Monargie

Monargie is 'n regeringstelsel of staatsvorm waar die staatshoof gebruiklik lewenslang 'n posisie beklee. Die posisie is gewoonlik oorerflik, dit wil sê dat opvolgers aan dieselfde familie behoort. Voorbeelde van lande wat 'n monargiese stelsel het is die Verenigde Koninkryk, België, Nederland, Japan, Lesotho, eSwatini, Australië, Kanada, Nieu-Seeland en vele andere.

World Monarchies
Kaart van hedendaagse monargieë wêreldwyd:

   Absolute monargie

   Semi-grondwetlike monargie

   Grondwetlike monargie

   Britse realms (grondwetlike monargieë in persoonlike unie)

   Subnasionale monargieë (tradisioneel)

Soorte monargieë

Heraldic Royal Crown (Common)
'n Kroon is gewoonlik die simbool van 'n monarg

Monargieë word verdeel in absolute en grondwetlike monargieë. In 'n absolute monargie is die mag van die monarg 'absoluut', dit wil sê dat hy onbeperkte regeringsmag het. In 'n grondwetlike monargie word die rol van die monarg in die grondwet vasgestel, wat meestal bepaal dat die hoogste mag by die parlement lê. In ander gevalle, (byvoorbeeld in Swede) het die monarg slegs 'n seremoniële funksie. Daar is tans nie meer baie absolute monargieë in die wêreld oor nie. Brunei is een van die weinige voorbeelde.

Maleisië is net soos die Vatikaanstad 'n monargie waar die staatshoof verkies word. Nege van die dertien deelstate in Maleisië het erflike vorste, wat elke vyf jaar 'n koning uit hulle midde kies. Historiese voorbeelde van gekose monargieë is die konings van Duitsland, Frankryk, Griekeland, Hongarye, Italië, Pole en Portugal.

Bhoetan

Bhoetan (Dzongkha: འབྲུག་ཡུལ་, Druk Yul), amptelik die Koninkryk Bhoetan (འབྲུག་རྒྱལ་ཁབ་, Druk Gyal Khap), is 'n landingeslote land in Suid-Asië. Dit is landgebonde tussen die Volksrepubliek China in die noorde en Indië in die suide, met die Himalaja in die weste en word deur die Indiese deelstaat Sikkim van Nepal geskei. Die land is 'n demokratiese grondwetlike monargie, nadat die vorige koning, Jigme Singye Wangchuck, in 2005 bekend gemaak het dat die land van 'n absolute monargie gaan oorskakel. Die eerste verkiesing is in 2008 gehou.

Bhoetan is na 'n burgeroorlog in die 19de eeu onder die Wangchuck-dinastie verenig en het politieke bande met die Britse Ryk gevestig. Bhoetan is nooit deur Brits-Indië beheer nie en het as 'n bufferstaat tussen die Britse besitting in die suide en die Chinese Keiserryk in die noorde gedien, saam met die onafhanklike Himalaja-koninkryke Sikkim en Nepal verder wes. Die land se hoofstad en grootste stad is Thimphu. In 1988 is Dzongkha as amptelike landstaal verklaar. Die grootste persentasie van die bevolking is Boeddhiste met ongeveer 25% Hindoes.

Bhoetan beskik oor vrugbare valleie en grasvlaktes. Die klimaat in die suide is tropies, maar die noorde is bergagtig en koud. Die meeste inwoners van die land boer met beeste of jakke (Engels: yaks). Die land is afhanklik van landbou, bosbou, toerisme en die verkoop van hidroëlektriese krag aan Indië.

Bhoetan is ook bekend vir die ontwikkeling van die konsep bruto nasionale geluk (BNG). Boogskiet word as Bhoetan se nasionale sportsoort beskou, terwyl krieket in onlangse jare sterk groei ervaar het, veral weens sy gewildheid op die Indiese subkontinent.

Eswatini

Eswatini (Swazi: [ɛswa̯ˈtiːni]), amptelik die Koninkryk Eswatini (Engels: Kingdom of Eswatini, Swazi: Umbuso weSwatini), tot 19 April 2018 Swaziland, is 'n absolute monargie en landingeslote land in Suider-Afrika. Die administratiewe hoofstad en grootste stad is Mbabane, terwyl Lobamba die regeringsetel, asook koninklike en wetgewende hoofstad is. Eswatini is 'n buurland van Suid-Afrika en Mosambiek. Op politieke vlak het Eswatini in geen stadium aan Suid-Afrika behoort nie. Die Menslike ontwikkelingsindeks van 2017 plaas Eswatini op 144ste plek van 187 lande. Eswatini is 'n lidland van die Afrika-unie, Beweging van Onverbonde Lande, Britse Statebond, Gemeenskaplike Monetêre Gebied, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Verenigde Nasies. Eswatini is een van min lande wêreldwyd wat die Republiek China op Taiwan teen spyte van groot druk deur die Volksrepubliek China as 'n selfstandige land erken.

