Tanag

Die Tanag, soms ook Tenag (Hebreeus: תַּנַ״ךְ, [taˈnaχ] of [təˈnax]) of Mikra (מִקְרָא) genoem, is die belangrikste boek in Judaïsme, nog voor die Talmoed. Die Tanag bestaan uit die drie gedeeltes Tora ("onderwysing", "leerstelling", "ontwerp"), Newi'im ("Profete") en Ketoewim ("Skrifte"). TNK is die akroniem van dié dele se voorletters (תנ״ך). Die Tanag is 'n versameling van altesaam 24 Bybelse boeke in Hebreeus, waarvan twee (Daniël en Esra) langer Aramese teksgedeeltes behels. Die oorspronklike teks bestaan net uit medeklinkers. Vanaf die 8ste eeu het 'n groep Joodse skrifgeleerdes in Galilea, die Masorete, 'n stelsel van diakritiese skryftekens ontwikkel wat klinkers en beklemtoning aandui om sodoende die korrekte uitspraak vas te hou. Hierdie Masoretiese teks is gesaghebbend vir Rabbynse Judaïsme en vir Protestantse en Katolieke Bybelvertalings. In die sekondêre letterkunde word na die Tanag soms as "Joodse" of "Hebreeuse Bybel" verwys.

Die Christendom het al die boeke van die Tanag oorgeneem en in 'n ander volgorde as sy Ou Testament gekanoniseer (Bybelse kanon), byvoorbeeld word in die Protestantse Bybel dieselfde inhoud in 39 Bybelboeke verdeel.[1]

Moderne geleerdes wat die geskiedenis van die Hebreeuse Bybel navors, gebruik 'n verskeidenheid bronne, bykomend tot die Masoretiese teks.[2] Hierdie bronne sluit vroeë Griekse (Septuagint) en Siriese (Pesjitta) vertalings en die Samaritaanse Pentateug in. Verskille tussen dié bronne en die Masoretiese teks het aanleiding gegee tot die teorie dat nog 'n teks van die Hebreeuse Bybel, bekend as Urtext, eens bestaan het en die bron van die weergawes is wat vandag nog bestaan.[3] So 'n Urtext is nog nooit gevind nie. Met die ontdekking van die Dooie See-rolle in 1947 het egter Bybelse handskrifte beskikbaar geword wat uit die 2de eeu v.C. dateer. Dié handskrifte toon dat die Masoretiese teks 'n baie stiptelike weergawe is van die oudste bekende bronne.[4]

Entire Tanakh scroll set
Volledige stel van rolle, wat saam die Tanag vorm
LeningradCodex text
Fragment uit die Leningradse codex of Codex Leningradensis. Dit is die oudste nog bestaande volledige handskrif van die Tanag se Masoretiese teks en dateer uit die jaar 1008

Verwysings

  1. (de) Adolf M. Ritter: Zur Kanonbildung in der Alten Kirche, in: Charisma und Caritas. Aufsätze zur Alten Kirche, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen 1997, ISBN 3-525-58160-2, bl. 273 ff.
  2. (en) "Scholars seek Hebrew Bible's original text – but was there one?". Jewish Telegraphic Agency. Besoek op 3 April 2019.
  3. (en) Isaac Leo Seeligmann, Robert Hanhart, Hermann Spieckermann: The Septuagint Version of Isaiah and Cognate Studies, Tübingen 2004, bl. 33–34.
  4. (en) Shanks, Herschel (4 Augustus 1992). Understanding the Dead Sea Scrolls (1ste uitg.). Random House. p. 336. ISBN 978-0-679-41448-3.

