Steentydperk

Die Steentydperk is die deel van die geskiedenis van die wêreld wat die eerste wydverspreide gebruik van tegnologie in menslike evolusie aantoon, asook die verspreiding van die mens van die grasvelde van Oos-Afrika na die res van die wêreld. Die tydperk eindig met die ontwikkeling van landbou, die temming van sommige diere en die smelting van kopererts om metaal te vervaardig. Daar word na dié tydperk verwys as voorgeskiedenis, aangesien die mensdom nog nie kon skryf nie en daar dus geen opgetekende rekords uit die tydperk dateer nie.

Die Steentydperk strek oor 'n tydperk van ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede (2,3 miljoen jaar v.C.) tot ongeveer 3500 v.C. Die datums is egter slegs 'n riglyn, aangesien die oorgang tot die bronstydperk (en in sommige kulture direk na die ystertydperk) van streek tot streek verskil. Die Steentydperk bestaan uit die Paleolitikum (ook genoem die Ou of die Vroeë Steentydperk) en die Neolitikum (ook genoem die Nuwe Steentydperk). In sommige gebiede was daar ook 'n tussenfase wat bekend staan as die Mesolitikum of die Epipaleolitikum.

National park stone tools
Gereedskap soos hierdie, wat uit steen of met behulp van steen vervaardig is, was tydens die Steentydperk gebruik.

Ontwikkeling van die mens

Paleolitikum

Die Ou Steentydperk, ook genoem die Paleolitikum, dek 'n era van meer as 'n miljoen jaar. Die tydperk begin ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede met die ingebruikneming van gereedskap wat uit steen vervaardig word.

Vir meer as 1 miljoen jaar was die styl van die gereedskap baie eenvoudig en is daar die minimum veranderings en verbeterings daaraan aangebring.

Tydens hierdie era het drastiese klimaat- en ander veranderinge plaasgevind wat die evolusie van die mens geaffekteer het. Homo erectus dateer ook uit hierdie tydperk: in 1985 het die argeoloog, Richard Leakey, die 1,2 miljoen-jaar-oue fossiele van 'n liggaam ontdek naby die Turkana-meer in Ethiopië. Die verskyning van Homo erectus word ook gekenmerk deur 'n groter verskeidenheid gereedskap. Die gereedskap van erectus suggereer dat die jag en aas van vleis reeds 'n belangrike deel van hulle dieet gevorm het. Vindplekke is ontdek wat karkasse bevat het wat meet steengereedskap bewerk was, te blyke aan die merke aan die bene.

Mesolitikum / Epipaleolitikum

In sommige gebiede word die oorgang van die Paleolitikum na die Neolitikum gekenmerk deur die Mesolitikum. Dié periode vanaf die einde van die laaste ystydperk (ongeveer 10 000 jaar gelede) tot ongeveer 6000 jaar gelede was gekarakteriseer deur stygende seevlakke en die behoefte om by 'n veranderende omgewing te kan aanpas asook nuwe voedselbronne te vind. Die ontwikkeling van gereedskap van mikroliet het begin as 'n reaksie op hierdie omgewingsveranderinge. Die gereedskap was gewysigde weergawes van vorige Paleolitiese gereedskap, vandaar die term "Epipaleolitikum". In Europa word die term Mesolitikum egter gebruik om na die mid-Steentydperk te verwys, aangesien die gereedskap daar, asook die manier van lewe, vanaf die Nabye Ooste ingevoer is. Daar het mikrolietiese gereedskap doeltreffende jagtogte verseker, terwyl meer komplekse vestigings, soos Lepenski Vir, om visvang ontwikkel het. Die tem van honde vir jagdoeleindes dateer waarskynlik uit hierdie era.

Neolitikum

JomonPottery
Japannese Jomon-erdewerk is van die oudste in die wêreld. Hierdie stuk dateer uit die jaar 10,000 tot 8,000 v.C. en verskyn Nasionale Museum van Tokio in Japan.

Die Neolitikum was gekarakteriseer deur die ingebruikneming van landbou (soms verwys na as die Neolitiese Revolusie), die ingebruikneming van meer gevorderde gereedskap, die ontwikkeling van erdewerk en meer komplekse en groter vestings soos Çatal Hüyük en Jerigo. Die tydperk begin ongeveer 10 000 jaar gelede en eindig met die begin van die Bronstydperk. Die eerste Neolitiese kulture begin in die vrugbare halfmaan. Landbou en die daaropvolgende kultuur het versprei na die area om die Middellandse See, die Indus-vallei, China en Suidoos-Asië.

