Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk (Latyn: IMPERIVM ROMANVM) verwys na die gebied wat tussen 27 v.C. en die 5de en 6de eeu n.C. deur 'n reeks van keisers geregeer is. Dit was een van die grootste ryke in die wêreldgeskiedenis en die bevolking het gegroei tot 'n geskatte 50 tot 90 miljoen. Gebiede wat 'n deel van die ryk was, het gestrek vanaf Brittanje tot Egipte en het vele nasies en kulture ingesluit.

Wells 0706 054 edit
Legio III Cyrenaica (die derde Cireense Legioen) tydens 'n vertoning van 1ste eeuse militêre uniforms en wapens in Nieu-Engeland, Verenigde State. Die Romeinse Keiserryk se politieke bedeling word deur historici dikwels beskryf as 'n monargiese militêre diktatuur

Geskiedkundiges verdeel die geskiedenis van die Romeinse Ryk meestal in drie groot tydperke - die monargie of koningstyd, die republiek en die keiserryk. Die geskiedenis van die Romeinse monargie, wat eeue lank bestaan het, is in 'n wasigheid gehul. Groot dele daarvan is net in die vorm van stigtingsmites oorgelewer waarin Rome se bestaan vir latere generasies gelegitimeer is. Argeologiese vondse dui daarop dat die gebied van Rome ten minste vanaf die tweede millennium v.C., die Bronstydperk dus, bewoon was. Antieke Romeine gee die stigtingsdatum van hul stad en die regentskap van die eerste Romeinse koning, Romulus, as die middel van die 8ste eeu v.C. aan.

Die Romeinse Keiserryk het na die burgeroorlog, wat na Julius Caesar se dood uitgebreek het, uit die Romeinse Republiek en die daaropvolgende Prinsipaat onder Augustus ontstaan. Alhoewel die Romeinse Ryk bestaan het tot die jaar 476, het die Ryk vir alle praktiese doeleindes geskei tussen die ooste en weste.

Wat Rome se groei tot 'n wêreldryk van ongekende formaat des te meer opspraakwekkend maak, is die feit dat die Romeine betreklik laat tot die toneel van Mediterreense moondhede toegetree het. Hul opstyging tot 'n streeksmoondheid in die laaste eeue v.C. val saam met 'n lang tydperk van algemene instabiliteit in die Mediterreense wêreld. Op 'n baie geskikte moment in die geskiedenis het Rome met sy fondament van republikeinse instellings en sy gedissiplineerde strydmag die kans gegryp om sy mededingers een na die ander met die militêre slaankrag van sy legioene uit te skakel.[1]

'n Verskeidenheid teorieë is deur wetenskaplikes ontwikkel aangaande die krisis en ondergang van die Wes-Romeinse Ryk en die Mediterreense beskawing in die laat antieke tydperk. Kyle Harper, professor in die departement van klassieke lettere aan die Universiteit van Oklahoma het in sy werk The Fate of Rome, wat in 2017 gepubliseer is, 'n ander, opspraakwekkende verklaring gelewer. Hy verduidelik die samehang tussen die antieke klimaatoptimum, wat tot omstreeks 150 n.C. voortgeduur het, en die bloeitydperk van die Romeinse Ryk. In die daaropvolgende oorgangstydperk het volgens hom ingrypende veranderinge plaasgevind as gevolg van klimatiese veranderinge, natuurrampe, epidemieë en hongersnode waartydens die Mediterreense bevolking gehalveer is.[2]

Strekking

Met die Middellandse See as sy sentrum (waarna Romeine treffend as Mare nostrum of "Ons see" verwys het), het die Romeinse Ryk in die vroeë 2de eeu n.C. sy grootste strekking bereik en oor 'n afstand van sowat drieduisend myl noord-, suid- en ooswaarts gestrek - vanuit die huidige Engeland, die Atlantiese kusgebiede van Wes-Europa, en Germanië (groot dele van die huidige Duitsland) die Nyl rivierop, en tot Sirië en Armenië.[3] Die getal elite-amptenare, wat die uitgestrekte imperium vanuit Rome en die provinsiale sentra bestuur het, word deur historici op net sowat 350 beraam, terwyl gewapende magte van tussen 350 000 en 400 000 die ryk teen interne en bedreigings van buite beskerm het.[4]