Beskikbare weergawes

  • Biblia Hebraica Stuttgartensia, Handweergawe, ISBN 978-3-438-05218-6
  • Biblia Hebraica Quinta, word nog gepubliseer. Gedeeltelike aflewerings: sagteband; 1. Megilloth (Fasc. 18, 2004), ISBN 978-3-438-05278-0; 2. Ezra and Nehemiah (Fasc. 20, 2006), ISBN 978-3-438-05280-3; 3. Deuteronomy (Fasc. 5, 2007), ISBN 978-3-438-05265-0; 4. Proverbs (Fasc. 17, 2008), ISBN 978-3-438-05277-3; 5. The twelve minor Prophets (Fasc. 13, 2010), ISBN 978-3-438-05273-5; 6. Judges (Fasc. 7, 2011), ISBN 978-3-438-05267-4, 7. Genesis (Fasc. 1, 2015), ISBN 978-3-438-05261-2

Verdere leesstof

  • (de) Buber, Martin; Franz Rosenzweig (1961). Die Schrift Verdeutscht – mit Bildern von Marc Chagall. Gütersloh 2007: Gütersloher Verlagshaus. ISBN 978-3-579-06448-2.
  • (de) Boeckler, Annette M. (2000). Die Tora: Die fünf Bücher Mose nach der Übersetzung von Moses Mendelssohn (3 (30 Maart 2004) uitg.). Berlin: Jüdische Verlagsanstalt. ISBN 978-3-934658-10-3.
  • (de) Zenger, Erich (2004). Das Erste Testament. Die jüdische Bibel und die Christen. Düsseldorf: Patmos. ISBN 978-3-491-69416-3.

Eksterne skakels

Abraham

Abraham (Hebreeus: ‏אַבְרָהָם, Awraham; Arabies: إبرَاهِيم, Ibrahim) is 'n man wat in die Tanag van die Jode, in die Bybel van die Christene en in die Koran van die Moslems voorkom. In al die boeke word hy as die stamvader van die volk Israel, Arabiere en Christene gesien. Daarom word die Jodedom, die Christendom en die Islam ook Abrahamitiese gelowe genoem.

Abraham en sy vrou Sara was die ouers van Isaak. Hy het ook 'n seun genaamd Ismael by Hagar, Sara se slawin, gehad, asook ander kinders by Ketura, met wie hy na Sara se dood getroud was. Hy is ook die oupa van Jakob en Esau.

Abraham het sy kinderjare in die stad Ur van die Galdeërs deurgebring.

Chanoeka

Chanoeka (Hebreeus: חֲנֻכָּה‬, Tiberies: חנוכה, [χanuˈka], in Moderne Hebreeus, [ˈχanukə] of [ˈχanikə] in Jiddisj; letterlik: "inhuldiging", "inwyding"), ook bekend as Ligtefees, is 'n Joodse herdenking van agt dae wat aan die Chanoekawonder tydens die Tweede Tempel se herwyding in Jerusalem in 3597 (164 v.C.) herinner. Dit begin elke jaar op die vooraand van 25 Kislew in die Joodse kalender (November/Desember volgens die Gregoriaanse kalender). Die oudste verwysing na die fees is te vinde in die apokriewe boeke van die Makkabeërs en het nie soos die meeste Joodse feeste sy oorsprong in die Tanag nie.

Tydens Chanoeka word die kerse van 'n kandelaar, bekend as Chanoeka-menora (of Chanoekia), met agt arms een-een aangesteek. Een kers word tipies bo of onder die ander of eenkant geplaas en sy lig word gebruik om die ander agt kerse aan te steek. Hierdie unieke kers staan bekend as die sjamasj (שמש, "dienaar"). Elke aand word een bykomende kers met die sjamasj aangesteek totdat al agt kerse op die laaste aand van die fees saam brand. Ander Chanoeka-tradisies sluit in die speel met die dreidel (סביבון, sewiwón; vergelyk: tol) en die opdis van olie-gebaseerde kos soos latkes (לביבות, lewiwót; vergelyk: aartappelpannekoek of blini) en soefghanijót (סופגניות; vergelyk: bagel of pantsjkes). Sedert die 1970's organiseer die wêreldwye Chabad-Chasidiese beweging Chanoekavierings op openbare plekke in verskeie lande.Nes Poerim is Chanoeka een van die kleiner (na-Bybelse) Joodse feeste. Bedags is dit 'n gewone werkdag, maar vir die aand bestaan wel 'n paar bepalings hoe die kerse aangesteek moet word en hoe lank hulle moet brand. Die aangesteekte Chanoekia mag nie versteek brand nie en moet van buite af gesien kan word.

