Josua

Josua is die sesde boek van die Hebreeuse Bybel.

Die boek handel oor die verowering van Kanaän deur die Israeliete en die verdeling van die land onder hulle, onder Josua se leiding. Deur dit alles vir die Israeliete moontlik te maak, het die Here sy belofte aan Abraham vervul. Soos Moses gedoen het, spoor ook Josua kort voor sy dood die volk aan om getrou te bly in hulle diens aan die Here en nie afgode te dien nie.

Bron

Eksterne skakels

Beit Shemesh

Beit Shemesh, Hebreeus: בית שמש, Arabies: بيت شيمش , is 'n Israelse stad in die Jerusalem distrik met 'n bevolking van sowat 114 000 in 2017.

Die stad lê net westelik van die stad Jerusalem.

Die moderne Beith Shemesh is in 1950 gestig maar die vroeëre stad stam uit die tyd van die Kanaäniete.

Beit Shemesh word in die Bybel vir die eerste keer in die boek Josua genoem.

Beta Israel

Moenie verwar word met Bene Israel nie.Die Beta Israel (Hebreeus: בֵּיתֶא יִשְׂרָאֵל‬, Béjte Jisra'él; Ge'ez: ቤተ እስራኤል, Bēta 'Isrā'ēl, hedendaags: Bēte 'Isrā'ēl, Encyclopaedia Aethiopica: Betä Ǝsraʾel, letterlik: "Huis van Israel" of "Gemeenskap van Israel"), ook bekend as Ethiopiese Jode (Hebreeus: יְהוּדֵי אֶתְיוֹפְּיָה, Jehoedéj Etiópija; Ge'ez: የኢትዮጵያ አይሁድዊ, ye-Ityoppya Ayhudi), is Jode wie se gemeenskap oor eeue heen in die gebied van die Koninkryk Aksum en die Keiserryk van Ethiopië, wat nou tussen die Amhara- en Tigray-streke van Ethiopië en Eritrea verdeel is, geleef en ontwikkel het. Die meeste van hierdie mense het sedert die laat 20ste eeu na Israel geëmigreer. Hulle word ook Falasja genoem, wat uit Oud-Ethiopies (Ge'ez) afgelei is en "uitgewekenes" of "uitgeweke" beteken en 'n neerhalende konnotasie behels. In Ethiopië het hulle 'n kaste van ambagsmanne gevorm wat oor eeue heen smeewerk uitgeoefen het, omdat hulle nie grond kon besit nie.

Die Beta Israel was eens in noordelike en noordwestelike Ethiopië in meer as 500 klein dorpies oor 'n groot gebied wyd versprei, saam met bevolkings van Moslems en hoofsaaklik Christene. Die meeste van hulle was gekonsentreer in die gebied rondom en noord van die Tanameer en die Blou Nyl, in die Gondar-streek saam met die Wolqayit, Shire en Tselemt, Dembia, Segelt, Quara en Belesa.

Die Beta Israel het in die latere 20ste eeu hernude kontak met ander Joodse gemeenskappe gemaak. Na Halagiese en grondwetlike besprekings het Israeliese amptenare op 14 Maart 1977 besluit om die Israeliese wet van terugkeer op die Beta Israel toe te pas. Die Israeliese regering en Amerikaanse nieregeringsorganisasies soos die American Association for Ethiopian Jews (Amerikaanse Assosiasie vir Ethiopiese Jode, AAEJ) het alijá-bedrywighede geloods om die mense na Israel te bring. Hierdie aktiwiteite sluit in Operasie Broers tussen 1977 en 1991 in Soedan (dit sluit die groot operasies Moses en Josua in) en in die 1990's van Addis Abeba (wat Operasie Salomon insluit). Van die grootste alijá-operasies sluit in Moses (1984/85), Salomo (1991) en Duifvlerke (2011). Tans bly nog sowat 8 000 Jode in Ethiopië, waarvan omtrent 5 000 in Gondar.Teen die einde van 2010 was daar 119 700 mense van Ethiopiese afkoms in Israel, insluitende sowat 78 900 mense wat in Ethiopië gebore is en ongeveer 40 800 wat in Israel gebore is (sowat 34 persent van die gemeenskap) met minstens een ouer wat in Ethiopië of Eritrea gebore is. Net 'n klein aantal van Ethiopiese Jode het in Ethiopië oorgebly, terwyl 'n verdere aantal hulle in die Verenigde State gevestig het.