Eenderse klimatiese omstandighede, 'n agrariese ekonomie en 'n gemeenskaplike Grieks-Romeinse kulturele basis het gemeenskappe langs die grootste deel van die Mediterreense kus in meerdere of mindere mate saamgesnoer. 'n Gebrekkige vervoer- en kommunikasieinfrastruktuur het nogtans beteken dat sommige provinsies nie ten volle in die seëninge van die Romeinse beskawing kon deel nie. So word beraam dat slegs sowat 'n vyfde van die geskatte bevolking van sestig miljoen gedurende Hadrianus se regering 'n lewenstyl kon voer wat nie tot eenvoudige bestaansboerdery beperk was nie.[5]

Die bevoordeelde gemeenskappe was hoofsaaklik saamgetrek in sowat 2 000 stedelike nedersettings langs die kuslyne, riviere en naby strategiese landroetes en bergpasse. Die grootste digtheid van sulke nedersettings is in die Noord-Afrikaanse provinsies, die kernland Italia en die kusgebiede van Asia Minor (Klein-Asië) aangetref.

Oorkant die ryksgrense was vasalstate en gebiede van stamme geleë wat ekonomiese bande met die Romeinse wêreld gehandhaaf en politieke alliansies gesluit het, maar ook vyandelik gesinde stamme en nomadiese volksgroepe.

Geskiedenis

Roman Republic Empire map
Die uitbreiding van die Romeinse Ryk tussen 510 v.C. en 480 n.C.██ Romeinse Republiek ██ Romeinse Ryk ██ Wes-Romeinse Ryk ██ Bisantynse Ryk
rmn-military-header

Stigting van Rome
Romeinse monargie
Romeinse Republiek
Romeinse Keiserryk
Wes-Romeinse Ryk
Oos-Romeinse Ryk

Rome se politieke bedeling het met verloop van tyd van 'n monargie in 'n republikeinse bedeling en uiteindelik in 'n keiserryk verander. Die Romeinse Ryk het ongeag die verskeidenheid van sy volke, tale en godsdienste tot 'n gemeenskaplike staat, lewensvorm en universele staatsidee ontwikkel, wat as 'n imperium sine fine ("'n ryk sonder grense") gedefinieer is.

Die Romeinse Ryk het sy grootste uitbreiding onder die heerskappy van keiser Trajanus bereik en destyds oor drie vastelande gestrek: die Mediterreense gebiede rondom die Middellandse See, Gallië, groot gedeeltes van Brittanje en die gebiede rondom die Swartsee. Rome het sodoende die meeste van die gebiede oorheers wat destyds in die Mediterreense wêreld bekend was.

Handel, kuns en kultuur het in die tydperk van die Romeinse Ryk in baie van sy gebiede 'n eerste bloeitydperk beleef en die lewensgehalte, die vlakke van geletterdheid en die bevolkingsyfers het eeue lank ongeëwenaar in Europa gebly.

Die Romeinse Ryk het 'n groot kulturele en taalkundige invloed op die gebiede binne en oorkant sy grense uitgeoefen. Terwyl die weste van die ryk gelatiniseer is, het die Romeinse invloed in die oostelike gebiede met Grieks-Hellenistiese en Oosterse elemente vermeng.

Latyn, die inheemse taal van die stad Rome en sy omgewing (die gewes Latium, wat ook sy naam aan die taal gegee het), het die amptelike taal van die ryk geword, maar gedeeltelik ook elemente van ander tale bewaar. Die taal van die Romeine is in Europa nog baie eeue ná die ondergang van die Romeinse Ryk tot in die barok-tydperk as 'n wetenskapstaal gebruik. In die Rooms-Katolieke Kerk het Latyn tot met die Tweede Vatikaanse Konsilie die taal van die mis gebly. Baie wetenskappe, soos geneeskunde en biologie, gebruik en skep nog steeds (Grieks-)Latynse vakterme.

Uit die Latynse taal het uiteindelik die moderne Romaanse tale van Europa ontwikkel, waarvan Italiaans, Frans, Spaans, Portugees, Katalaans en Roemeens die belangrikstes is. Baie Latynse leenwoorde is deur Germaanse en Slawiese tale oorgeneem.

Die Romeinse reg het 'n groot invloed op die moderne reg, veral die privaatreg, uitgeoefen.