Genesis

Genesis (Grieks Γένεσις = ontstaan ; Hebreeus בראשית beres'jiet = in die begin ) is die eerste boek van die Joodse Tanag, die Samaritaanse Pentateug asook die Christelike Ou Testament (ook Hebreeuse Skrifte genoem). Dit is sodoende die eerste boek van die Bybelse kanon.

Die boek vertel van die begin van die heelal, die mens, die sonde en die volk Israel en eindig met die verblyf van Jakob se seuns in Egipte:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

Hebreeus

Hebreeus (עברית, Iwriet, [ʔivˈʁit], of [ʕivˈɾit] ) is 'n Semitiese taal wat deur baie Jode in Israel as moedertaal gebesig word. Hebreeus word in die Hebreeuse alfabet geskryf. Hebreeus is saam met Arabies die amptelike taal van Israel.

Hebreeus is die liturgiese taal van Judaïsme en byna elke Jood het ten minste 'n basiese kennis van Hebreeus en kan die Hebreeuse alfabet lees. Judaïsme se heilige skrifte die Tanag (die Ou Testament vir Christene, insluitende die Tora, die Pentateug vir Christene) en die Talmoed (bestaande uit Misjna en Ghemara) is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf.

Bybelse Hebreeus, kan minstens in Oud-Hebreeus, Middel-Hebreeus en Laat-Hebreeus onderverdeel word. Verdere ontwikkelinge van die Hebreeuse taal is Rabbynse Hebreeus, wat bekend is vir heelwat Aramaïsmes (Aramese leenwoorde), Middeleeuse Hebreeus en Moderne Hebreeus. Laasgenoemde het opgebloei met die opkoms van die moderne Staat Israel. Buite Israel word soms na Moderne Hebreeus as "Iwriet" (of "Ivrit") verwys, wat niks anders is nie as die Hebreeuse woord vir "Hebreeus".

JHWH

Die Hebreeuse letterkombinasie יהוה (jod-hé-waw-hé (JHWH, van regs na links gelees) is in die Tanag die Naam van God. Hierdie letterkombinasie word ook wel tetragrammaton (τετραγράμματον) genoem, dis Grieks vir 'vier letters'.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret (8–2 v.C. tot 29–36 n.C.), ook algemeen bekend as Jesus, is die sentrale figuur in die Christendom en is ook 'n belangrike figuur in verskeie ander gelowe. Daar word ook na hom verwys as Jesus Christus, waar "Christus" afkomstig is vanaf die Griekse Χριστός (Christós) wat "Gesalfde een" beteken en verwant is aan die Hebreeus-afgeleide "Messias". Die naam "Jesus" is afkomstig van die vernederlandse vorm van die Griekse Ίησους (Iesoûs), wat self 'n Hellenisering van die Hebreeus-Aramese ישוע (Jesjoea of Jesjoe) is, wat beteken "JHWH red".

Christelike sienings oor Jesus fokus op die geloof dat Jesus die Messias is wie se koms in die Ou Testament van die Bybel voorspel word en dat hy opgestaan het uit die dood. Die meeste Christene glo dat Jesus die verpersoonliking van God is en dat hy gekom het om verlossing en versoening met God te bied. Nie-trinitaristiese Christene erken verskeie ander interpretasies rakende Jesus se goddelikheid.

