Paasfees

Paasfees (Grieks: Πάσχα; Latyn: pascha, albei afgelei van Hebreeus: Pesach) is een van die belangrikste gelowige feeste in die Christelike kerklike jaar en word tussen laat Maart tot vroeg April gevier (vroeg April tot vroeg Mei in vroeë Christendom). Paasfees vier die opstanding van Jesus Christus, wat, volgens sy volgelinge, op die derde dag na sy kruisiging uit die dood uit opgestaan het (ongeveer 27 tot 33 n.C.).

Paasfees verwys ook na 'n seisoen in die kerkjaar, en duur vir vyftig dae, van Paassondag tot Pinksterdag. Dié tradisie van vyftig dae het sy oorspring in die tydperk tussen die Joodse feeste Pesach en Sjawoe'ot. Daarbenewens verwys die Paaskring na een van die belangrikste periode van die liturgiese jaar, wat vanaf Aswoensdag tot Trinitatis, die Sondag ná Pinkster, streek.

Russian Resurrection icon
16de-eeuse Russies-Ortodokse ikoon van die opstanding van Jesus Christus
12. Old Russian Easter Postcard
Paaslammetjies op 'n historiese Russiese poskaart
02014 Osterfeuer an der Franziskanerkirche in Sanok
'n Paasvuur voor die Fransiskanerkerk te Sanok, Bieszczady, Pole
Lammgottes
Die Lam van God oor die portaal van die Lutherse Sint Andreaskerk in Brunswyk, Nedersakse, Duitsland
Simnel cake (8726396317)
In die Verenigde Koninkryk en Ierland word die Paasteetafels gedek met 'n ryklik versierde vrugtetert, die simnel cake
Barack Obama at this 2009 White House Easter Egg Roll
President Barack Obama tydens die White House Easter Egg Roll in 2009
Easter eggs - straw decoration
Hanácké kraslice, tradisioneel versierde Paaseiers in Tsjeggië

Datum en oorsprong

Volgens die ooreenstemmende verhale in die Christelike Griekse Skrifte, of Nuwe Testament van die Bybel, het Jesus van Nasaret (Jesus Christus) op die eerste dag van die Joodse week uit die dood opgestaan (Markus 16,2,[1] Matteus 28,1,[2] Lukas 24,1,[3] Johannes 20,1[4]) – dus op 'n Sondag. Dit was tegelykertyd die "derde dag" ná die kruisiging van Jesus (Lukas 24,7)[5] wat derhalwe op 'n Vrydag – Goeie Vrydag – plaasgevind het.

Die Paasfees en die Joodse Pesach

Die Christelike fees van Jesus Christus se opstanding is onlosmaaklik verbonde aan die Joodse Pesachfees (Aramees: Pasga), veral om chronologiese redes aangesien Jesus volgens die Nuwe Testament en die sinoptiese oorlewering tydens die Pesachfees (of op die vooraand van die fees, aldus die Evangelie volgens Johannes) oorlede is.

Die Christelike tradisie het daarnaas ook inhoudelike elemente van die Joodse Pesachfees oorgeneem en met betrekking tot Jesus geherinterpreteer. Hierdie elemente sluit die simbool van die Paaslam in: Tydens die Pesachfees is lamme in die Israelitiese tempel van Jerusalem geslag. Die Paasfees word daarnaas net soos Pesach as 'n fees van bevryding gevier – die Israeliete het gedurende hul fees die bevryding uit die Egiptiese slawerny gevier, die Christene die opstanding van Jesus uit die dood.

Paasfeesdatums

Die vroegste moontlike termyn volgens die Gregoriaanse kalender is 22 Maart en die laaste moontlike is 25 April. In die Juliaanse kalender, wat veral deur die Oosters-Ortodokse Kerke gebruik word, verskil dié datum effens.