Die eerste inwoners van die hedendaagse Eswatini was sedert 25 000 v.C. die Boesmans wat vir hul rotstekeninge orals in Suider-Afrika bekend staan en veral jagter-versamelaars was. Die Bantoevolke het sowat 1000 jaar gelede Suider-Afrika binne beweeg en hulle hier as landbouers en veewagters gevestig. Die land se bevolking bestaan veral uit Swazi's en hul taal is Swati, ook bekend as Swazi. Onder leierskap van Ngwane III het hulle in die middel van die 18de eeu hul koninkryk gestig. Beide die land en die volk is na Mswati II, die 19de-eeuse koning wat die koninkryk verenig en uitgebrei het, genoem; die hedendaagse grense is tydens die Wedloop om Afrika in 1881 bepaal. Na die Tweede Vryheidsoorlog het die koninkryk in 1903 'n Britse protektoraat geword. Op 6 September 1968 het die land onder sy destydse naam Swaziland van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. Eswatini is 'n unitêre parlementêre absolute monargie binne die Britse Statebond met 'n eie monarg (Ngwenyama) as staatshoof. Eswatini is een van slegs vyf lande binne die Britse Statebond met 'n inheemse monarg op die troon (die ander vier is Broenei, Lesotho, Maleisië en Tonga).

Op 19 April 2018, met die dubbele viering van die land se goue herdenkingsjaar en die huidige koning se 50ste verjaardag, het Mswati III aangekondig dat sy land se naam verander van Swaziland na Eswatini, die naam wat algemeen in Swazi gebruik word.

Franse Rewolusie

Die term Franse Rewolusie verwys na die tydperk tussen 14 Julie 1789 en 9 November 1799 in Frankryk toe Republikeinse magte die absolute monargie afgeskaf het. Die oorgang in 'n republikeinse staatsvorm, die Eerste Franse Republiek, het gepaard gegaan met die skeiding van staat en kerk, die afkondiging van talle regte soos die reg op persoonlike vryheid, pers- en meningsvryheid en die gelykheid van alle burgers voor die wet.

Met die beginsel van die volksoewereiniteit is 'n grondwet met regspligte waaraan die staat moes voldoen, 'n onafhanklike regstelsel, algemene stemreg, regverdige belastingwetgewing, beroepsvryheid en ander regte ingevoer.

Die rewolusionêre tydperk in Frankryk is egter ook gekenmerk deur willekeurige geweld, wat in die terreur onder Maximilien Robespierre 'n bloedige hoogtepunt bereik het. Hoewel die republikeinse staatsvorm in Frankryk eers in 1871 gevestig is, was die Franse Rewolusie een van die ingrypendste historiese omwentelings, nie net vir Frankryk en Europa nie, maar die hele wêreld. Die verreikende gevolge wat dit vir die Westerse beskawing ingehou het, lê ingekerf op menige terreine wat wissel van die staatkundige tot die maatskaplike en ideologiese.

Grondwetlike monargie

'n Grondwetlike monargie of konstitusionele monargie is 'n grondwetlike regeringsvorm, waar óf 'n verkose- óf erwende monarg die hoof van die staat is. Dit is anders as in 'n absolute monargie waar die koning of koningin die enigste bron van politieke mag is, aangesien hy of sy nie aan die grondwet gebonde is nie. Die meeste grondwetlike monargieë het 'n parlementêre stelsel (Australië, Bahrein, België, Denemarke, Japan, Jordanië, Kambodja, Kanada, Katar, Koeweit, Liechtenstein, Luxemburg, Maleisië, Marokko, Nederland, Nieu-Seeland, Noorweë, Spanje, Swede, Thailand, die Verenigde Arabiese Emirate en die Verenigde Koninkryk) waar die monarg die hoof van die staat is, maar 'n direk- of indirek verkose eerste minister die hoof van die regering is.

Jordanië

Jordanië (Arabies: الأُرْدُنّ, Al-‘Urdunn, [al.ʔur.dunn]), amptelik die Hasjemitiese Koninkryk Jordanië (المملكة الأردنية الهاشمية, Al-Mamlakah Al-Urdunnīyah Al-Hāshimīyah), is 'n land in die Midde-Ooste en Wes-Asië. Dit beslaan 'n oppervlakte van 89 341 km² en 'n bevolking van 10 159 967 in 2018. Amman is die hoofstad en grootste stad van dié land en het 'n bevolking van sowat 2 520 000 in 2005 gehad.

Jordanië grens aan Israel en Palestina in die weste, Sirië in die noorde, Irak in die noordooste en Saoedi-Arabië in die suidooste. Akaba is die belangrikste hawestad aan die Rooisee. Jordanië is genoem ná die Jordaanrivier, wat die westelike grens met Israel en Palestina vorm. Dit is amper 'n landingeslote land en beskik net in die suidweste deur die Golf van Akaba toegang tot die Rooisee.

