Orde van die Britse Ryk

Die Orde van die Britse Ryk (Engels: Most Excellent Order of the British Empire) is die jongste ridderorde in Brittanje en die Statebond.[1] Dit is op 4 Junie 1917 deur koning George V gestig en het vyf klasse, burgerlik en militêr. Lede van die eerste twee klasse is ’n ridder of dame.[2]

Daar is ook die verwante Britse Ryk-medalje, waarvan die lede by die orde ingelyf is, maar nie lede van die orde is nie.

Ster Orde van het Britse Rijk
Grootkruis van die Orde van die Britse Ryk.
Mbe medal front and reverse
’n MBE-medalje met ’n burgerlike band.

Huidige klasse

Die vyf klasse van die orde is, van die mees senior af:

  1. Grootkruis (Ridder of Dame) van die Orde van die Britse Ryk (GBE)
  2. Ridderkommandeur of Damekommandeur van die Orde van die Britse Ryk (KBE of DBE)
  3. Kommandeur van die Orde van die Britse Ryk (CBE)
  4. Offisier van die Orde van die Britse Ryk (OBE)
  5. Lid van die Orde van die Britse Ryk (MBE)

Ná die Tweede Wêreldoorlog het verskeie Suid-Afrikaners toekennings gekry: 41 die CBE, 147 die OBE, 363 die MBE en 224 die Britse Ryk-medalje.[3]

Verwysings

  1. "Order of the British Empire". The Official Website of the British Monarchy. The Royal Household. Besoek op 24 Augustus 2009.
  2. London Gazette, uitg. 30250, bylae 2. 24 Augustus 1917
  3. Ensiklopedie van die Wêreld, Deel 2. C.F. Albertyn (Edms.) Bpk, Stellenbosch, Suid-Afrika. 1971
Alan Turing

Alan Mathison Turing (23 Junie 1912 – 7 Junie 1954) was 'n Engelse wiskundige en informatikus (nog vóór die tyd dat die woord informatika bestaan). Alan Turing behandel filosofiese vraagstukke soos die moontlikheid dat 'n masjien kan dink, en dit was sy lewensideaal om self 'n denkende rekenaar te skep. Vandag word hy algemeen beskou as die vader van moderne rekenaarwetenskap, alhoewel dit nie die geval was tydens sy eie leeftyd nie.

Alcock en Brown

Alcock en Brown was twee vlieëniers wat die eerste ononderbroke vlug oor die Atlantiese Oseaan voltooi het. Hierdie twee Britte, sir John William Alcock (1892–1919) en sir Arthur Whitten Brown (1886–1948), het dié geskiedkundige vlug in 1919 (tussen Newfoundland en Ierland) onderneem.Die Atlantiese Oseaan is reeds vroeër in 1919 met 'n Amerikaanse NC-4-vliegtuig oorgesteek. Dit moes egter 'n paar landings op eilande langs die pad maak. Alcock en Brown het op 14 Junie van dieselfde jaar die eerste non-stop transatlantiese vlug voltooi.

Hulle het 'n omgeboude Vickers Vimy-bomwerper uit die Eerste Wêreldoorlog vir hulle geskiedkundige vlug aangepas. Die bom-kompartement is vir ekstra brandstof aangewend. Hulle het van St. John's, die hoofstad van die Kanadese provinsie Newfoundland en Labrador, opgestyg. Na 'n vlug van 16 uur en 12 minute land hulle in Clifden in Ierland. Die vliegtuig is met die landing beskadig, omdat hulle in 'n moeras geland het, maar nie een van die vlieëniers is beseer nie.

Winston Churchill het die Daily Mail-prys vir die eerste kruising van die Atlantiese Oseaan in 'minder as 72 uur' aan hulle oorhandig. 'n Week later word die Orde van die Britse Ryk deur George V van die Verenigde Koninkryk in die Windsor-kasteel aan hulle toegeken.

Alcock sterf op 18 Desember 1919 in 'n vliegongeluk in Frankryk. Brown is op 4 Oktober 1948 oorlede.

