Suteërs

Die Suteërs was ’n Semitiese volk wat omstreeks 1350 v.C. in die Levant en Kanaän gewoon het, en later ook in Babilonië aangetref is. Hulle word in agt van die 382 Amarna-briewe genoem.

Hulle was aanvanklik handelaars. Hulle word in dokumente van die Middel-Assiriese Ryk (1395-1075 v.C.) genoem as bewoners van die Assiriese koloniale stad Emar in wat nou Noordoos-Sirië is. Saam met ander Semitiese volke soos die Galdeërs en Arameërs het hulle dele van Babilonië omstreeks 1100 v.C. verower. Hulle en die res van Babilonië is eindelik deur die Assiriërs oorrompel.[1]

Verwysings

  1. George Roux. Ancient Iraq. ISBN 978-0-14-012523-8.
Arameërs

Die Arameërs (Aramees: ܐܪ̈ܡܝܐ) was ’n antieke Noordwes-Semitiese, Arameessprekende stamfederasie wat in die Laat Bronstydperk (omstreeks die 11de tot 8ste eeu v.C) ontstaan het in die streek Aram in die hedendaagse Sirië. Hulle het ’n lappieswerk van onafhanklike Aramese koninkryke in die Levant gestig en groot dele van Mesopotamië beset.

Die Arameërs was nooit een verenigde nasie nie; hulle het kleiner, onafhanklike koninkryke gestig in dele van die Nabye Ooste, veral die hedendaagse Sirië, Libanon, Jordanië, Israel, Palestina, die noordwestelike Arabiese Skiereiland en Suidsentraal-Turkye. Dié state is teen die 9de eeu v.C. heeltemal in die Neo-Babiloniese Ryk opgeneem. In dié tydperk kon Galdeërs, Arameërs, Suteërs en inheemse Babiloniërs in ’n groot mate nie van mekaar onderskei word nie.Aramees het die omgangstaal van die hele Nabye Ooste en Klein-Asië geword nadat dit in die middel 8ste eeu v.C. saam met Akkadies een van die twee amptelike tale van die uitgestrekte Nieu-Assiriese Ryk gemaak is uit erkenning van die hoofsaaklik Aramese bevolking in streke wat Assirië wes van die Eufraat verower het. Hierdie ryk het gestrek van Siprus en die oostelike Middelandse See-gebied in die weste tot Persië en Elam in die ooste, en van Armenië en die Kaukasus in die noorde tot Egipte en Arabië in die suide.

Die gebruik van Wes-Aramees het egter geleidelik afgeneem ten gunste van Arabies sedert die Arabies-Islamitiese verowering van die gebied en die taal is in gevaar om uit te sterf, veral weens herhaalde volksmoorde op die Arameërs, hoewel Aramese voorname en vanne steeds aangetref word onder Siriese Christene in die Levant. Baie van hulle maak steeds aanspraak op ’n Aramese erfenis en afstamming, veral in die moderne Sirië, Libanon, Suidsentraal-Turkye en Israel.

Assirië

Hierdie artikel gaan oor die antieke koninkryk. Vir die artikel oor die seun van Sem, sien Assirië (seun van Sem).

Assirië was 'n belangrike Mesopotamiese koninkryk en ryk van die Antieke Nabye-Ooste. Dit het sowat ses eeue lank as 'n onafhanklike staat bestaan – van omstreeks 1250 tot 612 v.C. (van die Vroeë Bronstydperk tot in die Laat Ystertydperk). Dit het daarna nog 13 eeue lank, van die 7de eeu v.C. tot die middel 7de eeu n.C., voortbestaan as 'n geo-politieke entiteit waaroor buitelandse magte die grootste deel van die tyd geheers het, hoewel 'n aantal klein Nieu-Assiriese state soos Assur, Adiabene, Osroene en Hatra tussen die 1ste eeu v.C. en die laat 3de eeu n.C. op verskillende tye ontstaan het.

Die ryk was gesentreer om die Bo-Tigrisrivier in Noord-Mesopotamië (die hedendaagse Irak, Noordoos-Sirië en Suidoos-Turkye) en het verskeie kere oor magtige ryke geheers.

As 'n aansienlike deel van die groter Mesopotamiese "wieg van die beskawing" wat Sumer, Akkad en heelwat later Babilonië ingesluit het, was Assirië die middelpunt van die tegnologiese, wetenskaplike en kulturele vooruitgang van sy tyd. Op sy hoogtepunt het die ryk gestrek van Siprus in die Middellandse See tot by Persië (Iran), en van wat nou Armenië is tot by die Arabiese Skiereiland en Egipte.