As gevolg van die Ottomaanse Ryk se neerlaag tydens die Eerste Wêreldoorlog is op 11 April 1921 die Emiraat Transjordanië binne die Britse mandaat van Palestina gestig. Jordanië het op 25 Mei 1946 van die Britse mandaat van Palestina onafhanklik geword en is volgens die grondwet van 1952 'n grondwetlike monargie met 'n monarg as staatshoof.

Jordanië is 'n gewilde toeristebestemming met die Dooie See en Bybelse plekke in die weste, die ruïnestad Petra en die kruisvaarderskasteel Montréal in die suidweste.

Koeweit

Koeweit (Arabies: الكويت, al-Kuwait, [ɪl‿ɪkweːt] of [lɪkweːt]), amptelik die Staat Koeweit (دولة الكويت, Dawlat al-Kuwait, ), is 'n staat in die Midde-Ooste en Wes-Asië. Die land is aan die spits van die Persiese Golf (hier "Arabiese Golf" genoem) net suid van die Sjatt al-Arab (saamvloei van beide die Eufraat en Tigrisrivier) se monding, geleë. Dit lê noordoos van Saoedi-Arabië, suidoos van Irak en suidwes van Iran. Koeweit beslaan 'n oppervlakte van 17 818 km² en het 'n bevolking van 4 052 584 in 2016 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Koeweitstad, met die Al Hamra-toring. Die amptelike taal is Arabies en van die belangrikste etniese groepe sluit in Arabiere en Bedoeïene. Koeweit beskik oor 'n groot aantal immigrante wat sowat 69% van die land se bevolking vorm.

In 1938 is ruoliereserwes in kommersiële hoeveelhede ontdek. Vanaf 1946 tot 1982 het die land 'n grootskaalse opknapping ondergaan. In die 1980's het Koeweit 'n tydperk van geopolitieke instabiliteit en ekonomiese krisis as gevolg van die ineenstorting van die aandelemark beleef. In 1990 is Koeweit deur sy buurland Irak onder Saddam Hoesein binnegeval en toe geannekseer. Die Irakse besetting is in 1991 deur 'n militêre koalisie onder leiding van die Verenigde State tydens die Golfoorlog beëindig. Koeweit is 'n groot nie-NAVO bondgenoot van die Verenigde State. Dit is ook 'n vername bondgenoot van ASEAN en handhaaf ook sterk bande met die Volksrepubliek China. Koeweit is 'n lidland van die Verenigde Nasies, Beweging van Onverbonde Lande, Arabiese Liga, Organisasie van Islamitiese Samewerking, OPUL en die Samewerkingsraad van die Arabiese Golflande.

Koeweit is 'n grondwetlike monargie met 'n semi-demokratiese politieke stelsel. Die land beskik oor 'n hoë-inkomste ekonomie, geborg deur die wêreld se sesde grootste ruoliereserwes. Die Koeweitse dinar is die geldeenheid met die hoogste waarde wêreldwyd. Volgens die Wêreldbank het die land die vierde hoogste inkomste per capita. Die grondwet is in 1962 afgekondig. Kuwait Airways is die nasionale vlagdraerlugredery met sy spilpunt op Koeweit Internasionale Lughawe in Koeweitstad.

Koning

'n Koning is 'n man wat 'n land as gevolg van oorerwing regeer. 'n Koning bestyg gewoonlik die kroon as een van sy ouers, of 'n ander familielid sterf. Oor die geskiedenis heen is die meeste lande, veral in Europa, deur konings regeer. In sommige lande word die koning van voorafgestelde kandidate verkies.

Verskeie state in Europa het 'n koning of koningin, soos België, Denemarke, Nederland, Noorweë, Swede, die Verenigde Koninkryk en Spanje. Ook Jordanië, Kambodja, Lesotho, Maleisië, Marokko, Saoedi-Arabië, eSwatini en Thailand het 'n koning.

Die vrou van 'n koning word 'n koningin genoem. 'n Vrou wat die troon as gevolg van oorerwing bestyg word ook 'n koningin genoem.

As 'n land 'n koning of koningin het, is dit 'n monargie. 'n Land wat deur 'n koning of koningin regeer word, word 'n koninkryk genoem.