Jesus het self geen geskrewe werke nagelaat nie en die hoofbronne van inligting rakende Jesus se lewe en sy leerstellings is die vier kanonieke Evangelies van die Nuwe Testament: Matteus, Markus, Lukas en Johannes en 'n aantal apokriewe skrifte. Meeste geleerdes van geskiedenis van Bybelstudie stem saam dat Jesus 'n Galilese Jood was, dat hy as 'n leraar en 'n geneser beskou was, dat hy deur Johannes die Doper gedoop was en gekruisig was in Jerusalem onder die bevel van die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, na beskuldigings van opruiing teen die Romeinse Ryk. Baie min moderne geleerdes glo dat Jesus se bestaan bevraagteken kan word of 'n mite is, terwyl ander geleerdes op teenkanting teen hierdie bewerings fokus.In Islam word Jesus (oor die algemeen getranslitereer as Isa) as een van God se mees geliefde en belangrikste profete beskou, asook 'n bringer van heilige skrifte, 'n wonderwerker en die Messias. Moslems deel egter nie die Christelike geloof in die kruisiging of die goddelikheid van Jesus nie, maar glo dat Jesus se kruisiging 'n goddelike illusie was en dat hy liggaamlik in die hemel opgeneem is. Uit die Koran: 4:157: "en omdat hulle sê: Ons het die Messias, Jesus, die seun van Maria, die boodskapper van Allah, omgebring ~ en hulle het hom nie gedood nie, en ook nie tot die dood toe gekruisig nie, maar dit het vir hulle gelyk asof dit so is. En hulle wat hieroor verskil, twyfel voorwaar daaraan. Hulle het geen kennis daaromtrent nie, maar volg slegs ’n vermoede, en hulle het hom beslis nie doodgemaak nie." Die meeste Moslems glo ook dat hy na die aarde sal terugkeer saam met die Mahdi, wanneer die aarde met sonde en onreg gevul word met die koms van Islam se Antichris-agtige Dajjal.

Joodse kalender

Die Joodse kalender (Hebreeus: הלוח העברי, ha-loeag ha-iwri), ook Joodse jaartelling of Hebreeuse kalender genoem, is 'n maansonkalender, oftewel lunisolêre kalender, wat deur Jode gebruik word en begin met die jaar waarin glo – volgens die Bybelse berekening – die skepping van die wêreld (of die Anno Mundi) plaasgevind het. Volgens die Tanag het die skepping van die wêreld deur God in die jaar 3761 v.C. (Gregoriaanse kalender) in die maand Tisjrie (herfs) plaasgevind. Gevolglik begin die nuwe jaar op Rosj haSjana (hoof van die jaar), 'n belangrike tweedaagse periode van gebed en inkeer, wat in September of Oktober volgens die Gregoriaanse kalender plaasvind. Die Joodse jaar begin egter in die maand Nisan (lente), dié maand van verlossing, toe die Volk van Israel uit Egipte vertrek het. Tot vandag toe word die verlossing hoër geag as die skepping, dus word vir godsdienstige gebruik Nisan as die eerste maand in die Joodse kalender beskou, terwyl Tisjrie as sewende maand beskou word.

Die Joodse kalender beskik altesaam oor vier nuwejaarfeeste, waarvan Rosj haSjana die vernaamste is. Die drie ander nuwejaarfeeste is Toe biSjwat ("nuwejaar van bome"), Rosj haSjana LaBehemá ("nuwejaar van plaasdiere") en 1 Nisan vir die telling van die maande en bepaling van die groot feeste asook vir die berekening van die jare van 'n Joodse koning se regering. Die einde van die jaarlikse leessiklus van die Tora en die begin van 'n nuwe leessiklus in die sinagoge word op Simgat Tora gevier.