Sien ook

Verwysings

  1. Kyle Harper: The Fate of Rome. Climate, Disease and the End of an Empire. Princeton and Oxford: Princeton University Press 2017, bl. 4
  2. The Guardian, 11 April 2019: The Fate of Rome by Kyle Harper review – climate, disease and the end of an empire. Besoek op 16 Mei 2019
  3. Mary T. Boatwright: Hadrian and the Cities of the Roman Empire. Eerste sagtebanduitgawe. Princeton and Oxford: Princeton University Press 2003, bl. 3
  4. Boatwright (2003), bl. 3-4
  5. Boatwright (2003), bl. 3

Eksterne skakels

Geskiedenis
Hawens en seehandel
Antieke Griekeland

Antieke Griekeland is die beskawing wat ooreenstem met die tydvak van Griekse geskiedenis vanaf die Argaïese tydperk van die 8ste tot 6de eeue v.C., tot en met die Romeinse verowering van Griekeland in 146 v.C. met die Veldslag van Korinthe. Sentraal tot hierdie periode staan Klassieke Griekeland, wat opgebloei het in die 5de tot 4de eeue v.C., eerstens onder leierskap van Athene, waardeur die militêre bedreiging van die Persiese inval afgeweer is. Die Era van Perikles eindig in 404 v.C. met die neerlaag van Athene onder die aanslae van Sparta in die Peloponnesiese oorlog.

Klassieke Griekse kultuur het 'n grondige invloed op die Romeinse Ryk gehad, wat dan 'n weergawe daarvan na vele gebiede van die Middellandse Seegebied en Europa oorgedra het, om welke rede Klassieke Griekeland algemeen beskou word as die bronkultuur vir die ontstaan van die Westerse beskawing.

Bisantynse Ryk

Die Bisantynse Ryk (Grieks: Βυζαντινή Αυτοκρατορία, amptelik steeds Βασιλεία τῶν Ῥωμαίων "Keiserryk van die Romeine", eietyds kort Romania of Ῥωμανία genoem), dikwels kort Bisantium (Grieks: Βυζάντιο[ν]) of, vanweë sy historiese oorsprong, die Oos-Romeinse Ryk, was 'n keiserryk in die oostelike Mediterreense gebied. Dit het in die laat Oudheid ná die verdeling van die Romeinse Ryk in 395 uit sy oostelike helfte ontstaan en het met die Osmaanse verowering van Konstantinopel op 29 Mei 1453 ondergegaan.

Die Ryk het aanvanklik tot by die Arabiese Skiereiland en in die weste tot Noord-Afrika en die Atlantiese Oseaan gestrek, maar was vanaf die 7de eeu rofweg tot Klein-Asië en Suidoos-Europa beperk. Dit is vanuit die hoofstad Konstantinopel (die huidige Istanboel) geregeer wat ook as Bisantium bekend gestaan het.

Die bekende bisantinis Georg Ostrogorsky het die Bisantynse Ryk as 'n mengsel van Romeinse staatswese, Griekse kultuur en Christelike geloof beskryf.Die benaming "Bisantynse Ryk", wat van die hoofstad afgelei is, word uitsluitlik in die moderne navorsing gebruik. Die bewoners van die ryk het na hulself nie as Bisantyne verwys nie, maar steeds as Romeine (in die moderne wetenskaplike konteks word die term "Rhomeërs" gebruik). In die Latynse weste is na hulle as Grieke verwys.

Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk word in die moderne geskiedskrywing en navorsing in drie fases verdeel:

die laat antieke en vroeg-Bisantynse tydperk (vanaf die laat 3de/vroeë 4de eeu tot die middel van die 7de eeu), toe die ryk nog herkenbaar antiek-Romeinse trekke gehad en as groot moondheid die hele oostelike Middellandse Seegebied oorheers het;

die Middel-Bisantynse tydperk (vanaf die middel van die 7de eeu tot 1204/1261), toe die ryk reeds volledig vergrieks was en ná groot gebiedsverliese weer as belangrike moondheid opgetree het;

die laat-Bisantynse tydperk (1204/1261 tot 1453) toe die ryk steeds meer gebiedsverliese gely en op politieke gebied geen beduidende rol meer gespeel het nie.Naas hierdie tradisionele periodisering is daar ook alternatiewe sienswyses. In die meer onlangse navorsing is daar neigings om eers vanaf die laat 6de of 7de eeu van 'n suiwer Bisantynse geskiedenis te praat en vroeëre periodes nog by die laat-Romeinse oudheid te reken.Hierdie stelling is omstrede, veral omdat ander bisantiniste vrees dat hul vak aan belangrikheid sou kan verloor indien die laat-antieke fase van die ryk volledig by die geskiedenis van die klassieke Oudheid gereken sou word.

Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk is deur 'n byna permanente afweerstryd teen vyandelike magte langs sy grense oorheers wat die Bisantyne se kragte verteer het. Fases van uitbreiding (ná gebiedsverliese in die 7de eeu is veral in die 10de en 11de eeu nuwe streke verower) het mekaar afgewissel met fases waartydens die Bisantyne teruggetrek het (so in die laat tydperk van die ryk toe sy kragte uitgeput was).