Lesotho

Lesotho (Engels: [ləˈsuːtuː], ; Suid-Sotho: [lɪ’sʊːtʰʊ]), amptelik die Koninkryk Lesotho (Engels: Kingdom of Lesotho, Suid-Sotho: Muso oa Lesotho), tot 4 Oktober 1966 Basoetoland, is 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie en landingeslote land in Suider-Afrika. Die hoofstad en grootste stad is Maseru. Lesotho is ook 'n enklawe en word ten volle omsluit deur Suid-Afrika. Op politieke vlak het Lesotho in geen stadium aan Suid-Afrika behoort nie. Lesotho beteken "Land van die Sothosprekende mense", bedoelende die taal Suid-Sotho. Die land is geleë tussen 29 en 30º suidelike breedtegraad asook tussen 28 en 30º oostelike lengtegraad. Op grond van sy besondere hoogte bo seespieël word die land ook Die koninkryk in die hemel genoem. Die Menslike ontwikkelingsindeks van 2017 plaas Lesotho op 159ste plek van 187 lande. Lesotho is 'n lidland van die Afrika-unie, Beweging van Onverbonde Lande, Britse Statebond, Gemeenskaplike Monetêre Gebied, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Verenigde Nasies.

Die eerste inwoners van die hedendaagse Lesotho was sedert 25 000 v.C. die Boesmans wat vir hul rotstekeninge orals in Suider-Afrika bekend staan en veral jagter-versamelaars was. Die Bantoevolke het sowat 1000 jaar gelede Suider-Afrika binne beweeg en hulle hier as landbouers en veewagters gevestig. Die land se bevolking bestaan veral uit Basotho en hul taal is Sotho, ook bekend as Suid-Sotho. Die nasie van die Basotho's is in 1822 deur Moshoeshoe gestig en verenig. Die hedendaagse grense is ná die Basotho-oorloë in 1868 bepaal en gelyktydig het die koninkryk deel van die Britse Kaapkolonie, vanaf 1884 die aparte Kroonkolonie Basoetoland, geword. Op 4 Oktober 1966 het Lesotho onder sy nuwe naam van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. Lesotho is 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie binne die Britse Statebond met 'n eie monarg as staatshoof. Lesotho is een van slegs vyf lande binne die Britse Statebond met 'n inheemse monarg op die troon (die ander vier is Broenei, eSwatini, Maleisië en Tonga).

Lys van lande volgens regeringstipe

Hierdie is 'n Lys van Lande gerangskik volgens regeringsvorm.

Maleisië

Maleisië (Maleis: Malaysia, [məlejsiə]; Engels: Malaysia, [məˈleɪzɪə, -ʒə], ) is 'n federale grondwetlike monargie in Suidoos-Asië net noord van die ewenaar. Dié land bestaan uit twee afsonderlike dele, geskei deur die Suid-Chinese See: Wes-Maleisië of Malakka, in die noorde begrens deur Thailand en in die suide deur Singapoer; en Oos-Maleisië, die noordelike deel van die eiland Kalimantan (eertyds Borneo), in die suide begrens deur Indonesië en in die noorde deur Broenei. Daarbenewens deel Maleisië 'n maritieme grens met Viëtnam in die Suid-Chinese See en Filippyne in die Sulusee. Van die ander seë sluit in die Andamanse See en die Golf van Bengale in die noordweste en die Celebessee in die noordooste. Die westelike deel beslaan sowat 40% van die oppervlakte van Maleisië, maar hier woon 85% van die algehele bevolking. Die hoofstad en grootste stad is Kuala Lumpur, terwyl Putrajaya die regeringsetel is.

Die naam "Maleisië" is afgelei van die woord "Malay" en die Latyn-Griekse agtervoegsel "-sia"/-σία. Maleisië het in die 18de eeu 'n Britse kolonie geword nadat die Straits Settlements Britse protektorate geword het. Die Peninsulêre Maleisië is in 1946 as die Maleise Unie verenig. Malaya is in 1948 as die Federasie Malaya herstruktureer en het op 31 Augustus 1957 sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk behaal. Malaya verenig op 16 September 1963 met Noord-Borneo, Sarawak en Singapoer om Maleisië te vorm. In 1965 is Singapoer uit die federasie geskors. Maleisië is 'n federale parlementêre grondwetlike monargie binne die Britse Statebond met 'n eie monarg (Yang di-Pertuan Agong) as staatshoof. Maleisië is een van slegs vyf lande binne die Britse Statebond met 'n inheemse monarg op die troon (die ander vier is Broenei, eSwatini, Lesotho en Tonga).

Maleisië beslaan 'n oppervlakte van 330 803 km² en het 'n bevolking van sowat 32 miljoen in 2017 gehad. Maleisië is 'n lidland van die Britse Statebond met 'n gekose monarg as staatshoof. Maleisië word as 'n opkomende mark beskou en is 'n lidland van die ASEAN, die Beweging van Onverbonde Lande en die Organisasie van Islamitiese Samewerking. Die bekende Petronas-torings in Kuala Lumpur was tussen 1998 en 2004 die hoogste gebou ter wêreld. Die Sepang Internasionale Renbaan het vanaf 1999 tot 2017 die Maleisiese Grand Prix in Formule Een gehuisves. Malaysia Airlines is die nasionale vlagdraerlugredery met sy spilpunt op Kuala Lumpur Internasionale Lughawe; weens die verlies van twee vlugte binne een jaar (Malaysia Airlines-vlug 17 en Malaysia Airlines-vlug 370) was dié lugredery wêreldwyd in die nuus.

