Ryukyu-eilande

Die Ryukyu-eilande (Japannees: 琉球諸島,[1] Ryūkyū-shotō, [ɾʲɯːkʲɯː]), in Japan bekend as Nansei-eilande (南西諸島, Nansei-shotō, letterlik: "Suidwestelike eilande") en Ryukyu-boog (琉球弧, Ryūkyū-ko) is 'n vulkaniese argipel in die suidweste van Japan tussen die Oos-Chinese in die noordweste en die Filippynse See in die suidooste. Die eilande strek sowat 1 100 km suidwes van Kioesjoe in die noordooste tot by Taiwan in die suidweste.[2] Die grootste van die eilande is Okinawa. Op die eilande word die Ryukyu-tale gepraat, wat saam met Japannees tot die Japannese tale behoort.

Nansei Island MODIS 2004
Nasa-Satellietbeeld van die Ryukyu-eilande

Die Ryukyu-eilande se vulkane behoort tot die Ring van Vuur wat die Stille Oseaan van Nieu-Seeland tot Chili omsirkel.

In 1429 is die eilande in die Koninkryk van Ryukyu verenig, wat in 1879 deur Japan geannekseer is. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het op 1 April 1945 die enigste veldslag op die grondgebied van Japan plaasgevind, sien Slag van Okinawa. Die Verenigde State het die eilande van 1945 tot 1972 beset, toe hulle teruggegee was aan Japan.

Ryukyu-eilande
Inheemse naam: 南西諸島 / 琉球諸島
Kaart van die Ryukyu-eilande

Kaart van die Ryukyu-eilande
Geografie
Ryukyu orthographic
Ligging Oos-Chinese See, Filippynse See
Koördinate 26°30′N 128°00′O / 26.500°N 128.000°OKoördinate: 26°30′N 128°00′O / 26.500°N 128.000°O
Totale eilande meer as 100
Hoofeilande Okinawa, Amami
Oppervlakte 4 642,11 vk km
Hoogste punt Miyanoura-dake 1 963 m
Administrasie
Vlag van Japan Japan
Prefekture Okinawa, Kagoshima
Demografie
Bevolking 1 550 161
Bevolkingsgroepe Ryukyuane, Japanners

Verwysings

  1. (en) Tsuneyoshi, Ukita (1993). Nihon-dai-chizuchō (Grand Atlas Japan). Heibonsha. ISBN 4-582-43402-9.
  2. (en) "Ryukyu Islands". Encyclopædia Britannica. Besoek op 14 Augustus 2017.

Eksterne skakels

Dialek

'n Dialek (van die Griekse woord διάλεκτος, dialektos wat "met mekaar praat" beteken) is 'n variëteit van 'n taal wat kenmerkend van 'n besondere groep van die taal se sprekers is. Die term word meestal gebruik vir streekstaalpatrone, maar 'n dialek kan ook deur ander faktore, soos sosiale stand, bepaal word.'n Dialek wat met 'n sosiale stand geassosieer word staan as 'n sosiolek bekend. Ander taalvariëteite sluit in: standaardtale, wat gestandaardiseerde vorme is wat vir openbare gebruik ontwikkel is; vaktale, wat gekenmerk word deur verskille in woordeskat; omgangstaal; patois; pidgins, kreole en argots. Die spesifieke spraakpatroon van 'n individu staan belend as 'n idiolek.

Dialekte, soos alle taal variëteite, is stelselmatig met konsekwente reëls en beperkings op leksikale (woordeskat), fonologiese (uitspraak) en grammatikale vlak. 'n Dialek word dus van ander dialekte of standaardtale onderskei op grond van konsekwente verskille in woordeskat, grammatika, en uitspraak, insluitend prosodie. Waar die onderskeid slegs in terme van uitspraak gemaak word, word daar van 'n aksent eerder as 'n dialek gepraat.

In taalkunde is die term dialek 'n neutrale term wat verwys na die stelselmatige taalgebruik deur 'n groep sprekers en dra dit geen negatiewe konnotasies soos wat soms in alledaagse gebruik geïmpliseer word nie (byvoorbeeld waar bedoel word "nie-standaard" of "substandaard" spraak). Taalkundige praat almal ten minste een dialek. By die studie van taal, en dialekte in besonder, word die hooffokus op gesproke taal geplaas aangesien geskrewe taal waardevolle inligting oor die uitspraak en klankstelsel van 'n taal of dialek ontbreek en omdat gesproke taalvaardigheid universeel is terwyl die gebruik van geskrewe taal beperk is tot geletterdes.