Die binnelandse gebeure is, veral tot in die 9de eeu, verskeie kere deur godsdienstige dispute en enkele burgeroorloë oorheers, alhoewel die staatswese, wat op Romeinse strukture gebaseer was, tot in die 13de eeu onveranderd gebly het. Op kulturele gebied het Bisantium beduidende literêre en ander kunswerke opgelewer en as bemiddellaar van die antieke erfenis 'n beduidende rol vir die Europese beskawing vervul. Die kodifisering van die Romeinse reg onder keiser Justinianus I sou die basis vir die regstelsels van Europese state lewer. Daarnaas het die Bisantynse Ryk beslissende invloed op die kerstening van Oos-Europa (die Balkanskiereiland en Rusland) uitgeoefen en tot in die 15de eeu as 'n Christelike vesting in die ooste bestaan wat alle aanvalle van Islamitiese magte afgeweer het.

Dertigjarige Oorlog

Die Dertigjarige Oorlog (1618–1648) was een van die verwoestendste konflikte in Europese geskiedenis. Die oorlog is hoofsaaklik (dog nie uitsluitlik) in Duitsland geveg en het met tye die meeste lande van Europa betrek. Seeoorlogvoering het ook oor die seë gereik en die koloniale vorming van toekomstige nasies beïnvloed.

Die oorsprong van die konflik en die doelwitte van die deelnemers is ingewikkeld en daar kan nie na één spesifieke geval verwys word as die hoofrede vir die oorlog nie. Die oorlog was oorspronklik geveg as 'n godsdienstige konflik tussen Protestante en Katolieke in die Heilige Romeinse Ryk, alhoewel geskille oor die interne politiek en balans van mag binne-in die Ryk ook 'n belangrike rol gespeel het. In hierdie fase het die oorlog 'n voortsetting geword van die Bourbon-Habsburg-wedywering vir Europese politieke superioriteit, wat weer gelei het tot verdere oorlogvoering tussen Frankryk en die Habsburg-magte, met minder klem op godsdiens.Een van die grootste gevolge van die Dertigjarige Oorlog was die uitgebreide verwoesting van algehele streke; tallose gebiede is verweer deur plunderende troepe. Die bevolkings van die Duitse state, die Lae Lande en Italië het aansienlik afgeneem as gevolg van voorvalle van hongersnood en siekte, terwyl vegtende magte bankkrotskap in die gesig gestaar het.

In die 17de eeu was daar van leërs verwag om hul fondse grotendeels te verkry uit buit of huldeblyke (wat afgedwing is in die gebiede waar hulle gestasioneer is). Hierdie metode het 'n soort wetteloosheid aangemoedig, wat 'n swaar las vir inwoners van die beleërde gebiede was. Die Dertigjarige Oorlog is amptelik beëindig met die verdrae van Osnabrück en Münster, as deel van die groter Vrede van Wesfale.

Heilige Romeinse Ryk

Die Heilige Romeinse Ryk was die magsgebied van die Romeins-Duitse keisers van die Middeleeue tot 1806.

Ná die afsterwe van Lodewyk die Vrome is die Frankiese Ryk in drie dele verdeel:

die Wes-Frankiese Ryk, die historiese voorloper van die huidige Frankryk,

Lotaringe, 'n koninryk, wat van die Noordsee tot by Rome gestrek, maar uiteindelik verdwyn het, en

die Oos-Frankiese Ryk, net soos Lotaringe 'n uitgestrekte ryk in die hart van Europa.Die Heilige Romeinse Ryk is vanaf die 10de eeu onder die heerskappy van die Ottone-dinastie uit die voormalige Karolingiese Oos-Frankiese Ryk gevorm. Die Oos-Frankiese koning het na homself as die rex Francorum orientalium verwys - "koning van die Oos-Franke" - en was in feite die heerser oor 'n ryk met 'n verskeidenheid opstandige stamme.

Die term Romanum Imperium (Latyns "Romeinse Ryk") was eers vanaf 1034 gebruiklik, Sacrum Imperium ("Heilige Ryk") vanaf 1157, terwyl die titel Sacrum Romanum Imperium vir die eerste keer in 1254 in 'n historiese dokument gebruik is.

Vanaf die 15de eeu is ook die bynaam "van die Duitse Nasie" (Nationis Germaniae) gebruik om spesifiek na die Duitssprekende gebiede van die ryk te verwys, en die bewoners het geleidelik 'n soort kulturele gemeenskapsgevoel ontwikkel. Die term "Duitse Nasie" verwys daarnaas ook na die Duitse herkoms en moedertaal van alle Romeinse keisers vanaf 962 (toe Otto I die kroon van die ryk verwerf het) tot die einde van die Heilige Romeinse Ryk in 1806. Geskiedkundiges verwys na die Heilige Romeinse Ryk soms ook as die Ou Ryk, ter onderskeiding van die Duitse Ryk, wat in 1871 gestig is.