Nederlandse monargie

Nederland is sedert 16 Maart 1815 ’n onafhanklike monargie en word sedertdien regeer deur lede van die Huis van Oranje-Nassau.

Nepal

Nepal (Nepalees: नेपाल, Nepāl, [neˈpal], ), amptelik die Federale Demokratiese Republiek Nepal (सङ्घीय लोकतान्त्रिक गणतन्त्र नेपाल, Sanghiya Loktāntrik Ganatantra Nepāl), is 'n landingeslote land in Suid-Asië. Dit is tussen die Volksrepubliek China in die noorde en Indië in die suide binne die Himalaja geleë. Nepal het 'n oppervlakte van 147 181 km² en 'n bevolking van 28 982 771 in 2016 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Katmandoe.

Nepal grens in die noorde aan die Chinese outonome gewes Tibet, asook in die weste (Uttarakhand), suide (Uttar Pradesh en Bihar) en ooste (Sikkim en Wes-Bengale) aan Indië. Bangladesj is net sowat 27 km van Nepal se mees suidoostelike punt geleë en Bhoetan word deur die Indiese deelstaat Sikkim van Nepal geskei. Die land se geografie word deur die Himalaja gekenmerk en behels Berg Everest op die grens met die Chinese outonome gebied Tibet.

Nepal is 'n multi-etniese land met Nepalees as amptelike taal op federale vlak. Daarbenewens dien verskeie ander inheemse tale soos Bhojpuri, Maithili en Newari as amptelike tale van Nepalese provinsies. Die belangrikste godsdiens is Hindoeïsme, gevolg deur Boeddhisme en albei godsdienste het hul oorsprong in die hedendaagse Nepal. Die Nepalese kultuur in die noorde is sterk deur die Tibettaanse s'n beïnvloed, terwyl die Indiese kultuur in die suide 'n sterk invloed toon.

Nepal is in die 18de eeu onder die Koninkryk Ghorka verenig en die Shah-dinastie het die Koninkryk Nepal gestig. Hulle het 'n alliansie met die Britse Ryk gesluit, maar Nepal is nooit deur Brits-Indië beheer nie en het as bufferstaat tussen die Britse besitting in die suide en die Chinese Keiserryk in die noorde gedien, saam met die onafhanklike Himalaja-koninkryke Sikkim en Bhoetan verder oos. Nepal het in 1951 'n parlementêre demokrasie geword, maar dit is twee keer deur die Nepalese monarge opgeskort, in 1960 en 2005. Ná die Nepalese burgeroorlog (1996–2006) is die monargie in 'n republiek omskep en die wêreldwyd laaste Hindoe-monargie beëindig.

Oman

Oman (Arabies: عمان, ʻumān, [ʕʊˈmaːn]), amptelik die Sultanaat Oman (سلطنة عُمان, Salṭanat ʻUmān), is 'n staat in die Midde-Ooste en Wes-Asië. Die land is langs die oostelike kus van die Arabiese Skiereiland geleë. Dit lê noordoos van Jemen, oos van Saoedi-Arabië, suidoos van die Verenigde Arabiese Emirate, suid van Iran en suidwes van Pakistan. Oman beslaan 'n oppervlakte van 309 500 km² en het 'n bevolking van 4 424 762 in 2016 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Maskat. Die amptelike taal is Arabies en van die belangrikste etniese groepe sluit in Arabiere en Bedoeïene. Oman beskik oor 'n groot aantal immigrante wat sowat 45% van die land se bevolking vorm.

Oman is aan 'n strategies belangrike plek aan die monding van die Persiese Golf (hier "Arabiese Golf" genoem) in die Indiese Oseaan geleë. Die kus is aan die Arabiese See in die suidooste en die Golf van Oman in die noordooste geleë. Die Madha- en Musandam-eksklawes word deur die Verenigde Arabiese Emirate langs die landgrens omring met die Straat van Hormuz (gedeel met Iran) en die Golf van Oman wat Musandam se maritieme grense vorm.

Vanaf die 17de eeu was die Omanse sultanaat 'n magtige ryk en het met Portugal en die Verenigde Koninkryk oor invloed in die Persiese Golf en die Indiese Oseaan gewedywer. Op sy hoogtepunt in die 19de eeu het die Omanse invloed oor die Straat van Hormuz tot die hedendaagse Iran en Pakistan gestrek en tot Zanzibar in die suide. Toe sy mag in die 20ste eeu begin afneem, het die sultanaat onder die invloed van die Britse Ryk gekom. Vir meer as 300 jaar was die verhoudinge tussen die twee ryke op wedersydse voordele gebaseer. Die Britte het Oman se geografiese belangrikheid as 'n handelspos wat hul handelsroete in die Arabiese Golf en Indiese Oseaan asook hul besit in Brits-Indië kon beskerm erken. In ruil hiervoor het die Britte Oman se interne eenheid versterk en die sultanaat teen eksterne bedreigings bygestaan. Maskat was histories die vernaamste handelshawe van die Persiese Golf-strek. Maskat was ook onder die belangrikste handelsposte in die Indiese Oseaan.

