ISBN

Die Internasionale Standaard Boeknommer (ISBN) is 'n unieke, numeriese,[1] kommersiële identifiseerder vir boeke wat gebaseer is op die 9-syfer Standaard Boeknommer (SBN) kode wat in die Verenigde Koninkryk deur die boekverkopers en skryfbehoefte handelaar W.H. Smith en ander in 1966 ontwikkel is.[2] Die 10-syfer ISBN-formaat is deur die Internasionale Standaarde Organisasie ontwikkel en as internasionale standaard, ISO 2108 in 1970 gepubliseer (Die 9-syfer SBN-kode is in die Verenigde Koninkryk egter tot en met 1974 gebruik). Tans is die ISO TC46/SC9 subkomitee verantwoordelik vir die standaard.

Sedert 1 Januarie 2007 het die Internasionale Standaard Boeknommers uit 13-syfers bestaan, wat versoenbaar was met die Europese Artikelnommers (EAN).[3]

'n Soortgelyke numeriese identifiseerder, die Internatonal Standard Serial Number (ISSN) identifiseer periodiese publikasies soos tydskrifte.

Broom icon Hierdie artikel moet skoongemaak of andersins verbeter word.
Hierdie artikel voldoen nie tans aan die hoë gehaltestandaarde waarna Wikipedia streef nie. Voel vry om self in te spring en verbeterings te maak, en verwyder hierdie kennisgewing ná die tyd. Vir meer hulp, sien die redigeringshulp. Daar is moontlik kommentaar in die artikel of op die besprekingsblad oor wat verbeter moet word.
EAN-13-ISBN-13
'n ISBN-13, 978-3-16-148410-0, verteenwoordig deur 'n EAN-13 staafkode

Oorsig

'n ISBN word toegeken aan elke uitgawe en variasie (behalwe vir herdrukte uitgawes) van 'n boek. Die ISBN is 13 syfers lank indien dit na 1 Januarie 2007 toegeken is en 10 syfers lank as dit voor 2007 toegeken is. 'n Internasionale Boeknommer bestaan uit 4 of 5 dele:

ISBN Besonderhede
Die dele van 'n 10-syfer ISBN en die ooreenstemmende EAN-13 en staafkode. Let op die verskillende syfers in elkeen. Die deel van die EAN-13 wat met EAN gemerk is, is die landkode.
  1. vir 'n 13-syfer ISBN, 'n GS1 voorvoegsel: 978 of 979
  2. die groepidentifiseerder
  3. die uitgewerkode
  4. die itemnommer en
  5. 'n Kontrolesom of kontrolesyfer.

Die dele van die ISBN mag verskil in lengte en word gewoonlik geskei deur koppeltekens of spasies.

Die groepidentifiseerder is 'n 1 tot 5 syfer getal. Die enkelsyfer groepidentifiseerders is: 0 of 1 vir Engelssprekende lande; 2 vir Franssprekende lande; 3 vir Duitssprekende lande; 4 vir Japannees; 5 vir Russies en 7 vir Sjinees. 'n Voorbeeld van 'n 5 syfer groepidentifiseerder is 99936 vir Boetan. Oor die algemeen is die groepe 0-7, 80-94, 950-993, 9940-9989.[4] Die oorspronklike standaard boeknommer (SBN) het nie groepidentifiseerders gehad nie, maar die byvoeg van 'n nul (0) as 'n voorvoegsel tot 'n 9-syfer SBN skep 'n geldige 10-syfer ISBN. Groepidentifiseerders vorm 'n voorvoegselkode wat vergelykbaar is met telefoniese landkodes.

Die nasionale ISBN agentskap ken die uitgewernommer toe; die uitgewer kies dan 'n itemnommer. Gewoonlik word daar nie van 'n uitgewer vereis om 'n ISBN toe te ken nie of dat die nommer op die boek vertoon moet word nie, die meeste boekwinkels hanteer egter slegs goedere wat met 'n ISBN genommer is. 'n Volledige lys van die 628 000 toegekende uitgewerskodes word gepubliseer en kan aangekoop word. Die webwerf van die internasionale ISBN agentskap bied egter nie 'n gratis metode aan om uitgewerskodes op te soek nie.[5]

