Hooglied van Salomo

Hooglied van Salomo is die 22ste boek in die kanon van Hebreeuse Geskrifte wat as Ou Testament in die Bybel opgeneem is. Hooglied bevat 'n versameling liefdesliedere (sommige daarvan met uitgesproke erotiese inhoud) waarin die man en vrou mekaar se aantreklikheid en hulle liefde en hartsog vir mekaar besing.

Daar is in die egte liefdesverhouding nie net vreugde nie maar ook misverstand en hartseer (3:1 e.v.; 5:6 e.v.), maar die liefde is onuitblusbaar. (8:6,7).

Interpretasie

Inleiding

Om die Bybel werklik te kan verstaan, Nuwe sowel as Ou Testament, is dit belangrik om 'n goeie kennis van die agtergrond van 'n teks te hê. Die leefwêreld waarin die Bybelse skrywers geleef het, is natuurlik iets heeltemal anders as die leefwêreld van vandag. Daarom is dit vir seker so dat daar talle tekste in die Bybel voorkom, hetsy gebruike, vergelykings of gewoontes, wat nie deur die mens van vandag verstaan word nie. Daarvoor is 'n studie van die agtergrond van tekste nodig.

Vervolgens gaan in besonder gekyk word na die agtergrond van tekste wat in Hooglied voorkom. Die fokus sal nie op die hele Hooglied val nie, maar slegs op Hooglied 1 en 8; die eerste en laaste hoofstukke van die boek. Daar sal ook, ter wille van die interessantheid daarvan, verwys word na 'n deel uit Hooglied 7, wat aansluit by die agtergrond van 'n gedeelte uit Hooglied 8.

Daar sal oorsigtelik gekyk word wat die uitleg van die teks volgens komentatore is, maar daar sal nie soseer op die betekenis van die teks self ingegaan word nie. Die ware doelwit wat gestel is, is om iets te probeer verstaan van waar die vergelykings, produkte, gebruike en gewoontes, sowel as die name wat in die teks voorkom, vandaan kom, ten einde 'n breër perspektief te probeer vorm waarom die skrywer juis dié besondere aanhaling in die teks gebruik het.

Hooglied 1

Boodskap

In die eerste vers van die Hebreeuse teks, lees ons die woorde “sjir hasjarim”. Hierdie frase kan vertaal word met “lied van die liedere”. Die interessantheid daarvan is egter dat die naamwoord sjir (d.i. lied) 166 keer in die Ou Testament voorkom, veral in Psalms, maar in Hooglied slegs hierdie een keer (Hess et al, 2005-12:37 ). Die vraag kan tereg gevra word: maar hoekom staan hier in Hooglied 1, wat 'n liefdeslied skyn te wees, “lied van die liedere”? Sou mens nie dit eerder in 'n lofpsalm, soos Psalm 91 verwag het nie? Baker se kommentaar stel dit egter duidelik: hierdie lied het 'n baie dieper betekenis as bloot net die liefde tussen man en vrou; dit gaan hier ook om God se liefde vir die mens (Hess et al, 2005-12:37).

Dit is egter ook so dat die woorde “sjir hasjirihm” ook met “beste lied” vertaal kan word. Dis baie interessant hoe die sjin (ש) en die resj (ר‬), die sj en r klank, telkens gebruik word om die belang van die lied aan te dui. Dit vorm 'n “sjr” klank, wat duidelik die belang van die lied poëties wil onderstreep (Hess et al, 2005-12:39). Daar bestaan dus geen twyfel dat die outeur dié lied as “lied van die liedere/die beste lied” wil uitdruk nie.

Dit is egter ook so dat die hele Hooglied, wat eens op 'n tyd nie deel van die Kanonieke boeke was nie, letterlik, sowel as suiwer allegories verklaar kan word. Sy potensiaal as fisiese liefdesgids, sowel as sy sterk allegorie dat God voortdurend die mens in liefde vergewe en sy berou aanvaar, mag nooit onderskat word nie. Dit is dan ook die hoofgedagte van Hooglied 1: man en vrou wat soek na mekaar, sowel as die mens, wat voordurend toenader tot God (Hess et al, 2005-12:39) Net soos die man en vrou nie sonder mekaar kan leef nie, só kan die mens ook nie sonder God voortbestaan nie.