Vanweë sy supranasionale karakter het die ryk nooit tot 'n nasionale staat in die moderne sin ontwikkel nie, maar het dit steeds 'n soort monargiese raamwerk vir die groot aantal onafhanklike Duitse state gebly. Behalwe vir die keiser en die ryksstande was daar ook min gemeenskaplike instellings.

Danksy sy swak strukture was die Heilige Romeinse Ryk ná die Middeleeue ook nie meer in staat om 'n oorlog te voer of sy magsgebied uit te brei nie. Die ryk se bevoegdhede was in die algemeen beperk tot gebiede soos die regssekerheid en die bewaring van vrede. Die ryk het sorg gedra vir politieke stabiliteit en die vreedsame beslegting van konflikte deur die magsdinamiek binne perke te hou: dit het die onderdane beskerm teen willekeurige magsmisbruik van plaaslike heersers en kleiner ryksstande teen regsverkragting deur die magtige ryksstande en die keiser.

Ná die Vredesluiting van Münster (Wesfalen) in 1648 was ook die buurlande as ryksstande 'n deel van die bedeling. Die Heilige Romeinse Ryk het sodoende ook 'n rol gespeel by die bewaring van vrede binne die Europese konstellasie van state.

Sedert die middel van die 18de eeu was die ryk nogtans te swak om sy deelstate teen die magsuitbreiding van interne en eksterne magte te beskerm. Sy politieke onmag was uiteindelik ook een van die redes vir sy agteruitgang. Napoléon Bonaparte se verowerings en die stigting van die Rynbond het die ryk byna heeltemal verlam. Nadat keiser Frans II op 6 Augustus 1806 afstand van die rykskroon gedoen het, is die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie uiteindelik ontbind.

Holland

Holland was oorspronklik 'n graafskap van die Heilige Romeinse Ryk wat uiteindelik een van die sewe Nederlande van die Republiek geword het. Holland was die belangrikste en rykste van die sewe en die tuiste van die VOC (saam met Zeeland). Deur sy rykdom het die provinsie die republiek polities gedomineer. Ná die tyd van Napoleon is Holland opgedeel in die twee huidige Nederlandse provinsies: Noord-Holland en Zuid-Holland.

Huis van Habsburg

Die Huis van Habsburg is ’n ou en belangrike Oostenrykse vorstehuis wat eeue lank keisers, konings, grawe en hertoë opgelewer het. Die naam van die dinastie is afgelei van die Habsburg, 'n kasteel in die huidige Switserse kanton Aargau. Die oudste dokument, waarin na die dinastie verwys word, dateer van 1108.Tans is daar sowat 600 persone wat die adellike familienaam von Habsburg dra. Karl von Habsburg (Karl Habsburg-Lothringen, * 1961), die oudste seun van Oostenryk-Hongarye se laaste kroonprins Otto von Habsburg (1912−2011), het as hoof en spreker van die Huis van Habsburg gefungeer en die familie se gedragskode toegepas. Alhoewel die Huis van Habsburg tradisioneel aanhangers van die Rooms-Katolieke Kerk was, is daar tans ook Protestantse lede.

Italia (Romeinse Ryk)

Italia was in die antike tydperk die geografiese en kulturele kernland van die Romeinse Republiek en latere Keiserryk waaraan besondere godsdienstige, regtelike en politieke status toegeken is.

Justinianus I van Bisantium

Justinianus I (Latyn: Petrus Sabbatius Iustinianus Augustus, Grieks: Φλάβιος Πέτρος Σαββάτιος Ἰουστινιανός; omstreeks 482 – 14 November 565), algemeen bekend as Justinianus die Grote, was die Bisantynse keiser van 527 tot met sy dood in 565. Tydens sy bewind het hy probeer om die Oos-Romeinse Ryk se glorie te herstel en die verlore westelike helfte van die klassieke Romeinse Ryk te herower.

Hy was een van die belangrikste figure van die Laat Oudheid en die laaste Romeinse keiser wie se eerste taal Latyn was. Sy bewind het ’n onderskeid gebring in die geskiedenis van die Oos-Romeinse Ryk. Sy administrasie het ’n uitwerking gehad ver buite sy tyd en grense, en is gekenmerk deur die ambisie om "die ryk te herstel".’n Vernietigende builepes-epidemie in die vroeë 540's het die einde van ’n tydperk van grootsheid ingelui. Die ryk het ’n agteruitgang beleef wat eers in die 9de eeu omgekeer is.