Daar word blokke ISBN'e aan uitgewers vir gebruik toegeken. Die groter uitgewers met 'n hoër verwagte aantal boeke kry gewoonlik groter blokke. 'n Klein uitgewer mag dalk ISBN'e ontvang wat insluit een of meer syfers vir die groepidentifiseerder en verskeie ander syfers vir die uitgewer en 'n enkelsyfer vir die indiwiduele items. Wanneer die uitgewer dan daardie blok opgebruik het kan die uitgewer 'n verdere blok ISBN'e ontvong met 'n verskillende uitgewernommer. Gevolglik kan dit gebeur dat 'n uitgewer meer as een uitgewernommer het. Daar mag ook meer as een groepidentifiseerder wees vir 'n land. Dit kan gebeur as 'n gewilde identifiseerder al sy nommers opgebruik het. Die lys van identifiseerders wys dat dit in China en meer as 'n dosyn ander lande al gebeur het.

Deur veranderlike bloklengtes te gebruik, kan 'n groot uitgewer slegs 'n paar syfers toegeken word vir die uitgewernommer en baie syfers vir sy titels; op soortgelyke wyse kan lande waar baie boeke uitgegee word minder syfers toegeken word vir die groepidentifiseerder en baie vir die uitgewers en titels. Die tabel hieronder bevat 'n paar ISBN-10 kodes ter illustrasie van veranderlike bloklengtes.

ISBN Land of Gebied Uitgewer
99921-58-10-7 Qatar NCCAH, Doha
9971-5-0210-0 Singapoer World Scientific
960-425-059-0 Griekeland Sigma Publications
80-902734-1-6 Tsjeggiese Republiek; Slowakië Taita Publishers
1-84356-028-3 Verenigde Koninkryk Simon Wallenberg Press
0-684-84328-5 Engelssprekende gebied Scribner
0-8044-2957-X Engelssprekende gebied Frederick Ungar
0-85131-041-9 Engelssprekende gebied J. A. Allen & Co.
0-943396-04-2 Engelssprekende gebied Willmann–Bell
0-9752298-0-X Engelssprekende gebied KT Publishing

Engelstalige uitgewerkodes volg 'n sistematiese patroon wat dit moontlik maak vir hulle lengtes om maklik bepaal te word, as volg[6]

Item nommer 0- groep identifiseerder 1- groep identifiseerder Totaal
Van Tot Nommer Van Tot Nommer
6 syfers 0-00-xxxxxx-x 0-19-xxxxxx-x 20 1-00-xxxxxx-x 1-09-xxxxxx-x 10 30
5 syfers 0-200-xxxxx-x 0-699-xxxxx-x 500 1-100-xxxxx-x 1-399-xxxxx-x 300 800
4 syfers 0-7000-xxxx-x 0-8499-xxxx-x 1500 1-4000-xxxx-x 1-5499-xxxx-x 1500 3000
3 syfers 0-85000-xxx-x 0-89999-xxx-x 5000 1-55000-xxx-x 1-86979-xxx-x 31980 36980
2 syfers 0-900000-xx-x 0-949999-xx-x 50000 1-869800-xx-x 1-998999-xx-x 129200 179200
1 syfer 0-9500000-x-x 0-9999999-x-x 500000 1-9990000-x-x 1-9999999-x-x 10000 51000

Kontrolesyfer in ISBN-10

Die 2001 weergawe van die amptelike handleiding van die Internasionale ISBN agentskap sê dat die ISBN-10 kontrolesyfer[7] — wat die laaste syfer in die tien syfer ISBN is – moet wissel tussen 0 tot 10 en moet so opgestel wees dat die som van al die tien syfers vermenigvuldig met 'n heeltal gewig wat afneem van 10 tot 1, 'n veelvoud van die getal 11 moet wees. Die kontrolesyfer word met ander woorde bepaal deur die eerste nege syfers van die 10 syfer ISBN te vermenigvuldig met sy volgorde in die kode beginnende by 10 tot by 2. Die totaal van die getalle word dan bereken en met 11 gedeel en die res bepaal. Die kontrolesyfer is dan die getal 11 minus die res daarvan afgetrek.

Die kontrolesyfer van 'n ISBN-10 van 0-306-40615-? word byvoorbeeld as volg bereken:

s = 0×10 + 3×9 + 0×8 + 6×7 + 4×6 + 0×5 + 6×4 + 1×3 + 5×2
  =    0 +  27 +   0 +  42 +  24 +   0 +  24 +   3 +  10
  = 130
130 / 11 = 11 res 9
11 – 9 = 2

Die kontrolesyfer is dus 2 en die volledige reeks is ISBN 0-306-40615-2.