Brackenfell

Brackenfell is 'n noordelike voorstad (of dan dorp) binne die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit. Dit is noordoos van die stadskern geleë, tussen Bellville, Durbanville, Kuilsrivier en Kraaifontein.

Bybel

Die Bybel is die heilige boek van die Christelike en Joodse geloof. Die Joodse Bybel of Tenach het 39 dele en vertel die verhaal van God se verhouding met die Joodse mense in antieke tye. Dié 39 dele is ook deel van die Christelike Bybel en word die Ou Testament genoem. Die Christelike Bybel het nog 27 dele, wat die Nuwe Testament genoem word. Daarin word die verhaal van Jesus vertel.Die woord 'Bybel' stam van die Griekse woord βιβλια biblia (boeke), wat 'n meervoud is van βιβλιον biblion (wat oorspronklik papirus beteken en later gebruik is as aanduiding van papier, geskrif, boek(rol)). Die Bybel bevat drie verskillende versamelings boeke:

Die Ou Testament, ook die Hebreeuse Bybel genoem. Dit is geskryf gedurende die eeue heen en dit bestaan oorspronklik vir die grootste deel in Hebreeus met enkele Aramese paragrawe. (Die Tanach is anders georden)

Die Apokriewe boeke, boeke buiten die kanon van Nicea.

Die Nuwe Testament, geskryf gedurende die tweede helfte van die eerste eeu na Christus, in moderne Grieks (koinè-Grieks).In breë trekke gaan die Bybel oor hoe God as skepper met die mens in tyd en ruimte omgegaan het, die plek van die mens in verhouding tot die skepping, die skepper en die heelal en inbreek van ewigheid (domein van God) in die tyd (domein van die mens).

Met 'n geraamde verkope van meer as 5 miljard kopieë word die Bybel algemeen as die topverkoper boek van alle tye beskou. Na raming word 100 miljoen Bybels jaarliks verkoop. Dit is uniek in baie opsigte, waarvan vertaling en skrywers net 'n paar is. Dit het ook 'n groot invloed op letterkunde en die geskiedenis, veral in die Weste, uitgeoefen.

Deon Rossouw

Gedeon Josua (Deon) Rossouw is gebore in Vredendal. Hy het teologie en filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en het in 1989 sy doktorsgraad in filosofie behaal. Sedert 1986 het hy filosofie aan die Randse Afrikaanse Universiteit doseer waar hy later ook as departementshoof aangestel is. Hy was van 2004–2010 hoof van die departement filosofie aan die Universiteit van Pretoria.Rossouw is 'n vooraanstaande kenner op die gebied van sake-etiek en het al verskeie boeke en meer as sestig artikels oor etiek en filosofiese dinkvaardighede gepubliseer. Hy was stigterspresident van die Besigheidsetieknetwerk van Afrika (BEN-Afrika). Hy dien op die uitvoerende komitee van die Internasionale vereniging vir besigheid, ekonomie en etiek asook die redaksie van die Tydskrif vir Sake-etiek. Hy is besoekende professor in Sake-etiek en Korporatiewe Regering aan die New Castle Besigheidskool en was tydens 2000 gasnavorser aan die 'Judge' Besigheidskool van die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk.

Hy is getroud met Anys (Anista van Greunen) en het drie kinders.

Eerste Grensoorlog

Die Eerste Grensoorlog van 1779 tot 1781 was in werklikheid 'n reeks botsings tussen koloniste van die Kaapkolonie en die Xhosastamme aan die Oosgrens.

