hebreeus: ירושלים Jeroesjalajim, ; Oud-Grieks: Ἱεροσόλυμα; Latyn: Hierosolyma; Arabies: القدس, al-Quds (asch-Scharif), , letterlik: „die Heilige“ of amptelik: أورشليم القدس, Urshalim-al-Quds; Turks: Kudüs) is die hoofstad en grootste nedersetting van Israel met 'n bevolking van 933 113. Die stad lê tussen die Middellandse See in die weste en die Dooie See in die ooste. Jerusalem is die Heilige stad van die drie Abrahamitiese gelowe Judaïsme, Christendom en Islam. Jerusalem is saam met Hebron, Safed en Tiberias een van die vier heilige stede binne Judaïsme. In Islam is Jerusalem die derde heiligste stad net na Mekka en Medina.

In die ou stad lê die Klaagmuur, die Grafkerk en die Rotskoepel. Oos-Jerusalem is onderdeel in 'n Joodse, 'n Christen-, 'n Moslem- en 'n Armeense kwartier. Oos-Jerusalem word deur Palestyne opgeëis as hoofstad van 'n toekomstige Staat Palestina, 'n belangrike element in die Israel-Palestina-konflik. Israel verwys egter met reg daarop dat sy burgers, ongeag hulle geloofsoortuigings, tussen 1948 en 1967 deur die destydse Jordaanse owerheid toegang tot Oos-Jerusalem geweier is.

Een van Israel se Fundamentele Wette, die Jerusalem-wet van 1980, verwys na Jerusalem as die land se onverdeelde hoofstad. Alle regeringsliggame van Israel is hier gesetel, insluitende die parlement (Knesset), die ampswonings van die eerste minister (Beit Aghion) en die staatspresident (Beit HaNassi) en die Hooggeregshof. Die de facto-status van Jerusalem as hoofstad van Israel is weerspieël deur die feit dat die Verenigde State hul ambassade in 2018 hierheen verskuif het – in ooreenstemming met die Amerikaanse Kongres se Jerusalem Embassy Act van 1995. Ander state soos Guatemala en Paraguay het hierdie voorbeeld intussen gevolg.

Die historiese stadskern van Jerusalem word sedert 1981 deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys.

Kaïro

Kaïro (Arabies: القاهرة, al-Qāhirah, [ælˈqɑːheɾa], , letterlik: "die Sterke"; Kopties: ⲕⲁϣⲣⲱⲙⲓ, Kashromi) is die hoofstad van Egipte en die grootste stad in die Arabiese wêreld. Die Egiptenaars gebruik dikwels ook die Hoog-Arabiese landnaam مصر, vir hulle hoofstad (Egiptiese Arabies: Masr).

Met sy 9,7 miljoen inwoners in die stad en sowat 20,5 miljoen in die metropolitaanse gebied is Kaïro die grootste agglomerasie op die vasteland van Afrika. Dit is die vervoersentrum van Egipte en beskik oor 'n groot aantal moskees, universiteite, teaters, museums en argitektoniese besienswaardighede. Die ou stadskern van Kaïro is 'n uitstekende voorbeeld van die Islamse boustyl en sedert die jaar 1979 'n wêrelderfenisgebied van die Unesco. Kaïro staan dan ook bekend as "die stad van duisende minarette". Die Groot Piramide en Dodeakker van Giza is net buite Kaïro in die voorstad Giza, oorkant die Nylrivier, geleë. 'n Ander belangrike voorstad is Shubra El-Kheima.

Macau

Macau of Macao (Chinees: 澳門 / 澳门 Àomén, Portugees: Macau; letterlik: "Baaihawe"), amptelik die Macau Spesiale Administratiewe Streek van die Volksrepubliek China (Portugees: Região Administrativa Especial de Macau da República Popular da China, Chinees: 中華人民共和國澳門特別行政區), is naas Hongkong een van twee spesiale administratiewe streke van die Volksrepubliek China. Macau is wes van die Pêrelrivierdelta en Hongkong aan die kus van die Suid-Chinese See geleë en grens in die noorde aan die Chinese provinsie Guangdong.