Die sultan Qaboos bin Said al Said is sedert 1970 die erflike leier van die absolute monargie. Sultan Qaboos is tans die langsheersende leier in die Midde-Ooste, en die derde langsheersende monarg wêreldwyd.

Oman is 'n lidland van die Verenigde Nasies, Beweging van Onverbonde Lande, Arabiese Liga, Organisasie van Islamitiese Samewerking, OPUL en die Samewerkingsraad van die Arabiese Golflande. Dit beskik oor aansienlike ruoliereserwes, die 25ste grootste wêreldwyd. In 2010 het die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram Oman as die mees gevorderde nasie ter wêreld in terme van ontwikkeling gedurende die afgelope 40 jaar geranglys. Van die belangrikste ekonomiese sektore sluit in toerisme en die handel met vis, data en verskeie landbouprodukte. Dit onderskei Oman van sy bure se grootliks olieafhanklike ekonomieë. Oman word beskou as 'n hoë-inkomste ekonomie en word volgens die wereldwye vredesindeks as die 70ste mees vredevolle land wereldwyd beskou.Krieket is een van die gewildste sportsoorte in Oman, veral te danke aan die uitgewekene bevolking van die lande in Suid-Asië. Die Omanse nasionale krieketspan kon in 2016 vir die IKR-Wêreld Twintig20 kwalifiseer nadat hulle die sesde plek in 2015 se IKR-Wêreld Twintig20-kwalifisering kon haal. Hulle het ook IKR T20-status verkry nadat hulle onder die boonste ses spanne in die kwalifikasie geëindig het.

Oostenryk-Hongarye

Oostenryk-Hongarye (Duits: Österreich-Ungarn, Hongaars: Osztrák–Magyar), oftewel die Oostenryks-Hongaarse Monargie (Duits: Österreichisch-Ungarische Monarchie, Hongaars: Osztrák–Magyar Monarchia), was 'n staat in Sentraal-Europa vanaf 1867 tot 1918. Dit het bestaan uit Oostenryk en Hongarye en is deur slegs een monarg regeer. Die twee keisers en konings van Oostenryk-Hongarye was Frans Josef I en Karel I.

Die volle naam van die koninkryk was "Die Koninkryke en Lande Verteenwoordig in die Ryksraad en die Lande van die Kroon van St. Stefanus".

Met die nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog het die laaste Oostenrykse keiser afgetree, wat tot die beëindiging van die ryk gelei het.

Romeinse Republiek

Die Romeinse Republiek (Latyns: Res Publica Romana) was die fase van die antieke Romeinse beskawing wat gekenmerk is deur 'n republikeinse regeringsvorm. Die republikeinse tydperk het begin met die omverwerping van die Monargie c.509 v.C. en vir meer as 450 jaar bestaan tot met die subversie daarvan deur 'n reeks burgeroorloë, in die Prinsipaat-regeringsvorm en die Keiserlik tydperk. Die presiese gebeurtenis wat die oorgang van die Romeinse Republiek na die Romeinse Ryk aandui is oop vir interpretasie. Historici stel die aanstelling van Julius Caesar as ewigdurende diktator (44 v.C.), die Slag van Actium (2 September 31 v.C.), en die Romeinse Senaat se toestaan van Octavianus se buitengewone magte (16 Januarie 27 v.C.), as kandidate vir die epogmakende gebeurtenis.

Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk (Latyn: IMPERIVM ROMANVM) verwys na die gebied wat tussen 27 v.C. en die 5de en 6de eeu n.C. deur 'n reeks van keisers geregeer is. Dit was een van die grootste ryke in die wêreldgeskiedenis en die bevolking het gegroei tot 'n geskatte 50 tot 90 miljoen. Gebiede wat 'n deel van die ryk was, het gestrek vanaf Brittanje tot Egipte en het vele nasies en kulture ingesluit.

Geskiedkundiges verdeel die geskiedenis van die Romeinse Ryk meestal in drie groot tydperke - die monargie of koningstyd, die republiek en die keiserryk. Die geskiedenis van die Romeinse monargie, wat eeue lank bestaan het, is in 'n wasigheid gehul. Groot dele daarvan is net in die vorm van stigtingsmites oorgelewer waarin Rome se bestaan vir latere generasies gelegitimeer is. Argeologiese vondse dui daarop dat die gebied van Rome ten minste vanaf die tweede millennium v.C., die Bronstydperk dus, bewoon was. Antieke Romeine gee die stigtingsdatum van hul stad en die regentskap van die eerste Romeinse koning, Romulus, as die middel van die 8ste eeu v.C. aan.