Formeel word die berekening van die kontrolesyfer as volg uitgedruk:

As die resultaat 11 is, word 'n '0' ingeskryf; as dit 10 is moet 'n 'X' gebruik word.

Die twee algemeenste foute wat voorkom in die hantering van 'n ISBN (wanneer dit getik of geskryf word) is 'n verkeerde syfer of die omkeer van twee syfers. Aangesien 11 'n priemgetal is, verseker die ISBN kontrolesyfer metode dat die twee foute altyd opgespoor sal word. As daar egter 'n fout by die uitgewer voorkom en dit nie opgetel word nie, sal die boek met 'n ongeldige ISBN uitgereik word.[8]

Alternatiewe berekening

Die ISBN-10 kontrolesyfer kan ook op 'n effe makliker manier bereken word:

Hierdie berekening lewer presies dieselfde resultaat as die bostaande berekening.

Dit lewer die kontrolesyfer vir 'n 10-syfer ISBN, deur som notasie.

Hierdie metode gee ook die korrekte syfer, '0', in plaas van '11' wat met die formele berekeningsmetode verkry word.

Kontrolesyfer in ISBN-13

Die 2005 uitgawe van die Internasionale ISBN agentskap se amptelike handleiding[9] wat ISBN'e dek wat na Januarie 2007 uitgereik is, beskryf die metode vir die berekening van die 13-syfer kontrolesom.

Die berekening van 'n ISBN-13 kontrolesom begin met die eerste 12 syfers van die 13 syfer ISBN (wat met ander woorde die kontrolesyfer self uitsluit). Elke syfer van links na regs word alternatiewelik met 1 of 3 vermenigvuldig en die produkte dan bymekaar getel en die modulus van 10 daarvan word dan bereken wat 'n waarde tussen 0 en 9 lewer. Die syfer word dan van 10 afgetrek wat 'n resultaat lewer tussen 1 en 10. 'n Nul word gebruik om die 10 te vervang sodat daar in alle gevalle 'n een syfer kontrolesyfer opgelewer word.

Die ISBN-13 kontrolesyfer van die ISBN 978-0-30640615-? word byvoorbeeld as volg bereken: s = 9×1 + 7×3 + 8×1 + 0×3 + 3×1 + 0×3 + 6×1 + 4×3 + 0×1 + 6×3 + 1×1 + 5×3

  =   9 +  21 +   8 +   0 +   3 +   0 +   6 +  12 +   0 +  18 +   1 +  15
  = 93
93 / 10 = 9 res 3
10 – 3
= 7

Die kontrolesyfer is dus 7 en die volledige reeks is ISBN 978-0-306-40615-7.

Formeel word die berekening van die ISBN-13 kontrolesyfer as volg geskryf:

Hierdie kontrolestelsel wat ooreenstem met die Universele Produkkode se formule vang nie alle foute met die omkeer van aangrensende syfers op nie. Veral as die verskil tussen die twee aangrensende syfers 5 is sal die kontrolesyfer nie optel dat die syfers omgeruil is nie. In die bostaande voorbeeld sal die kontrolesyfer byvoorbeeld dieselfde wees as die 6 en die 1 in die ISBN omgeruil word. Die ISBN-10 formule het nie die probleem nie.

Gebruik van die ISBN kontrolesyfer

Uitgewers en biblioteke het verskillende beleide ten opsigte van die gebruik van die ISBN kontrolesyfer. Uitgewers bly soms in gebreke om te verseker dat die titel van 'n boek en sy ISBN ooreenstem alvorens hulle dit publiseer; daardie faling veroorsaak heelwat probleme vir biblioteke, boekhandelaars en lesers. Die meeste biblioteke en boekhandelaars vertoon die boekrekord vir 'n ongeldige ISBN wat deur die uitgewer uitgereik is. Die Library of Congress in die V.S.A se katalogus bevat boeke wat gepubliseer is met ongeldige ISBN'e, wat dit gewoonlik met die frase "Cancelled ISBN" aandui. Sommige boekbesteldienste soos Amazon.com sal egter nie 'n soektog na 'n boek doen as die ISBN wat by hul soekenjin ingesleutel word, ongeldig is nie.