Angela Lansbury

Dame Angela Brigid Lansbury, DBE (gebore op 16 Oktober 1925) is ’n Brits-Amerikaanse aktrise en sangeres wat al in die teater, op televisie en in rolprente te sien was. Haar loopbaan strek oor sewe dekades en sy het internasionaal beroemd geraak.

Haar eerste rolprentrolle was in Gaslight (1944) en The Picture of Dorian Gray (1945). In die musiekteater het sy in 1966 bekend geraak vir haar hoofrol in die Broadway-musiekstuk Mame, waarvoor sy ’n rits pryse gewen het. Sy sal ook veral onthou word vir die TV-reeks Murder, She Wrote (1984–1996).

Lansbury het al ’n ere-Oscar gekry en het vyf Tonys, ses Golden Globes en ’n Olivier-prys gewen. Drie biografieë is oor haar geskryf.

Brian May

Brian May (* 19 Julie 1947 as Brian Harold May in Londen, Engeland), is 'n kitaarspeler, sanger en musiekkomponis. Hy is bekend as die kitaarspeler van Queen. Hy gebruik 'n tuisgemaakte elektriese kitaar met die naam Red Special.

Catherine Zeta-Jones

Catherine Zeta-Jones, CBE (gebore as Catherine Zeta Jones; 25 September 1969) is ’n Walliese aktrise. Sy het deur haar loopbaan baie lof gekry en verskeie pryse gewen, onder meer ’n Oscar, ’n Bafta en drie Screen Actor Guild Awards. Sy is in 2005 as Hasty Pudding Theatricals se vrou van die jaar aangewys en is in 2010 ’n Kommandeur van die Orde van die Britse Ryk gemaak.

Charlotte Rampling

Tessa Charlotte Rampling, OBE (Sturmer, 5 Februarie 1946) is 'n Engelse aktrise. Sy het in Engelse, Franse en Italiaanse rolprente verskyn. Sy word in 2001 'n lid van die Orde van die Britse Ryk en in 2002 'n lid van die Franse Erelegioen.

Rampling maak haar rolprentdebuut in 1965. Haar films sluit in: Georgy Girl (1966), The Damned (1969), The Night Porter (1974), Farewell My Lovely (1975), Stardust Memories (1980), The Verdict (1982), Angel Heart (1987), The Duchess (2008) en The Eye of the Storm (2011).

David Attenborough

David Attenborough (1926-) is 'n Britse natuurkundige en TV-persoonlikheid. Hy het talle TV-programme oor die natuur en diere oor die wêreld gemaak. Dit sluit in Life on Earth (1978), The Living Planet (1983), The Blue Planet (2001) en Life of Mammals (2002). Hy is in 1974 tot Kommandeur in die Orde van die Britse Ryk benoem en ontvang in 1980 'n Bafta Fellowship Award.

Geoffrey Boycott

Geoffrey Boycott (21 Oktober 1940-) is 'n Engelse krieketkolwer wat vir Yorkshire en sy land se nasionale span gespeel het. Sy loopbaan van meer as twintig jaar (1962 tot 1986) was soms omstrede, maar hy word as een van Engeland se beste openingkolwers beskou. Sedert sy uittrede het hy in 'n suksesvolle krieketkommentator geword.

Boycott het sy internasionale debuut in 1964 tydens 'n toetswedstryd teen Australië gemaak. Hy het dikwels met sy spanmaats vasgesit. Joernalis Ian Wooldridge het opgemerk dat "Boycott, in kort, alleen loop", terwyl krieketskrywer John Arlott gesê het dat Boycott 'n "eensame" loopbaan voer. Ander het egter beweer dat die omvang van sy introverte aard oordrewe was, en dat hoewel hy 'n "obsessie met sukses" gehad het, hy nie 'n selfsugtige speler was nie.Ná 108 toetswedstryde vir Engeland het hy sy internasionale loopbaan in 1982 beëindig. Teen daai tyd was hy die beste lopiemaker in toetskrieket met meer as 8000 lopies agter sy naam.Die Orde van die Britse Ryk is in 1980 aan hom toegeken en in 2009 is hy in die Internasionale Krieketraad se heldesaal vereer.

