Munisipaliteit

'n Munisipaliteit is 'n groep woonareas (dorpe en stede) met die omliggende gebiede wat gesamentlik deur 'n politiek apparaat bestuur word. Munisipaliteite vorm in die meeste lande die onderste laag van die politieke bestuurstruktuur.

In Suid-Afrika val plaaslike munisipaliteite onder beheer van distriksmunisipaliteite wat op hulle beurt onder die provinsiale regerings en die nasionale regering ressorteer.

Munisipaliteite is (onder andere) vir die volgende verantwoordelik:

  • Watervoorsiening
  • Voorsiening van elektrisiteit
  • Vuilisverwydering
  • Rioolstelsel en afvoer van stormwater
  • Instandhouding van parke en sportterreine
  • Beplanning van stedelike gebiede
  • Invordering van munisipale belastings
Map of the Western Cape with Cape Agulhas highlighted (2016)
Ligging van Kaap Agulhas Munisipaliteit in die Wes-Kaap, Suid-Afrika.

Sien ook

Eksterne skakels

Beijing

Beijing (Chinees: 北京, pinyin: Běijīng, [pèi.tɕíŋ], ; of Peking) is 'n stad in die noorde van China en is die hoofstad van die Volksrepubliek China. Beijing word tans regstreeks deur die Chinese regering geadministreer en is sodoende gelykgestel aan provinsies, outonome gebiede en spesiale administratiewe streke.

Die administratiewe gebied van die Beijing-munisipaliteit strek oor 'n oppervlakte van 16 807,8 vierkante kilometer, maar behels naas Beijing merendeels landelike gebiede. Die munisipaliteit grens aan die provinsie Hebei in die noorde, weste, suide en 'n klein gedeelte in die ooste en die Munisipaliteit Tianjin in die suidooste.

Beijing is een van die vier groot geskiedkundige hoofstede van China en fungeer vandag vanweë sy status as regeringsetel as die politieke sentrum van die Volksrepubliek China. Die stad pronk danksy sy lang en veelbewoë geskiedenis, wat oor meer as drieduisend jaar strek, met 'n indrukwekkende kulturele erfenis. Bekende besienswaardighede sluit die Tiananmen-plein (Chinees, "Plein van die Poort van Hemelse Vrede"), die Verbode Stad met die voormalige keiserlike paleis, wat deur die Unesco in 1987 tot wêrelderfenisgebied verklaar is, die Ou en Nuwe Somerpaleis en verskillende tempels soos die Hemelse Tempel, die Lamatempel en die Confuciustempel in. Beijing het as die gasheerstad van die Olimpiese Somerspele en die Paralimpiese Somerspele van 2008 opgetree. Die stad sal ook as die gasheerstad van die Olimpiese Winterspele en die Paralimpiese Winterspele van 2022 optree.

Beijing is China se tweede grootste stad in terme van bevolking ná Sjanghai. Dit is 'n beduidende vervoersentrum, met dosyne treinspore, paaie en hoofweë in alle rigtings. Die stad huisves ook die belangrike Beijing Capital Internasionale Lughawe. Beijing vorm die politieke en kulturele sentrum van die Volksrepubliek China, terwyl stede soos Sjanghai en Hongkong die leiers is op ekonomiese gebied.

Distriksmunisipaliteit

'n Distriksmunisipaliteit is 'n munisipaliteit in Suid-Afrika wat in 'n aantal kleiner "plaaslike" munisipaliteite opgedeel is. Distriksmunisipaliteite val onder die beheer van die provinsiale regerings wat op hulle beurt onder die nasionale regering ressorteer.

Distrikte van Suid-Afrika

Suid-Afrika is verdeel in 52 distrikte (Metropolitaanse- en Distriksmunisipaliteite). As gevolg van die 12de wysiging van die Grondwet (Desember 2005) is die hoeveelheid distrikte van 53 na 52 verminder. 'n Verdere gevolg van die wysiging is dat elke distrik nou slegs in één provinsie val, om konflik van belange te vermy.

Durban

Durban (Engels: [ˈdœːbən]; Zoeloe: eThekwini, [ˈɛːʔtʰɛˌkwinĭ], afgelei van itheku, letterlik: "baai/lagoon"; vroeër Port Natal) is 'n hawestad in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika, langs die Indiese Oseaan met ongeveer 4 miljoen inwoners uit 'n diverse groep kulture. Dit is 'n gewilde vakansiebestemming weens sy goeie weer en die warm Agulhasstroom. Suid-Afrika se besigste hawe, Durban-hawe, is by Durban wat een van die wêreld se diepste natuurlike hawens is. Durban behels ook Suid-Afrika se derde besigste lughawe, die Koning Shaka Internasionale Lughawe, ná die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg en die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is een van Suid-Afrika se agt metropolitaanse munisipaliteite en volgens die sensus van 2011 die derde grootste metropolitaanse munisipaliteit van Suid-Afrika ná die Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit en die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit. Durban is een van Afrika se grootste stede aan die Indiese Oseaan en Suid-Afrika se tweede belangrikste nywerheidsentrum ná Johannesburg.