Macau was die eerste en die laaste Europese kolonie in China. Portugese handelaars het hulle reeds in die 16de eeu in Macau gevestig en die gebied begin administreer. In 1887 het die Chinese Mantsjoe-regering die Portugese heerskappy oor die gebied amptelik erken.

Macau het op 20 Desember 1999 weer onder Chinese soewereiniteit gekom, maar sal volgens 'n Portugees-Chinese ooreenkoms hierna nog vyftig jaar lank tot in 2049 'n selfregerende streek bly. Volgens die beginsel van "een land, twee stelsels" is die regering van die Volksrepubliek China verantwoordelik vir die verdediging en buitelandse betrekkinge van Macau, terwyl die streek sy eie regstelsel, polisiemag, monetêre stelsel, doeane- en immigrasiebeleid sal handhaaf. Macau word in internasionale organisasies en by internasionale gebeurtenisse deur sy eie afgevaardigdes verteenwoordig.

Die historiese stadskern van Macau is in 2005 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Nowgorod-oblast

Nowgorod-oblast (Russies: Новгоро́дская о́бласть, Nowgorodskaja oblast) is ’n oblast (deelgebied) van Rusland. Dit lê tussen Moskou en Sint Petersburg in die Noordwestelike Federale Distrik en die hoofstad is Weliki Nowgorod.

Van die oudste Russiese stede, soos Weliki Nowgorod en Staraja Roessa, is hier geleë. Die historiese monumente van Weliki Nowgorod en die omgewing is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Portugees

Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Portugese.

Portugees (português [puɾtuˈɣeʃ] of [poʁtuˈɡes]) is 'n plurisentriese Romaanse taal wat in Portugal, Brasilië, Angola, Guinee-Bissau, São Tomé en Príncipe, Oos-Timor, Mosambiek, op die Kaap Verde en in ander gebiede soos Goa en Malakka (Cristao) deur sowat 250 miljoen sprekers gepraat word. 'n Verdere twintig miljoen het Portugees as vreemde taal aangeleer. Dit is ook die taal van 'n minderheid in Macau, waar dit 'n amptelike taal is. In Galicië, 'n gebied in Spanje ten noorde van Portugal, word Galego (Galicies) gepraat; amptelik 'n ander taal, maar baie naby aan Portugees.

Suid-Afrika het ook 'n beduidende Portugese bevolking, bestaande uit kleiner groepe immigrante van die Portugese vasteland en die eiland Madeira, asook groter groepe Portugeessprekende blankes uit die voormalige kolonies Angola en Mosambiek wat hulle na die gebiede se onafhanklikwording in 1975 aan die Kaap hervestig het.

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, Unesco, het Portugees as die snelste groeiende taal in Europa (na Engels) beskryf, terwyl dit die potensiaal het om die snelste groeiende tweede of vreemde taal in Suider-Afrika en Suid-Amerika te word. Dit is 'n amptelike taal van die Europese Unie, die Afrika-unie, Mercosul, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en ander organisasies. 'n Twintigtal kreooltale het Portugees as basis.Danksy die groot Brasiliaanse bevolking van meer as 200 miljoen is Portugees is die mees gesproke taal in Suid-Amerika en die hele Suidelike Halfrond. Sy status word weerspieël deur die feit dat dit 'n verpligte skoolvak is in aangrensende Spaanssprekende lande soos Argentinië en Uruguay. Die taal word daarnaas op 'n vrywillige basis onderrig in Venezuela, die Republiek Kongo, Senegal, Zambië, Suid-Afrika en Namibië.

Brasiliaanse Portugees wyk effens af van die Portugees in die ander gebiede, nie alleen wat uitspraak en idioom betref nie, maar ook in spelling, as gevolg van 'n spellingshervorming (die Acordo Ortográfico uit 1990, gewysig in 1998). Dié was wél ooreengekom met Portugal en die ander Portugeestalige lande, en in 2009 geratifiseer met die gevolg dat die spelling van Portugees nou universeel is in al die Portugeessprekende lande. Brasiliaanse Portugees se uitspraak bly egter nog verskillend van dié van ander Portugeessprekende lande, alhoewel dit, weens die spellingshervorming, op skrif identies is.