Helen Mirren

Dame Helen Lydia Mirren DBE (geb. Mironoff op 26 Julie 1945) is ’n Britse aktrise. Sy het haar loopbaan in 1967 by die Royal Shakespeare Company begin en is een van die min akteurs wat drie van die volgende vier pryse gewen het: die Oscar, Emmy, Grammy en Tony. Sy het die Oscar vir beste aktrise in 2007 ontvang vir haar rol as koningin Elizabeth II in The Queen. In 2015 het sy die Tony gewen vir beste aktrise in ’n toneelstuk vir haar rol, ook as Elizabeth II, in The Audience. In 1993 het sy die eerste van verskeie Emmys gewen vir haar rol as speurder Jane Tennison in die ITV-reeks Prime Suspect.

Van haar ander noemenswaardige rolle was in die 1984-rolprent Cal, waarvoor sy ’n Cannes-prys gewen het, The Cook, the Thief, His Wife & Her Lover (1989), The Madness of King George (1994), Teaching Mrs. Tingle (1999), Gosford Park (2001), Calendar Girls (2003), The Last Station (2009), Hitchcock (2012) en The Hundred-Foot Journey (2014). Sy het ook die rol van Victoria Winslow vertolk in die aksiekomedies Red en Red 2.

In 2003 het sy ’n Damekommandeur van die Britse Ryk (DBE) geword vir haar werk in die uitvoerende kunste. In 2013 het sy ’n ster op die Hollywood Walk of Fame gekry en in 2014 het Bafta aangekondig dat sy die ontvanger van die Academy Fellowship is.

Joe Cocker

John Robert "Joe" Cocker, OBE (20 Mei 1944 – 22 Desember 2014) was 'n Engelse rock- en blues-sanger. Hy raak in die 1960's bekend vir sy growwe stem, spastiese bewegings op verhoog en dekking van gewilde treffers, veral dié van die Beatles.

Met die Beatles se "With a Little Help from My Friends" bereik hy die nommer een posisie op die VK-treffersparade. Dié weergawe is as temalied vir die TV-reeks, The Wonder Years gebruik. Sy vertolking van Billy Preston se "You Are So Beautiful" in 1975 het die nommer vyf posisie in die VSA behaal.

Cocker het verskeie toekennings ontvang, onder andere 'n Grammy in 1983 vir sy treffer "Up Where We Belong" ('n duet met Jennifer Warnes). In 2008 is hy by Buckingham-paleis met die Orde van die Britse Ryk (OBE) vir sy musikale dienste bekroon.

Julie Andrews

Dame Julie Andrews (geb. 1 Oktober 1935) is 'n Britse sanger, aktrise en skrywer van kinderboeke. Andrews was in talle rolprente te sien, maar is veral bekend vir haar vertolkings in Mary Poppins (1964) en The Sound of Music (1965). Sy is in 2000 tot Dame Kommandeur in die Orde van die Britse Ryk (DBE) benoem.

Andrews se ouers, Barbara Ward Wells en Edward Charles (Ted) Wells, is aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog geskei. Sy en haar broer John bly eers by hulle pa in Surrey. In ongeveer 1940 het Andrews by haar ma ingetrek, omdat haar pa gedink het dat sy beter opleiding vir haar artistieke loopbaan daar kon kry.

Op negentienjarige ouderdom begin sy haar Broadway-loopbaan, en ná haar eerste film, Mary Poppins, het sy die wêreld aan haar voete gehad. Suksesse soos The Sound of Music en Victor Victoria volg, sowel as haar eie TV-reeks en kinderboeke, soos The Last of The Really Great Whangdoodles. Sy het die kinderboek-reeks, Dumpy the Dumptruck, saam met haar dogter Emma geskryf.