Assirië is genoem na sy oorspronklike hoofstad, Assur, wat van omstreeks 2600 v.C. bestaan het in wat nou Noord-Irak is; dit was aanvanklik een van 'n aantal Akkadiese stadstate in Mesopotamië. In die 25ste en 24ste eeu v.C. was die Assiriese konings landelike leiers, en in die laat 24ste eeu v.C. het hulle onder die mag van Sargon van Akkad gekom wat al die Akkadies-, Semities- en Sumeriessprekende volke van Mesopotamië onder die Akkadiese Ryk (omstreeks 2334 tot 2154 v.C.) verenig het. Ná die val van die Akkadiese Ryk omstreeks 2154 v.C. en die kortstondige Nieu-Sumeriese Ryk (Ur III) wat net oor Suid-Assirië geheers het, het Assirië weer onafhanklik geword.

Die ryk se geskiedenis word ingedeel in drie tydperke, bekend as Oud-, Middel- en Nieu-Assiries. Hierdie terme word algemeen in Assiriologie gebruik en stem rofweg ooreen met onderskeidelik die Vroeë tot Middel-Bronstydperk, Laat Bronstydperk en Vroeë Ystertydperk. Tydens die Oud-Assiriese tydperk het die ryk kolonies in Klein-Asië en die Levant gestig en onder koning Ilushuma het dit ook beheer oor Suid-Mesopotamië oorgeneem. Van die middel 18de eeu v.C. het die ryk in konflik gekom met die pasgestigte staat Babilonië, wat die veel ouer Sumeries-Akkadiese state in die suide soos Ur, Isin, Larsa en Kisj oorskadu het.

Assirië het 'n magtige ryk geword tydens die tydperk van die Oud-Assiriese Ryk van die laat 21ste tot middel 18de eeu v.C. Daarna het dit in die 18de en 15de eeu v.C. vir kort rukke onder onderskeidelik Babiloniese en Mitannies-Horitiese heerskappy gekom. Nog 'n tydperk van groot mag het gevolg met die begin van die Middel-Assiriese Ryk (1365 tot 1056 v.C.) waartydens groot konings geheers het, soos Assur-uballit I, Arik-den-ili, Tukulti-Ninurta I en Tiglath-Pileser I. In dié tyd het Assirië ook die Mitanniese Ryk omvergewerp en die Hetitiese Ryk, Antieke Egipte, Babilonië, Elam en Frigië in die Nabye-Ooste oorskadu.

Van die veldtogte van Adad-nirari II in 911 v.C. af het dit vir die volgende drie eeue 'n groot mag geword wat die 25ste Dinastie van Egipte omvergewerp en Egipte verower het. Dit het ook Babilonië, Elam, Urartu, Armenië, Medië, Persië, Mannea, Gutium, Fenisië/Kanaän, Aram (Sirië), Arabië, Israel, Edom, Moab, Ammon, Samarra, Sisilië, Siprus, Galdea, Nabatea, Kommagene, Dilmun, Libië, die Horiete, Sutu en die Nieu-Hetiete oorrompel en die Ethiopiërs, Koesjiete en Nubiërs uit Egipte verdryf. Hulle het die Kimmeriërs en Skitiërs onderwerp en belasting geëis van onder meer Frigië, Magan en die Land van Poent.Ná sy val tussen 612 en 605 v.C. het Assirië 'n provinsie en geo-politieke entiteit onder die Babiloniese, Mediese, Achaemenidiese, Seleukidiese, Partiese, Romeinse en Sassanidiese Ryk gebly tot met die Arabies-Islamitiese verowering van Mesopotamië in die middel 7de eeu n.C.

Dit het daarna finaal tot 'n val gekom en die oorblywende Assiriërs (teen dié tyd hoofsaaklik Oos-Assiriese Christene) het geleidelik 'n etniese, taalkundige, kulturele en godsdienstige minderheid in die tradisioneel Assiriese grondgebiede geword waar hulle tot vandag toe woon.

Galdeërs

Die Galdeërs (van Galdea, Grieks: Χαλδαία, Akkadies: māt Kaldu/Kašdu; ook gespel Chaldeërs) was ’n klein Semitiese nasie wat tussen die 10de en 9de eeu v.C. ontstaan en tot omstreeks die 6de eeu v.C. geduur het, waarna dit verdwyn het en die Galdeeuse stamme in die inheemse bevolking van Babilonië opgeneem is. Dit was in die verre suidoostelike hoek van Mesopotamië geleë en het vir ’n kort rukkie oor Babilon regeer.