Sentraal-Amerika

Sentraal-Amerika (Engels: Central America, Spaans: América Central, Centroamérica) word soms as die suidelikste deel van Noord-Amerika beskou en soms as 'n aparte gebied in sy eie reg; in elk geval vorm dit 'n landbrug tussen Noord- en Suid-Amerika. Dit streek vanaf Meksiko in die noordweste tot Colombia in die suidooste. Sentraal-Amerika word deur die Karibiese See in die noordooste en die Stille Oseaan in die suidweste begrens, albei seë word deur die Panamakanaal met mekaar verbind. In Nicaragua is die Nicaraguameer geleë, Sentraal-Amerika se grootste meer.

Sentraal-Amerika het oorspronklik deel uitgemaak van die Meso-Amerikaanse kultuurlandskap, met bekende Majastede soos Copán, Joya de Cerén, Quiriguá en Tikal; almal Unesco-wêrelderfenisgebiede. Sentraal-Amerika is, nadat Christophorus Columbus die Amerikas in 1492 vir Europa ontdek het, deur Spanje verower. Tussen 1519 en 1821 het dit deel uitgemaak van Nieu-Spanje, toe na die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog in 1821 die Eerste Meksikaanse Keiserryk gestig is, wat behalwe vir Belize (vanaf 1798 deel van die Britse Ryk) en Panama (deel van Groot-Colombia) ook oor die Sentraal-Amerikaanse lande gestrek het. Nadat die Meksikaanse Keiserryk in 1823 ontbind is, het die Sentraal-Amerikaanse lande hul onafhanklikheid van Meksiko verklaar en die Federale Republiek van Sentraal-Amerika gestig. As gevolg van 'n burgeroorlog het die Federale Republiek van Sentraal-Amerika in 1838 verbrokkel en Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras en Nicaragua het onafhanklike republieke geword. Tussen 1904 en 1914 is die Panamakanaal onder toesig van die Verenigde State gebou en verbind sedertdien die Atlantiese met die Stille Oseaan. Tussen 2007 en 2016 is die kanaal uitgebrei.

Lande wat in Sentraal-Amerika geleë is:

Belize

Costa Rica

El Salvador

Guatemala

Honduras

Nicaragua

Panama

Sentraal-Asië

Sentraal-Asië is 'n geografiese gebied in die middel van Asië. Dit strek van die Kaspiese See in die weste tot Sentraal-China in die ooste en van die suide van Rusland in die noorde tot die noorde van Afghanistan in die suide.

Sentraal-Asië sluit gewoonlik die vyf voormalige Sowjet-republieke Kasakstan, Kirgisië, Oesbekistan, Tadjikistan en Turkmenistan in. Soms word nog Afghanistan, Mongolië, Iran se noordooste, Pakistan se noorde, Kasjmir, Xinjiang en Tibet ingesluit. Hierdie definisie word byvoorbeeld deur Unesco gebruik.

Die westelike en sentrale gedeelte van Sentraal-Asië is hoofsaaklik deur Turkse volke bevolk en deur Islam gekenmerk. Hulle sluit in die Kasakke in die noorde, die Kirgisiërs in die suidooste, die Karakalpakke en Oesbeke in die suide, die Turkmene in die suidweste en soms die Oeigoere in die ooste. In die suidooste leef nog die Tadjike, 'n Islamitiese Irannese volk. Aan die noordelike grens tot Rusland leef nog Russe en Oekraïners. Minderhede sluit in Tartare en Duitsers. Belangrike tale sluit in Russies, die Turkse tale Oesbekies, Kasaks, Turkmeens, Kirgisies en Karakalpaks asook Tadjiks en soms nog Oeigoers.

Sentraal-Asië word geografies gekenmerk deur die riviere Amoedarja, Ili en Sirdarja asook die waterliggame Aralmeer en Balchasj-meer.

