Rooi

Rooi is 'n kleur wat lê by die laagste frekwensies van lig wat deur die menslike oog onderskei kan word. Rooi lig het 'n golflengte van ongeveer 700 nanometer. Rooi, wat die langste golflengte het, word die minste gebreek(refraksie of ligbreking) en violet die meeste.

Suurstofhoudende bloed is rooi weens die hemoglobien wat daarin bevat is. Rooi lig word eerste deur seewater geabsorbeer, sodat baie visse en ander ongewerwelde seediere wat helderrooi vir mense voorkom, in werklikheid swart in hulle natuurlike omgewing voorkom.

Rooi is 'n toevoegende primêre kleur, komplementêr tot siaan. Dit was eers beskou as 'n aftrekkende primêre kleur, en word steeds soms so beskryf in nie-wetenskaplike literatuur. Dit is wel nou bekend dat die kleure siaan, magenta en geel nader aan die ware primêre kleure is wat deur die oog onderskei kan word, en word in moderne kleurdrukwerk gebruik. In die RGB-kleurmodel wat deur TV-stelle en rekenaarskerms gebruik word is rooi een van die drie kanale, genaamd R.

Laer frekwensies word infrarooi, of verre rooi, genoem.

'n Rooi filter wat in swart-en-wit fotografie gebruik word, verskerp die kontras in meeste tonele. Byvoorbeeld, wanneer dit saam met 'n polariseerder gebruik word, kan dit die lug swart maak. Filmtipes wat die effek van infrarooi film naboots (soos Ilford se SFX 200), doen dit deur baie meer sensitief te wees vir rooi as die ander kleure.

#FF0000

Gebruik, simboliek, volksmond-uitdrukkings

Peatonstop
'n Rooi voetgangerslig
Traditional chinese wedding
Chinese trourok.
  • Rooi gryp mense se aandag, en word gereeld as 'n teken van gevaar gesien: daarom word dit in waarskuwingstekens gebruik.
    • Die kleur van bloed het gelei tot die verbintenis van rooi met die god van oorlog, Mars, en daarom is die rooierige planeet Mars ook na hom vernoem.
    • Rooi word gebruik om "stop" in verkeerstekens en -seine aan te dui.
    • In motorwedrenne word 'n rooi vlag gebruik om alle motors onmiddellik tot stilstand te bring.
    • Rooi, tesame met geel en oranje, word geag dat dit honger aanvuur, en daarom die gebruik daarvan in die kentekens van baie voedselmakers.
  • Rooi is die kleur van liefde, beide in die rooi harte van 'n valentyn, en in 'n "rooiliggebied".
  • Rooi is een van die Kersfeeskleure.
  • Sedert die Revolusie van 1848 is "Sosialistiese" rooi gebruik as 'n kleur van Europese opstandiges, soos Giuseppe Garibaldi se camicie rosse ("rooihemde") in die Italiaanse "Risorgimento", en is gedra deur die linkse en algemeen radikale groepe.
    • Die Russiese Burgeroorlog (1917 tot 1922) en die Burgeroorlog in Finland is geveg tussen die "Rooies" en die "Wittes".
    • Die vereenselwing van Kommunisme met "Sosialistiese" rooi (en met rooi as die hoofkleur van die Sowjetunie-vlag) het gelei tot Koue Oorlogse uitdrukkings soos "die Rooi Bedreiging" en "Rooi China" (wat onderskei was van "Vrye China", oftewel Taiwan).
  • In Chinese simboliek is rooi die kleur van goeie geluk, en word gebruik vir versiering en trouklere. Geld in Chinese samelewings word tradisioneel in rooi pakkies gegee. Mao Zedong was ook soms verwys na as 'n "rooi son".
  • Rooi ink word ook gebruik om skuld aan te dui, asook verliese op 'n balansstaat; vandaar die frase om "in die rooi" te wees by die bank.
  • In Noord-Amerikaanse aandelemarkte word rooi gebruik om 'n val in aandelepryse aan te dui. In Oos-Asië is die teenoorgestelde gebruiklik, rooi dui hier 'n styging in aandelepryse aan.

