Strandmeer

'n Strandmeer is 'n soort meer wat tussen 'n strand en 'n sandbank of landtong ontstaan. Die strandmeer kan met die see verbind wees. Die ontstaan van 'n strandmeer hou gewoonlik met die stroomrigting van die water verband.

La Reunion lagoon dsc00241
Strandmeer op Réunion.

Fotogalery

GlenrockLagoonFromLeichhardtLookout

Glenrock-strandmeer in Australië

Lagoa dos Patos PIA03444 lrg

Die Lagoa dos Patos-strandmeer in Brasilië

Blue lagoon

Ölüdeniz-strandmeer, Turkye

Washdyke Lagoon

Washdyke-strandmeer in Nieu-Seeland

Barena

'n Barena (meestal in die meervoud barene) is 'n kenmerkende tipe sout(water)moeras wat in die strandmeer van Venesië aangetref word. Dit is drassige gebiede wat gereeld deur hoogwater oorspoel word, en wat die grens tussen die see en die vasteland stel. Die situasie in die Venesiaanse strandmeer sien daar effens anders uit, omdat die strandmeer reeds as oorgangsgebied tussen die vasteland en die soutwater dien. Die onderliggende Venesiaanse woord is baro, wat struike, bossies of ruigte beteken. Tegnies gesproke kan hierdie geografiese verskynsel tussen 10 tot 32 cm bo seevlak afgebaken word; in die praktyk is die meeste van die barene hoër as 24 cm bo seespieël geleë. Barene word meestal deur natuurlike kanale deurkruis, wat mens in Venesië ghebi (enkelvoud: ghebo) noem.

Die barene in die strandmeer strek oor 'n gebied van meer as 90 km², terwyl party bronne aanvoer dat slegs 47,5 km² nog oorbly. Die meeste barene kan in die noordooste en suidweste van die strandmeer aangetref word. Barene ontstaan meestal teen die oewers van die strandmeer. Party kan gevind word by ou riviermondings in die strandmeer. 'n Mens vind ook klein barene wat in sommige kanale gevorm word, maar ook ou barene wat intussen al hoe dieper onder die water verdwyn het of drooggelê word.

Die barene dien as golfbrekers tydens hoogwater, maar bied terselfdertyd ook ruimte en rigting vir soutwater om die strandmeer in te vloei. Daarmee verlig hulle die druk op die ou stad van Venesië en die meer as 60 ander eilande van die strandmeer. Hulle word egter bedreig deur die verdieping van die kanale, deur die harde golfslae van verbyvarende motorbote en afvalwater. Toe daar in die 1990's begin is om die kanale in die stad van gifstowwe, modder en alge te suiwer, is 'n deel van die modder skoongemaak en in die barene gepomp. Die doel was om die biotope wat deur erosie bedreig word op hierdie wyse te beskerm. In die tussentyd het die barene egter gespaar gebly van dergelike pogings - daar word nou eerder planne beraam hoe om die waterstrome op 'n wyse vryelik voort te laat vloei sonder om die uiters kwesbare randgebiede van die barene te skaad.

Slegs soutliewende plante kan hier oorleef. Talle voëlsoorte kom ook hierheen wat graag in soutmoerasse hou.

Die teenoorgestelde van die barene wat dikwels tydens hoogwater oorstroom word, is die velme, wat deurgaans sonder enige plantegroei is en gewoonlik onder water is, maar tydens laagwater te voorskyn kom.

Kaliningrad-oblast

Kaliningrad-oblast (Russies: Калининградская область, Kaliningradskaja oblast) is die mees westelike en ook die kleinste deelgebied van Rusland met 'n oppervlakte van 15 125 km2 (0,1% van die totale oppervlakte van die Russiese Federasie) en 'n bevolking van 941 000 (2010). In Rusland word na die gebied vanweë sy beduidende voorkomste aan barnsteen dikwels ook as "Barnsteenland" (Russies: Янтарный Край) verwys.