Agtergrond

Nou dat kortliks gekyk is na die boodskap van Hooglied 1, word daar ingegaan op die agtergrond, met die doel om te probeer bepaal waarom die skrywer juis dié woorde vir sy verwoording van die teks gekies het.

In vers 2 staan daar: “Laat hy my soen met soene van sy mond”. (Die 1933 vertaling praat hier van “kus met kusse”). Mens kan dalk wonder (as agtergrond kennis ontbreek), hoekom “van sy mond”? Soene is tog altyd met die mond! Maar die rede vir hierdie verwysing is: Dit was wel so dat 'n soen op die mond as 'n passievolle bewys van liefde gedien het in die Nabye Ooste, maar die Egiptenare het baiemaal eerder die neusvryf-metode verkies. So wanneer die skrywer spesifiek dié woorde gebruik, impliseer hy daarmee dat die bruid se versoek aan haar beminde eerder die soen op die mond as die vryf van neuse is. Mens kan hiervan aflei dat die Jode óf die gebruik van neuse vryf laat vaar het, óf skynbaar nooit gebruik het nie. Laasgenoemde blyk eerder die geval te wees (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:2).

In vers 3 word melding gemaak van salf, hoewel die woord “salf” nie heeltemal die korrekte vertaling hier is nie – dit laat mens te veel dink aan salf wat op 'n seerplek gesmeer word. Die korrekte vertaling sou eerder “olie” wees, omdat dit 'n beter konsep van parfuum skep. Olie is ook inderdaad wat vir parfuum gebruik is in daardie dae.

Daar was 'n taamlik groot verskeidenheid olies gebruik, meestal met 'n harsbasis. Nou kan mens dalk die vraag vra: maar wat is hars? Hars word in die HAT as volg beskryf: klewerige, geelbruin, deurskynende stof. Dié stof word deur sekere plante, veral dennebome afgeskei. Die parfuum wat op hierdie stof gebaseerd was, het gedien as reukolie vir die liggaam en is ook gebruik om as wierook te verbrand. Onder dié tipes olies was daar mirre, wierook en bdellium (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:3) (volg Jes. 60:6; Jer. 6:20).

Eersgenoemde, nl. mirre, is 'n soort geurige gomhars wat van 'n struik (Commiphora myrrha), verkry word. Dit het ook 'n bitter smaak en dié struik kom in Arabië en Oos-Afrika voor. Van wierook is dit vandag so dat dit in Rooms-Katolieke eredienste en Oorsterse godsdienste as simbool van aanbidding gebruik word. Die oorsprong daarvan is Arabies. Omdat dit so 'n aangename reuk het, is dit egter in die dae van Hooglied ook gebruik as reukwater. Bdelium is 'n geurige boom wat veral van die geslag Commiphora afkomstig is. Die boom bevat hars wat natuurlik gebruik is om parfuum mee te vervaardig Hierdie was egter nie die enigste olie wat vir parfuum gebruik is nie: kaneel is byvoorbeeld ingevoer van Sri Lanka en safraan, kalmoes en aalwyne van Indië (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:3).

In Hooglied 1:5 en ook onder andere die 5de vers van Psalm 120, word gepraat van “die tente van Kedar”. Kedar verwys na 'n groep magtige Arabiere wat in die 8ste tot en met de 4de eeu v.C. baie mag gehad het. Volgens Gen 25:13 stam dié groep oorlogvoerende nomade direk van Ismael af; Kedar was sy seun. Soos dieselfde hoofstuk van Genesis dit duidelik stel, was Ismael se kinders sommer manne wat teen al sy broers oorlog gevoer het (vlg Gen. 25:18 ). Die Hebreeuse teks lees leterlik: “teen al sy broers geval”. In hierdie geval het die 1983 vertaling dit nie ver mis om dit met “oorlogmaak” te vertaal nie. Kedar word ook genoem in die Asiriese, sowel as die Neo-Babaliniese annale (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:5).

Hierdie rowwe manne se tente het gewoonlik of bestaan uit diervelle, of uit uitgestrekte weefsel, wat oor pale gespan is om 'n driekantige pawiljoen te vorm. Die swart kleur wat dit vertoon het, was afkomstig van die gebruik van swart bokhare. (Daar word ook van “bokhaargordyne” melding gemaak in Eks. 26:7-13.) (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:5) Dié vergelyking is dus meesterlik gebruik deur die skrywer om aan te dui hoe donker die son die bruid gebrand het. Dit was ook heel gepas om spesifiek die tente van Kedar, wat welbekend was in sy tyd, as vergelyking te gebruik.