Die Romeinse Keiserryk het na die burgeroorlog, wat na Julius Caesar se dood uitgebreek het, uit die Romeinse Republiek en die daaropvolgende Prinsipaat onder Augustus ontstaan. Alhoewel die Romeinse Ryk bestaan het tot die jaar 476, het die Ryk vir alle praktiese doeleindes geskei tussen die ooste en weste.

Wat Rome se groei tot 'n wêreldryk van ongekende formaat des te meer opspraakwekkend maak, is die feit dat die Romeine betreklik laat tot die toneel van Mediterreense moondhede toegetree het. Hul opstyging tot 'n streeksmoondheid in die laaste eeue v.C. val saam met 'n lang tydperk van algemene instabiliteit in die Mediterreense wêreld. Op 'n baie geskikte moment in die geskiedenis het Rome met sy fondament van republikeinse instellings en sy gedissiplineerde strydmag die kans gegryp om sy mededingers een na die ander met die militêre slaankrag van sy legioene uit te skakel.'n Verskeidenheid teorieë is deur wetenskaplikes ontwikkel aangaande die krisis en ondergang van die Wes-Romeinse Ryk en die Mediterreense beskawing in die laat antieke tydperk. Kyle Harper, professor in die departement van klassieke lettere aan die Universiteit van Oklahoma het in sy werk The Fate of Rome, wat in 2017 gepubliseer is, 'n ander, opspraakwekkende verklaring gelewer. Hy verduidelik die samehang tussen die antieke klimaatoptimum, wat tot omstreeks 150 n.C. voortgeduur het, en die bloeitydperk van die Romeinse Ryk. In die daaropvolgende oorgangstydperk het volgens hom ingrypende veranderinge plaasgevind as gevolg van klimatiese veranderinge, natuurrampe, epidemieë en hongersnode waartydens die Mediterreense bevolking gehalveer is.

Spanje

Spanje (Spaans: España, [esˈpaɲa], ), amptelik die Koninkryk Spanje (Spaans: Reino de España, Katalaans: Regne d'Espanya, Aragonees: Reino d'Espanya, Asturies: Reinu d'España, Baskies: Espainiako Erresuma, Galicies: Reino de España, Oksitaans: Reiaume d'Espanha), is 'n land in die suidweste van Europa. Dit deel die Iberiese Skiereiland met Portugal en Gibraltar. In die noorde word Spanje begrens deur die Pireneë van Frankryk en die landjie Andorra. Die Baleariese Eilande in die Middellandse See, die Kanariese Eilande langs die weskus van Noord-Afrika, asook die eksklawes Ceuta en Melilla in Noord-Afrika, wat deur Marokko omring word, maak deel uit van Spanje se staatsgebied.

Spanje is 'n grondwetlike erflike monargie nadat dit dekades lank, tot die fascistiese leier of caudillo Francisco Franco se afsterwe in 1975, deur 'n diktatoriese regime beheer is. Administratief word die land onderverdeel in 17 outonome gemeenskappe en twee outonome stede (ciudades autónomas), die eksklawes Ceuta en Melilla. Die hoofstad en grootste metropool is Madrid. Ander belangrike metropolitaanse gebiede sluit Barcelona, Valencia, Sevilla, Bilbao, Zaragoza en Málaga in.

Spanje is 'n lidstaat van die Verenigde Nasies (VN, sedert 14 Desember 1955), die Europese Unie (EU, sedert 1 Januarie 1986), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO, sedert 1961) en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO, sedert 30 Mei 1982). Dit is een van die hoogs ontwikkelde nywerheidslande en word ook onder die wêreld se grootste twintig in- en uitvoerlande gereken. Danksy 'n hoogs ontwikkelde toerismesektor is Spanje die tweede meesbesoekte land op aarde na Frankryk. In 1999 het die land by die Eurosone aangesluit; sedert 2002 is Eurobanknote en -muntstukke in omloop.

Die amptelike taal is Spaans (Castellano), met Katalaans as tweede ampstaal in die outonome gemeenskappe van Katalonië, Valencia en op die Baleariese Eilande; Baskies in die Baskeland en dele van Navarra; Galicies in Galisië; en Aranees in die Val d'Aran. Aragonees en Asturies word as streekstale erken. Die bevolking word volgens taal of dialek en kultuur onderverdeel in Kastiliane in Noord- en Sentraal-Spanje, Andalusiërs in die suide, Galiciërs in die noordweste, Baske in die noordoostelike Atlantiese kusgebied en Katalane in die noordoostelike Mediterreense streek.