Teen die middel van 1779 het veediefstal deur die Xhosas so algemeen voorgekom aan die suidwestelike grens van die kolonie dat die Hollandse boere hulle plase aan die Boesmansrivier begin verlaat het. In Desember 1779 het 'n gewapende botsing tussen die Boere en die Xhosas plaasgevind, blykbaar weens ongerymdhede wat deur sommige blankes aan die grens teen die Xhosas gepleeg is. Twee burgerlike kommando's, een onder leiding van Josua Joubert en die ander onder Pieter Hendrik Ferreira, het vroeg in 1780 uitgery en daarin geslaag om baie beeste aan te keer, maar hulle kon nie die Xhosas uit die plaasgebied verdryf nie.

In Oktober 1780 het die Kaapse regering Adriaan van Jaarsveld, 'n hoogs ervare kommandoleier, aangestel as veldkommandant van die hele Oosgrens. 'n Kommando onder sy leiding het 'n groot aantal beeste teruggekry en daarop aanspraak gemaak dat hulle al die Xhosas teen Julie 1781 uit die Zuurveld verdryf het.

Gibeon

Gibeon is 'n dorpie aan die Visrivier in die streek Hardap van Namibië, 177 km nood van Keetmanshoop, 60 km suid van Mariental en 350 km suidoos van Windhoek, die land se hoofstad.

Gibeon is in 1862 gestig as sendingstasie van die Rynse Sendinggenootskap. Nadat dit in 1870 in puin gelê is deur die strydlustige Nama-stam, is dit in 1870 herbou. Die naam is van Bybelse oorsprong (Josua. 10:1, 2: "Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai ingeneem en heeltemal vernietig het, dat hy met Ai en sy koning dieselfde gedoen het as wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en ook dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gemaak het en by hulle woon. Die mense van Jerusalem het baie bang geword, want Gibeon was 'n belangrike stad, soos 'n stad met 'n koning, en groter as Ai, en al sy manne was dapper vegters.")

Met die stigting van die eerste NG gemeente in Suidwes-Afrika in 1898, was Gideon die middelpunt daarvan, maar vandat die setel van dié gemeente na Mariental verskuif het, staan dit bekend as die NG gemeente Mariental.

Kronologie van die Bybel

Die volgende is Bybelse datums volgens Biskop James Ussher:

Indien 'n datum 'n negatiewe waarde het, dan is dit voor Christus (vC). 'n Positiewe waarde is na Christus (nC). Voor Christus (vC) word ook geskryf as "AD", wat staan vir Anno Domini wat "Jare van die begin van die Christelike era" beteken. 'n Ander manier om dit te skryf is in terme van jare na die skepping: AM = Anno Mundi wat "Jare van die begin van die skepping" beteken.

Lys van persone in die Bybel

Hierdie is 'n lys van persone van persone wat in die Bybel genoem word.

A - B - C - D - E - F - G - H - I - J - K - L - M - N - O - P - Q - R - S - T - U - V - W - X - Y - Z - Sien ook

Mariaboodskap

Hierdie artikel handel oor die verkondiging dat Maria die moeder van Jesus sal word. Moenie verwar word met Maria Onbevlekte Ontvangenis deur haar ouers nie.

Die fees Mariaboodskap of Verkondiging van die Here (Latyn: Annuntiatio Domini), ook Annunsiasie (afgelei van die Latynse naam), is die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse herdenking van die verkondiging deur die aartsengel Gabriël aan die Maagd Maria, dat sy swanger en die moeder van Jesus (volgens Christene die Joodse Messias en Seun van God) sal word, wat Jesus se menswording makeer. Gabriël het vir Maria opdrag gegee om haar seun Josua, letterlik "JHWH is verlossing", te noem.

Volgens die Evangelie volgens Lukas 1,26 het die aankondiging "in die sesde maand" van Elizabet se swangerskap met Johannes die Doper plaasgevind. Baie Christene herdenk hierdie gebeurtenis met die Fees van die Verkondiging op 25 Maart, nege maande voor Kersfees, 'n benadering aan die noordelike Dag-en-nag-ewening in lente, nege volle maande voor Kersfees, die seremoniële geboortedag van Jesus. Saam met Mariaboodskap het Pous Sergius I die Mariafeeste Mariageboorte, Marialigmis en Mariahemelvaart ingestel.