Die begin van maande in die Joodse kalender word altyd na die maan bereken. 'n Maanmaand duur 29,5 dae, 12 ure, 44 minute, en ongeveer 3 sekondes (29,5305941 dae) – dus het die Joodse maande afwisselend 29 of 30 dae. Aangesien daar 12 Joodse maande is, het 'n gewone Joodse jaar 354 dae, sowat 11 dae minder as die sonjaar. Hierdie probleem word opgelos deur – binne 'n wederkerende periode van 19 jaar – sewe keer 'n skrikkelmaand by te voeg, in die 3de, 6de, 8ste, 11de, 14de, 17de en 19de jaar. Hierdie skrikkelmaande het as 'n reël 30 dae waardeur die kalender na 19 jaar weer in pas met die sonkalender sal wees. Die naam van die skrikkelmaand is Adar alef (Adar 1), oftewel eerste Adar, en dit gaan die gewone maand Adar vooraf. Dié word in 'n skrikkeljaar Adar bet (Adar 2), oftewel tweede Adar, genoem. As gevolg van dié aanpassing is die Joodse kalender 'n maan- en sonkalender, terwyl die Christelike kalender 'n suiwer sonkalender en die Islamitiese kalender 'n suiwer maankalender is. Die maandname is van Galdeeuse oorsprong en dateer uit die tydperk van die Babiloniese ballingskap.

Judaïsme

Judaïsme (vanaf Latyn: Iudaismus, afgelei van Grieks: Ἰουδαϊσμός, oorspronklik van Hebreeus: יהודה, Jehoedá, "Judah"; in Hebreeus: יהדות, Jahadoet) of Jodedom is die godsdiens van die Jode met omtrent 15 miljoen volgelinge wêreldwyd in 2006. Dis een van die eerste monoteïstiese godsdienste wat opgeteken is, en een van die oudste tradisies wat nog gevolg word. Judaïsme verskaf ook die waardes en historiese agtergrond tot ander godsdienste, soos Christendom en Islam. Daarbenewens kan die term Judaïsme ook na die Jode se tradisies en leefwyse, hul filosofie en gewoonlik ook hul kulture verwys asook na die Jode as 'n groep. Jerusalem, Hebron, Safed en Tiberias vorm die vier heilige stede van Judaïsme. Chanoeka, Jom Kippoer, Pesach, Poerim, Rosj haSjana, Sabbat, Sjawoe'ot, Soekot en Tisj'a be'Aw (alfabetiese volgorde) is van die vernaamste feeste en herdenkings in die Joodse kalender.

Pastoor

Die term Pastoor (afgelei van Latyn: pastor vir "herder", "skaapwagter") verwys na kapelane wat in 'n kerk dien. Die term is in die 14de eeu van die Kerklatynse pastor ("herder van siele") ontleen en verwys sedert die Protestantse Hervorming hoofsaaklik na Protestantse kapelane. 'n Pastoor beskik gewoonlik oor 'n Pastorie, d.w.s. 'n ampswoning wat aan die kerk behoort.

Omdat die amp deur ordinasie toegeken word, is dit 'n lewenslange titel wat ook na die aftrede met die byvoeging emeritus (Latyn vir "uitgetree") gebruik word.

Sabbat

Die Sabbat (Hebreeus: שַׁבָּת, [ʃa'bat]; letterlik: "rus" of "verposing"; meervoud: Sjabbatót, שבתות) se ontstaan is so oud soos die mens en die skepping self, ten minste vir diegene wat die Bybelse beskrywing van die skepping aanvaar. Volgens Beresjiet/Genesis 2 verse 2 en 3 sien ons die instelling van die Sabbat waar JHWH, die skepper, op dié dag rus, dit seën en afsonder. Die naam Sabbat kom van die Hebreeuse woord sjawat (שבת) wat beteken "om te rus" of "om op te hou".

Jom Kippoer en Sabbat is die heiligste dae in Judaïsme; altwee staan ook bekend as Sjabbat Sjabbaton ("'n groot groot Sabbat"). Jom Kippoer is die enigste vasdag wat selfs op 'n Sabbat gehou kan word; die ander vasdae word verskuif indien hulle op 'n Sabbat sou val. Die Sabbat-gebedsdiens omvat verskeie unieke aspekte. Een daarvan is die spesifieke getal gebedsdienste. Anders as gewone dae, waarop daar drie gebedsdienste is (Ma'ariew (מעריב), die aandgebed; Sjagariet (שחרית), die oggendgebed; en Mienga (מִנְחָה), die namiddaggebed), het die Sabbat nes ander Jamim Towim vier gebedsdienste (Ma'ariew (מעריב); Sjagariet (שחרית); Moesaf (מוסף), die bykomende gebed; en Mienga (מִנְחָה)); net Jom Kippoer beskik met vyf gebedsdienste (Ma'ariew (מעריב); Sjagariet (שחרית); Moesaf (מוסף); Mienga (מִנְחָה); en Ne'ila (נעילה), die afsluitingsgebed) oor meer as enige ander Joodse fees of herdenking. Tydens elke gebedsdiens is die Amidá (עמידה) die sentrale gebed. Sjema Jisrael, die Joodse geloofsbelydenis, word in Ma'ariew en Sjagariet geresiteer.