Eilandboog

'n Eilandboog is 'n tipe argipel of eilandgroep wat deur plaattektoniek gevorm word wanneer een oseaniese tektoniese plaat onder 'n ander een afgedruk word en magma produseer. Dit is 'n tipe vulkaniese boog. Gedeeltelike smelting van die mantel genereer lae-digtheid kalk-alkaliese magma wat drywend na bo styg om die litosfeer van die boonste plaat te deurdring en dan uitgestoot te word. Die vulkaanketting wat veroorsaak word het 'n boogvorm, en wel ewewydig aan die konvergerende plaatgrens en konveks teenoor die onderskuiwende plaat. Verwering en erosie van die vulkaanrotse produseer swart-groen strande wat uit oliviene sand bestaan wat van die vulkaniese keëls ge-erodeer is.

Aan die subduksiekant van die eilandboog vorm 'n diep en noue seetrog wat die spoor op die aardoppervlak is van die grens tussen die neerdalende en oorskuiwende plate verteenwoordig. Die trog word veroorsaak deur die wrywing van die subduksieplaat wat die voorste punt van die boonste plaat afwaarts trek. Groot wrywingskragte verhit die rotswande van beide plate in die gebied. Veelvuldige aardbewings vind langs die grens plaas met seismiese episentra al hoe dieper onder die eilandboog geleë.

Oseaanbekkens wat deur die ondergang verminder word, word "oorblyfsel-oseane" genoem aangesien dit geleidelik sal krimp tot dit nie meer bestaan nie en in die volgende orogeniese botsing vergruis sal word. Die proses vind herhalend in die geologiese geskiedenis van die aarde plaas.

Filippynse See

Die Filippynse See (Engels: Philippine Sea, Japannees: フィリピン海, Chinees: 菲律宾海, Tagalog: Dagat Pilipinas) is 'n see van die Stille Oseaan tussen die Japanse eilande Ryukyu, Kioesjoe, Honsjoe en Sjikokoe in die noorde, Palau in die suide, Taiwan en die Filippynse eilande Luzon, Mindanao en Visayas in die weste, die Noordelike Mariana-eilande en Guam in die ooste. Die Filippynse See grens aan die Oos-Chinese See in die noordweste, die Suid-Chinese See in die weste en Celebessee in die suidweste.

Die Filippynse See is een van die diepste seë ter wêreld met die Filippynse sloot wat 'n diepte van 11 034 m bereik. Die see het 'n oppervlakte van ongeveer 5 miljien km².

Japan

Japan (Japannees: 日本, Nippon, [ɲip̚poɴ], , of Nihon, [ɲihoɴ], ; amptelik: 日本国, Nippon-koku of Nihon-koku, , letterlik: "Staat Japan") is 'n eilandnasie in Oos-Asië. Dit is geleë tussen die Stille Oseaan en die See van Japan, oos van die Koreaanse Skiereiland, China, en Rusland en strek van die See van Ochotsk in die noordooste tot by die Oos-Chinese See in die suidweste. Die karakters waaruit Japan se naam bestaan beteken "son-oorsprong" wat aanleiding gee tot die naam "land van die opkomende son", en wat verwys na Japan se oostelike posisie relatief tot die Asiatiese vasteland.

Japan bestaan uit meer as 3 000 eilande, die grootstes daarvan, van suid na noord is Kioesjoe, Sjikokoe, Honsjoe, die grootste eiland, en Hokkaido wat saam 97% van die land se grondoppervlak beslaan. Die meeste van die eilande is bergagtig, baie vulkanies; Japan se hoogste bergpiek, berg Foedji, is byvoorbeeld 'n vulkaan. Japan het met ongeveer 127 miljoen inwoners die wêreld se tiende grootste bevolking. Die Groter-Tokiogebied, wat die hoofstad Tokio en verskeie omliggende prefekture insluit, is die grootste metropolitaanse gebied ter wêreld met meer as 30 miljoen inwoners.

Argeologiese navorsing dui daarop dat die eilande van Japan reeds in die Jong-paleolitikumtydperk deur mense bewoon is. Die eerste geskrewe verwysing na Japan begin met vlugtige verwysings in Chinese geskiedkundige tekste van ongeveer die 1ste eeu n.C. Invloede van buite gevolg deur lang tydperke van isolasie is kenmerkend van Japan se geskiedenis. Sedert die aanvaarding van sy grondwet in 1947 handhaaf Japan 'n unitêre grondwetlike monargie met 'n keiser en 'n verkose parlement, die Kokkai.

Japan is 'n reuse ekonomiese moondheid en was nog met die eerste kwartaal van 2010 die wêreld se tweede grootste ekonomie, volgens nominale bruto binnelandse produk, totdat dit deur China ingehaal is. Japan is 'n lid van die Verenigde Nasies, G8, G4 en ESASOG, met die wêreld se vyfde grootste verdedigingsbegroting. Dit is ook die vierde grootste uitvoerder ter wêreld en die vierde grootste invoerder asook 'n wêreldleier in tegnologie en masjinerie.