Keurboomsrivier

Die Keurboomsrivier is in die Wes-Kaap, Suid-Afrika. Die rivier ontspring suid van Uniondale in die Langkloof en vloei dan in 'n suid-oostelike rigting. Hierna gaan dit verby De Vlugt en die Prins Alfredpas en bly noord van die R340 pad. Uiteindelik swaai die rivier suid, kruis die N2 nasionale pad en vloei in die Keurboomstrandmeer in, net noord van Plettenbergbaai. Die strandmeer mond uit in die Indiese Oseaan.

Knysna

Knysna is 'n dorp in die Wes-Kaap, Suid-Afrika. Dit is 72 kilometer vanaf George geleë tussen heuwels, langs die Knysna-strandmeer (Engels: Knysna Lagoon). Volgens die munisipaliteit van Knysna was daar sowat 51 500 inwoners in 2001. Die N2 nasionale pad gaan deur die dorp, wat in die hart van die Tuinroete is.

Koerse Skoorwal

Die Koerse Skoorwal (Litaus: Kuršių nerija, Russies: Куршская коса, Duits: Kurische Nehrung) is 'n landstrook en skiereiland met 'n totale lengte van 98 kilometer wat tussen die Litause hawestad Klaipėda in die noorde en Lesnoi (Litaus: Sarkuva, Duits: Sarkau) in die Russiese eksklawe Oblast Kaliningrad in die suide geleë is. Die westelike kuslyn grens aan die Oossee, die oostelike aan die Koerse Haf, 'n uitgestrekte baai.

Die landskap se naam dateer uit die tydperk van die Duitse Ridderorde en het destyds eerder na die pad na Koerland en Lyfland as na die Koerse volk verwys. Van die landstrook is tans 52 kilometer Litause en 46 kilometer Russiese grondgebied. Die wydste punt met 3,8 kilometer is by die Bulvikio ragas of Bulvikse Hoek, vier kilometer noordoos van die Litause dorp Nida (Neringa-munisipaliteit), geleë. Die smalste punt naby die Russiese nedersetting Lesnoi is net 380 meter wyd.

Sowat 70 persent van die Koerse Skoorwal is met dennebosse bedek. Die landstrook word deur landskapsvorme gekenmerk wat anders net in Suid-Europa, Skandinawië of die Sahara-woestyn voorkom. Dit bestaan uitsluitlik uit strandgebiede met fyn sand en reuse-duine met hoogtes van tussen vier en twaalf meter wat as gevolg van ontbossings verskeie kere na dorpsgebiede uitgebrei en hulle onder sand begrawe het. Eers in die tweede helfte van die 19de eeu het die duininspekteur Wilhelm Franz Epha daarin geslaag om die duine te beplant en sodoende te stabiliseer.

Die Groot Duin naby Nida (Duits: Nidden) is een van die grootstes in Europa en word dikwels die "Oos-Pruisiese Sahara" genoem. Die sogenaamde Palwe is 'n vlakte wat voor die duingebiede lê en waaraan 'n gordel van sogenaamde "dooie duine" met hoogtes van tot by 67 meter aansluit wat tot by die strandmeer Koerse Haf strek. Die Koerse Skoorwal, wat sowel in Litaue asook in die Russiese Oblast Kaliningrad tot 'n nasionale park verklaar is, is vanweë sy unieke landskapsvorme in 2000 deur UNESCO as 'n wêrelderfenisgebied gelys.

Langebaan

Langebaan is een van die snelgroeiendste kusdorpe in Suid-Afrika, sowat 120 km noord van Kaapstad en sowat 15 km suidoos van Saldanha aan die Langebaan-strandmeer in die munisipale gebied Saldanhabaai geleë. Die dorp is in die landdrosdristrik Hopefield geleë. Vanaf vroeg 2007 sit die hof elke Dinsdag ook op Langebaan in die veeldoelige gemeenskapsentrum.

Langebaan-strandmeer

Die Langebaan-strandmeer is deel van die Weskus Nasionale Park. Dit is in 1988 tot 'n Ramsar-vleiland verklaar.

Die groot vlak lagune van ongeveer 6000 ha lê by 33° 6′ suid en 18° oos en omvat verskeie eilande, sandbanke en rietbeddings. 'n Groot aantal visspesies gebruik dit as broeiplek. Verskeie voëlspesies oorwinter hier en die grootste konsentrasie van seemeeue in die land word hier aangetref.

