Konfusius

Konfusius of Confusius (Chinees: 孔子, letterlik vertaal: "Heer Kong"; volgens oorlewering 551 v.C. - 479 v.C.) is die bekendste Chinese wysgeer. Sy Chinese naam was K'oeng Foe-tsoe wat "meester K'oeng" beteken. Die Katolieke sendelinge wat baie eeue na sy dood in China aangekom het en daar van die merkwaardige man gehoor het, het sy naam verlatyns tot Confucius.

Hy het maatskaplike en morele beginsels verkondig wat ’n groot invloed op die Chinese samelewing en denke gehad het. Hy het ook 'n groot invloed op lande soos Japan, Korea en Viëtnam uitgeoefen.[1]

Konfusius
孔子
Confucius 02
Gebore 551 v.C.
Zou, Lu-staat
Oorlede 479 v.C. (op 71–72)
Lu-staat
Nasionaliteit Chinees
Vakgebied Morele filosofie, sosiale filosofie, etiek
Bekend vir Stigter van Konfusianisme
Beïnvloed deur I Ching, Boek van Rites
Invloed op Baie Chinese filosowe, veral Mengzi, Xun Zi, die Neotaoiste en die Neokonfusianisme; François Quesnay; Christian Wolff; Robert Cummings Neville; Ezra Pound
Confucius Statue at the Confucius Temple
Konfusius-beeld by die Konfusius-tempel in Beijing

Konfusianisme

Konfusius was 'n denker en sosiale filosoof en het veral persoonlike moraliteit en die moraliteit van die regering beklemtoon, sowel as die korrektheid van sosiale verhoudings, geregtigheid en opregtheid. Sy denke het ontwikkel tot 'n filosofiestelsel bekend as Konfusianisme.

Die leringe van Konfusius het mettertyd 'n uiters belangrike invloed op die Chinese lewenswyse en denkwyse uitgeoefen.

Hy het self gesê: " Ek leer niks nuuts nie. Al wat ek doen is om die antieke wysheid oor te dra."

Maar hy het meer as dit gedoen. Hy het uit die leringe van die antieke China die beste gehaal en dit aan sy mense oorgedra in 'n helder en duidelike vorm.

Sy vroeë lewe

Konfusius se oorspronklike naam was Kong Qiu of Zhong Ni. As kind was hy 'n gretige leerder en hy het baie in rituele belanggestel. Toe hy groot was het hy 'n staatsamptenaar geword wat plase en beeste hanteer het. Daarna het hy 'n onderwyser geword.

Gedurende sy lewe was talle lande in oorloë met China gewikkel. Hierdie tydperk staan as die lente- en herfsperiode van die Zhou-dinastie bekend. Konfusius het nie hiervan gehou nie en wou orde in die samelewing herstel.

Die praktiese denker

Soos Sokrates het Konfusius soms vrae gestel, sonder om dit self te beantwoord. Hy wou eerder hê dat mense daaroor moes nadink, sodat hulle van ander mense en veral uit die geskiedenis kon leer. Hy was van mening dat persone met kennis en vaardighede in hoë posisies aangestel moes word, en nie net persone uit magtige families nie.

Konfusius wou hê dat mense eerder aan ander mense as oor geld en besittings dink. Hy het egter ook gevoel dat daar sterk reëls in die samelewing moet wees en dat mense dit moet gehoorsaam. Hy het gereken dat daar vyf tipiese verhoudings tussen mense bestaan, wat elk sy eie reëls het, naamlik:

  • Prins en onderdaan
  • Pa en seun
  • Man en vrou
  • Ouer en kind
  • Of vriende

Hy het hierdie tradisionele verhoudings die 'vyf prototipes' genoem. Konfusius het gesê dat beide partye aan reëls onderhewig is. Byvoorbeeld, 'n onderdaan moet aan 'n prins gehoorsaam wees, maar 'n prins moet ook na sy onderdane luister en goed en regverdig oor hulle regeer.

Een van Konfusius se leerstellings was dat mense teenoor ander moet doen soos hulle wil hê dat ander teenoor hulle moet optree. Dit word soms die Goue Reël genoem. Hy word onthou as 'n wyse man van ou China, wie se spreuke na 25 eeue nog altyd nuut is.

Invloed

Sy filosofie lê die nadruk op die persoonlike en die bestuur van moraliteit, orde, en respek vir die meerdere, en het veral gewild geword deur die sterk tradisionele Chinese stellinginnames. Konfusius word veral vereer deur onderwysers, studente en konfusianiste. Die belangrikste geboue vir die konfusianiste is die konfusiustempels.