Die geskiedenis van Spanje se kultuur strek terug tot in die prehistoriese tydperk toe die land omstreeks 15 000 v.C. deur die Iberiërs bewoon is wat hul naam aan die Iberiese Skiereiland verleen het. Die geskiedenis van kuns in Spanje strek oor byna twintig millennia, van paleolitiese kuns wat in grotte in die noordweste van die land aangetref word, tot Salvador Dalí se 20ste eeuse surrealistiese skilderye.

Tonga

Tonga (Engels: [ˈtɒŋə] of [ˈtɒŋɡə], Tongaans: [ˈtoŋa]), amptelik die Koninkryk Tonga (Engels: Kingdom of Tonga, Tongaans: Puleʻanga Fakatuʻi ʻo Tonga), is 'n eilandnasie in die Stille Oseaan en Oseanië wat uit 169 eilande bestaan, waarvan 36 bewoon is. Tonga beslaan oor 'n oppervlakte van 748 km² en het 'n bevolking van 100 651 in 2016 gehad.

Tonga is in die ooste van Fidji, in die suidooste van Wallis en Futuna, in die suide van Samoa, in die suidooste van Amerikaans-Samoa, in die weste van Niue en die Cookeilande en in die noorde van Nieu-Seeland geleë. Die hoofstad en grootste stad is Nukuʻalofa.

Die Nederlandse ontdekkingsreisiger Willem Schouten het Tonga in 1616 as eerste Europeër bereik, gevolg deur Abel Tasman in 1643. In 1773, 1774 en 1777 het die Britse ontdekkingsreisiger James Cook Tonga besoek. In 1845 het die ambisieuse jong vegter, strateeg en woordvoerder Tāufa'āhau Tonga as 'n koninkryk verenig en in 1875 tot 'n grondwetlike monargie verklaar. Tonga het 'n beskermde staat geword, nadat die koninkryk op 18 Mei 1900 met die Verenigde Koninkryk 'n Verdrag van Vriendskap onderteken het. Onder die beskerming van Groot-Brittanje kon Tonga as enigste Pasifiese land sy soewereiniteit en monargiese regering behou (in teenstelling met Hawaii en Tahiti). Die Verdrag van Vriendskap en Tonga se beskermingsstatus het in 1970 volgens gevestigde reëlings, wat in 1965 deur Koningin Sālote Tupou III ingestel is, geëindig. Tonga is 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie binne die Britse Statebond met 'n eie monarg as staatshoof. Tonga is een van slegs vyf lande binne die Britse Statebond, waar 'n inheemse monarg op die troon sit (die ander vier is Broenei, Lesotho, Maleisië en eSwatini).

Rugby is by verre die gewildste sportsoort in dié land. Die Tongaanse nasionale rugbyspan kon sedert 1987 vir elke rugbywêreldbekertoernooi (behalwe vir 1991) kwalifiseer en behoort tot die 12 top-rugbyspanne wêreldwyd.

Vatikaanstad

Die Vatikaan of Vatikaanstaat, amptelik die Staat van die Vatikaanstad (Italiaans: Stato della Città del Vaticano, Latyn: Status Civitatis Vaticanæ), is 'n klein soewereine staat met 'n ingeslote gebied (enklawe) binne die stadsgebied van Rome, Italië as sy staatsgebied. Omdat dit regeer word deur die Biskop van Rome, die Pous, kan die regering daarvan beskryf word as ekklesiasties en die hoogste staatsampte word volgestaan deur kerklikes. Die Vatikaan is die laaste absolute (en elektiewe) monargie in Europa waar die pous as staatshoof volgens artikel 1 van die grondwet wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag het. Al is dit nooit toegepas nie, is die doodstraf eers in die 1960's afgeskaf.

Die moderne tuiste van die Pous is die kleinste onafhanklike nasie in die wêreld in terme van oppervlakte en bevolking wat in sy huidige vorm volgens die Verdrag van Laterane, wat op 11 Februarie 1929 met die Italiaanse regering gesluit (en op 18 Februarie 1984 hersien) is, geskep is. Die verdrag waarborg die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Heilige Stoel.

Die Vatikaanstad is die enigste staat ter wêreld met Latyn as ampstaal. Dit is die territoriale setel van die Heilige Stoel, die institutionele entiteit verteenwoordig deur die Pous, die Biskop van Rome, en daarom ook die hoof ekklesiale setel van die Rooms-Katolieke Kerk van beide die ooste en die weste. Die Vatikaanstad is in 1984 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Buite die Vatikaanstad het die pouslike somerresidensie in Castel Gandolfo met 60 hektaaar (sowat 25 km buite Rome geleë) en enkele kerke en paleise in Rome eksterritoriale status. Die laasgenoemdes dien as die ampsetels van dikasterieë (departemente) of ander strukture en liggame wat ondergeskik is aan die Romeinse Curie.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.