Alhoewel mense steeds gejag en geaas het vir vleis, was die proses van landbou ontdek. Dié ontdekking het 'n sneeubal-effek gehad: waar mense vroeër agter dieretroppe moes aantrek om 'n versekerde bron van voedsel te hê, was hulle nou verseker van voedsel vanaf die land. Aangesien die landerye op een plek gevestig was en aanhoudende sorg benodig het, het mense hulself ook in een plek begin vestig. Skuilings en wonings was nou meer permanent en mense het begin soek na maniere om hul wonings meer standvastig te maak. By Mezhirich in die Oekraïne is 15 000-jaar-oue wonings gevind wat bestaan het uit 'n komplekse, versigtig inmekaar-geweefde massa van die ribbene, dybene en rugwerwelse van mammotte.

Mense het ook begin eksperimenteer met klei en gras om hulle wonings ekstra sterkte te verleen en daar is gou ontdek dat klei ook gebruik kan word om potte en ander erdewerk te skep. Dié ontdekking het daartoe gelei dat voedsel, wat vroeër verlore gegaan het, nou in erdewerk gebêre kon word, in gedroogde vorm of deur die potte te begrawe. Die nuwe oorvloed van beskikbare voedsel het gelei tot 'n verdubbeling van die bevolking.

Danksy die toenemende behoefte vir oesting en die prosesering van plante, het afgewerkte stene en polysde steenprodukte meer algemeen geword, insluitende gereedskap om mee te slyp, te sny en te kap. Die eerste grootskaalse konstruksies was gebou, insluitende torings en mure om vestigings (soos by Jerigo) en seremoniële plekke (bv. Stonehenge). Sulke konstruksies wys dat daar genoeg bronmateriaal en onderlinge samewerking was wat groot groepe in staat gestel het om aan sulke projekte te werk. Daar word egter steeds gedebateer tot watter mate hierdie aktiwiteite die basis vir die ontwikkeling van sosiale hiërargie gevorm het. Die vroegste bewys van gevestigde handel kom uit die Neolitikum, waar nuut-gevestigde mense eksotiese produkte oor honderde kilometers sou invoer. Skara Brae, geleë op die Orkney-eilande naby Skotland, is een van Europa se beste voorbeelde van 'n Neolitiese dorpie. Die gemeenskap bevat onder ander steenbeddens, rakke en selfs 'n binnenshuise toilet wat aan 'n stroompie gekoppel is.

SkaraBraeJM
'n Toneel in Skara Brae, Skotland. Dit is Europa se volledigste Neolitiese dorpie.

Kultuur

Voedsel en drank

Die voedselbronne van die jagter-versamelaar-kultuur van die Steentydperk het die diere en plante wat deel van dié mense se natuurlike omgewing was, ingesluit. Verskeie organe van diere was ook genuttig, waaronder die lewer, die niere en harsings. Hulle het slegs 'n klein aantal suiwel en koolhidraat-ryke voedsel soos grane en peulgewasse genuttig.

Huidige ondersoek toon aan dat twee derdes van hul energie van dierprodukte afkomstig was.[1] Alhoewel daar geglo word dat die vetinhoud van hul diëte vergelykbaar met die vetinhoud van die huidige menslike dieet is, was die verhouding van die verskillende soorte vet verskillend as wat tans die geval is: die verhouding tussen die Omega-6 vetsuur tot die Omega-3 vetsuur was destyds ongeveer 3:1, in vergelyking met die huidige verhouding van 12:1.

Naby aan die einde van die laaste ystydperk, 15 000 tot 9 000 jaar gelede, het 'n grootskaalse uitsterwing van groot soogdiere (die Megafauna) in Asië, Europa, Noord-Amerika en Australië plaasgevind. Dit was die eerste massa-uitsterwing van die Holoseen. Dit is moontlik dat hierdie gebeurtenis die mense van die tydperk geforseer het om hul dieet te verander en dat, saam met die verskyning van landboumetodes, plantstowwe 'n algemene onderdeel van hul dieet geword het.