Kleurkoördinate

Volgens verskeie kleurskemas word rooi as volg voorgestel:

Model Koördinate
Heksadesimale kode #FF0000
RGB-kleurmodel (255, 0, 0)
CMYK (0, 255, 255, 0)
HSV (0°, 100%, 100%)

Variasies

  • Skarlaken – 'n rooi wat na rooi-oranje neig, en geen blou bevat nie.
  • Vermiljoen – 'n vurige rooi wat na effe meer na rooi-oranje neig as skarlaken, en wat van sinnaber, die kunsmatige rooi kwiksulfied wat as pigment gebruik word, voorberei word.
  • Karmosyn – 'n rooi wat geen geel bevat nie, en na rooi-violet neig.
  • Venesiaanse Rooi (ook bekend as Indiese Rooi en Indiaanse Rooi) – 'n bruinerige rooi wat van ystersulfied voorberei word.
  • Brandweerwarooi – 'n helderrooi wat gereeld op noodvoertuie gebruik word.
  • Roos is 'n reeks kleure aan die blou kant van rooi.
  • Perske is 'n reeks kleure aan die geel kant van rooi wat algemeen na 'n ligte skakering neig.

Sien ook

Bron

  • KENNIS, 1980, vol 5, bl. 876-877, ISBN 0 7981 0827 4

Eksterne skakels

Bewaringstatus

Die bewaringstatus van 'n spesie is 'n maatstaf wat die waarskynlikheid dat 'n spesie in die voorsienbare toekoms sal bly voortbestaan aandui. Verskeie faktore word in ag geneem by die bepaling van bewaringstatus van 'n spesie en dit berus nie slegs op die aantal oorblywende voorbeelde nie, maar hang ook af van die algehele vermeerdering of vermindering in bevolking met die verloop van tyd, voortplantingtempo, bekende bedreigings en so aan.

Wêreldwyd word 'n aantal verskillende bewaringstatuslyste en ranglyste in stand gehou. Hiervan is die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) se Rooi Lys van Bedreigde Spesies die bekendste. Volgens die IUBN stelsel word spesies in drie kategorieë geklassifiseer: Kritiek bedreig, Bedreig, en Kwesbaar. Spesies wat sedert 1500 uitgesterf het en spesies wat nie meer in die natuur voorkom nie word ook aangegee. Laer risiko taksa word in verdere kategorieë verdeel. Teen 2008 is 44 837 spesies deur die IUBN ondersoek waarvan 869 (2%) uitgestorwe is of nie meer in die natuur voorkom nie, 16 928 (38)% as bedreig geklassifiseer is (3 246 kritiek bedreig, 4 770 bedreig en 8 912 kwesbaar), 3 513 as naby bedreig. Verder is daar vir 5 570 (12%) nie genoeg data om hulle bewaringstatus te bepaal nie.Die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES – Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora) is 'n internasionale organisasie wat hom beywer om te verseker dat die handel in diere en plante nie die oorlewing van spesies bedreig nie. Ander organisasie soos die internasionale walviskommissie spits hulle op spesifieke groepe dier of plante toe. Baie lande het ook hulle eie klassifikasie stelsels en organisasies wat vir bewaring veg.

Bruin

Bruin is 'n kleur wat bestaan uit 'n vermenging van rooi, swart en geel/oranje.

Fosfor

Fosfor (Latyn: Phosforum), is die chemiese element in die periodieke tabel met die simbool P en atoomgetal van 15.

Fosfor is 'n multivalente, nie-metaal van die stikstofgroep en word dikwels gevind in anorganiese fosfaatrotse asook in alle lewendige selle. Vanweë sy hoë reaktiwiteit, word dit nooit in die vrye onverbonde vorm in die natuur gevind nie. Dit straal 'n effense gloed uit wanneer dit aan suurstof blootgestel word en kom in verskillende allotropiese vorms voor. Fosfor is 'n noodsaaklike element vir alle lewendige organismes. Die belangrikste kommersiële gebruik van fosfor is vir die vervaardiging van kunsmis. Dit word ook gebruik in die maak van plofstowwe, vuurhoutjies, vuurwerke, pesdoders, tandepasta en skoonmaakmiddels.