Alhoewel die verwysing in vers 7 onseker is, mag dit hier daarop neerkom dat vroue, afhangende van watter sosiale situasie, 'n sluier moes dra. Volgens die middel Asiriese wette, byvoorbeeld, moes alle vroue, die getroudes, die weduwees, sowel as die ongetroude dogters, 'n sluier dra wanneer hul in die openbaar beweeg. Dink maar aan hoe Rebekka haarself gesluier het toe sy Isak daar in Gen. 24;65 ontmoet het. (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:7).

By die huis, of tussen familie en vriende, sou die sluier onnodig wees. Dit mag dus dalk wees dat hier in vers 7, waar die vrou tussen haar beminde se vriende is, sy moontlik met hierdie verwysing bedoel dat sy nie nodig het om nou hier voor haar beminde se vriende, haarself as't ware “weg te steek” nie. Daar is egter nog 'n siening oor sluiers, dié vanuit die Kanaänitiese konteks: let op die sluier wat deur Tamar gedra is in Gen. 38:14-15. In hierdie konteks gesien, mag die sluier daarop dui dat hierdie vrou besig is met geheime prostitusie, of dalk 'n prostituut was wat onder die skaapwagters gewerk het (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:7).

Mens kan ook nie help om, wanneer daar van sluiers gepraat word, te dink aan die streep wat Laban Jakob getrek het toe hy Lea aan hom as vrou gegee het in plaas van Ragel, juis omdat die bruid gesluier moes wees (vlg Gen. 29:23-25). Laban, die geslepe Arameër, het dus dié gebruik fyn uitgebuit, met die verskoning dat die jongste dogter volgens hulle gebruik nie eerste mag trou nie. Mens kan aanvaar dat hy nie die enigste is wat so iets gedoen het nie.

Hierdie is een van die interessantste vergelykings in die hele Hooglied en beslis iets wat ons in vandag se tyd glad nie kan begryp sonder agtergrondkennis nie. Dit kom in vers 9 voor. Die rede waarom hier bo “merrie” staan en nie “perd” soos die Afrikaanse vertaling dit stel nie, is omdat die Hebreeuse teks baie duidelik lees soesati (letterlik die merrie van my). Hier word dus nie van 'n hings gepraat nie, maar van 'n merrie. Dis interessant om te weet dat die woord soes (perd) 140 maal in die Ou Testament voorkom, maar hierdie status konstruktus van soesah (merrie) slegs hierdie een keer. Die enigste ander plek waar dit wel in Jeremia voorkom, verwys dit na 'n pleknaam (Hess et al, 2005-12:65).

Om verder te staaf dat “merrie” waarskynlik 'n beter vertaling sou wees: hierdie gebruik kom voor in Egiptiese literatuur. Die Egiptenare, manne wat kenners van oorlog was, het 'n slim taktiek gebruik: hulle het 'n merrie losgelaat in die omgewing van hul vyande se waens, sodat dié se perde dan deurmekaar raak en agter die merrie wil aanhol (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:9). Hieruit kan 'n mens aflei dat die Egiptenare dan hul vyande die verkeerde koers laat inslaan het; nie die koers wat hul wou neem nie. Dan sou die Egiptenare natuurlik ook makliker hul vyande kon oorrompel, want 'n rigtinglose weermag, kan net gevaar vir homself inhou.

Nou wonder 'n mens steeds: wat wou die skrywer hier van sy beminde sê? Net die vinnigste en beste merries en perde is veral in Salomo se tyd en vir 'n eeu daarna, vir hierdie soort oorlogvoering gebruik. Hierdie vergelyking weerspieël dus baie duidelik die bruid se beweeglikheid en kosbaarheid. Die feit dat die skrywer sy beminde lys as “voor die wa van Farao” dui verder daarop dat sy beminde tussen die heel beste perde is, aangesien Egipte so ryk aan goud was en met net die beste tevrede was en besit het (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:9). Dus kan 'n mens allegories saamvat deur te sê dat hierdie beminde van die bruidegom, die beste onder die beste vroue is, asook die kosbaarste.