'n Verslag in die National Geographic News dui aan dat die eerste wynproewery moontlik plaasgevind het to Neolitiese mense die sap van wilde druiwe, wat op 'n natuurlike manier gegis het, uit diervelsakke of kru-gemaakte houtbakke gedrink het.[2]

Beskutting en habitat

Daar word beraam dat die eerste mensgemaakte struktuur ongeveer 2 miljoen jaar gelede deur Homo habilis in Oos-Afrika gebou is. Die struktuur het bestaan uit eenvoudige rangskikkings van stene om die takke van bome in sekere posisies te hou. 'n Kringvormige kliprangskikking wat 'n beraamde 500 000 jaar oud is, was ontdek by Terra Amata, naby Nice, Frankryk. Verskeie menslike habitatte wat blyk uit die Steentydperk te dateer is in verskeie dele van die wêreld ontdek. Hierdie sluit in:

  • 'n Tentagtige struktuur binne-in 'n grot naby die Grotte du Lazaret by Nice, Frankryk.
  • 'n struktuur met 'n dak wat deur hout ondersteun word, ontdek by Dolní Věstonice, Tsjeggië, dateer uit 23 000 v.C. Die mure van die struktuur was gemaak van gepakte kleiblokke en klippe.
Paulnabrone
Poulnabrone dolmen in County Clare, Ierland.
  • In Oos-Europa en Serwië is talle hutte gevind wat uit mammoetbene gebou is. Dié hutte is gebou deur mense wat gespesialiseerde mammoetjagters was. Sulke hutte is gevind in die vallei langs die Dniepr-rivier in die Oekraïne, asook naby Tsjernihiw in Tsjeggië en in die suide van Pole.
  • 'n Tent van dierhuid wat dateer uit ongeveer 15 000 tot 10 000 was ontdek by Plateau Parain, Frankryk.
  • Metalitiese grafkelders (met meerdere kamers) en dolmens (enkelkamer) was grafte met 'n reuse klipplaat wat oor soortgelyke, gerangskikte klipplate geplaas was. Sulke grafte is regoor Asië en Europa ontdek en was tydens die Neolitikum gebou.

Kuns

Prehistoriese kuns kan slegs deur bestaande voorbeelde bestudeer word. Die vorm van prehistoriese musiek word afgelei van ontdekte instrumente, terwyl wandstandige kuns op talle soorte rotse gevind is. Die laasgenoemde word verdeel in petrogliewe (rotstekeninge) en rotsskilderings. Die soorte kuns mag moontlik ook 'n religieuse doel gedien het, alhoewel daar geen bewyse daarvoor is nie.

Rotsskilderings

Bhimbetka rock paintng1
'n Rotsskildering by Bhimbetka, India ('n wêrelderfenisgebied).

Rotsskilderings was op rotse "geskilder" en was meer natuurlike afbeeldings as petrogliewe. In Paleolitiese tye was die teenwoordigheid van mense in grotskilderings seldsaam. Dit was meestal diere wat uitgebeeld was: nie slegs diere wat as voedsel gedien het nie, maar ook diere wat as 'n simbool vir iets gedien het, soos die renoster of groot katte (soos in die Chauvet-grot in die suide van Frankryk) wat 'n simbool vir sterkte en mag was. Sommige beelde wat wel mense verteenwoordig het was handafdrukke en half-mens/half-dierlike figure. Die Chauvet-grot in die Ardèche département in Frankryk, bevat sommige van die belangrikste beware grotskilderings van die Paleolitiese era en dateer uit ongeveer 31 000 v.C. Die Altamira-grot in Spanje bevat skilderings wat uit 14 000 tot 12 000 v.C. dateer en sluit, onder andere, ook bisons (Amerikaans buffels) in.

Die doel of betekenis van die skilderings, indien enige, is onbekend. Die grotte was nie in bewoonde areas geleë nie, so dit is moontlik dat hulle slegs vir seisoenale rituele gebruik was. Die diere word vergesel deur verskeie tekens, wat 'n moontlike bonatuurlike gebruik voorstel. Pylagtige simbole in die grotte van Lascaux, Frankryk, word soms geïnterpreteer as deel van primitiewe kalenders, alhoewel die bewyse daarvoor twyfelagtig is.[3] Die belangrikste werk van die Mesolitiese era is die Marsende Krygers, 'n rotsskildering by Cingle de la Mola, Castellón, Spanje wat vanuit die jaar 7,000–4,000 v.C. Daar word geglo dat die skildering gemaak is deur die pigmente na die rots te spoeg of te blaas. Alhoewel die skilderings gestileer is, is hulle tog natuurlik in voorkoms. Die figure is twee-dimensioneel, alhoewel hulle mekaar oorvleuel.[4]