2000–2010
Jaar Weste Ooste
2000 23 April 30 April
2001 15 April
2002 31 Maart 5 Mei
2003 20 April 26 April
2004 11 April
2005 27 Maart 1 Mei
2006 16 April 23 April
2007 8 April
2008 23 Maart 27 April
2009 12 April 19 April
2010 4 April
2011–2021
Jaar Weste Ooste
2011 24 April
2012 8 April 15 April
2013 31 Maart 5 Mei
2014 20 April
2015 5 April 12 April
2016 27 Maart 1 Mei
2017 16 April
2018 1 April 8 April
2019 21 April 28 April
2020 12 April 19 April
2021 4 April 2 Mei

Paasgebruike

In die Christelike wêreld het 'n verskeidenheid Paasgebruike ingeburger waarin voor-Christelike rituele en simboliek nuwe Christelike betekenisse gekry het soos die verf van Paaseiers (wat Jesus Christus se leë graf versinnebeeld) of die versiering van kerkkansels met Paaslelies as simbole van die opstanding van Jesus Christus. Ook word besondere disse as Paasetes bedien.

Die presiese oorsprong van Paaseiers as Christelike simbole is onbekend. Eiers versinnebeeld in baie gelowe nuwe lewe en hergeboorte. Reeds in antieke Griekeland en Rome is ter geleentheid van lentefeeste eiers versier en aan vriende geskenk. Tempels is eweneens versier met bont eiers.

Gedurende die Middeleeue is leenhere, onderwysers en kerklike ampsdraers dikwels onder meer met eiers betaal. Eiers was een van die kosse wat tydens die Vastyd in die weke voor die Paasfees nie genuttig is nie. Hulle is derhalwe hard gekook om hulle te preserveer en eers op Paassondag geëet.[6]

Die wegsteek en soek van paaseiers is veral gewild by eiers, maar ook volwassenes hou daarvan om hul paasgeskenk of -verrassing op Paassondag te gaan soek. Dié tradisie het eers betreklik laat ingeburger geraak – die vroegste skriftelike oorlewerings daarvan, wat in Duitse tekste voorkom, dateer uit die 17de eeu. Om die soek van Paaseiers aantrekliker te maak vir kinders, word die storie van die Paashaas vertel wat die eiers versier en wegsteek. Dié verhaal word vir die eerste keer in die tweede helfte van die 17de eeu gedokumenteer. In sommige streke is Paaseiers ook deur 'n vos, 'n koekoek of 'n haan afgelewer. Met die opkoms van 'n kommersiële speelgoed- en lekkergoedbedryf vanaf die later 19de eeu het die Paashaas die dominante figuur in die volksverhale vir die Paastyd geword. Die haas was egter al sedert die antieke tydperk 'n simbool vir vrugbaarheid en 'n nuwe begin asook die gunstelingdier van 'n verskeidenheid godinne soos Afrodite in antieke Griekeland.

In Skotland, maar ook buite die Withuis in Washington, D.C. word hard gekookte Paaseiers gerol.[7] Dié tradisie word verbind met die verhaal van die engel wat die rots voor Jesus se graf weggerol het.[8]

Die Paaslamtradisie het sy oorsprong in die Joodse Pesach- of Pasgafees wat aan die Israeliete se bevryding deur die uittog uit Egipte herinner. Joodse gelowiges het tradisioneel 'n lam geslag vir hul Pasga-feesmaal. In die Christelike tradisie versinnebeeld die lam die lewe en geestelike reinheid, maar veral Jesus Christus as die Lam van God. Dikwels word in Christelike kerke vaandels met die Paaslam vertoon as simbool vir Jesus se offer en dsy oorwinning oor die dood. Al word in sommige Christelike gesinne lamvleis op Paasondag bedien, het ook simboliese Paaslamme, wat van roerdeeg gebak word, gewild geraak.

Paasvure het hul oorsprong in voor-Christelike tradisies waarvolgens ná die koue winter die son met vure terug na die aarde getrek is om weer lig en warmte te lewer en 'n goeie oes te verseker. Vuur het egter ook simboolkrag in die Joods-Christelike geloof soos in die verhaal van Moses en die brandende doringbos, waarin God verskyn, in Eksodus 3,1–12.