Sy was met die Pink Panther-regisseur Blake Edwards getroud tot sy dood op 15 Desember 2010, ná 'n eerste huwelik met tekenaar en kostuumontwerper Tony Walton. Sy het een dogter, Emma (Kate), by Walton. Sy het daarnaas tot die opvoeding van Edwards se kinders (Jennifer en Geoffrey) bygedra, sowel as twee aangenome Viëtnamese meisies, Amy en Joanna Edwards, grootgemaak.

In 1997 kry sy groeisels op haar stembande en sy verloor haar sangstem na 'n onsuksesvolle operasie. Sy kon darem nog praat, en kan op die klankbane van films soos Shrek 2, Shrek the Third en The Princess Diaries gehoor word.

Op 28 Januarie 2007 ontvang sy 'n Screen Actors Guild Award vir haar oeuvre. Sy is as nommer 59 op die lys van 100 grootste Britte van alle tye gelys.

Karl Jenkins

Karl William Jenkins OBE D.Mus. (gebore 17 Februarie 1944) is 'n Walliese musikant en komponis. Jenkins is aangestel as 'n offisier van die Orde van die Britse Ryk in die Nuwejaars-erelys van 2005.

Lucy Maud Montgomery

Lucy Maud Montgomery (OBE, * 30 November 1874; † 24 April 1942), algemeen bekend as L. M. Montgomery, was 'n Kanadese skrywer wat met 'n reeks van twintig romans, wat vanaf 1908 gepubliseer is, wye bekendheid verwerf het. Daarnaas het 530 kortvehale, 500 gedigte en dertig essays uit haar pen gekom.

Haar grootste internasionale sukses was Anne of Green Gables, 'n werk wat oorspronklik op alle ouderdomme van jonk tot oud gemik was, maar vanaf die middel van die 20ste eeu oorwegend as jeugboek beskou word. Die hoofkarakter Anne, 'n weeskind, staan ook sentraal in Montgomery se volgende romans wat hoofsaaklik op Prins-Edward-eiland, Kanada se kleinste provinsie, afspeel. Plekke wat met Montgomery se fiksie verbind word, is tans gewilde literêre bakens en toeristetrekpleisters, soos die plaas Green Gables – die bakermat van die latere Nasionale Prins-Edward-eilandpark.

In 1935 is Montgomery tot Offisier in die Orde van die Britse Ryk benoem.

Richard G. Morris

Richard Graham Michael Morris (gebore 1948) is 'n Britse neurowetenskaplike. Hy is veral bekend danksy die ontwikkeling van die Morris-waterdoolhof, een van die leertoetse vir knaagdiere wat tans die meeste gebruik word, en vir sy werk oor die funksie van die hippokampus, ’n deel van die brein.Hy is die direkteur van die Sentrum vir Kognitiewe en Senuweestelsels in Edinburg en ’n hoogleraar in neurowetenskap aan die Universiteit van Edinburg.Sedert 1997 is hy 'n fellow van die Royal Society. Morris is in 2007 benoem tot kommandeur in die Orde van die Britse Ryk.

Rod Stewart

Roderick David (Rod) Stewart is 'n Britse popsanger, bekend vir sy heserige blues-stem en ongewone haarstyl. Hy is op 10 Januarie 1945 in Londen van 'n Engelse moeder en Skotse pa gebore. Toe hy in die 1960's begin sing het, was hy 'n sokkerspeler vir Brentford (in Londen) se sokkerklub. In die 1970's het hy 'n solo-loopbaan begin, wat aan hom internasionale roem besorg het. Hy het al meer as 100 miljoen albums verkoop. Onder sy treffers tel Maggy May (1971) en Sailing (1975). In die 2000's het hy in die neuriestyl begin sing.In 2006 ontvang hy die Orde van die Britse Ryk vir sy kulturele en artistieke verdienste vir die Verenigde Koninkryk. Op 10 Junie 2016 word hy tot ridder geslaan, wat aan hom die titel van 'sir' toeken. Hy is ook in die befaamde Rock and Roll Hall of Fame opgeneem.