IUBN-rooilys

Die IUBN-rooilys van bedreigde spesies wat in 1963 geskep is, is die wêreld se mees omvattende inligtingsbron van die wêreldwye bewaringstatus van plant- en dierspesies. Die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) is die wêreldgesag aangaande bewaringstatus.Die lys is opgestel met presiese kriteria om die uitsterwingsrisiko van duisende spesies en subspesies te evalueer. Hierdie kriteria is relevant tot alle spesies en alle gebiede van die wêreld. Die mikpunt is om die dringendheid van bewaring oor te dra aan die publiek en beleidskeppers, so wel as die internasionale gemeenskap, om die uitwissing van spesies te probeer verhoed.

Jupiter

Hierdie artikel handel oor die planeet Jupiter. Vir ander betekenisse van die naam, sien Jupiter (dubbelsinnig).

Jupiter is vanaf die son gesien die vyfde en tewens grootste planeet van ons sonnestelsel. Nes Saturnus is Jupiter 'n gasreus en het dus nie 'n vaste oppervlakte nie. Die planeet is vernoem na die Romeinse god Jupiter.

Kleur

Kleur is 'n ervaring wat (in mense) afkomstig is van die vermoë van die delikate struktuur van die oog om drie verskillend-gefilterde analises van 'n beeld te kan onderskei. Die ervaring van kleur word beïnvloed deur die langtermyngeskiedenis (opbrengs) van die kyker, asook korttermyneffekte soos nabygeleë kleure. Die term kleur word ook gebruik om 'n eienskap van voorwerpe of ligbronne te beskryf wat onderskei kan word in die reseptore van die oog.

Die kleur van 'n voorwerp kan objektief gemeet word deur die golflengte van die lig vanaf die voorbeeld te meet.

Ons sien voorwerpe in verskillende kleure vanweë die lig wat hulle na die oog terugkaats. Glas laat al die kleure deur, dus lyk dit vir ons kleurloos.

Sir Isaac Newton het gevind dat wit lig deur middel van 'n prisma opgebreek kan word in 'n rëenboog van kleure. In die kleurspektrum kon hy sewe hoofkleure onderskei: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en violet. Kleur is 'n gewaarwording wat die mens ondervind wanneer Jig op die retina van die oog val. Dit het dus te make met die vertolking wat die brein gee aan die Jig wat op die retina val. Die drie kleure rooi, groen en blou word afsonderlik deur die retina uit 'n ligbundel geregistreer en die impulse word dan deur die brein hersaamgestel en as 'n bepaalde kleur vertolk.

Om die rede word daar in kleurtegnieke (verf, kleurfotografie, kleurdruk, kleurtelevisie, ensovoorts) slegs van drie basiese kleure gebruik gemaak, waaruit alle ander kleure dan saamgestel kan word. Daar moet onderskei word tussen die kleur van 'n ligbron (byvoorbeeld die son, 'n vlam, 'n gloeidraad, ensovoorts) en die kleur van 'n nie-liggewende voorwerp. In laasgenoemde geval word die kleur van die voorwerp bepaal deur die samestelling van die gedeelte van die invallende fig wat deur die voorwerp weerkaats of deurgelaat word. Die samestelling word bepaal deur selektiewe absorpsie, breking, interferensie en fosforessensie, ensovoorts.

RGB-kleurmodel

Die RGB-kleurmodel is 'n kode waarmee kleur met behulp van 'n kombinasie van die primêre kleure, Rooi-Groen-Blou uitgedruk word. Die kode dui aan hoeveel Rooi, hoeveel Groen en hoeveel Blou vermeng moet word om 'n spesifieke kleur te verkry.

Die hoeveelheid van elk van hierdie primêre kleure wat benodig word om 'n spesifieke kleur op te maak, word deur 'n 8-greep getal tussen 0 en 255 uitgedruk. Vir HTML-toepassings (Internet) word die heksadesimale stelsel meestal gebruik, wat die kleur tussen 00 en FF aangee. Drie sulke getalle word dan bymekaar gevoeg, om die kleur aan te dui.