Procopius is die primêre bron oor die bewind van Justinianus en latere gebeure is geboekstaaf deur Johannes van Efese. Albei historici het verbitter geraak teenoor Justinianus en sy vrou, Theodora.

Justinianus word onder Ortodokse Christene as ’n heilige beskou. Sy feesdag is 14 November (of soms 27 November volgens die Gregoriaanse kalender).

Karel die Grote

Karel die Grote (Latyn: Carolus Magnus of Karolus Magnus, Duits: Karl der Große, Engels en Frans: Charlemagne) (742 of 747 – 28 Januarie 814) was die Koning van die Franke van 768 tot met sy dood in 814. Hy het Italië oorwin en die Yster Kroon van Lombardye in 774 aangeneem. Op 'n besoek aan Rome in 800 is hy deur Pous Leo III op Kersdag tot keiser gekroon waarmee die herlewing van die Romeinse ryk tradisie in die Weste ingelui is in die vorm van die Heilige Romeinse Ryk. Deur sy buitelandse oorwinnings en interne hervormings het Karel die Grote bygedra tot die herdefinisie van Wes-Europa en die Middeleeue. Sy heerskappy word ook geassosieer met die Karolingiese Renaissance, 'n herlewing van kuns en onderwys in die Weste.

Karel die Grote was die seun van Pepyn die Korte en sy vrou Bertrada van Laon. Sy oorspronklike naam in Oud-Frankies is nooit gedokumenteer nie, maar vroeë voorbeelde van sy naam in Latyn lees "Carolos" of "Karol's". Hy het sy vader opgevolg en saam met sy broer Karloman regeer tot laasgenoemde se dood in 771. Karel die Grote het sy vader se beleid teenoor die pousdom voortgesit en het die beskermer van die pousdom geword, die Longobarde se mag in Italië opgehef, en oorlog gevoer met die Sarasene, wat sy ryk uit Spanje lastig geval het. Tydens een van die veldtogte het hy een van die ergste nederlae van sy lewe by Roncesvalles deurgemaak (778). Hy het ook veldtogte teen die bevolkings oos van sy ryk gevoer, veral die Sakse, en hulle na 'n uitgerekte oorlog aan sy heerskappy onderwerp. Deur hulle na Christendom te bekeer het hy hulle in sy ryk geïntegreer en dus die weg gebaan vir die latere Ottoniaanse Dinastie.

Vandag word Karel die Grote as die vader van beide Frankryk en Duitsland gesien, en soms ook as die Vader van Europa. Hy was die eerste heerser van 'n Wes-Europese keiserryk sedert die val van die Romeinse Ryk.

Keiser

'n Keiser is 'n manlike monarg en leier van 'n keiserryk. Keiserin is die vroulike eweknie. Die titel is afkomstig van die latynse Caesar afkomstig van Gaius Julius Caesar. ’n Keiser word beskou as hoër as 'n koning. Van die lande soos die Duitse Keiserryk en die Keiserryk Oostenryk was in hul geheel onder die gesag van 'n keiser, terwyl enkele dele van die lande as 't ware koninkryke gevorm het en dus deur konings beheer is. Byvoorbeeld was die Koninkryk Pruise deel van die Duitse Keiserryk en die Pruisiese koning was in personele unie gelyktydig keiser van die Duitse Ryk, terwyl lande soos Beiere, Sakse en Württemberg hul eie konings gehad het. In Oostenryk-Hongarye was die Keiser van Oostenryk gelyktydig koning van Hongarye.

'n Keiser kom gewoonlik aan bewind wanneer een van sy ouers sterf. In sommige lande stem mense vir 'n nuwe keiser vanuit 'n lys van kandidate.

Die enigste oorblywende keiser in die wêreld vandag is die Keiser van Japan. Oor die geskiedenis het verskeie lande op verskillende tye keisers gehad, insluitende Brasilië, Meksiko, Ethiopië, Indië (Mogolryk en Brits-Indië), Iran, Korea, die Chinese Keiserryk, die Duitse Keiserryk, die Keiserryk Oostenryk, Oostenryk-Hongarye, die Romeinse Ryk, die Bisantynse Ryk, die Ottomaanse Ryk, Frankryk en die Russiese Ryk.

Konstantinopel

Konstantinopel is 'n vorige naam van Istanboel aan die Bosporus. Voorheen was dit bekend as Bisantium. Dit is Turkye se belangrikste en grootste stad.