Motu One (Geselskapseilande)

Motu One, ook bekend as Bellinghausen, is ’n atol in die Benedewindse Eilande van die Geselskapseilande in Frans-Polinesië, ’n Franse oorsese gebied in die Stille Oseaan. Dit is 550 km noordwes van Tahiti en 72 km noordoos van Manuae, sy naaste buurman.

Die atol se koraalrif omsluit sy strandmeer heeltemal; daar is geen deurgang nie. Al sy kante word omring deur lae, sanderige eilande behalwe die suidekant. Motu One beteken "Sandeiland" in Polinesiese tale.

Oder

Die Oder (Nieu-Latyns Viadrus; Pools, Tsjeggies en Neder-Sorbies Odra, Opper-Sorbies Wódra) is 'n Middel-Europese rivier wat in Tsjeggië ontspring, deur Pole vloei en sedert 1945 as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog die grens tussen dié land en Duitsland vorm. Dit mond deur die Szczecin-strandmeer en rondom die eilande Usedom en Wolin in die Oossee uit. Die rivier het 'n lengte van 854 kilometer (898 kilometer tot by Świnoujście, vroeër Swinemünde).

Die belangrikste syriviere sluit in die Lausitzer Neiße en die Warthe. Saam met die laasgenoemde syrivier het die rivierstelsel 'n totale lengte van 1 045 kilometer. Die gemiddelde afloop van 574 m³/s maak van die Oder die vyfde grootste rivier in Duitsland ná die Ryn, Donau, Inn en Elbe. Die Oder se stroomgebied word in die weste en suidweste deur die Elbe, in die ooste deur die Wisła (Weichsel) en in die suide deur die Donau begrens.

Die rivier speel 'n belangrike ekonomiese rol as natuurlike waterweg wat die Duitse deelstaat Brandenburg met die Oossee verbind.

Richardsbaai

Richardsbaai (Engels: Richards Bay) is 'n stad in die ooste van KwaZulu-Natal, Suid-Afrika. Die dorp is in 1969 gestig. Die N2 nasionale pad gaan ongeveer 25 km vanaf die dorp verby.

Russiese Ryk

Die Russiese Ryk (moderne Russies: Российская империя, transliterasie: Rossiiskaja Imperija) was ’n staat wat van 1721 tot met die Russiese Rewolusie van 1917 bestaan het. Dit was die opvolger van die Tsaredom van Rusland en die voorganger van die Sowjetunie.

Die Russiese Ryk was een van die grootstes in die geskiedenis. Op een tydstip in 1866 het dit van Oos-Europa, oor Noord-Asië tot in Noord-Amerika gestrek. Aan die begin van die 19de eeu was Rusland die grootste land in die wêreld en het dit van die Arktiese Oseaan in die noorde tot by die Swartsee in die suide gestrek en van die Oossee in die weste tot by die Stille Oseaan in die ooste. Oor hierdie uitgestrekte ryk was die ryk se 150 miljoen onderdane gestrooi: van arm, ongeletterde plattelanders tot ryk adellike families. Die ryk, met die keiser aan die hoof, was een van die laaste absolute monargieë in Europa.

Die Russiese Ryk was die natuurlike opvolger van die Tsaredom van Rusland. Hoewel tsaar Pieter I die ryk eers amptelik ná die Verdrag van Nystad (1721) geproklameer het, meen sommige geskiedkundiges dat dit eintlik ontstaan het toe Pieter I die troon vroeg in 1682 bestyg het.