As voorbeeld, wit word verkry deur 100% rooi, 100% groen en 100% blou te meng. Die kode hiervoor is dus (255, 255, 255), of in heksadesimaal, FFFFFF.

Swart, daarteenoor is 0% rooi, 0% groen en 0% blou. Die kode hiervoor is dus (0, 0, 0), of in heksadesimaal, 000000.

Roodepoort

Roodepoort is 'n stad in Gauteng, Suid-Afrika. Dit is wes van Johannesburg geleë en is deel van die Witwatersrand. Die naam verwys na die rooi grond wat so algemeen is in die omgewing.

Rooi Leër

Die Rooi Leër was die weermag van die Sowjetunie wat kort ná die Russiese Rewolusie tot stand gebring is. Die amptelike Russiese naam is Рабоче-крестьянская Красная армия, wat vertaal kan word as die Rooi Arbeiders- en Boereleër.

Die Rooi Leër is amptelik op 23 Februarie 1918 gestig. Voor dit was daar reeds 'n Rooi Garde, maar hulle het eerder as 'n soort partypolisie van die Bolsjewiste as 'n leër gefungeer. Leon Trotsky word as die stigter en organiseerder van die leër beskou.

In 1920 word Michail Toechatsjefski die opperbevelhebber van die Rooi Leër, 'n pos wat hy tot 1937 sou beklee. In hierdie jaar is bykans die hele topbestuur, insluitende Toechatsjefski, as deel van die Groot Suiwering tereggestel omdat Josef Stalin vir 'n staatsgreep gevrees het. Offisiere met laer range is tereggestel, tot dwangarbeid veroordeel of ontslaan. Die party het hierdie poste met politiek betroubare, maar minder bekwame offisiere gevul. As gevolg hiervan het enorme chaos tydens die Duitse aanval op Rusland in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog geheers en het die Rooi Leër enorme verliese gely.

Tydens die oorlog was maarskalk Georgi Zjoekof die opperbevelhebber. Onder sy leiding het die Rooi Leër die Duitsers op die oosfront verslaan en dit het tot die val van Berlyn gelei.

Die Rooi Leër het beide 'n militêre en politieke komponent gehad. Vir elke bevelvoerder van 'n reglement was daar ook 'n politieke kommissaris. Die doel hiervan was om te verseker dat offisiere en soldate kommunisties geskool bly. Later is die stelsel van politieke kommissarisse afgeskaf.

In 1935 het die Raad van Volkskommissarisse (die kabinet van die USSR) vyf persone van die Rooi Leër as maarskalk van die Sowjetunie benoem. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is meer generaals tot maarskalk van die Sowjetunie bevorder.

In 1946 is die woord 'Rooi' uit die naam gehaal, en het die leër as die Sowjet-leër bekend gestaan.

Verskeie terroristegroepe soos die Rote Armee Fraktion, asook die Japannese Rooi Leër het 'n doelbewuste verwysing na die Rooi Leër in hul naam.

Rooidwerg

’n Rooidwerg is ’n klein, relatiewe koel ster in die hoofreeks – die spektraaltipe is óf laat K óf M. Hul massa is minder as die helfte van die son s’n (tot so laag as 0,075 sonmassas). Hulle word net bo die bruindwerge aangetref op die Hertzsprung-Russell-diagram.

Rooidwerge se oppervlaktemperatuur is minder as 4 000 Kelvin. Hulle is verreweg die mees algemene sterre in die Melkweg, ten minste in die omgewing van die son. Proxima Centauri, die naaste ster aan die son, is ’n rooidwerg – so ook 20 van die 30 ander naaste sterre. Weens hul dofheid is rooidwerge egter nie duidelik sigbaar nie. Geen kan van die Aarde af met die blote oog gesien word nie.