Rituele en gelowe

Moderne studies en die omvattende analise van vondse wat uit die Steentydperk dateer, dui op sekere rituele en gelowe van dié prehistoriese mense. Daar word nou geglo dat die aktiwiteite van die Steentydperkse mense verder gestrek het as slegs die verkryging van voedsel, kleding en skuiltes. Spesifieke plegtighede rakende die afsterfte en begrafnis van mense was beoefen, alhoewel daar verskille is tussen verskillende kulture in die styl en uitvoering van hierdie gebruike. Daar was ook rituele vir geboorte, puberteit en huwelik. Verskeie Steentydperkse vindplekke, in verskeie dele van die wêreld, dui op spore van 'n gedans (enkel en in rye), asook ontgroeningsplegtighede.[5]

Verwysings

Hierdie artikel is grotendeels vertaal van die Engelse Wikipedia artikel, "Stone Age".
  1. Diet and Eating Habits in the Stone-Age, by annecollins.com. Laaste besoek op 11 Junie 2005.
  2. William Cocke. "First Wine? Archaeologist Traces Drink to Stone Age. National Geographic News. 21 Julie 2004. Laaste besoek op 11 Junie 2005.
  3. M. Hoover, "Art of the Paleolithic and Neolithic Eras," uit Art History Survey 1, San Antonio College. Julie 2001. Besoek op 11 Junie 2005).
  4. Paleolithic, Mesolithic and Neolithic Art (lesing 2, Rice University, Houston, Texas. 2 September, 1998. Besoek op 11 Junie 2005).
  5. Burial and mysticism in prehistory by die webwerf van die Museum of Antiquities. URL besoek op 2 Augustus 2007.

Bronnelys

  • Scarre, Christopher (ed.) (1988). Past Worlds: The Times Atlas of Archaeology. London: Times Books. ISBN 0-7230-0306-8.AS1-onderhoud: extra text: authors list (link)
  • Schick, Kathy D.; Toth, Nicholas (1993). Making Silent Stones Speak: Human Evolution and the Dawn of Technology. New York: Simon & Schuster. ISBN 0-671-69371-9.
  • Richard Fortey (1997). Life: An unauthorised biography. Londen: Flamingo uitwegers. ISBN 0-00-638420-X.

Eksterne skakels

Aken

Aken (Duits Aachen, afgelei van Oud-Germaans Ahha „water“, Latyns Aquae Grani of Granni, later Aquisgranum, Frans Aix-la-Chapelle, Nederlands Aken, Luxemburgs Oochen, Öcher Platduits: Oche) is 'n selfregerende stad in die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale. Sedert 1890 is dit die mees westelike Duitse stad met meer as 100 000 inwoners. Aken het vandag 'n bevolking van naastenby 260 000.

Die stad se geskiedenis dateer terug tot in die Jong-Steentydperk. Aken staan bekend vir sy ryk kulturele en boukundige erfenis en belangrike gebeurtenisse soos die toekenning van die Karlspreis.

Bretagne

Bretagne (Bretons: Breizh) is 'n administratiewe streek of Franse geweste (Frans: région) in die noordweste van Frankryk, wat uit die départements Côtes-d'Armor (Bretons: Aodoù-an-Arvor), Finistère (Bretons: Penn-ar-Bed), Ille-et-Vilaine (Bretons: Il-ha-Gwilen) en Morbihan (Bretons: Mor-bihan) bestaan. Die administratiewe hoofstad is Rennes (Bretons: Roazhon).

Die naam Bretagne verwys naas die administratiewe gebied ook na die historiese provinsie Bretagne, waarvan tans net vier vyfdes deel uitmaak van die gelyknamige Franse région. Die oorblywende gebied, die département Loire-Atlantique met sy prefektuur Nantes (een van die voormalige hoofstede van die hertogdom Bretagne) is nou deel van die région Pays-de-la-Loire.

Die oorspronklike Gallies-Keltiese bevolking het die land Armorika of Aremorica (Bretons: Arvorig) of "Land voor die See" genoem. Die lang kusgebied tussen die Golf van Biskaje en die Engelse Kanaal is 'n gewilde vakansieplek.Die geskiedenis van die huidige Bretonse volk het 'n aanvang geneem met die invalle van die Angel-Sakse en ander Germaanse volke in Brittanje. Onder die leiding van hulle stamhoofde en monnike het 'n deel van die Keltiese bevolking vanuit Cornwall na die noordweste van Frankryk gevlug, waar hulle hul taal en tradisies bewaar het. Die name van hul oorspronklike tuislande, Brittanje en Cornwall, leef voort as Bretagne (die Franse benaming vir "Brittanje") en Cornouaille.

Onder die regering van die State van Bretagne, 'n jaarlikse parlementêre vergadering, het Bretagne tot 'n welvarende land met 'n bloeiende kunslewe en 'n buitengewone sosiale stabiliteit ontwikkel. Sy handelsvloot het tot die magtigstes in Europa behoort.