Verwysings en voetnotas

  1. Soms gebeur dit dat uitgewers verkeerdelik 'n ISBN aan meer as een titel toeken – die eerste uitgawe van The Ultimate Alphabet en The Ultimate Alphabet Workbook het dieselfde ISBN, 0-8050-0076-3. Andersins word dieselfde boek soms verkeerdelik met verskillende ISBN'e uitgereik: 'n Duitse, tweede taal uitgawe van Emil und die Detektive het die ISBN'e 87-23-90157-8 (Denemarke), 0-8219-1969-8 (V.S.A), 91-21-15628-X (Swede), 0-85048-548-7 (Engeland) en 3-12-675495-3 (Duitsland).
  2. http://www.isbn.org/standards/home/isbn/international/history.asp – Artikel oor die geskiedenis van die ISBN by isbn.org
  3. http://www.lac-bac.gc.ca/iso/tc46sc9/isbn.htm – Gereelde vrae oor die ISBN standaard by die ISO
  4. See 'n Volledige lys groepidentifiseerders.
  5. http://www.isbn-international.org/en/directory.html – Internasionale ISBN Uitgewersgids
  6. http://www.isbn.org/standards/home/isbn/international/hyphenation-instructions.asp – Internasionale konvensie rondom die invoeg van koppeltekens
  7. http://www.isbn-international.org/en/userman/download/ISBNmanual.pdf – ISBN Gebruikershandleiding Internasionale Uitgawe (2001)
  8. 'n Voorbeeld hiervan is I'saka: a sketch grammar of a language of north-central New Guinea. Pacific Linguistics. ISBN "0-85883-554-4".
  9. http://www.isbn-international.org/en/download/2005%20ISBN%20Users%27%20Manual%20International%20Edition.pdf ISBN Gebruikershandleiding – Internasionale uitgawe (2005)]
Acanthopterygii

Acanthopterygii (stekelrige-straalvinvisse) is 'n vissuperorde behorende tot die infraklas Teleostei. Ordes wat hoort tot die superorde is:

Atheriniformes

Beloniformes

Beryciformes

Cyprinodontiformes

Gasterosteiformes

Mugiliformes

Perciformes

Pleuronectiformes

Scorpaeniformes

Stephanoberyciformes

Synbranchiformes

Tetraodontiformes

Zeiformes

Actinopterygii

Actinopterygii is 'n klas gewerwelde beenvisse van die superklas Osteichthyes met meer as 27 000 spesies. Actinopterygii is afgelei van die Grieks (aktino = straal & pterygion = vin of vlerkie). Die gemeenskaplike faktor van die klas is dat al die visse straalvinvisse is. Dit beteken dat die vinne deur beenstrale ondersteun word. Dit is die strale wat so seer kan steek indien die visse verkeerd hanteer word. Die klas het ook slegs een dorsale vin - wat verdeel mag wees en die neussakke open slegs na buite.

Actinopterygii word in drie infraklasse ingedeel: chondrostei, holostei en teleostei. Laasgenoemde bevat die meeste lewende visse ter wêreld.

Arabies

Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Arabiere.

Arabies (العَرَبِية‎, al-ʻarabiyyah [alʕaraˈbijja] of عربي ,عربى‎ ʻarabī [ˈʕarabiː] ) is die taal van die Arabiere, wat ook die hooftaal in Noord-Afrika, die Midde-Ooste en die Horing van Afrika is. Dit is 'n Semitiese taal wat deur 242 miljoen mense as hulle moedertaal beskou word en deur vele meer as ampstaal en/of liturgiese taal aangewend word. Dit word as sesde werkstaal van die Verenigde Nasies erken. Arabies is die amptelike taal van 28 lande, die derde meeste naas Engels en Frans. Daarbenewens is dit 'n belangrike minderheidstaal in lande soos Iran en Turkye. Arabies word in die Arabiese alfabet geskryf.

Arabies bevat verskeie dialekte, waarvan Egiptiese Arabies die belangrikste is. Byna elke Arabiestalige land beskik oor sy eie dialek. As gevolg van die Arabiese diaspora se verspreiding het die Arabiese taal ook in lande soos Argentinië, Brasilië, Frankryk, Italië en Spanje gevestig.

Arabies is die liturgiese taal van die Islam en byna elke Moslem verstaan Arabies en kan die Arabiese alfabet lees. Dit was die profeet Mohammed se moedertaal en die Koran is in Arabies geskryf. Daarbenewens gebruik Arabiese Christene ook Arabies en Maltees, die amptelike taal van die meerendeels Rooms-Katolieke Malta, het uit 'n Arabiese dialek ontwikkel.