Rooireus

’n Rooireus is ’n helder reusester met ’n lae of gemiddelde massa (rofweg 0,5–10 sonmassas) in ’n laat stadium van sterevolusie. Die buitenste atmosfeer is uitgesprei en yl – daarom is die radius groot en die oppervlaktemperatuur laag, vanaf sowat 5 000 kelvin en laer. Die ster lyk geel-oranje tot rooi en sluit in spektraaltipes K en M, maar ook S- en koolstofsterre.

Rooisee

Die Rooisee (Arabies: البحر الأحمر, al-Bahr al-ahmar of الخليج العربي, Arabiese Golf; Hebreeus: 'ים סוף, Yam Suf; Tigrinya: ቀይሕ ባሕሪ, QeyH baHri, Latyn: Maris Erythraei) is 'n see van die Indiese Oseaan tussen Noordoos-Afrika en die Midde-Ooste. Dit is 1 930 km lank, tot 2 211 m diep en het 'n oppervlakte van sowat 450 000 km². Die Griekse naam is Ἐρυθρὰ θάλασσα, wat Eritreïese See beteken en die antieke naam is.Daar is agt lande aan die Rooisee geleë, naamlik Egipte (oor die Golf van Suez), Israel (die Golf van Eilat), Jordanië (die Golf van Akaba), Saoedi-Arabië, Jemen, Djiboeti (Bab-el-Mandeb), Eritrea en Soedan. Dié see word deur die Golf van Akaba en die Suezkanaal met die Middellandse See en deur die Golf van Aden met die Indiese Oseaan verbind.

Aan die noordekant verdeel die Rooisee in twee om die Sinaiskiereiland; in die weste is die Golf van Suez en in die ooste die Golf van Akaba.

Die Rooisee is een van vier seë wat in Afrikaans en ander tale ná kleure genoem is – die ander is die Geel-, Swart- en Witsee. Die naam van dié see is moontlik afgelei van die seisoenale blomme van die rooi-gekleurde Trichodesmium erythraeum naby die wateroppervlak.

Die Rooisee is 'n gewilde toeristebestemming, veral die noordelike kus van Egipte, Israel en Jordanië. Bekende kusstede sluit in Eilat, Hurghada, Sharm el-Sheikh en Suez. In die Rooisee kan mens snorkel en skubaduik.

Stellenbosch

Stellenbosch, ewe goed bekend as die Eikestad, is die tweede-oudste Europese nedersetting in Suid-Afrika naas Kaapstad, en is geleë in die Wes-Kaapprovinsie.

Dit is sowat 50 Kilometer vanaf Kaapstad en het 'n bevolking van 77 476, uitsluitend studente. Hierdie skatting is gebaseer op formeel-behuisde inwoners, en is dus heel moontlik ondergeskat, omdat die Stellenbosch-omgewing ook 'n aantal informele nedersettings het. Stellenbosch is besig om vinnig saam te smelt met aanliggende nedersettings.

Die dorp is ook die tuiste van die Universiteit Stellenbosch, wat as die Stellenbosch Gymnasium in 1866 gestig is.

Sterreklassifikasie

Sterreklassifikasie is in die sterrekunde die indeling van sterre in spektraaltipes of -klasse volgens die spektrum van hul uitgestraalde lig. Die kleur van die lig wat ’n ster uitstraal, is ’n aanduiding van sy temperatuur. Spektraallyne (donker en ligte lyne) in hul spektrum toon verder uit watter elemente die ster bestaan of deur watter elemente die lig val.

Wanneer met die blote oog na sterre gekyk word, het hulle verskillende kleure; sommige is blouerig, ander rooier. ’n Ster stuur verskillende spektra van lig uit na gelang van sy massa en ouderdom, wat sy temperatuur beïnvloed. ’n 19de-eeuse stelsel om sterre in ’n alfabetiese volgorde volgens die soorte spektra te klassifiseer is aan die begin van die 20ste eeu deur die sterrekundige Annie Cannon aangepas en herrangskik na die letters W-O-B-A-F-G-K-M-R-N-S. Dit is die stelsel wat steeds in die Harvard-klassifikasie gebruik word.