Teen die einde van die 15de eeu het die Bretonse heersers voor die oormagtige buurstaat Frankryk begin swig, en in 1532 is die hertogdom uiteindelik by die Koninkryk Frankryk ingelyf.

Alhoewel Bretagne dekades lank as een van die armste gebiede van Frankryk bekend gestaan en meer as een miljoen jongmense die gebied in die tydperk tussen 1860 en 1960 verlaat het om elders in die land werk te vind, beleef dit nou 'n ekonomiese opbloei. Baie emigrante begin na hul geboorteland terugkeer, en die jaarlikse bevolkingsaanwas is bo die gemiddelde vir Frankryk. In 2004 het Bretagne se bevolking weer die driemiljoenkerf verbygesteek.

Colesberg

Colesberg is 'n dorp in die Noord-Kaap, aan die N1 nasionale pad, 220 km suid van Bloemfontein. Colesberg word as die middelpunt van die roetes tussen Kaapstad en Johannesburg, en laasgenoemde en Port Elizabeth beskou.

Cornwall

Cornwall (soms Cornwallis in Afrikaans genoem) vorm saam met die Scilly-eilande 'n graafskap in die uiterste suidweste van Engeland, Verenigde Koninkryk, met 'n oppervlakte van 3 563 vierkante kilometer en 'n bevolking van sowat 563 600 in 2017. Dit is ’n gewilde bestemming vir toeriste en branderplankryers. Voorheen was daar baie tinmyne.

Cro-Magnon-mens

Cro-Magnon (kroʊˈmænyən) is ’n naam wat gebruik word vir die vroegste moderne mense (vroeë Homo sapiens sapiens) van die Europese Laat-Steentydperk. Wetenskaplikes verkies deesdae die term Europese Vroeë Moderne Mense (EVMM) bo "Cro-Magnon", wat nie enige amptelike taksonomiese status het nie omdat dit nie na ’n subspesie of ’n argeologiese fase of kultuur verwys nie. Die vroegste bekende oorblyfsels van Cro-Magnon-agtige mense is volgens radiokoolstofdatering sowat 43 000 jaar oud. Die Cro-Magnon-mens is die voorouer van moderne Europeërs.

Hulle was robuus gebou en sterk. Die lyf was gewoonlik swaar en stewig met sterk spiere. Die voorkop was redelik regaf en nie skuins soos die Neanderdallers s’n nie, en hulle het net effense wenkbroukaste gehad. Die gesig was kort en breed. Nes ander mense het hulle ’n prominente ken gehad. Die breinkapasiteit was sowat 1 600 cm3, groter as die gemiddelde vir die moderne mens. Navorsing het getoon die verskille tussen die Cro-Magnon-mens en die moderne mens is nie groot genoeg om dit ’n aparte naam te gee nie.

Denisova-hominien

Die Denisova-hominien of Homo denisova is óf ’n Steentydperk-spesie van die genus Homo óf ’n subspesie van Homo sapiens. Wetenskaplikes het in Maart 2010 die ontdekking aangekondig van ’n vingerbeen van ’n jong vrou wat sowat 41 000 jaar gelede geleef het. Dit is gevind in ’n grot in Siberië wat ook bewoon is deur Neanderdallers en anatomies moderne mense, hoewel DNS-studies getoon het dit verskil van albei dié spesies.Daaropvolgende studies het getoon die groep het ’n gemeenskaplike oorsprong met Neanderdallers, dat hul woongebied gestrek het van Siberië tot Suidoos-Asië en dat hulle verbaster het met die voorsate van die moderne mens. ’n Vergelyking met Neanderdallers uit dieselfde grot dui op ’n groot mate van verbastering, met die plaaslike Neanderdaller-DNS wat 17% uitmaak van die Denisova-genoom. Daar was ook tekens van verbastering met ’n tot nog toe ongeïdentifiseerde Archaïese menslike linie.Twee tande en ’n toonbeentjie van verskillende individue van dieselfde bevolking is ook gevind.

Dresden

Dresden (Sorbies: Drježdźany; afgelei van die Oud-Sorbiese Drežďany, "bewoner van 'n moerasland") is die administratiewe hoofstad van die Duitse deelstaat Vrystaat Sakse. Dit is in die suide van Oos-Duitsland in die Dresdense Elbe-riviervallei aan die oorgang van die bo- tot die middelloop van die Elbe en in die oorgangsgebied tussen die Noord-Duitse Laagvlakte en die Middelgebergtes geleë.