In 2000 het Durban saam met Umlazi en ander gebiede in die omgewing deel geword van die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit met 'n geskatte bevolking van 3 442 361 in 2011. Sedert 2019 dien Mxolisi Kaunda van die African National Congress (ANC) as uitvoerende burgemeester van Durban.Dit het die hoogste getal van dollarmiljoenêrs van enige Suid-Afrikaanse stad; die getal het tussen 2000 en 2014 met 200 persent gestyg. In Mei 2015 is Durban amptelik erken as een van die New7Wonders-stede, saam met Vigan, Doha, La Paz, Havana, Beiroet en Kuala Lumpur. Volgens 'n 2018-studie deur Mercer oor die lewenskwaliteit in 231 stede regoor die wêreld het Durban die 89ste plek verwerf, die tweede beste in Afrika net na Mauritius se Port Louis.

EThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit is 'n metropolitaanse munisipaliteit in KwaZulu-Natal en een van agt in Suid-Afrika. Dit sluit die stad Durban en omliggende stede in. Die meeste mense in die munisipaliteit praat Zoeloe. Die munisipaliteit se sensuskode is ETH.

Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit

Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (ook bekend as die Oos-Rand) is 'n metropolitaanse munisipaliteit wat die plaaslike regering van die Oos-Rand-gebied van Gauteng vorm.

Ekurhuleni is een van die 5 distrikte van die Gauteng-provinsie in Suid-Afrika. Die hoofsetel van Ekurhuleni is in Germiston. Die meerderheid van die 3 178 470 inwoners praat Zoeloe (2011-sensus).Die naam Ekurhuleni beteken "Plek van Vrede" in Tsonga, maar word amptelik nie in die ander landstale vertaal nie. So word na die gebied in Afrikaans steeds as Oos-Rand verwys, terwyl Engelssprekendes dit East Rand noem. Die Nederlandse Taalunie, 'n liggaam wat taalsake tussen die drie Nederlandsprekende lande (Nederland, België/Vlaandere en Suriname) reël en vanweë Nederland se historiese taalkundige betrekkinge met die Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika sy aktiwiteite ook na dié land uitgebrei het, gee Oost-Rand as Nederlandse naam van die gebied.Ekurhuleni is naburig aan:

Tshwane aan die noordekant

Metsweding (CBDC2) in die noordooste

Nkangala (DC31) aan die oostekant

Sedibeng (DC42) aan die suidekant

Johannesburg aan die westekant

Groot Vyf Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit

Die Groot Vyf Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit is een van die plaaslike munisipaliteite in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika.

Dit is gevorm na die samesmelting van die Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit en Die Groot Vyf Valsbaai Plaaslike Munisipaliteit in Augustus 2016.

Jozini Plaaslike Munisipaliteit

Die Jozini Plaaslike Munisipaliteit is een van die plaaslike munisipaliteite in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika.

Lys van munisipaliteite in Suid-Afrika

Hierdie is 'n lys van munisipaliteite van Suid-Afrika.

Mtubatuba Plaaslike Munisipaliteit

Die Mtubatuba Plaaslike Munisipaliteit is een van die plaaslike munisipaliteite in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika.

Potchefstroom

Potchefstroom is 'n stad in die Noordwesprovinsie van Suid-Afrika. Dit was die tweede oudste dorp in die ou Transvaalprovinsie naas die naburige Klerksdorp. Dit is in November 1838 deur Voortrekkerleier Hendrik Potgieter aan die oewers van die Mooirivier gestig. Die stad staan ook as die "Stad van Deskundigheid" bekend. Dit beslaan 2 573 km² en het 162 762 inwoners (munisipaliteit 2011). Dit is 'n handel- en nywerheidsentrum vir die omliggende land- en mynboustreek. Potchefstroom is 120 km wes-suidwes van Johannesburg.

Pretoria

Pretoria (Suid-Ndebele: iPitori) is die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika en is geleë in die provinsie Gauteng, ongeveer 50 km noord van Johannesburg. Die stadsgebied word deurkruis deur die Magaliesbergreeks.