Die meeste sterre word tans geklassifiseer as tipe O tot M. Hiervolgens is O-sterre die warmste en M-sterre die koudste. Die temperatuur van sterre daal geleidelik van W, O, B ens. na M. Wat kleur betref, is O blou, B blouwit, A wit, F geel-wit, G geel, K oranje en M rooi. Die kleur soos deur die waarnemer gesien kan egter hiervan verskil omdat die oënskynlike kleur ook beïnvloed word deur visuele toestande.

R-, N- en S-sterre is spesiale gevalle en is later bygevoeg. Dit dui nie op die temperatuur van die ster nie, maar op die chemiese samestelling daarvan. R- en N-sterre is koolstofsterre en by S-sterre is sterk bande van sirkoniummonoksied sigbaar naas die normale bande van titaniummonoksied. Nog later is ’n tipe W bygevoeg vir Wolf-Rayetsterre, warm sterre wat hul waterstof en helium verloor het, asook tipes L, T en Y (bruindwerge).

In die huidige klassifiseringstelsel, die Morgan-Keenan-stelsel, kan ’n Arabiese syfer tussen 0 en 9 ook by die letter gevoeg word; dit dui tiendes van die reeks tussen twee tipes aan, sodat A5 halfpad (vyf tiendes) is tussen A0 en F0. Sterre met ’n lae syfer is warmer as sterre met ’n hoë syfer binne dieselfde tipe. A2 is dus warmer as A6. Nog ’n dimensie wat in die Morgan-Keenan-stelsel gevoeg is, is die ligsterkte-klasse in die Romeinse syfers I, II, III, IV en V, wat die wydte van sekere absorpsielyne in die ster se spektrum uitdruk. Daar is gevind dat dié eienskap ’n algemene aanduiding is van die ster se grootte en dus van die algehele ligsterkte van die ster. Tipe I word in die algemeen superreuse genoem, tipe III reuse en tipe V dwerge of, meer korrek, hoofreekssterre. Ons son is byvoorbeeld spektraaltipe G2V, wat geïnterpreteer kan word as "’n geeldwerg wat twee tiendes na oranje neig". Die oënskynlik helderste ster, Sirius, is ’n tipe A1V.

Trias

Die Trias is die eerste geologiese periode van die Mesosoïese Era en strek van die einde van die laaste periode van die Paleosoïese Era, die Perm, sowat 250 miljoen jaar gelede tot die begin van die Jura sowat 200 miljoen jaar gelede. Dit is ook die eerste chronostratigrafiese sisteem van die Mesosoïese erateem.

Beide die begin en einde van dié periode word gekenmerk deur groot uitwissings. Die Trias is in 1834 so genoem deur Friedrich von Alberti, na aanleiding van die drie duidelik onderskeibare rotslae wat dwarsdeur Duitsland en Noordwes-Europa voorkom – rooi sandsteen, kalksteen en moddersteen, wat die "Trias" genoem word.Die Trias het begin net ná die Perm-Trias-uitwissing, wat die Aarde se biosfeer uitgeput gelaat het; dit sou tot omtrent die helfte van die periode duur om die vorige diversiteit te herstel. Therapsida en Archosauria was die twee belangrikste gewerweldes in dié tyd. ’n Subgroep van die Archosauria, die dinosourusse, het in die Laat Trias vir die eerste keer hul verskyning gemaak, maar het nie oorheers tot die daaropvolgende Jurassiese Periode nie. Die eerste ware soogdiere, ’n subgroep van die Therapsida, het ook in dié periode ontwikkel, asook die eerste vlieënde gewerweldes, die pterosourusse, wat nes die dinosourusse ’n subgroep van die Archosauria was. Die groot kontinent Pangaea het tot in die middel van die Trias bestaan, waarna dit in twee landmassas verdeel het, Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide.

Die klimaat in die Trias was hoofsaaklik warm en droog, met woestyne oor ’n groot deel van Pangaea. Die klimaat het egter vogtiger geraak namate Pangaea uiteengedryf het. Die einde van die periode word weer eens gekenmerk deur ’n groot katastrofe, die Trias-Jura-uitwissing, waarin baie groepe uitgewis is. Hierna kon die dinosourusse die Jura-periode oorheers.