Sentraal-Asië was histories gekenmerk deur Nomadiese volke en die Syroete. Dit het as 'n kruispunt gedien vir die beweging van mense, goedere en idees tussen Europa, Wes-Asië, Suid-Asië, Oos-Asië en Noord-Asië. Die Syroete het Islamitiese lande met dié van Europa, Indië en China verbind.

Sint Petersburg

Sint Petersburg (Russies: Санкт-Петербург) is ’n federale stad van Rusland. Dis geleë in die Noordwestelike Federale Distrik aan die Newarivier oos van die Golf van Finland. Die stad se vorige name was Petrograd (Russies: Петроград) en Leningrad (Russies: Ленинград).

Sint Petersburg is op 27 Mei 1703 gestig deur Pieter die Grote van die Russiese Ryk en was langer as tweehonderd jaar (1712-1728, 1732-1918) die land se hoofstad. Dit is naas Moskou die grootste stad in Rusland en naas die Russiese hoofstad, Londen en Parys die grootste stad in Europa. Dis een van Europa se vernaamste wetenskap-, kultuur- en nywerheidsentrums en ’n belangrike hawe aan die Baltiese See.

Die "Venesië van die Noorde", soos Sint Petersburg vanweë sy talle kanale en meer as 400 brûe dikwels genoem word, was die resultaat van 'n grootskaalse stedelike bouprojek wat in 1703 onder tsaar Pieter die Grote begin is en slegs danksy die grootskaalse gebruik van dwangarbeiders - waaronder Russiese soldate, Sweedse en Ottomaanse krygsgevangenes - en Finse en Estniese werkers verwesenlik kon word. Hierdie mense het in minder as twintig jaar 'n stad voltooi wat, volgens die ontwerp van die Franse argitek Alexandre Leblond, 'n onherbergsame kusgebied in 'n eersterangse Europese metropool met paleise, kerke en kloosters asook tweeverdiepingwoonhuise omgeskep het.

Tsaar Pieter die Grote se visie was om vir Rusland, 'n uitgestrekte, maar agtergeblewe ryk 'n "venster na die weste" te open om sy land toeganklik te maak vir die ontwikkelde Europa se ambagte, kuns en beskawing. As timmerman in Amsterdam het hy self onder die indruk van 'n moderne stad gestaan wat as voorbeeld vir sy nuwe hoofstad sou dien - 'n metropool met seehawe, kanale en brûe.

Sint Petersburg se pragstraat, die Nefskij-prospekt met sy indrukwekkende Jugendstilfasades, die Russiese Museum en die Grand Hotel Europa, ding mee met Parys se Champs-Élysées en die Kurfürstendamm in Berlyn - en vir die digter Nikolai Gogol was hierdie laan die grootste aantreklikheid in Rusland se Oosseemetropool.

Sint Petersburg se argitektoniese erfenis verenig 'n verskeidenheid uiteenlopende boustyle soos barok-, rokoko- en suiwer neoklassieke boustyle met geboue soos die Admiraliteits-, Winter- en Marmerpaleis en die Hermitage. So is die historiese middestad tot Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.

Sint Petersburg was in die laat 19de en vroeë 20ste eeu, 'n dinamiese periode van ontwikkeling in die Russiese Ryk, die spilpunt van Russiese kapitalisme en globalisering, waar sosiale klasse gevorm en maatskaplike mobiliteit begin het, die bakermat van nuwe strominge in literatuur, argitektuur, musiek en skilderkuns, van Russiese massakultuur en van 'n lewendige burgerlike samelewing - prosesse wat van die stad omstreeks 1900 een van die sentra van Europese modernisme gemaak het en eers deur die Russiese Oktoberrewolusie in 1917, waarin die stad 'n sleutelrol gespeel het, skielik tot stilstand gedwing is.