Die administratiewe grense van Europese Rusland, Finland uitgesluit, het rofweg die natuurlike grense van die Oos-Europese vlaktes gevolg. In die noorde het dit die Arktiese Oseaan ontmoet (die eilande van Nowaja Semlja, Kolgoejef en Waigatsj het ook daartoe behoort), maar die Karasee is as deel van Siberië beskou. In die ooste was daar die ryk se Asiatiese heerskappye: Siberië en die Kirgisiese steppe; albei was egter deur die Oeralgebergte, die Oeralrivier en die Kaspiese See van die Russiese Ryk geskei. Die administratiewe grens het egter gedeeltelik gestrek tot aan die Siberiese hang van die Oeralgebergte in Asië. In die suide was daar die Swartsee en die Kaukasus; laasgenoemde is deur die Manitsj-laagte van die ryk geskei. Dié laagte het in Post-Plioseense tye die See van Azof met die Kaspiese See verbind. Die westelike grens was suiwer konvensioneel: dit het die skiereiland van Kola gekruis vanaf die Varangerfjord tot by die Golf van Botnië; daarvandaan het dit gestrek tot by die Koerse strandmeer in die Suidelike Oossee en daarvandaan tot by die mond van die Donau. Uit die Donau het dit in ’n sirkelvorm na die Weste geswaai om Pole te omarm en Rusland van Pruise, Oostenrykse Galisië en Roemenië te skei.

Swartvlei

Swartvlei is 'n soutwatermeer aan die Tuinroete tussen George en Knysna. Dit is die grootste en diepste van al die vleie tussen George en Knysna. Dit vorm 'n lagune met 'n oppervlakte van 1100ha en word gevoed deur die Dieprivier, Wolwerivier, Karatararivier en die Hoogekraalrivier. Die N2 nasionale pad loop oor die meer. Sedgefield lê aan die monding van die strandmeer. Die meer het ontstaan toe die riviervallei deur die stygende seevlak oorweldig is. Die Knysnaseeperdjie (Hippocampus capensis) kom in die meer voor; een van net vier van die spesie se broeiplekke.

Szczecin

Szczecin (Pools: [ˈʃtʃɛtɕin] , Duits: Stettin , Sweeds: Stettin, Latyn: Stetinum, Afrikaans: Stettyn) is die hoofstad van die Poolse woiwodskap Wes-Pommere (Zachadniopomorskie). Szczecin is sowat 120 kilometer noordoos van Berlyn aan die Oderrivier se uitmonding in die Szczecin-strandmeer geleë.

Die stad met meer as 400 000 inwoners word net soos Parys deur strate gekenmerk wat vanaf die middestad radiaal uitwaarts beweeg. Ook die groot aantal parke verleen 'n besonderse atmosfeer aan Szczecin. Die heropgeboude Renaissance-kasteel, wat op 'n heuwel geleë is, is een van die belangrikste besienswaardighede in die hawestad.

Alhoewel Szczecin sowat 65 kilometer van die Oosseekus af geleë is, het hier oor die eeue 'n beduidende seehawe en een van die grootste skeepsboubedrywe ter wêreld ontwikkel.

Tupai

Tupai, ook bekend as Motu Iti, is ’n laagliggende atol in die Benedewindse Eilande van die Geselskapseilande in Frans-Polinesië, ’n Franse oorsese gebied in die Stille Oseaan. Dit is 19 km noord van Bora Bora en is net 11 km2 groot.

Die breë koraalrif, met ’n feitlik aaneenlopende string klein eilandjies, omsluit ’n vlak en sanderige strandmeer. Tupai het geen heeltydse inwoners buiten werkers in die klapperplantasies nie.

Daar is ’n privaat vliegveld op Tupai. Dit is in 2001 ingewy en die gebruik daarvan word beperk.

Umhlanga

Umhlanga is 'n kusdorp in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika langs die Indiese Oseaan. Die dorp is 16 km noord van Durban net langs die N2 nasionale pad geleë. Die dorpsnaam beteken "plek van riete" in isiZulu en is afgelei van die Ohlangarivier wat sowat drie kilometer noord van Umhlanga in die Indiese Oseaan uitmond.

Venesië

Venesië (Italiaans: Venezia, uitgespreek [veˈnɛttsja], ; Venesiaans: Venexia, Venèsia of Venezsia, uitgespreek [veˈnessi̯a]) is die hoofstad van die administratiewe gewes van Veneto in Italië, vorm saam met die stad van Padua die Metropolitaanse gebied van Padua en Venesië, en dra die bynaam La Serenissima (Die Deurlugtigste). Die ou stad (Centro Storico) is op 'n paar groot eilande in die halfmaanvormige strandmeer van Venesië geleë. Op die vasteland het die uitgestrekte residensiële en nywerheidsbuurte van Mestre ontstaan wat tans die oorgrote meerderheid Venesiane huisves.