B.P.J. Erasmus

Barend Petrus Jacobus Erasmus (15 Desember 1930 – 8 Februarie 2012) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat veral bekend is as outeur van die boek Op pad in Suid-Afrika.

Beenvisse

Die Beenvisse (Osteichthyes) is 'n superklas van visse wat aan die filum van die Gewerweldes behoort. Die superklas maak voorsiening vir alle tipe visse waarvan die skelet uit been bestaan. Beenvisse beskik oor swemblase en operkulums (kieudeksels) met een kieu-opening aan elke kant van die kop. Die meeste spesies is ovipaar en slegs die families Bythitidae, Clinidae en die Selakante is vivipaar.

Die superklas sluit die kraakbeenvisse uit. Visse waarvan die skelet uit kraakbeen bestaan ressorteer onder die superklas Chondrichthyes.

Die superklas Osteichthyes het twee klasse: Sarcopterygii en Actinopterygii.

Deklinasie

In sterrekunde is deklinasie (simbool δ) een van die twee rigtingkoördinate van 'n punt aan die hemelbol volgens die stelsel waarmee hemelliggame se posisie bepaal word. Die ander koördinaat is regte klimming.

Deklinasie in sterrekunde kan vergelyk word met breedtegrade in geografie soos geprojekteer op die hemelbol. Punte noord van die hemelewenaar het 'n positiewe deklinasie, terwyl dié suid van die hemelewenaar 'n negatiewe deklinasie het. Die eenhede wat gebruik word om dit aan te dui, is meestal grade (°), minute of boogminute (') en sekondes of boogsekondes ("), met 90° gelyk aan 'n kwartsirkel. Deklinasies van hoër as 90° word nie aangetref nie, omdat die hemelpole die mees noordelike en suidelike punte op die hemelbol is.

'n Voorwerp by die

hemelewenaar het 'n deklinasie van 0°

noordelike hemelpool het 'n deklinasie van +90°

suidelike hemelpool het 'n deklinasie van -90°Die tekens + of – dui gewoonlik aan of die waarde positief of negatief is.

Dier

Diere behoort tot Animalia, een van vyf (of soms ses) biologiese koninkryke. Dit word ook Metazoa genoem. Diere is oor die algemeen veelsellige, eukariotiese organismes wat ander organismes eet vir voeding. Die meeste diere kan in die een of ander stadium van hul lewe onafhanklik en spontaan beweeg.

Diere bestaan reeds van die Prekambrium (PreЄ) af, maar die meeste bekende dierefilums het tydens die Kambriese ontploffing, sowat 542 miljoen jaar gelede, in die fossielrekord verskyn. Diere kan oor die algemeen in gewerweldes en ongewerweldes verdeel word. Gewerweldes het ’n ruggraat en maak minder as 5% van alle dierespesies uit. Dit sluit in visse, amfibieë, reptiele, voëls en soogdiere. Die res is ongewerweldes; hulle het nie ’n ruggraat nie. Dit sluit in weekdiere (mossels, oesters, seekatte, pylinkvisse, slakke); geleedpotiges (insekte, spinnekoppe, skerpioene, krappe, krewe, garnale); ringwurms (erdwurms, bloedsuiers), rondewurms, platwurms, neteldiere (jellievisse, seeanemone, korale), ribkwalle en sponsdiere.

Die studie van diere word dierkunde of soölogie genoem.

Geskiedenis

Die geskiedenis is 'n gesistimatiseerde, chronologiese studie van die verlede met die doel om historiese gebeure so feitlik akkuraat moontlik weer te gee.

Menslike geskiedenis word in die volgende hoof eras opgedeel:

Mousteriaans (Europa-Asië) 150 000 v.C. – 35 000 v.C.

Middelsteentyd (Afrika) 150 000 v.C. – 35 000 v.C.

Bo-Paleolitikum (Europa) 35 000 v.C. – 12 000 v.C.

Laat-Steentyd (Afrika) 25 000 v.C – 2 000 v.C.

Mesolitikum (Europa) 12 000 v.C. – 8 000 v.C.

Neolitikum (Midde-Ooste) 12 000 v.C. – 6 000 v.C.