Soos in Spreuke 25:11, gebruik die Bybelse skrywer die beeld van kosbare, goed ontwerpte juwele om liefkosing, aandag en gehegtheid te demonstreer. Hierdie oorbelle wat in Hooglied 1 beskryf word, het heel waarskynlik silwer knoppe opgehad (Walton et al, 1997, Hoogl. 11). Die feit dat hierdie soort beld ook in Spreuke gebruik word, mag dalk net daarop dui dat Salomo inderdaad die skrywer van Hooglied was. Daar word ook in Jes. 3:18:23 na hierdie soort oorbelle verwys, maar hierdie teks is nie 'n vergelyking met liefde nie. Dis egter tog baie interessant om te lees, aangesien dit baie weier uitbrei oor wat die antieke mense als gedra het; beslis nie net oorbelle nie!

Daar is reeds vroeër van mirre melding gemaak. In vers 13 word die beminde as “'n bossie mirre” voorgestel. Dis geweldig interessant dat hierdie bossie mirre dorings bevat het, wat verwyder is. Die rooierige hars wat die bossie bevat het, skyn sappig te wees en is veral gebruik om perfuum mee te maak, of om as 'n mediese hulpmiddel te dien. Dié mirrebossie se natuurlike geur was skerp, amper soortelyk aan terpentyn. Mirrebossies het veral voorgekom net noord van die kusberge van Jemen en Oman, in die reënskaduwee van die suidwestelike reën. In Egipte is sakke met verskeie elemente daarin om die nek gedra (Walton, 1997, Hoogl. 1:13). Mens kan vir seker aanneem dat mirre een van hierdie elemente was.

Hooglied 8

Boodskap

Hierdie laaste hoofstuk van Hooglied, mag dalk op sigself baie deurmekaar voorkom; dit mag lyk asof die skrywer van die een onderwerp na die ander spring. Maar by nadere ondersoek, staaf Baker, sowel as die NIV Application se kommentatore, duidelik dat die teks wat hier gevind word, heelwat frases vanuit hoofstuk 1 herhaal en daarop uitbrei (Hess et al, 2005-12:232) (Arnold et al, 1999-12:264).

Daar word byvoorbeeld weer melding gemaak van die broers van die bruid en die bruid verwys weer aan die “dogters van Jerusalem” (vlg Hoogl. 8:4). Weereens, soos in hoofstuk 1, word die skeiding tussen die twee verliefdes vervang deur hul hervereniging. Hul passievolle liefde vir mekaar word duidelik uitgebeeld, maar dié keer is hulle nie net bloot agter plesier van vervulling van begeertes aan nie. Nee, hulle kyk nou dieper as dit: na die seën van familie en die skoonheid van die natuur, wat alles terugvoer na 'n Kunstenaar wat alles geskep en aanmekaar geheg het (Bakker et al, 232).

Wat hier dus duidelik navore kom, is dat ware liefde oor baie meer gaan as bloot uiterlike skoonheid en begeertes. Uiterlike skoonheid gaan tot niet en begeertes ook; ware liefde bly egter lewenslank van krag. So nie, was dit nooit ware liefde nie. Dis dan duidelik die beste riglyn wat 'n mens kan aantref rakende ware liefde tussen man en vrou.

So kan dié hoofstuk dus ook, ten spyte van argumente wat aangevoer word rondom die suffikse waarvan Hess in Baker se kommentaar melding mak, naamlik dat die kerk nie vir Christus en Israel vir God as't ware kan wakkermaak nie (Hess et al, 2005-12:237), ook met reg allegories verklaar word: God se liefde is die enigste ware liefde en Hy kyk beslis baie dieper as die uiterlike. Sy liefde is die enigste ware onsterflike liefde.

Agtergrond van Hooglied 8

Vervolgens gaan daar op die laaste hoofstuk van Hooglied se agtergrond gekonsentreer word. Dit beloof om 'n ongelooflik interessante reis te wees!