Konstantyn die Grote

Caesar Flavius Valerius Aurelius Constantinus Augustus (27 Februarie omstreeks 272 – 22 Mei 337), algemeen bekend as Konstantyn die Grote, Konstantyn I of in die Ortodokse Kerk as Sint Konstantyn, was van 306 tot 324 medekeiser van die Romeinse Ryk saam met Licinius en tot met sy dood in 337 die alleenkeiser. Hy is algemeen bekend as die eerste Christelike Romeinse keiser.

Konstantyn vaardig die Edik van Milaan uit in die jaar 313. Daarvolgens verkry die Christene geloofsvryheid in die Romeinse Ryk. Hulle kon nou vrylik byeenkom sonder die vrees vir vervolging. Hierdie geloofsvryheid, tesame met die aktiewe steun van Konstantyn, lei tot 'n geweldige groei in die getalle van die Christelike kerk.

Hy roep die Eerste Konsilie van Nicea byeen in 327, as 'n geleentheid om konsensus rondom etlike sake in die Christelike kerk te bereik.

Konstantyn het die antieke Griekse kolonie Bisantium omskep in ’n nuwe keiserlike hoofstad, Konstantinopel, wat langer as 1 000 jaar die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk sou bly.

Latyn

Latyn (Lingua Latina) was 'n taal wat oorspronklik in die streek Latium, wat Rome insluit, gepraat is. Dit het baie aansien en belang verwerf as die amptelike taal van die Romeinse Ryk. Belangrike Latynse skrywers was Cicero, Tacitus, Vergilius, Horatius en Ovidius.

Nicea

Nicea (Grieks: Νίκαια Βιθυνίας, Níkaia Bithynías; Latyn: Nicaea) was ’n ou Griekse stad in Klein-Asië. Dit is veral bekend vir die Eerste en Tweede Konsilie van Nicea wat in die eerste millennium n.C. daar gehou is. Dit is tans die stad İznik in Turkye.

Die stad is omstreeks 310 v.C. gestig deur Antigonus I Monophthalmus, wat dit Antigoneia genoem het. Toe hy verslaan word by die Slag van Ipsus (301 v.C.), het die stad in die hande geval van die Thessaliese generaal Lysimachus, wat dit hernoem het na Nikaia, ter ere van sy vrou. Later het dit deel van die Romeinse Ryk geword en die naam is verlatyns na Nicaea, wat in Afrikaans Nicea gespel word.

Die groot Griekse sterrekundige Hipparchos is omstreeks 190 v.C. hier gebore en die Griekse wiskundige en sterrekundige Sporus van Nicea in 240 n.C.

Die stad het in 1331 deel van die Ottomaanse Ryk geword en heet sedertdien İznik.

Hierdie artikel is vertaal uit die Nederlandse Wikipedia

Prefektuur

'n Prefektuur is een van 'n aantal verskillende 'n administratiewe onderafdelings van 'n land wat histories in die Romeinse Ryk gebruik is en vandag in Frankryk, voormalige Franse kolonies, Italië, Brasilië en Griekeland gebruik word. In Frankryk verwys die term vandag gewoonlik na die administratiewe hoofstad van 'n département of 'n région (gewes). Dit is ook die Afrikaanse naam vir onderafdelings van Japan en Antieke en moderne China.

Romaanse tale

Die term Romaanse taal verwys na die groot en wydverspreide familie van tale, wat hulle oorsprong in die Latynse taal het. Latyn self word by die Italiese tale gereken. Daar is tans meer as 600 miljoen sprekers van Romaanse tale wêreldwyd, hoofsaaklik in Noord- en Suid-Amerika, Europa en Afrika.

Die Romaanse tale het almal uit die Vulgêrlatynse omgangstaal van die soldate, setlaars en slawe van die Romeinse Ryk ontwikkel, wat in baie opsigte van die klassieke Latynse skryftaal van die Romeinse literati met sy fyn afgewerkte en soms kunsmatige grammatika verskil. Die omgangstaal in die Romeinse Ryk was deur 'n duidelik eenvoudiger verbuigingstelsel en sinsbou gekenmerk. Ook sy woordeskat wyk af van die klassieke Latyn. Vulgêr-Latyn het in die tydperk tussen 200 v.C. en 100 danksy die uitbreiding van die Romeinse magsgebied en die administratiewe en opvoedkundige beleid van die Romeinse owerhede die oorheersende taal in groot dele van Europa geword, en dit was in die antieke tydperk die verkeerstaal van 'n gebied, wat van die Iberiese Skiereiland in die weste tot by die Swart See in die ooste van Europa gestrek het.

