Ioniese Opstand

Die Ioniese Opstand, en gepaardgaande opstande in Aeolis, Doris, Siprus en Karië, was militêre opstande deur verskillende kusstreke van Klein-Asië teen die Persiese bewind, wat geduur het van 499 v.C. tot 493 v.C.. Die kernoorsaak van die rebellie was die ontevredenheid van die Griekse stede van Klein-Asië met die tiranne wat deur Persië oor hulle aangestel is, benewens die individuele optrede van twee Milesiaanse tiranne, Histiaeus en Aristagoras.

Ioniese Opstand
Deel van die Grieks-Persiese oorloë‎
Ionian Revolt Campaign Map-en

Hoofgebeure van die Ioniese Opstand
Datum 499 v.C. – 493 v.C.
Ligging Klein-Asië en Siprus
Resultaat Persiese oorwinning
Gebieds-
veranderinge
Persië herstel sy beheer oor Ionië en Siprus.
Strydende partye
Ionië, Aeolis, Doris, Caria, Athene, Eretria, Siprus Persiese Ryk
Aanvoerders
Aristagoras
Charopinos
Hermophantus
Eualcides (†)
Melanthius
Dionysius van Phocaea
Histiaeus
Megabates
Artaphernes
Daurises (†)
Hyamees
Otanes
Datis

Verloop

Die stede van Ionië is deur Persië verower in c. 540 v.C., en is daarop regeer deur plaaslike tiranne, wat benoem is deur die Persiese satraap in Sardis. In 499 v.C. het die toenmalige tiran van Miletus, Aristagoras, 'n gesamentlike ekspedisie geloods met die Persiese satraap Artaphernes om Naxos in die Kyklade in te palm, ten einde sy invloed uit te brei. Die sending was 'n debakel, en in die verwagting dat sy ontslag as tiran op hande was, het Aristagoras verkies om die hele Ionië op te rui tot rebellie teen die Persiese koning Darius die Grote.

In 498 v.C., met die bystand van Atheense en Eretrese troepe, het die Ioniërs opgemars na Sardis, dit ingeneem en afgebrand. Op hulle terugreis na Ionië daarenteen, is hulle agtervolg deur Persiese troepe, en beslissend verslaan by die Veldslag van Efese. Hierdie kampanje was die enigste offensiewe aksie deur die Ioniërs, wat daaropvolgend slegs defensief opgetree het. Die Perse het gereageer deur in 497 v.C. 'n drieledige aanval uit te voer gemik op die herowering van die afgeleë streke van die opstand, maar die uitbreiding van die opstand na Karië het meegebring dat die grootste weermag, aangevoer deur Daurises, daarheen verplaas is. Alhoewel die kampanje na Karië aanvanklik goed afgeloop het vir die Perse, is hul weermag uitgewis in 'n lokval by die Veldslag van Pedasus. Dit het 'n dooiemat meegebring vir die res van 496 en 495 v.C..

Teen 494 v.C. is die Persiese weermag en vloot hergegroepeer, en het hulle 'n direkte aanval geloods op die brandpunt van die opstand, naamlik Miletus. Die Ioniese vloot het gepoog om Miletus ter see te verdedig, maar is beslissend verslaan in die Seeslag van Lade, na oorlopery van die Samiane. Die Perse het beleg gelê op Miletus, dit ingeneem, en die bevolking in slawerny geplaas. Hierdie dubbele terugslag het die opstand effektief beëindig, en die Kariërs het gevolglik aan die Perse oorgegee. Die Perse het die jaar 493 v.C. gewy aan die onderwerping van die stede aan die weskus wat steeds teen hulle weerstand gebied het, voor daar eindelik vredesterme aan Ionië voorgelê is, wat algemeen beskou is as beide regverdig en eerlik.

Die Ioniese Opstand was die eerste opsienbare konflik tussen Griekeland en die Persiese ryk, en het as sodanig die eerste fase van die Grieks-Persiese oorloë verteenwoordig. Alhoewel Klein-Asië weer in die Persiese koninkryk opgeneem is, het Darius 'n vaste voorneme gemaak om Athene en Eretria te straf vir hul ondersteuning van die opstand. Boonop het hy die oordeel gefel dat die menigte stadstate van Griekeland 'n voortgesette bedreiging inhou vir die stabiliteit van sy Ryk, en het Darius dan die besluit geneem om die hele Griekeland te verower. In 492 v.C. sou die eerste Persiese inval in Griekeland begin, die volgende fase van die Grieks-Persiese oorloë en 'n direkte reaksie op die Ioniese Opstand.