Die Aankondiging is 'n belangrike onderwerp in die Christelike kuns, maar ook in die Mariaanse kuns van die Rooms-Katolieke Kerk, veral van die Middeleeue en Renaissance. 'n Kunswerk wat die Aankondiging uitbeeld, word soms self Aankondiging genoem. Tientalle kerke is aan die leerstelling van Mariaboodskap gewy.

Moses

Moses (Hebreeus: מֹשֶׁה, Mōšæ; Arabies: مُوسَى, Mūsā; Grieks: Μωυσῆς en Μωσῆς, Mō(y)sēs) is naas Abraham die tweede sentrale figuur in die geskiedenis van die volk Israel. Volgens die Bybel is hy die vernaamste profeet, wat die Israeliete uit Egipte gelei het. Hy word beskou as die stigter van die Israelietise godsdiens en is volgens die Bybel die ontvanger van die Tien Gebooie op die berg Sinai. Moses was ook die aanvoerder van die volk Israel tydens die deurtog deur die woestyn tot aan die grense van Kanaän.

Moses is een van die belangrikste figure in die Joodse volksgeskiedenis en onder sy leiding is die Israeliete weggevoer uit die slawerny in Egipte na die beloofde land Kanaän, die land van hul voorvaders. Volgens die Bybelse geskiedenis het Moses op die berg Sinai die Tora van God ontvang.

Die lewensgeskiedenis van Moses word vertel in die Bybelboeke Sjemot/Eksodus tot en met Dwarim/Deuteronomium en is ten nouste verweef met die verhaal van die uittog van die Israeliete (Jode) uit Egipte. Moses is gebore op 'n tydstip toe die verdrukking van die Israeliete in Egipte 'n hoogtepunt bereik het, waarskynlik onder die bewind van farao Seti I (1318–1304 v.C.). Seti I het 'n wet uitgevaardig ingevolge waarvan alle Hebreeuse seuntjies wat gebore word, doodgemaak moes word.

Volgens oorlewering het Moses se ouers, Amram en Jogebed, hom aanvanklik in hul huis versteek en later in 'n mandjie van biesies langs die Nylrivier. Die farao se dogter, wat hier kom bad het, het Moses in sy mandjie gevind en hom saam met haar na die paleis gebring, waar hy as 'n Egiptiese prins grootgemaak is. Tydens 'n geskil tussen ’n Israelitiese slaaf en 'n Egiptenaar het Moses so woedend geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan en na Midian in die noorde van die Arabiese Skiereiland gevlug het.

Daar het hy die skaapwagter van die priester van Midian, Jetro (Réhuel), geword en met een van sy dogters, Sippora, getrou. Volgens die Bybelse verhaal het God op 'n dag in 'n brandende doringbos wat nie uitgebrand het nie (die brandende doringbos, Sjemot/Eksodus 3,2), aan Moses verskyn. Hy het opdrag ontvang om sy volk uit die slawerny in Egipte te bevry.

Moses het homself as onbekwaam beskou vir hierdie bomenslike taak, maar God het hom verseker dat Hy altyd met Moses sou wees deur Hom bekend te maak as JHWH. In Egipte het Moses kwaai weerstand van die farao (waarskynlik Ramses II, 1290–1224 v.C.) ondervind. Met die hulp van God, wat tien plae oor Egipte laat kom het, en met die bystand van sy broer Aäron het Moses daarin geslaag om sy opdrag uit te voer.

By die berg Sinaï (of Horeb), waar Moses die opdrag ontvang het om sy volk te bevry, het die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die Joodse volk plaasgevind: God het aan die Joodse volk sy wil bekend gemaak deur aan hulle die Tora te gee. Volgens die Bybelse verhaal het Moses by hierdie openbaring 'n sentrale rol gespeel: God het met hom gepraat omdat die volk die aanblik van God nie sou kon verduur nie. God het twee kliptafels waarop die Tien Woorde geskryf gestaan het, aan Moses gegee sodat hy die volk kon onderrig.