Argeologiese spore in die huidige stadsgebied dui daarop dat die eerste menslike bewoners hulle al in die steentydperk in die Dresden-streek gevestig het. Die eerste historiese verwysing na Dresden dateer uit 1206. Dresden het as regeringsetel vir die Keurvorstedom Sakse, die latere Koninkryk van Sakse en hoofstad van die Saksiese Republieke gefungeer.

Vandag vorm Dresden - naas Leipzig een van Sakse se twee groot kernstede - die politieke sentrum van Sakse. Ook die meeste belangrike kulturele staatsinstellings is hier gesetel, net soos talle tersiêre onderwysinstellings. Dresden is daarnaas 'n beduidende nywerheidsentrum in 'n metropolitaanse gebied wat by die mees dinamiese in Duitsland gereken word.

Dikwels word na Dresden as Elbflorenz verwys - 'n bynaam wat die stad aan die Italiaanse kunsmetropool Florence gelykstel en 'n sinspeling op sy kunsversamelings, sy erfenis van barok- en mediterreense boukuns asook sy skilderagtige ligging aan die Elbe-rivier is.

Guernsey

Guernsey (amptelik die Distrik van die eiland Guernsey, Engels: Bailiwick of Guernsey, Frans: Bailliage de Guernesey, Guernésiais: Guern) is die tweede grootste van die Kanaaleilande digby die kus van Noord-Frankryk en net soos die eilande Man en Jersey 'n besitting van die Britse Kroon, wat nie deel uitmaak van die Verenigde Koninkryk of die Europese Unie nie. Die eiland met 'n oppervlak van 78 vierkante kilometer het sowat 65 345 inwoners. Die eilande Alderney, Herm en Sark behoort tot Guernsey.

Die eiland is 'n oorblyfsel van die historiese hertogdom van Normandië, en die plaaslike Frans-Normandiese dialek Guernésiais word as streektaal erken. Engels en Frans is die amptelike tale. Frans bly tot die jaar 1946 'n amptelike taal van die regering, maar sy gebruik is vandag beperk tot 'n aantal seremonies soos die gebed voor die opening van die Statevergadering. Frans is egter 'n verpligte skoolvak.

Hesse

Hesse (Duits: Hessen, [ˈhɛsn̩], ) is met 'n oppervlakte van meer as 21 000 km² die sewende grootste deelstaat van Duitsland. Sy bevolking van ses miljoen is in die Ryn-Main-streek van Suid-Hesse saamgetrek. Hier is ook vier van Hesse se vyf grootste stede geleë – die administratiewe hoofstad Wiesbaden, Frankfurt am Main, Darmstadt en Offenbach. Noord-Hesse het 'n meer landelike karakter met 'n laer bevolkingsdigtheid. Die grootste nedersetting in die noordelike landsdeel is Kassel.

Die vroegste spore van menslike gemeenskappe dateer van die Würm-ystydperk sowat 50 000 jaar gelede. Die Romeine, wat die gebied van die huidige Suid-Hesse by hul ryk ingelyf het, het diep spore gelaat, onder andere met die Limes Germanicus, die versterkte noordelike grens van die Romeinse Ryk met vestings, forte en wagtorings wat oor 'n afstand van 500 kilometer tussen die Ryn en die Donau geloop het. Een van die grensforte, die Kastell Saalburg in die Taunus-bergreeks, is in die Wilhelminiese tydperk as museum herbou.

Die Middeleeue leef voort in die vakwerkboukuns en nou straatjies van klein stede en dorpe. Middeleeuse stadskerne het onder meer in Marburg, Limburg, Alsfeld en Michelstadt bewaar gebly, net soos sakrale geboue soos die 13de eeuse Elisabethkerk in Marburg wat as die oudste Gotiese kerk in Duitsland beskou word. Belangrike domkerke het ook in Limburg, Fulda en Wetzlar ontstaan. Frankfurt se Paulskerk het met die demokratiese nasionale vergadering van 1848 bekendheid verwerf. Darmstadt in Suid-Hesse het omstreeks 1900 onder andere met die kunstenaarskolonie Mathildenhöhe tot een van die belangrikste sentra van die Jugendstil-kunsbeweging in Duitsland ontwikkel.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Frankfurt am Main tot een van die beduidendste ekonomiese en finansiële metropole van Duitsland gegroei. Sy stadsilhoeët met talle wolkekrabbers is uniek in Duitsland.