Na die ondergang van die Romeinse Ryk het die plaaslike variante van Vulgêr-Latyn geleidelik tot tientalle selfstandige tale en dialekte ontwikkel. Die oorsese koloniale gebiede van Spanje, Portugal en Frankryk het die Romaanse taalgebied sedert die 15de eeu aansienlik vergroot, en tans woon twee derdes van alle Romaanstaliges buite Europa.

Die Romaanse dialekte en tale het in die loop van hulle geskiedenis onder die invloed van baie vreemde tale gestaan, nogtans is die Vulgêr-Latynse fonologie, morfologie, woordeskat en sinsbou grotendeels bewaar. Die Romaanse groep van tale beskik dus oor 'n aantal gemeenskaplike besonderhede, waarmee hulle duidelik van die ander taalgroepe in die Indo-Europese familie van tale onderskei kan word. Hulle het byvoorbeeld meesal die verbuigings van die klassieke Latyn verloor en in plaas daarvan 'n min of meer vaste woordvolgorde ontwikkel. Daarnaas maak hulle grootskaals gebruik van voorsetsels.

Die hooftale in die Romaanse groep is:

Frans

Italiaans

Katalaans

Korsikaans

Oksitaans

Portugees

Retoromaans

Roemeens

Sardies

Sisiliaans

Spaans

Theodosius I

Theodosius (11 Januarie 347 – 17 Januarie 395), ook bekend as Theodosius I of Theodosius die Grote (Grieks: Θεοδόσιος of Θεοδόσιος ο Μέγας), was van 379 tot 395 keiser van die Romeinse Ryk. Hy het die oostelike en die westelike deel van die ryk herenig en was die laaste heerser van albei dele. Ná sy dood is die twee dele permanent verdeel tussen sy twee seuns, Arcadius en Honorius.

Tunisië

Tunisië (Arabies: تونس, Tūnis, ; Berber: ⵜⵓⵏⴻⵙ; Frans: Tunisie), amptelik die Republiek Tunisië (Arabies: الجمهورية التونسية, al-Jumhūrīya at-Tūnisīya, ; Berber: ⵜⴰⴳⴷⵓⴷⴰ ⵏ ⵜⵓⵏⴻⵙ), is 'n republiek geleë aan die kus van Noord-Afrika langs die Middellandse See in die Magreb-streek. Dit is die mees oostelike en ook die kleinste van die nasies langs die Atlasgebergte, en begrens Algerië aan die weste, en Libië aan die suide en ooste. Tunisië word as die enigste volledige demokrasie van die Arabiese wêreld beskou.Veertig persent van die land bestaan uit die Saharawoestyn, met die res wat bestaan uit redelike vrugbare grond, wat maklik bereikbaar is vanaf die kus. Beide faktore het 'n prominente rol gespeel in antieke tye, eerste betreffende die Fenisiese stad van Kartago, en later as die provinsie van Afrika in die Romeinse Ryk, het dit bekend geword as die broodmandjie van die Romeinse Ryk. Daar word beweer dat die naam Tunis ontstaan het uit Berber, met die betekenis van óf 'n geografiese prominensie, óf "om te oornag".

Wes-Romeinse Ryk

Die Wes-Romeinse Ryk (Latyns: Imperium Romanum Occidentale) het ontstaan met die laaste verdeling van die Romeinse Ryk in 395 onder die twee seuns van Theodosius I: Arcadius het vanaf Konstantinopel oor die Oos-Romeinse Ryk geregeer en Flavius Honorius het vanaf Milaan en later Ravenna oor die Wes-Romeinse Ryk geheers.

Die Wes-Romeinse Ryk het geëindig - afhangende van die perspektief - in Augustus 475 met die uitsetting van die laaste Wes-Romeinse keiser Julius Nepos, wat deur die Bisantynse Augustus Zenon erken is, deur die Wes-Romeinse bevelvoerder Orestes, in Augustus 476 met die afsetting van die jong usurpator en teenkeiser Romulus Augustus deur die Wes-Romeinse bevelvoerder Odoaker of in die jaar 480 met die moord van die in die provinsie Dalmatia gevlugte Julius Nepos, wat spyte van die uitsetting steeds as Augustus (keiser) van die Wes-Rome beskou het.

Met die einde van die Wes-Romeinse Ryk het in Wes-Europa nie 'n keiserryk meer bestaan nie, net die Oos-Romeinse of later Bisantynse Ryk het as enigste keiserryk in Europa in die vroeë Middeleeue bestaan. Net met die kroning van Karel die Grote deur Pous Leo III het weer 'n Wes-Europese keiserryk ontstaan, die Frankiese Ryk.

Geskiedenis van Europa
Voorgeskiedenis
Klassieke oudheid
Middeleeue
Vroegmoderne
Modern
Sien ook

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.