Tunis

Tunis (Arabies: تونس Tūnis ) is die hoofstad en grootste stad van Tunisië. Die stad het 'n bevolking van 1 958 782 in 2011 gehad en het 'n oppervlakte van 212,63 km². Dit is in die noordooste van Tunisië aan die kus van die Middellandse See geleë. Die Medina van Tunis en die argeologiese terrein van Kartago is in 1979 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Vatikaanstad

Die Vatikaan of Vatikaanstaat, amptelik die Staat van die Vatikaanstad (Italiaans: Stato della Città del Vaticano, Latyn: Status Civitatis Vaticanæ), is 'n klein soewereine staat met 'n ingeslote gebied (enklawe) binne die stadsgebied van Rome, Italië as sy staatsgebied. Omdat dit regeer word deur die Biskop van Rome, die Pous, kan die regering daarvan beskryf word as ekklesiasties en die hoogste staatsampte word volgestaan deur kerklikes. Die Vatikaan is die laaste absolute (en elektiewe) monargie in Europa waar die pous as staatshoof volgens artikel 1 van die grondwet wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag het. Al is dit nooit toegepas nie, is die doodstraf eers in die 1960's afgeskaf.

Die moderne tuiste van die Pous is die kleinste onafhanklike nasie in die wêreld in terme van oppervlakte en bevolking wat in sy huidige vorm volgens die Verdrag van Laterane, wat op 11 Februarie 1929 met die Italiaanse regering gesluit (en op 18 Februarie 1984 hersien) is, geskep is. Die verdrag waarborg die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Heilige Stoel.

Die Vatikaanstad is die enigste staat ter wêreld met Latyn as ampstaal. Dit is die territoriale setel van die Heilige Stoel, die institutionele entiteit verteenwoordig deur die Pous, die Biskop van Rome, en daarom ook die hoof ekklesiale setel van die Rooms-Katolieke Kerk van beide die ooste en die weste. Die Vatikaanstad is in 1984 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Buite die Vatikaanstad het die pouslike somerresidensie in Castel Gandolfo met 60 hektaaar (sowat 25 km buite Rome geleë) en enkele kerke en paleise in Rome eksterritoriale status. Die laasgenoemdes dien as die ampsetels van dikasterieë (departemente) of ander strukture en liggame wat ondergeskik is aan die Romeinse Curie.

Waddensee

Die Waddensee (Nederlands: Waddenzee, Wes-Fries: Waadsee, Deens: Vadehavet, Duits: Wattenmeer) is 'n groot stelsel van getysand en moddervlaktes langs die Noordseekus van Denemarke, Duitsland en Nederland. Hierdie landskap is, met 'n oppervlakte van 9 000 km² en 'n maksimale wydte van 40 km, die grootste tussengetysone ter wêreld wat oor 'n afstand van 450 km van Blåvandshuk, Denemarke in die noordooste tot by Den Helder, Nederland in die suidweste strek. Die Waddensee is in 2009 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys en in 2014 is die beskermde gebied uitgebrei.

Wêrelderfenisgebied

'n Unesco-wêrelderfenisgebied is 'n spesifieke plek (soos 'n woud, bergreeks, meer, woestyn, gebou of stad) wat benoem is vir die internasionale wêrelderfenisprogram wat deur Unesco bedryf word.Die program poog om terreine van besondere belang, kultureel of natuurlik, te katalogiseer, genoem en bewaar vir die gemene erfenis van die mensdom. Plekke op die lys kan fondse vanuit die Wêrelderfenisfonds ontvang onder sekere omstandighede. Die program is gestig deur die Convention Concerning the Protection of World Cultural and Natural Heritage wat aangeneem is deur die Algemene Konferensie van Unesco op 16 November 1972. Sedertdien het 192 lande hierdie konvensie geratifiseer, wat dit een van die mees voldoende internasionale instrumente ter wêreld maak. Net Liechtenstein, Nauru, Somalië, Oos-Timor en Tuvalu is geen party van die konvensie nie.

Teen 2019 is altesaam 1 121 gebiede ingesluit in die lys, waarvan 869 kultureel, 213 natuurlik en 39 gemengde plekke in 167 Staatspartye is. Beide Italië en die Volksrepubliek China het tans met 55 die meeste wêrelderfenisgebiede, gevolg deur Spanje (48), Duitsland (46), Frankryk (45), Indië (38), Meksiko (35) en die Verenigde Koninkryk (31). Daar is tans tien wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.