Moses was die geestelike leier van die volk en is ook later Mosje Rabbenoe ("Moses, ons leraar") genoem. Hierin lê die verskil tussen Moses as die eerste profeet en die latere profete. Die volk het uit die hand van Moses die Tora ontvang en hy het 'n klomp slawe saamgesnoer tot 'n volk wat tot vandag toe sy identiteit behou het. Latere profete het in hul vermaninge en aansporinge steeds na Moses en sy werk terugverwys.

Moses moes voortdurend vir sy volk intree by God wanneer hulle verkeerd gedoen, in afgodery teruggeval en in opstand gekom het. Na 'n omswerwing van 40 jaar het Moses die volk tot op die grens van die beloofde land gebring. Hier het hy die leiding aan sy vertroueling Josua oorgedra en kort daarna gesterf. "Hy het vir Moses begrawe in 'n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie." (Dwarim/Deuteronomium 34,6).

NG gemeente Durbanville

Die NG gemeente Durbanville is die sewentiende oudste gemeente van die NG Kerk in Suid-Afrika en is in die gelyknamige noordelike stadsgebied van Kaapstad geleë.

NG gemeente Kimberley

Die NG gemeente Kimberley is die tweede oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in wat later die stad Kimberley sou word. Die kerkgebou is geleë in die ou voorstad New park, tot 1945 bekend as Newton.

Namakwa-distriksmunisipaliteit

Die Namakwa-distriksmunisipaliteit is een van die 5 distriksmunisipaliteite van die Noord-Kaap. Die setel van die munisipaliteit is in Springbok. Die meeste inwoners in die munisipale gebied is Afrikaanssprekend. Die munisipaliteit se kode is DC6.

Ou Testament

Die term Ou Testament (van Latyns testamentum, 'n vertaling van respektiewelik die Hebreeuse בְּרִית (berît) en Griekse διαθήκη (diathēkē) – "verbond", ook: Eerste Testament) verwys in die Christelike teologie sedert omstreeks 180 na die Heilige Skrifte van die Jodedom wat daar sedert omstreeks 100 as Tanach bekend staan, asook 'n aantal skrifte uit die Septuagint wat vanaf 250 v.C. ontstaan het. Dit is oorspronklik in Hebreeus geskryf (vandaar die alternatiewe name Hebreeuse Skrifte of Hebreeuse Bybel), afgesien van kleiner gedeeltes in Bybelse Aramees.

Die eerste Christene het hierdie skrifte as die "Woord van God" beskou wat Jesus van Nasaret as Messias van Israel en die wêreld se ander volke verkondig. Afhangende van die skrifte se uitlegging word Jesus as die verlosser beskryf. Die Ou Kerk het die Hebreeuse Skrifte as openbaring teen kleiner Christelike minderhede verdedig wat hierdie opvatting nie gedeel het nie.

As kanon is die Ou Testament tot 350 saamgestel en die volgorde van sy boeke vasgelê om saam met die Nuwe Testament as Christelike Bybel te dien. Nogtans verskil die groot Christelike kerke oor die aantal boeke wat tot die kanon behoort. Terwyl Protestantse kerke dit tot die boeke van die Tanach beperk het, erken die Rooms-Katolieke Kerk net soos Ortodokse Christene daarnaas ook verskillende skrifte uit die Septuagint.

Russiese Bybelvertalings

Die tradisie van Bybelvertalings in Rusland begin met weergawes van die Bybel in Ou Kerkslawies. Die Elisabethaanse Bybel (Russies: Елизаветинская Библия, Jelizawetinskaja Biblija) is die derde volledige gedrukte weergawe in Kerkslawies, en is in 1751 in Rusland gepubliseer onder die Russiese keiserin Elisabeth. Die vorige weergawes was die Ostrogbybel van 1581 en die Moskoubybel van 1663.

Die eerste Bybel in Russiese streekstaal het in 1876 verskyn. Ná die stigting van die Russiese Bybelgenootskap in 1812 in Sint Petersburg is ’n vertaling met die toestemming van tsaar Alexander I aangepak deur Filaret, rektor van die Teologiese Akademie van Sint Petersburg (later metropolitaan van Moskou), en ander lede van die akademie.