Die invloed van Konfusius op die Chinese beskawing kan nie oorskat word nie. Dit het ook invloed buite China in Taiwan, Japan, Korea en Vietnam. Dit kom veral deur die Konfusianisme, die leer wat ontwikkel is deur sy dissipels en kommentators. "Die Gesprekke van Konfusius" (Lunyu) is 'n kort versamelwerk met besprekings wat hy gehad het met dissipels en wat na sy dood versamel is.[2] Die boek bevat die belangrikste hoofgedagtes van sy onderrig.

In die moderne era bestaan konfusiaanse bewegings, soos die Nuwe Konfusianisme, nog steeds, maar tydens die Kulturele Rewolusie is Konfusianisme dikwels aangeval deur leidende figure in die Kommunistiese Party van China. Dit was gedeeltelik 'n voortsetting van die veroordelings van Konfusianisme deur intellektuele en aktiviste in die vroeë 20ste eeu wat dit as 'n oorsaak van die etnosentriese geslote-gedagte benaderings en die weiering van die Qing-dinastie om te moderniseer beskou het. Volgens diegene het dit gelei tot die tragedies wat in die 19de eeu in China uitgespeel het.

Konfusius se werke word bestudeer deur geleerdes in baie ander Asiatiese lande, veral dié in die Chinese kulturele gebied, soos Korea, Japan en Vietnam. Baie van die lande hou steeds die tradisionele gedenkgeleentheid elke jaar.

Die Ahmadiyya Moslem Gemeenskap glo dat Konfusius 'n Goddelike Profeet van God was, soos Laozi en ander vooraanstaande Chinese persoonlikhede.[3]

In die moderne tyd, word Asteroïde 7853, "Konfusius", is vernoem na die Chinese denker.[4]

Verwysings

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Ames, Roger T. and David L. Hall (2001). Focusing the Familiar: A Translation and Philosophical Interpretation of the Zhongyong. University of Hawaii Press. p. 132. ISBN 978-0824824600.
  3. Ahmad n.d., online.
  4. IAU Minor Planet Center. International Astronomical Union Minor Planet Center. Besoek 12 September 2018.

Bron

  • KENNIS,  vol 6, 1980, bl. 1064, ISBN 0 7981 0828 2

Eksterne skakels

Afrika-China verhoudinge

China-Afrika verhoudinge verwys na die historiese, politieke, ekonomiese, militêre, sosiale en kulturele verbindings tussen China en die Afrika-vasteland.

Min is bekend oor die antieke verhoudings tussen China en die Afrika-vasteland, alhoewel daar bewys is van vroeë handelsverbindings. Hoogtepunte van middeleeuse kontakte was die 14de-eeuse reis van Ibn Battuta, die Marokkaanse geleerde en reisiger, na dele van China; die 14de-eeuse besoek van Sa'id van Mogadishu, die Somaliese geleerde en ontdekkingsreisiger, na China; en die 15de eeuse Ming-dinastie-reise van Chinese admiraal Zheng He en sy vloot, wat verby die kus van Somalië gevaar het, die Ajuran-sultanaat verbygesteek het en daarna die kus na die Mosambiekkanaal gevolg het.Moderne politieke en ekonomiese verhoudinge het begin in die era van Mao Zedong, die eerste leier van die Kommunistiese Party van China, na aanleiding van die Chinese Burgeroorlog. Vanaf die 21ste eeu het die moderne staat van die Volksrepubliek China toenemend sterk ekonomiese bande met Afrika gebou. Daar is 'n geraamde een miljoen Chinese burgers wat in Afrika woon. Daarbenewens word geskat dat 200 000 Afrika inwoners in China werk. Swaziland is vanaf 2019 die enigste Afrika-land wat nog Taiwan as die Republiek China erken.

Handel tussen die Volksrepubliek China en Afrika het gedurende die 1990's met 700% gestyg, en China is tans Afrika se grootste handelsvennoot. Die Forum vir China-Afrika-Samewerking (FOCAC) is in Oktober 2000 gestig as 'n amptelike forum om die verhoudings te versterk. 'n Paar Westerse lande, soos die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State, het bekommerd geword oor die belangrike politieke, ekonomiese en militêre rolle wat China in die vasteland van Afrika speel.