Japanse Argipel

Die Japanse Argipel (日本列島, Nihon Rettō?), wat die eilandnasie Japan vorm, strek van noord tot suid langs die ooskus van Asië, met die Stille Oseaan aan die ooste en die See van Japan in die weste. Die term Tuiseilande is teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog gebruik om die gebied van Japan te definieer waartoe die land se soewereiniteit en grondwetlike heerskappy van die Keiser beperk sou word. Die term word ook vandag gebruik om 'n onderskeid te tref tussen die argipel en Japan se kolonies en ander gebiede in die eerste helfte van die 20ste eeu.

Die argipel bestaan uit meer as 3 000 eilande, insluitend die vier hoofeilande. Die Japanse Argipel se vulkane behoort tot die Ring van Vuur wat die Stille Oseaan van Nieu-Seeland tot Chili omsirkel. Saam met Foedji vorm die Japannese Alpe die belangrikste gebergtes van die Japanse Argipel.

Karate

Karate (空手) (/kəˈrɑːtiː/, Japannese uitspraak: [kaɽate]) is 'n Oosterse vegkuns wat ontwikkel het in die Ryukyu-eilande (nou Okinawa) van Japan.

'n Persoon wat karate beoefen word 'n "karateka" (空手 家) genoem.

Karate - die woord beteken letterlik "leë hand" - is 'n Oosterse vorm van ongewapende selfverdediging wat veral op die eiland Okinawa, waar Japanse besetters in die 17e eeu die inwoners verbied het om wapens te dra, ontwikkel het.

Die grondlegger van moderne karate, Foenakosji Gitsjin, het karate vroeg in die 20e eeu in Japan gemaak. Vandag word karate steeds as een van die doeltreffendste vorme van ongewapende selfverdediging beskou, maar dit het ook as sportsoort in talle Westerse lande inslag gevind. By die beoefening van karate val die klem egter nie soos by baie ander sportsoorte net op fisieke fiksheid nie, maar ook op die karateka se geestelike instelling.

In Suid-Afrika is karate bale gewild en die land se karatekas tel onder die heel bestes ter wêreld. ʼn Suid-Afrikaner, Stan Schmidt, het die eerste Westerling geword wat ʼn goue medalje op 'n Japanse karatetoernooi kon wen.

Lys van lande volgens oppervlak

Hierdie artikel bestaan uit 'n lys van lande gerangskik volgens oppervlak. Die lys gee die rang van soewereine state sowel as selfregerende afhanklike gebiede. Totale oppervlak word gegee wat land en binnelandse watermassas (mere, damme, en riviere) insluit. Mariene interne watergebied, gebiedswaters en Eksklusiewe Ekonomiese Sones word nie ingesluit nie. Lande se aansprake op dele van Antarktika word ook nie ingesluit nie.

Selfregerende afhanklike gebiede (geklassifiseer deur die VN) word apart gelys van hulle soewereine staat en word in skuinsgedrukteletters weergegee.

Antarktika is die 5de grootste kontinent en beslaan sowat 14 200 000 km². Die volgens lande het gebiedsaansprake in die kontinent: Argentinië (969 000 km²), Australië (6 120 000 km²), Chili (1 250 000 km²), Frankryk (432 000 km²), Nieu-Seeland (450 000 km²), Noorweë (2 500 000 km²) eb die Verenigde Koninkryk (1 395 000 km²), wat tot 'n mate oorvleuel. Die oppervlak van 90 grade Wes tot 150 grade Wes (2 100 000 km²) is tans onopgeëiste gebied. Volgens die Antarktiese Verdrag is die nasionale aansprake gevries en daarom word die gebiede nie ingesluit in die onderstaande syfers nie.

Die Europese Unie is 'n sui generis supranasionale unie. Die entiteit bestaan uit 27 lidlande. Die totale oppervlak van die 27 lidlande is 4 422 773 km² wat dit die sewende grootste land sou maak as dit ingesluit sou word (3,0% van die wêreld se land oppervlak).

Okinawa-eilande

Okinawa (Japannees: 沖縄本島 Okinawajima, "Okinawa-hoofeiland") is 'n eiland in die Stille Oseaan en behoort aan Japan. Dit vorm deel van die Ryukyu-eilande. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Slag van Okinawa hier plaasgevind.