Sien ook

Verwysings

  1. (af) "Markus 16,2". Bybel: Markus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019. Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom.
  2. (af) "Matteus 28,1". Bybel: Matteus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019. Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.
  3. (af) "Lukas 24,1". Bybel: Lukas. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019. Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het.
  4. (af) "Johannes 20,1". Bybel: Johannes. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019. Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is.
  5. (af) "Lukas 24,7". Bybel: Lukas. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 16 Mei 2019. en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”
  6. (de) familie.de: Osterbräuche. Besoek op 1 April 2018
  7. (en) CBS News, 2 April 2018: Trump, first lady host annual White House Easter Egg Roll. Besoek op 2 April 2018
  8. (en) Intangible Cultural Heritage (ICH) Scotland: Egg rolling at Easter. Besoek op 2 April 2018

Eksterne skakels

Allerheilige

Allerheilige (Latyn: Festum Omnium Sanctorum, letterlik: "Fees van al die heiliges") is 'n Christelike stille fees ter herdenking van al die heiliges – reeds bekendes en nog onbekendes. In die Rooms-Katolieke Kerk se liturgiese jaar word die fees op 1 November gehou en in die Oosters-Ortodokse Kerk op die eerste Sondag ná Pinkster. Oriëntale Ortodokse kerke van Chaldea en verbonde Oos-Katolieke kerke herdenk Allerheilige op die eerste Vrydag ná Paasfees.Op die vooraand van Allerheilige word Halloween gevier, oorspronklik as herdenking van die dooies. Op die dag na Allerheilige word Allersiele ter herdenking van al die oorledene gelowiges gehou.

April

April is die vierde maand van die jaar in die Gregoriaanse kalender, met 30 dae. Die naam is afgelei van die Latynse woord aperire, wat waarskynlik verwys na die groeiende plante in die lente van die noordelike halfrond.

Aswoensdag

Aswoensdag (Latyn: Feria quarta cinerum, letterlik: "vierde dag" (= Woensdag) "van die as" of Dies cinerum, "dag van die as", ook "Asdag" genoem) is in die Rooms-Katolieke Kerk sedert die pontifikaat van Pous Gregorius I (590–604) die eerste dag van die 40 dae se vastyd, waarin Christene hulself vir Paasfees voorberei. Die dag voor Aswoensdag word Vasaand of Vette Dinsdag genoem.

Op Aswoensdag word tydens die kerkdiens die as van die verbrande palmtakke van verlede jaar gewy en op die voorkop van die gelowiges in die vorm van 'n kruis geteken. Die ontvangs van die askruis word as 'n teken met 'n helende effek, die sakramentaliëe, beskou.

Die vastyd sal aan die 40 dae, wat Jesus met vas en gebed in die woestyn deurgebring het (Matteus 4,2), herinner en die gelowiges op Paasfees voorberei. Omdat die vastyd in die Oosters-Ortodokse Kerk op Sondagaand van die sewende week voor Paasfees begin, is die tradisie van 'n Aswoensdag in die Oosterse liturgie onbekend.

Florida

Florida is 'n deelstaat in die suidooste van die Verenigde State van Amerika. Dit bestaan hoofsaaklik uit 'n skiereiland, wat in die weste deur die Golf van Meksiko en in die ooste deur die Atlantiese Oseaan begrens word. Florida het 'n warm, vogtige subtropiese klimaat en steun veral op toerisme. Sy hoofstad is Tallahassee en sy grootste stede is Jacksonville en Miami.

Die gebied is deur die Spaanse seevaarder Juan Ponce de León vernoem, wat op 2 April 1513 by St. Augustine voet aan land gesit het, en sy oorspronklike Spaanse naam, Pascua Florida (letterlik "Bloemryke Paasfees"), verwys na hierdie datum in die Paasseisoen.