Jersey

Jersey (amptelik die Distrik van die eiland Jersey, Engels: Bailiwick of Jersey, Frans: Bailliage de Jersey, Jèrriais: Jèrri) is die grootste van die Kanaaleilande digby die kus van Noord-Frankryk en net soos die eilande Man en Guernsey 'n besitting van die Britse Kroon, wat nie deel uitmaak van die Verenigde Koninkryk of die Europese Unie nie. Die eiland met 'n oppervlak van 118,2 vierkante kilometer het sowat 98 000 inwoners. Die onbewoonde eilande Minquiers en Ecréhous behoort tot Jersey.

Die eiland is 'n oorblyfsel van die historiese hertogdom van Normandië, en die plaaslike Frans-Normandiese dialek Jèrriais word as streektaal erken. Engels en Frans is die amptelike tale. Frans bly tot die jaar 1946 'n amptelike taal van die regering, maar sy gebruik is vandag beperk tot 'n aantal seremonies soos die gebed voor die opening van die Statevergadering. Frans is egter 'n verpligte skoolvak.

Klasiesriviergrotte

Die Klasiesriviergrotte is ’n paar grotte oos van die Klasiesriviermond in die distrik Humansdorp in die Oos-Kaap, Suid-Afrika. In die drie hoofgrotte en twee beskutte areas aan die voet van ’n hoë krans is bewyse ontdek dat dit sowat 125 000 jaar gelede tydens die Middel-Steentydperk bewoon was.

Van 1960 af het Ronald Singer, Ray Inskeep, John Wymer, Hilary Deacon, Richard Klein en ander beweer die fossiele bevat van die vroegste bekende oorblyfsels van die moderne mens. Verdere ondersoeke het egter getoon dié fossiele val "buite die omvang van moderne variasie".Bewyse is gevind dat skulpvis gevang en plante, wortels en blomme vir kos versamel is, asook van die maak van steenartefakte. Daar is ook tekens van die algemene organisering van die gemeenskap, die braai van vleis oor vuur en land/veld-beheer deur middel van brande. Die teenwoordigheid van die inwoners blyk seisoenaal of migrerend te gewees het. Daar is ook tekens van kannibalisme, omdat verbrande en gekerfde bene van "moderne mense" saam met ander voedselafval weggegooi is.Daar word steeds gedebatteer of die inwoners se gedrag dié van moderne mense was of nie.

Koper

Koper is 'n chemiese element in die periodieke tabel met die simbool Cu en atoomgetal van 29.

Neolitikum

Die Neolitikum was die laaste deel van die Steentydperk en beteken "Nuwe Steentydperk". Dit was ’n tydperk van primitiewe tegnologie en sosiale ontwikkeling. In die Neolitikum het vroeë dorpe ontwikkel, asook landbou, die mak maak van diere, gereedskap en die eerste tekens van oorlogvoering. Die tydperk het sowat 10 000 jaar gelede begin en met die begin van die Bronstydperk geëindig. Die Sumeriërs het eerste begin boer, in omstreeks 9500 v.C. Teen 7000 v.C. het landbou afsonderlik in Indië en Peru ontwikkel; teen 6000 v.C. in Egipte; teen 5000 v.C in China en omstreeks 2700 v.C. in die noordelike Suid-Amerika.

Stellenbosch

Stellenbosch, ewe goed bekend as die Eikestad, is die tweede-oudste Europese nedersetting in Suid-Afrika naas Kaapstad, en is geleë in die Wes-Kaapprovinsie.

Dit is sowat 50 Kilometer vanaf Kaapstad en het 'n bevolking van 77 476, uitsluitend studente. Hierdie skatting is gebaseer op formeel-behuisde inwoners, en is dus heel moontlik ondergeskat, omdat die Stellenbosch-omgewing ook 'n aantal informele nedersettings het. Stellenbosch is besig om vinnig saam te smelt met aanliggende nedersettings.

Die dorp is ook die tuiste van die Universiteit Stellenbosch, wat as die Stellenbosch Gymnasium in 1866 gestig is.