Oos-Chinese See

Die Oos-Chinese See (Chinees: 東海/東中國海, pinyin: Dōng Hǎi, letterlik: "Oostelike See"; Koreaans: 동중국해/東中國海; Japannees: ひがしシナかい) is 'n see van die Stille Oseaan in Asië tussen die Republiek China op Taiwan in die suidweste, die Volksrepubliek China in die weste, Suid-Korea in die noorde asook die Japanse eilande Kioesjoe en Ryukyu-eilande in die ooste. Die Oos-Chinese See grens aan die Filippynse See in die suidooste. Die Oos-Chinese See word in die suidweste deur die Straat van Taiwan met die Suid-Chinese See en in die noordooste deur die Straat van Korea met die See van Japan verbind. Die see het 'n oppervlakte van sowat 750 000 km² en 'n gemiddelde diepte van 350 m.In Suid-Korea word die Oos-Chinese See soms "Suidelike See" genoem. Die noordelike deel van die see, tussen China en Korea, word Geelsee genoem.

Groot stede aan die see is Dalian, Hangzhou, Incheon, Nieu-Taipei, Qingdao, Sjanghai en Taoyuan en die belangrikste riviere wat in die see uitmond is die Geelrivier in die noorde en die Yangtze verder suid.

Die Oos-Chinese See is onderworpe aan gebiedsgeskille tussen die Volksrepubliek China en Japan, wat in besonder betrekking het op ryk ondersese ruoliebronne, soos by die Senkaku-eilande.

Ryukyu-tale

Die Ryukyu-tale (琉球語派 Ryūkyū-goha, ook 琉球諸語 Ryūkyū-shogo of しまくとぅば Shima kutuba, letterlik: "eilandspraak") is 'n taalfamilie wat uit 11 tale bestaan en deur sowat 1 miljoen mense op die Ryukyu-eilande gepraat word. Dié taalfamilie bestaan uit twee groepe, naamlik die Noord-Ryukyu-tale en die Suid-Ryukyu-tale. Die Ryukyu-tale vorm saam met Japannees die Japannese tale.

Die grootste tale (volgens moedertaalsprekers) is: Okinawa-Amami (900 000) en Sakisjima (100 000). Die Ryukyu-tale word nes die verwante Japannees met die Japannese skryfstelsel, bestaande uit Kanji, Hiragana en Katakana, geskryf.

Die Ryukyu-tale word deur sommige taalkundiges as dialekte van Japannees beskou wat darem saam net as een Japannese taal gegroepeer word. Ander taalkundiges sien egter groter verskille tussen die Ryukyu-tale en Japannees wat nie hierdie groepering regverdig nie. Hulle argumenteer dat Japannees en die Ryukyu-tale nie onderling verstaanbaar is nie. Net die genetiese verwantskap tussen albei takke is 'n algemene konsensus.

Van die Ryukyu-tale is as gevolg van die taalverskuiwing na Japannees ernstig bedreigde tale; Unesco lys vier van die tale as "beslis bedreig" en twee ander as "ernstig bedreig".

Senkaku-eilande

Die Senkaku-eilande (尖閣諸島, Senkaku Shotō?) is 'n groep van onbewoonde eilande in die Oos-Chinese See. Hulle word ook genoem die Diaoyudao-eilande (釣魚島) en Diaoyutai-eilande (釣魚台群島).Die groep van eilande en die rotse is oos van die vasteland van China, noordoos van Taiwan, wes van Okinawa en noord van die suidwestelike einde van die Ryukyu-eilande gelêe. Dit is sowat 200 km van Taiwan en sowat 300 km van Okinawa afgelêe.

Taiwan (eiland)

Hierdie artikel handel oor die eiland in Asië. Vir die land wat algemeen as Taiwan bekend staan, sien Republiek China.Taiwan (Chinees: 臺灣 / 台湾, pinyin: Táiwān, Taiwannees: Tâi-oân, Hakka: Thòi-vǎn; voorheen bekend as Formosa, vanaf Portugees: Ilha Formosa [ˌiʎɐ fuɾˈmɔzɐ], letterlik: "pragtige eiland") is die grootste eiland van die Republiek China tussen die Suid-Chinese See in die suidweste, die Oos-Chinese See in die noorde en die Filippynse See in die ooste. Dié eiland beheer die gelyknamige Chinese provinsie wat die mees oostelike van dié land is. Taiwan word deur die Straat van Taiwan van die Chinese vasteland in die noordweste en deur die Luzonstraat van die Filippynse eiland Luzon in die suide geskei. In die noordooste is die Japanse Ryukyu-eilande geleë.

Taiwan is suidoos van die Volksrepubliek China se provinsie Fujian geleë en word beheer deur die Republiek China, wat sedert 1949 net uit die hoofeiland en omliggende eilande bestaan. Die eiland het 'n bevolking van 23 140 000 in 2010 gehad en beslaan 'n oppervlakte van 35 801 km². Die eiland is 'n twisappel aangesien die Republiek China en die Volksrepubliek China dit beide as hul eie provinsie beskou. Die omstrede Senkaku-eilande in die Oos-Chinese See noordoos van Taiwan word deur Republiek China, die Volksrepubliek China en Japan opgeëis.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.