Volgens die Heilige Skrif (Tanag) se getuienis het JHWH die Sabbat deur Mosje (Moses) in die woestyn aan Jisra'él (Israel) opgedra (Sjemot/Eksodus 16:23) nog voordat die Tien Woorde aan hulle gegee is. Dit is ook 'n teken van die verbond tussen JHWH en Jisra'él (Sjemot/Eksodus 31:13).Naas die verskeie bepalings wat oor die Sabbat in die Tora gevind word, is dit ook die vierde gebod in die Tien Woorde en ons vind dit opgeteken in Sjemot/Eksodus 20 verse 8 – 11 en Dwarim/Deuteronomium 5 verse 12-15. Na aanleiding van Beresjiet/Genesis 2 voel sommige mense dat die Sabbatgebod vir alle mense gegee is. Die redenasie is dat indien die Sabbat slegs vir Hebreërs en hedendaagse Jehoedim (Jode) was dan sou die opdrag eers met die Verbond in die woestyn bekend geword het.

Sabbat begin soos al die ander dae van die Joodse kalender volgens Beresjiet/Genesis 1,5 met die aand en duur vanaf sononder op Vrydag tot aandskemer van die volgende Saterdag. Tydens Sabbat mag mens nie werk verrig nie, omdat dit 'n rusdag is (Sjemot/Eksodus 20,10). Die Joodse tradisie van 'n rusdag ná ses dae se werk is later deur Christene en Moslems oorgeneem en is die oorsprong van 'n vyf- of sesdaagse werkweek met 'n aansluitende naweek en die wêreldwye stelsel van 'n week met altesaam sewe dae. In die meeste Europese tale is die plaaslike woord vir Saterdag afgelei van die Hebreeuse woord Sjabbat. In Afrikaans en Nederlands is Saterdag egter na Saturnus genoem.

Sinagoge

'n Sinagoge (vanaf Grieks: συναγωγή, synagōgē, letterlik: "byeenkoms"; Hebreeus: בית כנסת, beit knésset, letterlik: "huis van byeenkoms"; בית תפילה, beit t'fila, letterlik: "huis van gebed", of בית מדרש, beit midrasj, letterlik: "huis van uitlegging"; Jiddisj: שול, sjoel, letterlik: "skool"; Ladino: אסנוגה, esnoga, afgelei van Grieks, of קהל, kahal, afgelei van Hebreeus) is 'n gebou wat byeenkomste, gemeenskaplike gebedsdienste en onderwys binne die Jodedom huisves. Dit is die belangrikste inrigting in Judaïsme en het die gemeenskaplike aanbidding in Christendom en Islam beduidend beïnvloed.In watter gevalle in antieke geskrifte ná 'n sinagoge as plek van byeenkomste en die uitvoering van gebedsdienste verwys word, is in die navorsing ewe omstrede soos die tyd van die opkoms van die eerste sinagoges. Argeologiese en geskrewe bronne dui op die bestaan van sinagoges tydens die bestaan van die Tweede Tempel in Jerusalem, sowel in die Land Israel asook in die Joodse diaspora.In die sinagoge vind die daaglikse gebedsdienste, asook die viering van Sabbat en die Joodse feeste plaas. 'n Joodse gemeente word deur 'n rabbyn (aanspreekvorm: rabbi) gelei, wat die Talmoed en Tora bestudeer het. Die sinagoge beskik oor 'n Toraskryn (Hebreeus: אָרוֹן הָקׄדֶש, Arón haKodesj, letterlik: "skryn van die Heilige"), wat die gemeente se Torarolle huisves en die rigting van Jerusalem aandui, die rigting waarin Jode bid.