Die Chinese Ministerie van Buitelandse Sake beklemtoon China se ontwikkelingsbetrokkenheid met Afrika, terwyl hy ook verklaar dat China en Afrika gesamentlike pogings doen om die wettige regte van ontwikkelende lande te handhaaf en die skepping van "'n nuwe, regverdige en billikke politieke en ekonomiese orde in die wêreld".

Geskiedenis van China

Die geskiedenis van China bied 'n oorsig van die historiese ontwikkeling van China. China het een van die oudste beskawings ter wêreld, met 'n voortdurende ontwikkeling van die voorgeskiedenis tot die hede. Die Chinese praat graag van '5000 jaar geskiedenis en 7000 jaar van kultuur' (wuqian nian de lishi, qiqian nian de wenhua, 五 千年 的 歷史 ,七 千年 的 文化) waardeur hulle tradisioneel hul geskiedenis met die Geel Keiser begin en hul kultuur met Fuxi of met Youchao. Die oudste geskrewe Chinese historiese bronne, die orakelbene, dateer uit die 13de eeu vC.

Gottfried Wilhelm Leibniz

Gottfried Wilhelm Freiherr von Leibniz (* 1 Julie 1646 in Leipzig, geb. Gottfried Wilhelm Leibniz; † 14 November 1716 in Hannover) was 'n Duitse filosoof en wetenskaplike, wiskundige, diplomaat, fisikus, geskiedkundige, bibliotekaris en doktor van sekulêre en kerklike reg. Hy word beskou as die universele denker van sy tyd en was een van die belangrikste filosowe van die laat 17de en vroeë 18de eeu.

Jonathan Clements

Jonathan Michael Clements (gebore op 9 Julie 1971) is 'n Britse outeur en teksskrywer wat in Engels skryf. Sy nie-fiksie werke sluit biografieë van Konfusius, Koxinga en Qin Shi Huangdi (die Eerste Keiser van Sjina) in, sowel as maandelikse opinie rubrieke vir die Neo tydskrif. Hy is ook die mede-outeur van ensiklopedieë van anime en Japannese televisie dramas.

Konfusianisme

Die Konfusianisme is 'n Chinese etiese en filosofiese stelsel, wat die leer van Konfusius (551 - 479 v.C.) volg. Die Konfusianisme het 'n groot invloed op die geskiedenis en kultuur van Oos-Asiatiese lande. Deur die geskiedenis van die Chinese keiserryk heen was die Konfusianisme die amptelike ideologie en het daardeur 'n groot invloed op die bevolking gehad.

In lande en gebiede met baie Han-Chinese, behalwe in die Volksrepubliek van China, bestaan daar baie konfusianistiese basisskole en konfusianistiese middelvlakskole.

Linyi

Linyi (Chinees: 临沂) is 'n stad in die Chinese provinsie Sjandong met 'n bevolking van 10 039 400 in 2010. Die stad is geleë in die ooste van China naby die kus van die Oos-Chinese See.

Linyi grens in die ooste aan Rizhao, in die noordooste aan Weifang, in die noorde aan Zibo, in die noordweste aan Tai'an, in die weste aan Jining en in die suidweste aan Zaozhuang.

Mengzi

Mengzi (Meester Meng) (Mencius (latinisering): 372 v.C.– 289 v.C.) was 'n Chinese filosoof tydens die Periode van die Strydende State en word sedert die 12de eeu beskou as dié belangrikste Konfusianistiese denker naas Konfusius self. Hy benadruk die oorspronklike goedheid van die menslike natuur en die invloed wat eksterne faktore kon hê op die ontwikkeling daarvan. Hy sistematiseer die Konfusianisme se deugdeleer tot vier hoofdeugde, (mede)menselikheid, pligsgetrouheid, seremoniële gedrag en insig. In sy siening van die staat stel hy dat heersers 'n konstante sorg vir die bevolking moet hê en dit uitvoer deur die 'n 'humanistiese' politiek te volg. Sy uitsprake het bewaar gebly in Die Mencius.

Politieke filosofie

Politieke filosofie is die studie van onderwerpe soos politiek, vryheid, geregtigheid, eiendom, regte, wetgewing en die toepassing van 'n regskode deur gesag: wat die voorgaande presies sou wees, hoekom of selfs óf dit nodig is, en wat, indien enigiets, 'n legitieme regering sou uitmaak, watter regte en vryhede dit moet beskerm, benewens die redes daarvoor, watter vorm dit moet aanneem en waarom, die onderskeid tussen die verskillende politieke magte (Trias politica), wat die wet is, en watter pligte die burgers aan 'n wetlike regering verskuldig is, indien enige, en onder watter omstandighede dit wettig omvêrgewerp mag word, indien ooit. Ander sake waaroor die politieke filosowe nadink is onder meer die konstruksies van mag, leierskap en deelname aan gesag sowel as die analise en agtergrond van groot politieke stelsels soos demokrasie, kommunisme en kapitalisme.