Gesinsdag

Gesinsdag is die Maandag ná Paasfees. Die dag staan ook as Paasmaandag of Tweede Paasdag bekend en word algemeen in Christelike lande as 'n publieke vakansiedag waargeneem.

Goeie Vrydag

Goeie Vrydag is die Vrydag voor Paasfees. Op hierdie dag herdenk Christene die kruisiging en dood van Jesus op die heuwel Golgota naby die stad Jerusalem. Dit volg nadat die Romeinse keiser, Pontius Pilatus, Jesus op aandrang van die sanhedrin, die Joodse hoë raad, tot die dood veroordeel het.

Die dag word as 'n openbare vakansiedag in Suid-Afrika en verskeie ander lande gedenk.

Meeste Christelike kerke hou eredienste om die dag se gebeure te gedenk. Nagmaal word dikwels by sulke dienste bedien.

Heilige Saterdag

Heilige Saterdag is die laaste dag van Lydensweek (wat volgens liturgiese telling begin met Palmsondag as eerste dag van dié week), waarin Christene hulself vir Paasfees voorberei. In die Kopties-Ortodokse Kerk word dié dag ook Vreugdevolle Saterdag of Saterdag van Lig genoem. Liturgies gesien duur Heilige Saterdag slegs tot die aandskemer, waarna die Paaswake gevier word en vervolgens die eintlike Paasfees begin, omdat 'n dag volgens Joodse tradisie met sononder begin en die oorspronklike Paaswake tydens Pesach gehou is.

Heilige Saterdag is die Saterdag voor Paasfees en die dag ná Goeie Vrydag. Dit is die tweede dag van die Paastriduüm (Triduum Sacrum of Triduum Paschale), die tydperk van passie, dood en opstanding van Jesus; hierdie tydperk sluit Wit-Donderdag en Goeie Vrydag in, en eindig op die aand van Paasfees.Christene herdenk op Heilige Saterdag Jesus se tyd in die graf en sy neerdaling na die hel, waar hy ná sy kruisiging "na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig" het (1 Petrus 3:19). Soms word na die Heilige Saterdag as Paassaterdag verwys, hoewel dit nie met die kerklike tradisie ooreenstem nie: Paassaterdag is in die kerklike liturgie die Saterdag ná Paasfees en vervolgens dié dag voor Wit-Sondag, 'n week ná Paasfees.

Hoendervleis

Hoendervleis is die vleis afkomstig van 'n hoender. Dit is die vleissoort wat die meeste geëet word ter wêreld. Hoender word as deel van 'n maaltyd soos middagete of aandete geëet. Dikwels is dit ook 'n spesialiteit in 'n restaurant of tydens feesdae soos Paasfees en Kersfees. Hoendervleis word, net soos die vleis van ander pluimvee (voëls), witvleis genoem. Dit is in teenstelling met die rooivleis van soogdiere.

Hoendervleis kan op baie maniere voorberei word as voedsel, byvoorbeeld gerooster, op 'n braaier, gebak of gekook met allerlei kruie en speserye, selfs gekook in sop.

Liturgiese jaar

Die liturgiese of kerklike jaar van die Rooms-Katolieke Kerk is nie gelyk aan die Kalenderjaar nie. Dit word ingedeel in twee kringe rondom die groot feesdae Kersfees en Paasfees. Die liturgiese jaar word ingelui met die Kerskring wat begin met die eerste Sondag van Advent (eintlik die vespers of aandgebed op die vooraand van dié Sondag), die Kersmis insluit en op die vierde Sondag ná Driekoningedag (Epifanie) eindig. Vervolgens begin die Paaskring wat, na gelang van die gebruikte liturgiese kalender, begin met Septuagesima (70 dae voor Paasfees) of Aswoensdag. Hierdie kring eindig 50 dae ná Paasfees met Pinkster. Die Sondag daarop volg Trinitatis (Drie-eenheid-Sondag) met die aansluitende 27 Sondae ná Trinitatis. Hierdie periode word verder onderverdeel in die somerkring (Trinitatis en die 12 Sondae daarna) en die herfskring (van die 13de tot die 27ste en laatste Sondag ná Trinitatis). Daarmee is die kring van die liturgiese jaar voltooi.