Moderne mens 6 000 v.C. – 3 000 v.C

Bronstyd 3 000 v.C – 750 v.C.

Ystertyd 750 v.C.

Antieke geskiedenis

Middeleeue

15de eeu

Renaissance

16de eeu

17de eeu

18de eeu

19de eeu

20ste eeu

21ste eeu

Gewerweldes

Gewerwelde diere of werweldiere (Vertebrata) is 'n groep diere wat 'n werwelkolom ontwikkel het. Alle diere wat nie gewerwelde diere is nie, word onder die versamelnaam ongewerwelde diere geken.

Die hoofgroepe van die moderne gewerweldes is:

Die visse

Die amfibieë

Die reptiele

Die soogdiere

Die voëlsGewerweldes is 'n deel van die rugstringdiere (Chordata). Hierdie diere het 'n rugmurgstring. Dit is 'n buigsame, staafvormig orgaan waaruit daar in die verloop van evolusie 'n werwelkolom ontwikkel het. 'n Belangrike onderverdeling ná Chordata is diere sonder, en diere met 'n skedel. Die gewerwelde diere is saam met die slymprikke diere met 'n skedel (Craniata).

Hindoekalender

Die Hindoekalender bestaan alreeds sedert die Vedas geskryf word, en het daarna diverse ingrype en aanpassings ondergaan. Daar is ook groot verskille tussen die verskeie plaaslike Indiese hindoekalenders. Die Hindoe-kalender moet nie met die Indiese nasionale kalender verwar word nie.

'n Nuwe dag in die hindoekalender begin met die plaaslike sonsopkoms.

Kalsiumkarbonaat

Kalsiumkarbonaat is 'n kalsiumsout van koolsuur. Dit het die formule CaCO3.

Kalsiumkarbonaat of kalksteen kom in groot hoeveelhede voor in die natuur in die vorm van die minerale kalsiet en aragoniet. Kalksteen word al baie eeue gebruik in die bounywerheid, byvoorbeeld in Portlandsement.

Lys van varswater visfamilies

Hier is 'n tabel met al die varswater visfamilies wat in damme, riviere en mere in Suider-Afrika voorkom. Dit sluit al die riviere noordwaarts tot by die Kunene- en Zambeziriviere in. Van die families het spesies wat ook in die see voorkom.

Hierdie familie kom nie natuurlik in Afrika voor nie maar is ingevoer.

Lys van visfamilies

Hier is 'n tabel met al die visfamilies wat aan die Suider-Afrikaanse kus voorkom. Dit sluit families van beide die Kraakbeenvisse en Beenvisse in:

* Die familie is ingesluit om die verwarring met die term 'Kabeljou uit te klaar.

Op pad in Suid-Afrika

Op pad in Suid-Afrika is 'n Afrikaanse boek wat deur Barend Erasmus geskryf is en deur Jonathan Ball Publishers uitgegee word.

Die boek behandel die magdom gehuggies, dorpe en stede van Suid-Afrika. Die klem val op die verhale wat in hierdie plekke opgesluit lê. Die oorsprong van plekname word in besonderhede beskryf en die karakter en aantreklikhede van plekke word geskets. Gedetailleerde streekkaarte is by elke hoofstuk ingesluit, wat aangevul word met roete-aanwysings in die teks.

Die boek se hoofstukke is logies gerangskik vanaf Kaapstad en kring verder noordwaarts uit. Dit beeld die diversiteit van Suid-Afrika uit, wat wissel van die groen en rustige valleie van die Kaapse hinterland tot die windverwaaide sandveld in die weste tot die subtropiese geilheid van die ooste; van die uitgestrekte bosveldvlaktes van die noordooste tot die droë wildernisse van die noordweste; van bedrywige metropole tot klein gehuggies.

Sasol Voëls van Suider-Afrika

Sasol Voëls van Suider-Afrika is een van die gewildste veldgidse oor die voëls van Suider-Afrika. Die boek is 'n uitgebreide veldgids wat nou reeds 'n vierde uitgawe beleef. Hierdie uitgawe is deeglik hersien en bygewerk om die nuutste ontwikkelings in die voëlwêreld in te sluit. Kort beskrywings (met die Robertsnommer van die spesie), verspreidingskaarte en duidelike sketse gee aan voëlkykers riglyne oor die uitkenning van voëlspesies in die veld. By die illustrasies is kriptiese aantekeninge oor onderskeidende kenmerke om die voëlkyker help met identifikasie. Die boek is voorsien van kleurkodes om naslaanwerk te vergemaklik.