Oor die eeue heen het Venesiane hier 'n unieke wêreld van hul eie geskep wat in baie opsigte – leefstyl, taal, argitektuur, kookkuns, modes en volkskarakter – merkbaar van ander Italiaanse stede en streke verskil. Hul leefwêreld bestaan uit 'n labirint van klein en groot kanale, met 118 bewoonde en onbewoonde eilande wat oor die loop van tyd 'n verskeidenheid funksies vervul het – as skuilplekke, vestings, kloosters, lasarette, kampe vir melaatses, groentetuine of werkswinkels vir tradisionele ambagte soos glasvervaardiging. Die eerste vaste verbinding per spoor met die vasteland het eers in 1846 ontstaan, maar bote bly steeds die belangrikste vervoermiddel. Motors is uit die historiese kernstad verban.

Die historiese beginpunt van die Venesiaanse wêreld val saam met die ineenstorting en ondergang van 'n ander. In die 5de eeu n.C. het die Romeinse paaie, wat die welvarende gebiede van Noord-Italië met ander dele van die Romeinse Ryk verbind het, maklike toegangsroetes geword vir barbaarse veroweraars wat verwoesting gesaai het – Vandale en Oos-Gote op hul pad na Rome, Hunne onder Attila (vanaf 452) en Germaanse Langobarde (vanaf 568). Toe die Romeinse administratiewe en militêre strukture in 'n stormloop van invallers verbrokkel het, het die Venesiaanse strandmeer 'n skuilplek geword vir agtereenvolgende golwe van vlugtelinge wat hier 'n eenvoudige bestaan gevoer het as vissers, soutmakers, groenteboere en skeepvaarders.

Vanaf die legendariese stadstigting in 421, en met die Bisantynse Ryk as vroeë beskermheer, het Venesië deur die eeue algaande gegroei tot een van vier stadstate in Italië (naas Genua, Pisa en Amalfi) wat as Repubbliche Marinare of historiese Seerepublieke mekaar die heerskappy ter see en die daarmee gepaard gaande handel en politieke invloed in die Middellandse Seegebied betwis het. Die Seerepublieke het hul bloeitydperk gedurende die Middeleeue beleef.

Venesië was tot 1797 die hoofstad van die Republiek Venesië, een van die belangrikste politieke en ekonomiese rolspelers in die destydse Europa, en was ook met sy meer as 180 000 inwoners een van die grootste Europese stede. Tot en met die 16de eeu was dit een van die grootste handelspilpunte vir die hele vasteland; met sterk handelsbetrekkinge tussen Wes-Europa en die oostelike Middellandse See. Venesië het ook oor die meeste handel- en oorlogskepe beskik. Die adelklas het munt geslaan uit die handeldryf met weeldegoedere, kruie en speserye, sout en koring.

Venesië het ontpop tot die grootste geldmagsentrum en (saam met Florence) die bakermat van moderne kapitalisme wat met sy nuut ontwikkelde bankstelsel ekonomiese aktiwiteite deur lenings gestimuleer het. Venesië was heerser oor 'n koloniale ryk langs sy handelsroetes, die Stato da Màr, wat gestrek het tot Kreta en vir 'n tydjie lank ook Siprus, en uitgestrekte besittings op die Italiaanse vasteland, die Terraferma, met 'n bevolking wat in taal, kultuur en geloof nou verwant was aan Venesiane.