Tydens ’n tydperk van swakheid in die Oos-Semitiese koninkryk Babilonië het nuwe, Wes-Semitiese volke tussen die 11de en 10de eeu v.C. van die Levant na die streek migreer. Die eerste golf het bestaan uit Suteërs en Arameërs, en hulle is ’n eeu later gevolg deur die Kaldu, ’n groep wat later as die Galdeërs of Chaldeërs bekend geword het. Die Hebreeuse Bybel gebruik die term כשדים (Kaśdim). Dit word in die ou vertaling van die Afrikaanse Bybel as "Chaldeërs" vertaal en in die nuwe vertaling as "Galdeërs". Daar is egter onsekerheid of die Kaśdim in werklikheid Galdeërs beteken. Hierdie migrasie het nie Assirië in die noorde geraak nie omdat hulle die migrante afgeweer het.

Die kortstondige 11de-eeuse dinastie van die konings van Babilon word gerieflikheidshalwe die Galdeeuse Dinastie genoem, hoewel die laaste heerser, Nabonidus, en sy seun, Belsasar, van Assirië afkomstig was.Die streek waar die Galdeërs hulle gevestig het, was in die verre suidoostelike deel van Babilonië, hoofsaaklik aan die regteroewer van die Eufraat. Hoewel die naam Galdea later vir ’n kort ruk na die hele Suid-Mesopotamië verwys het, het die eintlike Galdea net bestaan uit die vlakte in die verre suidooste, sowat 640 km lank en 160 km breed.

Middel-Assiriese Ryk

Die Middel-Assiriese Ryk was ’n tydperk in die geskiedenis van Assirië van 1365 tot 1056 v.C.. Dit het ontstaan ná die agteruitgang van die Oud-Assiriese Ryk toe groot konings weer oor die land geheers het, soos Assur-uballit I, Arik-den-ili, Tukulti-Ninurta I en Tiglath-Pileser I. In dié tyd het Assirië die Mitanniese Ryk omvergewerp en die Hetitiese Ryk, Antieke Egipte, Babilonië, Elam en Frigië in die Nabye-Ooste oorskadu.

Hoewel die begin van die Middel-Assiriese Ryk gewoonlik aangedui word as óf die einde van die Oud-Assiriese koninkryk van Shamshi-Adad I óf die troonbestyging van Assur-uballit I, is dit waarskynlik gestig deur Tiglath-Pileser I (1115–1077 v.C.), wat een van die grootste Assiriese veroweraars geword het.

Nieu-Assiriese Ryk

Die Neo-Assiriese Ryk was ’n tydperk in die geskiedenis van Assirië van 911 tot 609 v.C. Ná die hervormings van Tiglath-Pileser III in die 8ste eeu v.C. het Assirië die magtige ryk in die Nabye-Ooste geword en oor selfs Babilonië en Egipte geheers. Dit het op die Middel-Assiriese Ryk gevolg.

In dié tyd is Aaramees saam met Akkadies die amptelike taal van die ryk gemaak.Ná die dood van Assurbanipal in 627 v.C. het die ryk begin verbrokkel. In 616 v.C. het koning Cyaxares van die Mede ’n alliansie met Nabopolassar gevorm teen Assirië. In 609 v.C. het die nuwe hoofstad, Harran, geval en in 605 v.C. is ’n bondgenootskap van Egipte en die Assiriese koning Ashur-uballit II verslaan. Hierna het Assirië ophou bestaan as ’n onafhanklike staat.

Palmyra

Palmyra of Palmira (Aramees: ܬܕܡܘܪܬܐ, Tedmurtā; Arabies: تدمر, Tadmoer) is ’n antieke Semitiese stad in die hedendaagse Sirië. Argeologiese vondste dateer van tot die Neolitikum en dit is in die vroeë 2de millennium v.C. die eerste keer genoem as ’n karavaanrusplek vir reisigers in die Siriese Woestyn. Die stad word genoem in die annale van die Assiriese konings en is dalk ook in die Hebreeuse Bybel genoem. Palmyra is in die 1ste eeu in die Seleukidiese en toe die Romeinse Ryk opgeneem, wat dit laat vooruitgaan het.