Pretoria is op 16 November 1855 deur die Voortrekkers gestig en het in 1860 die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en in 1910 Transvaal en ook die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika se uitvoerende hoofstad geword. Kaapstad is sedert 1910 die wetgewende hoofstad en Bloemfontein die geregtelike hoofstad.

In vergelyking met die naburige Johannesburg het Pretoria, wat eers in 1931 stadstatus verkry het, teen 'n stadiger tempo gegroei. Eers toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het Pretoria gaandeweg in belangrikheid toegeneem. Die stad dien tans oorwegend as 'n administratiewe sentrum, en die plaaslike dienstesektor verskaf die meeste werkgeleenthede. Nogtans beskik Pretoria oor 'n nywerheidsbasis, wat veral op die yster- en staalbedryf asook motorvervaardiging steun, en dien daarnaas as 'n spoorwegsentrum.

Pretoria se tersiêre opvoedingsinstellings sluit die Universiteit van Suid-Afrika (gestig in 1873 en tans een van die vernaamste instellings ter wêreld vir afstandsonderwys), die Universiteit van Pretoria (gestig in 1908) en die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in.

Sedert 2000 vorm Pretoria deel van die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit. Op 7 Maart 2005 het die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit onder gesag van die ANC in 'n vergadering besluit om die Stad Tshwane formeel as 'n geografiese pleknaam te registreer op die databasis van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (SAGNR) in terme van die SAGNR Wet 118 van 1998. Sedertdien was die vorige Tshwane metroraad in 'n omstrede proses betrokke om Tshwane as die amptelike en enigste naam van die stad te vestig. In Augustus 2007 het die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad egter bevestig dat Pretoria se naam nie verander word nie. Tot in 2019 is die stad se amptelike naam nie verander nie en dit blyk nou al hoe onwaarskynlik dat dit hoegenaamd nog sal gebeur.

Sekhukhune-distriksmunisipaliteit

Die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit is een van die 5 distriksmunisipaliteite in Limpopo. Die setel van die munisipaliteit is in Groblersdal. Die meeste van die 1 076 840 inwoners in die gebied is Noord-Sothosprekend. Die munisipaliteit se kode is DC47.

Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit

Die Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit is 'n een van die agt metropolitaanse munisipaliteite in Suid-Afrika.

Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit

Die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit is 'n een van die agt metropolitaanse munisipaliteite in Suid-Afrika.

Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit

Tshwane is vanaf 5 Desember 2000 'n metropolitaanse gebied in Gautengprovinsie, Suid-Afrika, wat die stad Pretoria insluit.

Dit bestaan uit 13 voormalige stads- en dorpsrade, en word bestuur deur 'n besturendeburgemeesterstelsel. Die munisipale gebied beslaan 6 298 km2, en het 'n bevolking van nagenoeg 2,364 miljoen mense.

Die naam is afkomstig van die oorspronklike naam wat deur die eerste Ngunisprekende nedersetters (wat later as die Ndebele bekend was) aan die rivier gegee is wat deur die area vloei. Hulle het dit vernoem na een van hulle stamhoofde, Tshwane, vanaf die Ndebelewoord vir "klein aap".

Die naam Tshwane word soms ook gebruik as 'n alternatiewe naam vir die stad Pretoria self, alhoewel Pretoria nog nie teen 2017 hernoem is nie.

Stellenbosch

Stellenbosch, ewe goed bekend as die Eikestad, is die tweede-oudste Europese nedersetting in Suid-Afrika naas Kaapstad, en is geleë in die Wes-Kaapprovinsie.

Dit is sowat 50 Kilometer vanaf Kaapstad en het 'n bevolking van 77 476, uitsluitend studente. Hierdie skatting is gebaseer op formeel-behuisde inwoners, en is dus heel moontlik ondergeskat, omdat die Stellenbosch-omgewing ook 'n aantal informele nedersettings het. Stellenbosch is besig om vinnig saam te smelt met aanliggende nedersettings.

Die dorp is ook die tuiste van die Universiteit Stellenbosch, wat as die Stellenbosch Gymnasium in 1866 gestig is.

UMhlabuyalingana Plaaslike Munisipaliteit

Die uMhlabuyalingana Plaaslike Munisipaliteit is een van die plaaslike munisipaliteite in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika.

Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit

Die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit is een van die 10 distriksmunisipaliteite van KwaZulu-Natal. Die setel van die munisipaliteit is in Mkuze. Die meeste inwoners in die munisipale gebied is Zoeloesprekend. Die munisipaliteit se kode is DC27.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.