Die gebruik van die term politieke filosofie kan ook verwys na 'n bepaalde filosofiese opvatting oor die wese of doel van die gemeenskap of staat. Dit kan soms gebruik word as 'n sinoniem vir 'politieke siening'. Die onderskeid wat soms tussen sosiale filosofie en politieke filosofie gemaak word, is meer 'n kwessie van die toevallige studierigtings op universiteite as inhoudsverskille; die grens tussen beide is vaag. Aan baie universiteite en vir baie filosowe bestaan die onderskeid ook nie. Ook oorvleuel dit op sekere punte met die regsfilosofie, waar die regsfilosofie ditself op wetgewing as sodanig rig (byvoorbeeld wat wette regverdig maak), terwyl politieke filosofie eerder die rol van die reg in die breër politiek plaas. Verder hang die politieke filosofie van 'n filosoof ook dikwels saam met sy opvattings oor etiek en wysgerige antropologie.

In die omgangstaal verwys die term "politieke filosofie" dikwels na 'n algemene siening, of spesifieke etiek, politieke geloof of houding rakende politiek, wat nie noodwendig tot die tegniese uitvoering daarvan of die filosofie behoort nie. In kort is politieke filosofie die aktiwiteit, soos met alle filosofie, waardeur die konseptuele strukture onderliggend aan konsepte soos die voorgenoemdes, ontleed word in terme van hulle geskiedenis, doelwitte, ewolusie en die derglike.

Qiu Xiaolong

Qiu Xiaolong (裘小龙, [ˈtʃuː_ˌʃaʊˈlɒŋ]; * 1953 in Sjanghai, Volksrepubliek China) is 'n Chinese digter, skrywer, vertaler, kritikus en dosent wat in ballingskap in die Verenigde State woon. Qiu het in 1988 'n besoek aan die VSA gebring om 'n boek oor T. S. Eliot te skryf, maar het ná die politieke gebeure van 1989, veral onder die indruk van die Tiananmen-betogings, verkies om in die Verenigde State aan te bly. Hy woon saam met sy vrou Wang Lijun en sy kinders in St. Louis.

As skrywer het Qiu onder meer bekendheid verwerf met sy nege misdaadromans wat in die 1990's in Sjanghai afspeel - 'n tydperk van ingrypende veranderinge in die Volksrepubliek China. Die hoofkarakters in hierdie werke is hoofinspekteur Chen Cao, 'n man met 'n regskape karakter wat graag Chinese poësie aanhaal, en sy assistent, speurder Yu.

Qiu, wat sy werke in Engels publiseer, beperk hom in sy fiksie nie tot die blote beskrywing van polisiewerk nie, maar gee die leser ook insig in die Chinese leefwêreld, poësie (met aanhalings uit antieke en moderne digkuns), Konfusius en sy filosofie, kookkuns, boukuns, geskiedenis, politiek en herbologie.

Republiek China

Hierdie artikel handel oor die land wat algemeen as Taiwan bekend staan. Vir die eiland wat die grootste deel van hierdie land uitmaak, sien Taiwan (eiland).Die Republiek China (Chinees: 中華民國, pinyin: Zhōnghuá Mínguó, [ʈ͡ʂʊ́ŋxu̯ɑ̌ mǐnku̯ɔ̌]; wat soms ook Republiek China op Taiwan, Nasionaal-China of dikwels net Taiwan genoem word) is een van twee Chinese state wat daarop aanspraak maak dat hulle die regmatige verteenwoordiger van China is (die ander een is die Volksrepubliek China). Naas die hoofeiland Taiwan sluit die Republiek China se de facto-staatsgebied 'n reeks kleiner eilande soos Penghu, Kinmen, Matsu, Dongsha, Zhongsha en Nansha in.