Belang

Die Ioniese Opstand was hoofsaaklik van belang as die inleidende hoofstuk en aanleidende faktor tot die Grieks-Persiese oorloë, wat die twee invalle in Griekeland ingesluit het asook die beroemde veldslae van Marathon, Thermopylae en Salamis.[1] Vir die Ioniese stede self, het die opstand geëindig in mislukking, en aansienlike verliese, beide materieel en ekonomies. Met die uitsondering van Miletus, het hulle betreklik gou herstel, en het gedy onder Persiese bewind vir die volgende veertig jaar.[1] Vir die Perse, was die opstand beduidend deurdat dit hulle betrek het in 'n uitgerekte konflik met die state van Griekeland, wat sou voortduur vir vyftig jaar, waartydens hulle aansienlike verliese sou opdoen.[2]

Militêr is dit moeilik om besonder veel gevolgtrekkings uit die Ioniese Opstand te maak, behalwe vir die strategië wat die Grieke en die Perse by mekaar kon leer (of nie geleer het nie). Dit blyk byna seker dat die Atheners, en die Grieke in die algemeen, beïndruk was met die mag van die Persiese ruitery, en in die daaropvolgende kampanjes, word dikwels omsigtigheid bemerk by Griekse weermagte wanneer 'n konfrontasie met die ruitery op hande was.[3][4] Daarteenoor het die Perse blykbaar nie die potensiaal van die Griekse hopliete as swaar infanterie besef of opgemerk nie. By die Veldslag van Marathon, in 490 v.C., het die Perse min ag geslaan op 'n mag wat hoofsaaklik uit hopliete bestaan het, wat dan op hul eie neerlaag uitgeloop het. Verder het die Perse, ten spyte van hul geleentheid om swaar infanterie te werf in die kroongebied, die tweede inval in Griekeland aangepak sonder om die hulpbron te benut, en het dan weereens gedugte teëstand ervaar by kontakte met die Griekse magte.[5] Dit is moontlik dat, weens die gemak waarmee hul oorwinnings oor die Grieke te Efese behaal is, en die soortgelyk bewapende magte betrokke by die veldslae van die Marsyasrivier en Labraunda, die Perse eenvoudig die militêre voordeel van die hopliete-falanks geringgeskat het— tot hul eie verlies.[6]

Verwysings

  1. 1,0 1,1 Fine, pp269–277
  2. Holland, pp. 362–363.
  3. Holland, pp. 191–193
  4. Lazenby, pp. 217–219.
  5. Lazenby, pp. 23–29.
  6. Lazenby, p. 258.

Bibliografie

Antieke bronne

Moderne bronne

  • Boardman J, Bury JB, Cook SA, Adcock FA, Hammond NGL, Charlesworth MP, Lewis DM, Baynes NH, Ostwald M & Seltman CT (1988). The Cambridge Ancient History, vol. 5. Cambridge University Press. ISBN 0521228042.AS1-onderhoud: Veelvoudige name: authors list (link)
  • Fehling, D. (1989). Herodotus and His "Sources": Citation, Invention, and Narrative Art (Translated by J.G. Howie). Francis Cairns.
  • Fine, JVA (1983). The Ancient Greeks: A Critical History. Harvard University Press. ISBN 0674033140.
  • Finley, Moses (1972). "Introduction". Thucydides – History of the Peloponnesian War (translated by Rex Warner). Penguin. ISBN 0140440399.
  • Holland, Tom (2006). Persian Fire: The First World Empire and the Battle for the West. Doubleday. ISBN 0385513119.
  • Lazenby, JF (1993). The Defence of Greece 490–479 BC. Aris & Phillips Ltd. ISBN 0856685917.
Efese

Efese (Antieke Grieks: Ἔφεσος; Turks: Efes) was ’n antieke Griekse stad aan die weskus van Anatolië, naby die huidige Selçuk in Turkye. In die Romeinse tyd was dit baie jare lank die tweede grootste stad van die Romeinse Ryk. Dit het in die eerste eeu v.C. sowat 250 000 inwoners gehad, wat dit ook die tweede grootste stad ter wêreld gemaak het.Die stad was onder andere bekend vir sy Tempel van Artemis (omstreeks 550 v.C. voltooi), wat een van die wonders van die antieke wêreld was. Die tempel is in 401 n.C. verwoes. Keiser Konstantyn die Grote het ’n groot deel van die stad laat herbou en nuwe openbare baddens opgerig. Die stad is weer in 614 gedeeltelik deur ’n aardbewing verwoes.