Nederland

Hierdie artikel handel oor die land in Europa, wat deel uitmaak van die Koninkryk van die Nederlande, vir ander gelyknamige state, sien Nederland (dubbelsinnig).Nederland (Nederlands: [ˈneːdə(r)lɑnt] of [ˈneɪ̯də(r)lɑnt], ; Wes-Fries: Nederlân) is 'n land in die noordweste van die Europese vasteland. Dit word begrens deur die Noordsee in die noorde en weste, België in die suide en Duitsland in die ooste. Die hoofstad is Amsterdam en die regeringsetel is Den Haag. Die Karibiese eilande Bonaire, Saba en Sint Eustatius maak ook deel van Nederland uit. Saam met die Karibiese eilande Aruba, Curaçao en Sint Maarten vorm Nederland die Koninkryk van die Nederlande.

Mense verwys dikwels na Nederland as Holland — die naam van die ou provinsie Holland en die gesamentlike naam van die twee huidige provinsies Noord- en Zuid-Holland, maar Holland is net 'n deel van Nederland, soos Engeland net 'n deel van die Verenigde Koninkryk is.

Nederland is 'n stigterslid van die Europese Unie en van die NAVO. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer, in 2002 Euro-banknote en -muntstukke.

Palmsondag

Palmsondag is 'n Christelike fees wat op Sondag voor Paasfees gehou word. Dit is die sesde en laaste Sondag van die vastyd en lui die Heilige Week net vóór Paasfees in. In Evangelies-Lutherse Kerke word dié week ook Stille Week genoem. Die Groot of Heilige Week van die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse tradisies sluit ook Paasfees self in. Die Palmsondag se datum hou verband met dié van Paasfees.

Pesach

Pesach of Pasga (Hebreeus: פֶּסַח, péssag, ; Aramees: פַּסְחָא, pas’ga; Grieks: πάσχα, pás’ga; letterlik: "huppel", "spring"; figuurlik: "oorslaan", "weglaat"), ook lentefees, vryheidsfees of matsafees, is een van die belangrikste Joodse feesvierings. Dit herdenk die uittog uit Egipte onder die leierskap van Moses en die bevryding van die Israeliete uit slawerny, waarvan die Hebreeuse Bybel (Sjemot/Eksodus) vertel. Hierdie gebeure is sentraal in die Joodse etos en die oorvertelling (haggada) van hierdie gebeurtenis verbind elke nuwe generasie van Jode met hul sentrale bevrydingservaring.

Die Paasfees word deur Jode in die week van 15 tot 21, in die Joodse diaspora tot 22 Nisan, volgens die Joodse kalender gevier. Dit is 'n familiefees met verskillende rites soos die Seder en die weeklange nuttiging van matsot. Daarom word dit ook "Fees van ongesuurde brode" genoem. Saam met Sjawoe'ot en Soekot is Pesach een van die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj regalim). Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem getrek om daar offers te bring. Op Pesach volg 49 dae se Omertelling en op die 50ste dag, dus sewe weke en een dag na Pesach, word Sjawoe'ot gevier.

Pous Anicetus

Anicetus was die elfde pous van die Rooms-Katolieke Kerk.

Pous Soter

Soter was die twaalfde pous van die Rooms-Katolieke Kerk.

Pous Telesforus

Telesforus was die agste pous van die Rooms-Katolieke Kerk.

Pous Victor I

Victor I was die veertiende pous van die Rooms-Katolieke Kerk.