Die Republiek China het sy oorsprong in die Nasionaal-Chinese Republiek wat in 1912 uitgeroep is – as die eerste Asiatiese land met 'n demokratiese regeringstelsel. Tot 1949 het hierdie republiek die hele China ingesluit, vanaf 1945 ook die eiland Taiwan wat tydelik deur Japan beheer is. Nadat die Nasionaal-Chinese regering onder leiding van die Guomindang-party in die Chinese burgeroorlog tussen 1927 en 1949 'n nederlaag teen die Kommunistiese Party van China gely het, het die Guomindang onder leiding van Chiang Kai-shek op 10 Desember na die eiland Taiwan uitgewyk, nadat die Kommuniste op die vasteland onder Mao reeds op 1 Oktober in Beijing die Volksrepubliek China geproklameer het. Na ramings het tussen 1,8 en twee miljoen Nasionaal-Chinese – Guomindang-partylede, soldate, sakelui, grondbesitters en kleinboere, monnike, kunstenaars, intellektueles, maar ook krimineles – hulle binne enkele maande op Taiwan gevestig. Hulle het China se destydse goudreserwes en baie kunsskatte na Taiwan geneem. Ook gedurende die 1950's en 1960's het tienduisende vastelandse Chinese hulle op Taiwan gevestig, meestal vanuit Hongkong en Burma (tans Mianmar).

Die uitbreek van die Korea-oorlog in Junie 1950 het verseker dat Taiwan van groot strategiese belang vir die Verenigde State geword het. Die Amerikaanse president Truman het oorlogskepe na die Seestraat van Taiwan gestuur om die eiland teen 'n moontlike kommunistiese inval te beskerm, terwyl die Nasionaal-Chinese regering ook finansieel deur Washington gesteun is.

Die Republiek China het in die tweede helfte van die 20ste eeu ongekende vooruitgang op politieke en ekonomiese gebied beleef. Vinnige ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang het gepaard gegaan met politieke liberalisering. Die outoritêre polisiestaat het tot 'n veelparty-demokrasie met 'n verkose president as staatshoof en vrye media, gelykheid tussen die geslagte, en respek en agting vir menseregte ontwikkel wat onder die mees gevorderde nywerheidslande gereken word.

Ondanks die groot skade, wat die eiland Taiwan gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van lugaanvalle gely het, en ondanks die moeilike situasie ná die verlore Chinese burgeroorlog op die vasteland, toe 'n nuwe regering in Taipei gevestig moes word, is sy ekonomiese geskiedenis dié van 'n onderontwikkelde land wat sy ekonomie binne enkele dekades herstruktureer en tot een van die welvarendste ter wêreld ontwikkel het. Nog in 1900 was die eiland Taiwan se bevolking slegs twee miljoen, en in 1958 is sowat sestig persent van die land se uitvoerwaarde nog met suiker en rys verdien. Hierdie aandeel het reeds in 1972 tot slegs drie persent gedaal. Die bruto nasionale produk het van slegs VSA-$200 in die tydperk kort ná die Tweede Wêreldoorlog tot meer as VSA-$13 000 in 1999 gestyg. Vandag is die land met sy 23,5 miljoen inwoners een van die vernaamste produsente van inligtingstegnologie en ander elektronika.

As eerste demokratiese en vrye Chinese samelewing het die eilandrepubliek nie net die kultuur en tradisies van China bewaar nie, maar ook sy eie nasionale kulturele identiteit ontwikkel waarin Chinese, Japannese, Westerse en inheemse invloede op 'n wonderlike manier versmelt. Taiwan bied eersterangse Chinese kookkuns, sy bevolking vier tradisionele Chinese en inheemse feeste en bewaar 'n ryk erfenis van godsdienstige boukuns met sy groot verskeidenheid tempels.

Tydperk van die Lente en die Herfs

Die tydperk van die Lente en die Herfs is 'n era in die geskiedenis van China. Hierdie periode word voorafgegaan deur die Westlike Zhou-dinastie en gevolg deur die tydperk van die Strydende State, wat, net soos die tydperk van die Lente en die Herfs, 'n sub-tydperk van die Oostelike Zhou-dinastie vorm. Die era is vernoem na die Lente en Herfs Annale, Chunqiu, 'n hofkroniek van die staat Lu, wat gebeure tussen 722 en 481 vC , beskryf. Dit is van die eerste jaar van die bewind van die hertog Yin van Lu tot die veertiende jaar van die bewind van die hertog Ai.

Xuanzang

Xuanzang (Chinees: 玄奘, Pinyin Xuánzàng, soms geskrewe as Hsüan-tsang of Hiuan-tsang; 602–664) was 'n Chinese Boeddhistiese monnik, geleerde en reisiger.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.