Dit is ook in Engels beskikbaar as "Sasol Birds of Southern Africa" (ISBN 1-86825-299-X).

Suider-Afrika

Suider-Afrika of suidelike Afrika is die suidelike gedeelte van die kontinent van Afrika. Die gebied word nie altyd presies dieselfde afgebaken nie.

'n Algemene afbakening, veral vir geografiese en ekologiese doelwitte, is die gebied suid van die Zambezi-, Okavango- en Kunenerivier, die eilande aan hierdie gebied se kus en die gebiedswaters tot 200 seemyl van die kus, asook Prins Eduard-eiland en Marion-eiland in sub-Antarktika. Dit sluit dus die suide van Mosambiek (suid van die Zambezirivier), Botswana en Zimbabwe, sowel as Suid-Afrika, Lesotho en eSwatini, in. 'n Voorbeeld hiervan is die voëlgidse wat algemeen beskikbaar is en wat die verspreiding van die verskillende spesies in Suider-Afrika aandui.

Geopolities beskou die Verenigde Nasies die streek as die lande Namibië, Botswana, Suid-Afrika, Lesotho en eSwatini.

Taalfamilie

Tale word opgedeel in taalfamilies op grond van ooreenkomste tussen tale en 'n oorsprong wat hulle deel. Die klassifikasie van tale is deur August Schleicher (1821–1868) begin met sy 'Stammbaumtheorie' (of stamboomteorie).

Hier is die belangrikste taalfamilies:

Afro-Asiaties (bv. Berbertale, Arabies en Hebreeus)

Austro-Asiaties (bv. Viëtnamees en Khmer)

Austronesies (bv. Malgassies, Maleis en Polinesiese tale)

Drawidies (bv. Telugu, Tamil, Kannada en Malayalam)

Eskimo-Aleoeties (bv. Groenlands en Inuktitut)

Indo-Europees (Afrikaans, Engels, Frans, Grieks, Russies, Sanskrit, Hindi ens.)

Kartwelies (bv. Georgies, Zan, Svan)

Khoisan (bv. Khoi en San)

Niger-Kongo (bv. Joroeba, Igbo, Shona, Zoeloe, Xhosa en Sotho)

Nilo-Saharies (bv. Luo, Kanuri en Masai)

Oeral-Altaïes (bv. Fins, Hongaars, Turks en Oesbekies, moontlik Japannees en Koreaans) – dikwels onderverdeel in die Fins-Oegries (Europese) en Altaïese (Asiatiese).

Palaeo-Siberies (bv. Chukchi en Korjak)

Sino-Tibettaans (bv. Chinees, Birmaans en Tibettaans)

Tai-Kadai (bv. Thai en Laosiaans)

Turks (bv. Turks en Kasaks)

Indo-Pasifies (bv. die tale van die binneland van die eiland Nieu-Guinee)

Noord-Amerikaanse tale (bv. Navajo en Cherokee)

Suid-Amerikaanse tale (bv. Aymara, Guaraní en Quechua)

Inheemse Australiese tale

Gebaretaal

Geïsoleerde tale (bv. Baskies)

Kunsmatig (bv. Esperanto)

Kreools bv. Haïtiaanse Kreools, Papiaments en Sango)

Pidgin (bv. Fanagalo)

Teleostei

Teleostei is die dominante visse van vandag. Hulle ontstaan in die Mesosoïkum-periode, en sluit 20,000 lewende spesies in.

Hulle is, in volgorde van evolusie: gewerweldes (vertebrata), kaakdier-visse (Gnathostomata), beenvisse (Osteichthyes) en straalvinvisse (Actinopterygii).Die visse het beweegbare kake met aangepaste kaakspiere. Hierdie aanpassing laat hulle toe om die kake uit die mond na buite te steek. Dit help hulle om vinnig bewegende prooi te kan gryp.

Vis

'n Vis is 'n waterlewende gewerwelde (Latyn: vertebrata) dier met kieue. Die meeste visse is koudbloedig. Daar bestaan meer as 32 000 verskillende spesies visse in die wêreld. Vis is 'n belangrike bron van proteïen in die dieet van die mens. Teen 2001 is vis na raming deur 1 miljard mense as hoofproteïenbron verbruik.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.