Sinagoges is toegewyde ruimtes vir gebed, die lees en studie van beide Tanag (die hele Hebreeuse Bybel, insluitende die Tora) en Talmoed, asook byeenkoms; 'n sinagoge is egter nie noodsaaklik vir 'n gebedsdiens nie. Volgens die Halagá sal 'n gebedsdiens op enige plek uitgevoer kan word waar ten minste tien Jode (מִנְיָן, minjan, letterlik: "telling" of "getal"; afgelei van die werkwoord maná, מנה, "om te tel") byeenkom. Die daaglikse gebedstye kan ook alleen of met minder as tien mense wat byeenkom gedoen word. Volgens die Halagá is sekere gebede egter gemeenskaplik en vervolgens kan hulle slegs deur 'n minjan opgesê word. Die sinagoge se spesifieke rituele en liturgiese funksies vervang nie die lank gelede verwoeste Jerusalemse Tempel s'n nie.

Israeli's gebruik die Hebreeuse term בית כנסת, beit knésset. Asjkenasiese Jode gebruik tradisioneel die Jiddisje term 'שול, sjoel (verwant aan die Duitse Schule, in Afrikaans: "skool"). Romaniote en Sefardiese Jode gebruik veral die term kal (ontleen aan die Hebreeuse kahal, letterlik: "gemeente"). Spaanse Jode verwys na die sinagoge as sinagoga, terwyl Portugese Jode dit esnoga noem. Persiese Jode en sommige Karaïete Jode gebruik die term kenesa, afgelei van Aramees, en sommige Mizrachi-Jode noem dit kenis. Sommige "Gereformeerde", "Rekonstruksioniste" en "Konserwatiewe" Jode gebruik die term "tempel". Die Griekse woord sinagoge word in Afrikaans (Duits, Engels, Frans en die meeste Romaanse tale) gebruik om die voorafgaande moontlikhede te dek.

Talmoed

Die Talmoed (Hebreeus: תַּלְמוּד, talmūd, letterlik: "onderwysing", "studie"; afgelei van die werkwoord lamád, למד, "om te leer") is naas die Tanag (die Ou Testament vir die Christene) die belangrikste boek in Judaïsme. Dit bevat die kommentare van belangrike rabbyne en ander skrifgeleerdes op die Tora, veral in die vorm van besprekings tussen voor- en teenstanders van ’n bepaalde standpunt. Hierdie aanvanklik mondelinge tradisie van die tyd van Moses af, het gegroei tot ’n uiters uitgebreide versameling van moontlike uitlegte, verklarings, wetspresedente, anekdotes, legendes en mites.

Tora

Jode glo God praat met die individu sowel as met die Joodse volk deur die Tora (Hebreeus: תּוֹרָה, "onderwysing", "leerstelling", "ontwerp"), die Heilige Skrifte van Judaïsme wat beskou word as God se geopenbaarde wil of instruksies. Die Tora bestaan uit vyf boeke wat die eerste gedeelte van die Tanag vorm en staan in die Jodedom as gamisjá goemsjei torá, "die vyf vyfdes van die Tora" bekend. Die Griekse benaming is Πεντάτευχος (Pentáteuchos), Latyn: Pentateuchus of Pentateuchum, Afrikaans: Pentateug, letterlik: "vyf boeke" of "vyf boekrolle".

In sy breedste betekenis verwys die woord Tora na al die Joodse bepalings en leringe, wat die Tanag sowel as die Talmoed insluit. In die nou betekenis van die woord verwys dit net na die eerste vyf boeke (Pentateug) van die Bybel wat op die berg Sinai deur God aan Moses geopenbaar is.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.