Stonehenge

Stonehenge is ’n prehistoriese monument in Wiltshire, Engeland, sowat 13 km noord van Salisbury. Dit is die ruïnes van ’n kring regopstaande klippe (menhirs) in ’n kompleks van monumente uit die Nuwe Steentydperk en Bronstydperk wat verskeie grafheuwels insluit.Argeoloë glo dit is tussen omstreeks 3000 en 2000 v.C. opgerig. Volgens radiokoolstofdatering in 2008 kon die eerste klippe tussen 2400 en 2200 v.C. opgerig gewees het, terwyl nog ’n teorie bestaan dat blouklippe reeds in omstreeks 3000 v.C. opgerig is.Stonehenge is een van die beroemdste prehistoriese monumente ter wêreld. Die omringende ronde aardwal en sloot, wat die eerste boufase van die monument was, word gedateer op omstreeks 3100 v.C. Stonehenge, Avebury en die omgewing is in 1986 by Unesco se lys Wêrelderfenisgebiede gevoeg. Dit word deur die Britse regering beskerm en behoort aan die Kroon. Die omliggende terrein behoort aan die National Trust.Argeologiese bewyse is in 2008 gevind wat daarop dui dat Stonehenge van sy ontstaan af ’n begraafplaas kon gewees het. Die datering van veraste oorblyfsels wat op die terrein gevind is, dui daarop dat dit menslike bene kan bevat van reeds omstreeks 3000 v.C., toe die sloot en wal geskep is. Dit is minstens 500 jaar lank vir dié doel gebruik.Die naam Stonehenge beteken waarskynlik "hangende klippe".

Swem

Swem is 'n watersport waar die swemmer hom/haar met arm- en beenbewegings deur water voortbeweeg. Dit word gewoonlik in 'n swembad beoefen, maar kan ook in damme, riviere of die see plaasvind.

Die meer bekende style van swem is vryslag (kruipslag), borsslag, rugslag en vlinderslag. Swem word as 'n gesonde en effektiewe oefenmetode gesien omdat dit bykans al die spiere in die liggaam gelyktydig oefen. Die swemmer se liggaamsgewig word deur die water gedra en die aksie plaas nie oormatige druk op die swemmer se knieë en gewrigte nie.

Swem kan vir ontspanning of in kompeterende verband beoefen word. Die sport is sedert 1896 deel van die Olimpiese Spele.

Voorgeskiedenis

Voorgeskiedenis of oertyd verwys na die tydperk voor aangetekende geskiedenis of die uitvinding van skryfstelsels, dus voordat die mens die geskiedenis begin dokumenteer het. In ’n breër sin verwys dit na die tyd voor die mens se bestaan.

Die begrip voorgeskiedenis het tydens die Verligting ontstaan in die werk van oudheidkundiges wat die woord "primitief" gebruik het om gemeenskappe te beskryf wat voor geskrewe rekords geleef het. Later is die term "voorgeskiedenis" gebruik. Dit kan verwys na die miljarde jare vanaf die begin van die heelal, maar gewoonlik word bedoel die tydperk vandat lewe op aarde begin verskyn het, of meer spesifiek die tyd sedert die eerste mense hul verskyning gemaak het.Die menslike voorgeskiedenis word gewoonlik verdeel in drie tydperke, wat genoem is na die tegnieke wat in dié tye gebruik is om gereedskap te maak: die Steen-, Brons- en Ystertydperk. Vir tye voor die mens se bestaan word die geologiese tydskaal gebruik waarvolgens die aarde se geskiedenis in verskillende geologiese tydperke en ooreenstemmende rotslae ingedeel word.

Die ontstaan van skryfstelsels (en dus die begin van die "geskiedenis") word gewoonlik vereenselwig met kulture wat tydens óf die laat Brons- óf die Ystertydperk geleef het. Historici steun al hoe minder op geskrewe dokumente en al hoe meer op bewyse uit die natuur- en sosiale wetenskappe – en so vervaag die grens tussen die terme "geskiedenis" en "voorgeskiedenis" algaande.Hierdie artikel handel oor die menslike voorgeskiedenis, of die tyd vandat mense met moderne gedrag en anatomie hul verskyning gemaak het, tot met die aangetekende geskiedenis.

Wartburg

Wartburg is 'n klein dorpie in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika. Die dorpie is 10 km suidoos van New Hanover en het as 'n sendingstasie ontstaan. Die dorpie is vernoem na die Wartburgkasteel in Thüringen, Duitsland.

Wonderboom-natuurreservaat

Wonderboom-natuurreservaat is geleë in die noordelike deel van Pretoria, weerskante van die Magaliesberg. Hierdie reservaat van 200 ha is bekend vir sy reuse Ficus salicifolia, 'n wonderboomvy bekend as die "Wonderboom". Op 28 Desember 1949 het die stadsraad van Pretoria ‘n terrein rondom die boom en op beide oewers van die Apiesrivier tot natuurreservaat verklaar. Ook die bouval van Fort Wonderboom, ‘n oorblyfsel uit die Tweede Vryheidsoorlog, lê in die park. Argeoloë het oorblyfsels uit die Yster- en Steentydperke rondom die boom opgegrawe.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.