Vlag

’n Vlag is ’n stuk doek/lap, wat dikwels van ’n paal of mas gehang word en word gewoonlik gebruik om ’n boodskap oor te dra of vir identifikasie. Die mees algemene gebruik van vlae is om lande te verteenwoordig.

Die eerste vlae is gebruik om militêre koördinasie op slagvelde by te staan en sedertdien het dit ontwikkel in ’n algemene instrument vir identifisering en seingewing, veral in omgewings waar kommunikasie moeilik is (soos in skeepvaartomgewing waar semafore gebruik word). Nasionale vlae is patriotiese simbole met uiteenlopende interpretasies wat dikwels ’n sterk militêre verwantskap het weens die aanhoudende militêre gebruike van vlae. Vlae word ook gebruik in die oordra van boodskappe, advertensies of vir ander dekoratiewe doelwitte.

Wit

Hierdie artikel handel oor die kleur, sien gerus Wit (dubbelsinnig) vir alternatiewe betekenisse.

Wit is 'n kleur (meer akkuraat gestel bevat dit alle kleure van die spektrum, en word soms as 'n achromatiese kleur beskryf — swart is die afwesigheid van kleur) wat 'n hoë helderheid maar geen skakering het nie. Die indruk van wit lig kan geskep word deur toepaslike sterktes van die primêre kleurspektrum te meng (deur 'n proses genaamd "toevoegende kleurmenging"): rooi, groen en blou. Daar moet daarop gelet word dat die lig wat deur hierdie tegniek verskaf word, grootliks verskil van dié wat deur gloeiing (sien onder) verskaf word.

Worcester

Hiedie artikel handel oor die nedersetting in die Breedevallei, Wes-Kaap. Vir ander gebruike, sien Worcester (veelsinnig).Worcester is een van die groter dorpe van die Wes-Kaap, in die Breederiviervallei, 121 km oos-noordoos van Kaapstad en 52 km noordwes van Robertson. Dit is geleë aan die rant van die Hexrivierberge en is een van die mooisgeleë dorpe in Suid-Afrika. Die N1 nasionale pad gaan deur die dorp.

Zimbabwe

Zimbabwe, amptelik die Republiek Zimbabwe (Engels: Republic of Zimbabwe), is 'n landingeslote land geleë in Suider-Afrika en begrens deur Zambië in die noordweste, Mosambiek in die noordooste, Suid-Afrika in die suide en Botswana in die suidweste. Die land het eers as Suid-Rhodesië, 'n Britse kolonie, bekendgestaan en van 1965 af as Rhodesië, genoem ná Cecil John Rhodes. In 1965 het Suid-Rhodesië eensydig sy onafhanklikheid verklaar en in 1970 'n republiek geword. Ná 'n jare lange vryheidsoorlog en daaropvolgende onderhandelinge het Suid-Rhodesië in 1980 amptelik Zimbabwe-Rhodesië geword en aansluitend die Republiek Zimbabwe.

Zimbabwe beslaan 'n oppervlakte van 390 757 km² en het 'n bevolking van 16 150 362 in 2016 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Harare, tot 1980 Salisbury. 'n Ander belangrike stad is Bulawayo.

Zimbabwe is 'n multi-etniese land en die Mashona vorm die belangrikste inheemse etniese groep, gevolg deur die Ndebeles. Dié land het 16 amptelike tale, waaronder Engels, Shona en Noord-Ndebele die mees verspreide tale vorm.

Op 15 November 2017, na een jaar se protes teen sy regering asook Zimbabwe se vinnig dalende ekonomie, is Mugabe tydens 'n staatsgreep deur dié land se gewapende magte onder huisarres geplaas. Op 19 November 2017 het ZANU-PF Robert Mugabe gedwing om as partyleier af te dank en deur die voormalige adjunkpresident Emmerson Mnangagwa vervang. Op 21 November 2017 het Mugabe sy bedanking aangebied voordat die vervolgingsverrigtinge voltooi is.

Kleurskakerings van rooi

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.