Efese was een van die sewe gemeentes wat in Openbaring genoem word (Openbaring 1:11). Die ruïnes lê vandag 3 km suidwes van die dorp Selçuk in Turkye en is ’n gewilde toeriste-attraksie. Paulus het ook 'n brief aan die gemeente geskryf. Efese is in 2015 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.

Grieks-Persiese Oorloë

Die Grieks-Persiese Oorloë (oftewel die Persiese Oorloë) was 'n reeks konflikte tussen die Achaemenidiese Ryk van Persië en die stadstate van die Helleense wêreld wat in 499 v.C. uitgebreek en in 450 v.C. ten einde geloop het. Die botsing tussen die gefragmenteerde politieke wêreld van die Grieke en die omvangryke Persiese Ryk het begin toe Kores die Grote Ionië in 547 v.C. verslaan het. In 'n poging om beheer oor die onafhanklik gesinde Ioniese stede te handhaaf, het die Perse tiranne aangestel om elkeen te regeer. Dit sou die bron van vele probleme wees vir die Grieke, asook die Perse.

Herakleitos

Herakleitos (Grieks: Ἡράκλειτος, Herakleitos; 540 v.C.— 480 v.C.) was 'n pre-Sokratiese filosoof uit Efese, Ionië. Daar word hy in 'n vooraanstaande familie gebore, en bly sy hele lewe in Efese. Hy staan bekend as 'n melankoliese en hooghartige man wat religieuse en filosofiese tradisies kritiseer. Voorts het hy homself gedistansieer van sy medeburgers en ondanks aandrang, het hy geweier om deel te neem aan die politiek. Hy fokus eerder op die filosofie. Sy filosofie, wat hy opteken, poog om die dinamiese eenheid van alles te openbaar. Tog stig hy nie 'n skool nie en verkondig hy nie sy leer in die openbaar nie. Volgens hom moet die mens moeite doen om die waarheid te vind.

Herakleitos se filosofie word meestal geken deur die aanhalings en parafrase van latere outeurs. Daaruit blyk dit relativisties en proses-filosofies georiënteerd te wees. Die kern van sy leer sluit in die beginsels van eenheid sowel as die stryd en wording om te wees. Hy stel dat alles uiteindelik 'n eenheid vorm, maar wel tot stand kom op 'n dialektiese wyse danksy die beginsel van stryd. Waargenome verandering in die wêreld kom voort uit die transformasie van elemente, met vuur as oersubstansie. Sodoende was alles altyd in beweging en dus in wording. Vandaar die stelling: 'Alles vloei'. Niks behoort volgens hom egter die gepaste maatstaf te oorskryf nie. Alles en iedereen moet volgens Herakleitos sy plek in die kosmos ken. Vir die mens lê die weg na vrede daarin.

Dié pre-Sokraat word bekend as 'die duistere' omdat hy sy filosofie in moeilike, kernagtige en assosiatiewe bewoording op skrif stel. Die teks het 'n literêre karakter, met dubbelsinnigheid, alliterasie en woordspelings. Hiermee bemoeilik hy opsetlik die interpretasie van sy teks. Mense moet, vind hy, moeite doen om sy filosofie te begryp, net soos die mens moeite moet doen om die natuur te deurgrond. Hierdie styl vul sy gedagtegoed aan. Dubbelsinnigheid suggereer eenheid, paradokse suggereer die eenheid van teenstellings, alliterasie suggereer harmonie, ensovoorts.

Die filosofie van Herakleitos word bekend na sy dood en het 'n invloed in die klassieke denke van die oudheid. Onder andere Plato, Aristoteles, die Epikureers, Neoplatoniste en kerkvaders verwys na hom, maar spesifiek die stoïsisme neem Herakleitos se idees oor vir hul eskatologie. In die Middeleeue was daar weinig belangstelling. In moderne tye het hy wel 'n invloed op filosowe soos Friedrich Nietzsche, Martin Heidegger en dialektiese denkers soos Georg Wilhelm Friedrich Hegel, en op skrywers soos Jorge Luis Borges, Harry Mulisch en Hugo Claus.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.