Die Evangelies is in 1818 gepubliseer en die hele Nuwe Testament in 1822. Ook in 1822 is Filaret se vertaling van die Psalms gepubliseer. In 1825 is die Pentateug, Josua, Rigters en Rut uitgereik. In 1826 is die Bybelgenootskap saam met verskeie privaat organisasies verbied en die vertaling is eers in 1858 hervat. In 1876 is die hele Bybel in een volume gepubliseer. Dit word die Sinodale Weergawe genoem. Die boeke van die Ou Testament volg die orde van die Septuagint en die Kerkslawiese Bybel, hoewel dit op die Hebreeuse Bybel geskoei is. Die Apokriewe boeke vorm ook deel van die Russiese Bybel.

Staat Palestina

Palestina (Arabies: فلسطين, Filasṭīn), amptelik die Staat Palestina (Arabies: دولة فلسطين, Dawlat Filasṭīn), is 'n land met omstrede status, geleë in Wes-Asië, en word deur Israel beset en geëis. Die Staat Palestina is deur die Palestynse Bevrydingsorganisasie verklaar op 15 November 1988 en word deur meer as 134 lande erken. Op 31 Oktober 2011 het Palestina 'n lid van Unesco geword en op 29 November 2012 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies met 'n groot meerderheid vir die opname van Palestina as waarnemer gestem. Palestina bestaan uit die Gasastrook en die Wesoewer.

Sedert die begin van die Palestynse Burgeroorlog tussen die Fatah en Hamas is die Grondgebiede verdeel: Die Fatah beheer die Wesoewer, terwyl die Hamas die Gasastrook regeer. Die Fatah is 'n lid van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, maar nie die Hamas nie. Nes die Suid-Afrikaanse ANC en die Namibiese SWAPO is die Fatah 'n lid van die Sosialistiese Internasionaal (SI), terwyl die Hamas deur verskeie lande as 'n terroristiese organisasie gelys word.Die PLO het op 15 November 1988 in Algiers die onafhanklikheid van die Staat Palestina met Jerusalem as hoofstad verklaar, wat deur 137 (van 'n total van 193) VN-lidlande erken word en geniet sedert 2012 die status as 'n waarnemer-land sonder lidmaatskap in die Verenigde Nasies – wat die erkenning van staatskap impliseer. Dit is 'n lidland van die Arabiese Liga, Organisasie van Islamitiese Samewerking, G77 en die Internasionale Olimpiese Komitee asook ander internasionale organisasies.

Tora

Jode glo God praat met die individu sowel as met die Joodse volk deur die Tora (Hebreeus: תּוֹרָה, "onderwysing", "leerstelling", "ontwerp"), die Heilige Skrifte van Judaïsme wat beskou word as God se geopenbaarde wil of instruksies. Die Tora bestaan uit vyf boeke wat die eerste gedeelte van die Tanag vorm en staan in die Jodedom as gamisjá goemsjei torá, "die vyf vyfdes van die Tora" bekend. Die Griekse benaming is Πεντάτευχος (Pentáteuchos), Latyn: Pentateuchus of Pentateuchum, Afrikaans: Pentateug, letterlik: "vyf boeke" of "vyf boekrolle".

In sy breedste betekenis verwys die woord Tora na al die Joodse bepalings en leringe, wat die Tanag sowel as die Talmoed insluit. In die nou betekenis van die woord verwys dit net na die eerste vyf boeke (Pentateug) van die Bybel wat op die berg Sinai deur God aan Moses geopenbaar is.

Verbondsark

Die verbondsark (Hebreeus: אָרוֹן הַבְּרִית, ʾĀrôn Habbərît) was in die tradisie van die Hebreeuse Bybel ’n heilige kis. Dit is deur Basaleël gemaak tydens die uittog uit Egipte, by Berg Sinai. Dit was ’n draagbare kis waarin die twee plat klippe met die tien gebooie op bewaar is. Dit het gestaan in die Heilige van die Allerheiligste, die binnenste ruimte van die tabernakel, en later op dieselfde plek in Salomo se Tempel in Jerusalem.

Bybelboeke
Hoofklassifikasie
Sekondêre klassifikasie
Manuskripte

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.