Ted Baker

Ted Baker plc is 'n Britse mode-etiket wat luukse klere vir dames, here en kinders asook bybehore in sy eie en in konsessiewinkels verkoop. Die onderneming word op die Londense Effektebeurs gelys en maak deel uit van die FTSE 250-indeks.

The Beatles

The Beatles was 'n legendariese rock 'n' roll-groep wat bestaan het uit vier Britse jongelinge uit Liverpool, naamlik John Lennon, Paul McCartney, Ringo Starr en George Harrison. Hierdie groep het die wêreld se treffersparade reg deur die sestigerjare oorheers soos geen ander groep voor of na hulle ooit weer gedoen het nie. Hulle was waarskynlik die invloedrykste rock 'n' roll-groep van alle tye. Die 'Fab Four' het 'n populêre histerie in Brittanje begin wat deur die Britse pers as 'Beatlemania' gedoop is en wat na Amerika versprei het. Dit het die Amerikaanse mark oopgestel vir 'n Britse inval van groepe soos die Dave Clark Five, die Rolling Stones en die Kinks.

Met hulle bossiekophaarstyle, kraaglose Pierre Cardin-pakke, speelse geestigheid, lewendige persoonlikhede en genotsugtige houdings teenoor die lewe, het hulle die beliggaming van die sestigerjare se styl geword. Hulle nalantenskap het 'n onmeetbare invloed op hedendaagse popmusiek gehad aangesien hulle die klank van klassieke Amerikaanse rockmusiek in 'n onbeperkte verskeidenheid harmonieë, strukture en klanke verander het. In 1965 het die Beatles 'n koninklike toekenning van die koningin (die lid van die orde van die Britse Ryk) ontvang en in 1988 is hulle in die Rock and Roll Hall of Fame bevestig.

Onder hulle treffers tel Love Me Do, I Want to Hold your Hand, A Hard Day’s Night, Yellow Submarine en Sergeant Pepper’s Lonely Hearts Club Band.

Vanessa Redgrave

Vanessa Redgrave, CBE (gebore op 30 Januarie 1937) is ’n Britse aktrise van die verhoog, rolprente en televisie, asook ’n politieke aktivis. Sy is in 2003 in die Amerikaanse teater-eresaal opgeneem en het in 2010 ’n Bafta-fellow geword.

Walter Annenberg

Walter Hubert Annenberg (* 13 Maart 1908, † 1 Oktober 2002) was 'n Amerikaanse uitgewer, filantroop en diplomaat.

As entrepreneur het Walter Annenberg die sakebelange van sy familie, wat oorspronklik tot gedrukte media beperk was, uitgebrei om ook radio- en televisiestasies in te sluit. Nadat sy vader in die 1930's in 'n aantal skandale betrokke geraak het, waaronder belastingontduiking, het Walter Annenberg moeite gedoen om die reputasie van sy familie te herstel. So het hy sy lewe lank ruim skenkings aan kunsgalerye en ander publieke en onderwysinstellings gemaak waarvan die totale waarde op VSA-$2 miljard beraam is.Annenberg het nooit geskroom om met sy media by politieke debatte betrokke te raak en sy eie standpunte te bevorder nie. Hy het mediaveldtogte ten gunste van die VSA se ekonomiese herstelplan ná die Tweede Wêreldoorlog, die Marshall-plan, en teen die heksejag op kommuniste en vermeende kommuniste in die McCarthy-tydperk gevoer.

Annenberg het 'n luukse leefstyl geniet. In Sunnylands, sy uitgestrekte landgoed en villa in 'n Suid-Kaliforniese woestynstreek naby Rancho Mirage en Palm Springs, het hy saam met sy eggenote Leonore koninklike gaste, staatshoofde en baie ander bekende persoonlikhede onthaal. As die Verenigde State se ambassadeur in die Verenigde Koninkryk - 'n pos wat hy tussen 1969 en 1974 beklee het - het Annenberg baie gewild geraak en is as Ridderkommandeur met die tweede seniorklas van die Orde van die Britse Ryk vereer.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.