Na afloop van die Franse en Oostenrykse oorheersing tussen 1798 en 1866 word die stad deel van Italië. In 1929 word die nywerheidskompleks Mestre-Marghera by die Comune di Venezia ingelyf. Tydens die Tweede Wêreldoorlog word die Jode vervolg en verdelg. In die jare 1965 tot 1970 sit die stad met byna 370 000 stadsinwoners, die hoogste in die geskiedenis. Sedertdien het hierdie getal met meer as 100 000 koppe teruggesak. Venesië en sy strandmeer is in 1987 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.Al is Venesië se historiese sentrum ’n eersterangse toeristebestemming, trek veral groot internasionale en Italiaanse ondernemings uit die toerismesektor, wat nie hul setel in die stad het nie en min bydra tot sy belastinginkomste, die grootste voordeel uit die besoekerstroom wat in 2018 tot 33 miljoen gegroei het. Terwyl Venesië die benodigde infrastruktuur vir massatoerisme moet verskaf (soos vullisverwydering), het dit negatiewe uitwerkings op Venesiane se daaglikse lewe. So word talle woonstelle op onwettige wyse as toeristeverblyf verhuur, terwyl daar intussen 'n gebrek aan nodige infrastruktuurgeriewe vir die krimpende permanente bevolking soos winkels, skole en geneeskundiges is.

Vanaf Mei 2019 sal toeriste, wat met openbare vervoermiddels in Venesië aankom, €3 saam met hul kaartjie betaal. Hierdie belasting sal stapsgewys verhoog word tot tussen €5 en €10, afhangende van die kategorie waarin ’n toeris geplaas word. Gaste met hotelverblyf sal minder belasting moet betaal as dagbesoekers. Die provinsiale Lega Nord-regering is gekant teen hierdie belasting en pleit vir 'n beperking van die besoekerstroom.

Die nywerheidsentrum is meer op die vasteland in die weste gekonsentreerd, veral rondom Mestre en Marghera. Hier het petrochemiese aanlegte ontstaan wat 'n konstante bedreiging vir die strandmeer se gevoelige ekostelsel inhou.

In die Centro storico het die grootskaalse privatiseringsbeleid, waarin 'n groep bou-ondernemings (waaronder maatskappye waarin die invloedryke Benetton-familie belange het) 'n sentrale rol speel, aan Venesië onder die vorige stadsregering die bynaam Benettown besorg.

Weskus Nasionale Park

Die Weskus Nasionale Park lê ongeveer 120 km noord van Kaapstad in die Wes-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die park is 36 300 hektaar (136 vierkante myl) groot. Dit word begrens deur die Atlantiese Oseaan in die weste en die R27-kuspad en strek vanaf die dorpie Yzerfontein in die suide tot by Langebaan se lagune (strandmeer).

Die park is veral gewild vir sy voëllewe en lenteblomme vanaf Augustus tot Oktober, veral die Postberg-kamp in die park. Die park, met die eilande in Saldanhabaai, is deur BirdLife International as 'n belangrike voëlgebied geïdentifiseer.Die bestuurder is me. Patricia Bopape.

Wildernis, Wes-Kaap

Wildernis (Engels Wilderness) is 'n gewilde vakansiedorp langs die N2 nasionale hoofweg en die Tuinroete in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, sowat 15 km oos van George en 450 km oos van Kaapstad geleë. Sy wit sandstrand met 'n totale lengte van agt kilometer en die warm waters van die Indiese Oseaan maak van Wildernis onder meer 'n bestemming vir watersportentoesiaste.

Die N2 nasionale pad verdeel Wildernis in twee - terwyl 'n klein aantal huise en hotelle in 'n duinegebied naby die strand opgerig is, is die sakekern en die res van die dorp langs die grootpad en die strandmeer geleë. Die strandmeer se bergagtige landkant pronk met 'n ryk flora in sy bosgebiede, soos erikas, varings, melkhoutbome, orgideë en proteas. Die soetwater van bergriviere en die Indiese Oseaan se seewater skep daarnaas ook 'n geskikte habitat vir waterdiere, onder meer dolfyne.

Die Nasionale Wildernispark met 'n oppervlakte van 2 612 hektaar is oos van die dorp geleë en strek 28 kilometer langs die see. Hier is al 230 dierespesies geregistreer, waaronder 79 van Suid-Afrika se 95 watervoëlspesies.

Zinkwazi Beach

Zinkwazi Beach is 'n klein dorp aan die Noordkus van KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, noordoos van Durban.

Dit is bekend vir sy pragtige lagune, wat 'n strandmeer in die Zinkwazirivier vorm.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.