Teenpous Eulalius

Eulalius was die vierde teenpous van die Rooms Katolieke Kerk. Hy en Pous Bonifatius I is gelyktydig deur twee verskillende faksies verkies. Die hulp van keiser Honorius is ingeroep om die saak te besleg. Die keiser roep 'n sinode bymekaar, maar dit bring geen uitsluitsel nie. Daar word toe deur die keiser besluit om beide Eulalius en Bonifatius uit Rome te verban totdat 'n besluit geneem is. Eulalius het egter in weerwil van die keiser se bevel vir die Paasfees na Rome teruggekeer en die keiser het sy verkiesing nietig verklaar op 3 April 419. Eulalius het die keiser se bevinding aanvaar en op 29 April 419 vlug hy na Antium. Later word Eulalius 'n biskop onder Pous Celestinus

Umdloti

Umdloti is 'n dorpie en vakansieoord aan die noordkus van KwaZulu-Natal in Suid-Afrika. Dit is by die mond van die Mdlotirivier, noord van Durban geleë en vorm deel van eThekwini, die Groter Durban Metropolitaanse Munisipaliteit. Die naam Mdloti is 'n Zoeloewoord vir 'n spesie wilde tamatie wat hier groei.

Die dorp is bekend vir die dolfyne wat soggens naby die strand swem. Walvisse kan van Augustus tot November vanaf die strand gesien word. 'n Natuurlike rotspoel bied 'n veilige swemplek vir vakansiegangers.

Umdloti het 'n permanente bevolking van sowat 3 000 mense, maar dit verhoog tienvoudig oor Kersfees en Paasfees. Dit beskik oor 'n poskantoor en verskeie restaurante.

Wit-Donderdag

Wit-Donderdag is die vyfde dag van die Heilige of Stille Week (volgens liturgiese telling, beginnend met Palmsondag as eerste dag van dié week), waarin Christene hulself vir Paasfees voorberei. Op hierdie dag herdenk die Christelike kerke die Laaste Nagmaal van Jesus saam met die Twaalf Apostels op die vooraand van sy Kruisiging Jerusalem, soos beskryf deur die vier kanonieke evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes). Die liturgiese benaming is Feria quinta in cena Domini ("vyfde dag, by die Nagmaal van de Here").

Wit-Donderdag is die Donderdag voor Paasfees en dié dag voor Goeie Vrydag. Wit-Donderdag makeer die Paastriduum se begin, dié tydperk van passie, dood en opstanding van Jesus; hierdie tydperk sluit Goeie Vrydag en Heilige Saterdag in, en eindig op die aand van Paasfees. Die Nagmaal of diens van aanbidding word normaalweg op die aand gevier, omdat 'n dag volgens Joodse tradisie met sononder begin en die Laaste Nagmaal volgens die drie sinoptiese evangelies tydens Pesach gehou is.Wit-Donderdag is die eerste van die drie Stille Dae en word deur Goeie Vrydag en Heilige Saterdag opgevolg. Met die Vesper begin op die aand van Wit-Donderdag die Paastriduum (Triduum Sacrum of Triduum Paschale), d.w.s. die viering van die drie Paasdae (Goeie Vrydag, Heilige Saterdag en Paassondag). As herdenkingsdag van die Laaste Nagmaal en die daarmee gepaardgaande instelling van die Eucharistie deur Jesus self beskik die Wit-Donderdag oor 'n hoe rang binne die Christelike liturgie. As gevolg van die Stille Dae se fundamentele karakter as roudae en die medelydende passie van Jesus Christus word 'n ontplooiing van prag nie toegelaat nie. Nadat tydens die Vierde Lateraanse Konsilie (1215) 'n spesiale behoefte vir die aanbidding van die werklike teenwoordigheid van Jesus se liggaam en bloed opgedaag het, is in die 13de eeu in die Rooms-Katolieke Kerk 'n tweede Eucharistiese Hoogfees op die tweede Donderdag ná Pinkster ingevoer (Sakramentsdag), wat vervolgens 'n noue verband met Wit-Donderdag het. In sommige lande, soos Denemarke, Noorweë en Ysland, is Wit-Donderdag 'n openbare vakansiedag.

Kerskring
Paaskring
Jaarkring
Mariafeeste

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.