Danksy die stad se rykdom is monumentale bouprojekte aangepak. Teen die 3de eeu n.C. was dit ’n vooruitstrewende metropolis en streeksentrum. Voor 273 was dit vir ’n groot deel van sy bestaan outonoom. Tydens die eerste twee eeue n.C. is dit by die Romeinse provinsie Sirië gelas en sy politieke organisasie is beïnvloed deur die Griekse stadstaatmodel. Die stad is deur ’n senaat geregeer wat verantwoordelik was vir openbare werk en die weermag. In die 3de eeu het Palmyra Romeinse regeringsinstellings ingevoer. Die stad se rykdom het van handelskaravane gekom; die Palmyrene, bekende handelaars, het handelsposte aan die Syroete deur die hele Romeinse Ryk gestig. Hulle was hoofsaaklik ’n mengsel van Amoriete, Arameërs en Arabiere, met ’n Joodse minderheid. Die stad se sosiale struktuur was stamgebonde en die inwoners het Palmyreens gepraat, wat ’n dialek van Aramees was. Grieks is vir handels- en diplomatieke doeleindes gebruik. Palmyra se kultuur, wat beïnvloed is deur die Grieks-Romeinse wêreld en Persië, het ’n eiesoortige kuns en argitektuur tot gevolg gehad. Die inwoners het plaaslike, Mesopotamiese en Arabiese gode aanbid.

In 260 het die Palmyreense koning Odaenathus die Persiese keiser Shapur I verslaan. Hy het verskeie kere teen die Perse geveg voordat hy in 267 vermoor is. Odaenathus is opgevolg deur sy twee jong seuns onder die regentskap van koningin Zenobia, wat teen Rome in opstand gekom en die ryk se oostelike provinsies in 270 begin inval het. Die Palmyreense heersers het in 271 keiserlike titels aangeneem. Die Romeinse keiser Aurelianus het die stad in 272 verslaan en dit in 273 geplunder ná ’n mislukte tweede opstand.

Onder die Bisantynse Ryk was Palmyra ’n minder belangrike sentrum. Die Palmyrene het hulle in die 4de eeu tot die Christendom bekeer en in die tweede helfte van die 1ste millennium tot Islam; Palmyreens en Grieks is vervang deur Arabies. Die stad – wat in 1400 deur die Mongole verwoes is – het onder die Ottomaanse Ryk ’n klein dorpie gebly tot in 1918, en daarna onder die Siriese koninkryk en die Franse Mandaat Sirië. In 1929 het die Franse begin om inwoners na die nuwe dorp Tadmoer te skuif. Die verskuiwing is in 1932 voltooi en die terrein van Palmyra is leeg gelaat.

Op 21 Mei 2015 het Palmyra onder beheer gekom van die ekstremistiese militante groep Islamitiese Staat in Irak en die Levant (ISIL). Verskeie antieke geboue is sedertdien vernietig, onder meer die Tempel van Baalsamin, die Tempel van Bel en die Triomfboog in Palmyra se kolonnade. Einde Maart 2016 het Siriese regeringsmagte, bygestaan deur die Russiese lugmag, algehele beheer oor die stad oorgeneem ná dae lange gevegte.

Tiglat-Pileser III

Tiglat-Pileser III (uit Hebreeus: תִּגְלַת פִּלְאֶסֶר; Akkadies: 𒆪𒋾𒀀𒂍𒊹𒊏 Tukultī-apil-Ešarra, "my vertroue is in die seun van Ešarra") was in die 8ste eeu v.C. (745-727 v.C.) ’n prominente koning van Assirië wat gevorderde burgerlike, militêre en politieke stelsels in die Nieu-Assiriese Ryk ingestel het.Hy het die Assiriese troon tydens ’n burgeroorlog oorgeneem en die koninklike familie vermoor. Hy het groot veranderings in die regering teweeggebring en die doeltreffendheid en sekuriteit daarvan grootliks verbeter. Hy het Assirië se eerste vaste leër op die been gebring.Tiglat-Pileser III het ’n groot deel van die Antieke Nabye Ooste onderwerp; in die suide sy mede-Mesopotamiërs in Babilonië en Galdea, asook verskeie volke van die Arabiese Skiereiland; in die suidweste Israel, Juda, Filistea, Samarra, Moab, Edom, die Suteërs en Nabatea; in die noorde Urartu, Armenië en Skitië in die Kaukasus, Krimmerië aan die Swartsee, en Nairi; in die noordweste ’n groot deel van oostelike en suidwestelike Klein-Asië, insluitende die Hetiete, Frigië en Karië; in die weste die Grieke van Siprus en Aram (die hedendaagse Sirië), en die Mediterreense stadstate Fenisië/Kanaän; in die ooste Persië, Medië, die Gutiërs, die Manneërs en Elam. Later tydens sy bewind is hy ook in Babilonië as koning gekroon.

Tiglat-Pileser III het opstand teen die Assiriese bewind ontmoedig deur middel van die gedwonge deportasie van duisende mense dwarsoor sy ryk. Hy was een van die suksesvolste militêre aanvoerders in die wêreldgeskiedenis – hy het die grootste deel van die wêreld verower wat aan die Assiriërs bekend was.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.