Voordat gekyk word na gekruide wyn in Hooglied 8, is dit ook van belang en baie interessant om bietjie terug te gaan an 'n kommentaar op Hooglied 7:2, wat handel oor gemengde wyn: wyn is, gedurende die Helenistiese tydperk, dikwels met water gemeng, sodat 'n groter hoeveelheid gedrink kon word en die gesprek gedurende die maaltyd langer kon voortgaan. Mens kan sommer dadelik die afleiding maak dat die gedagte agter als was dat mense nie so vinnig dronk kon word, en onder die invloed vreemde dinge tydens die maaltyd sou doen nie. In vroeëre tydperke, was gemengde wyn egter baie meer geneig om te lei tot dronkenskap en moes mense versigter met dit omgaan (vlg. Rig. 9:13; Spr. (:2) In Mesopotanië was wyn egter vir lank bitter skaars, tot die opkoms van die Asiriese Ryk. Toe is wyn veral by spesiale geleenthede gedrink. Soms was slegs druiwestroop beskikbaar, maar hulle het ook by tye die druiwestroop met heuning gemeng om 'n soort likeur te vorm (Walton et al, 1997 Hoogl. 7:2). Hierdie gebruik van die Asiriërs kan sekerlik ook deurgetrek word na vandag, waar mense steeds wyn tydens spesiale geleenthede nuttig. Dit is egter nie noodwendig so dat hierdie wyn normaalweg enigsins met iets gemeng word nie.

Wat Hooglied 8 se kommentaar oor gekruide wyn betref: In sommige gevalle was wyn ook van ander vrugte se sap gemaak, soos byvoorbeeld granate. Egiptiese rekords toon ook aan dat hulle selfs palmsap, dadelstroop en vye gebruik het om wyn mee te maak. Die soetheid van hierdie soort vrugte in wyn, staan in Hooglied parallel teenoor die soetheid van 'n soen (Vlg. Hoogl. 1:2; 5:16) (Walton et al, 1997, Hoogl. 8:2).

Die metafoor van 'n seël speel hier 'n deurslaggewende rol in die intensiteit en konstante kontak van die dra van byvoorbeeld 'n seëlring (vlg Jer. 22:24), of 'n silinderseël wat om die nek gedra is, baie na aan die hart. Daar is een Kaïro liefdeslied (groep B, bekend as "die sewe wense"), wat 'n frase bevat wat vergelykbaar is. Die frase lui soos volg: “Was ek maar net haar seëlring, die bewaarder van haar vinger!” (Walton et al, 1997, Hooglied 8:6) Hieruit kan duidelik afgelei word dat die Egiptenare, en waarskynlik ook die ander voorkeure in daardie tyd, beslis maklik die seëlring as 'n metafoor kon gebruik het wat duidelik hul hunkering na die persoon kon uitbeeld. Mens kan selfs sê dat dit vandag nog 'n goeie metafoor sou wees; 'n seëlring sit nie net stewig en teenaan 'n persoon se vinger nie, maar is ook die simbool van die huweliksvereniging. Dit dui daarop dat die verliefdes mekaar as 't ware besit.

Baäl-Hamon was, soos dit in Hooglied 8:11 blyk, 'n pleknaam. Dié pleknaam is egter heeltemal onbekend en dus is dit onmoontlik om die ligging daarvan te bepaal. Dit word ook slegs eenkeer in die hele Bybel genoem – hier in Hooglied. Daar is wel 'n pleknaam wat soos 'n sinomiem vir Baäl-Hamon klink, naamlik Belamon. Dit staan in die buite-Bybelse boek, Judit 8:3. Dit word egter beskou as blote “toeval”. (Walton, 1997 et al, Hoogl. 8:7) Nogal opvallend dat dit ook in hoofstuk 8 van Judit staan.

Dit lyk egter of die ware rede vir dié spesifieke pleknaam simbolies van aard mag wees; dat daar nie fisies so 'n plek bestaan nie. Die naam Baäl-Hamon kon bloot gebruik gewees het aangesien dit letterlik beteken “voorsiener van rykdom”. Dié rykdom kan dan parallel staan met die vrugbaarheid van die wingerd, asook, in die konteks gesien, Salomo se “rykdom” van 'n duisend vroue (Walton et al, 1997, Hoogl. 8:7). Die feit dat Salomo ook die rykste man op die paneet was, mag dalk nog meer daarop dui dat die pleknaam eerder simbolies van aard moes wees, alhoewel fisiese rykdom nie heeltemal in hierdie konteks sou pas nie.

Hierdie berge, waarvan in vers 14 melding gemaak word, is gelykstaande aan die “berge van skeiding” wat in Hooglied 2:17 ter sprake kom. Die uitnodigings in beide gevalle, is vir die jong man om die plesier te kom opsoek wat deur die jong vroue verskaf word. Dié plesier word dan gesimboliseer met die berge en heuwels. Hierdie prentjie wat geskets word, is soortgelyk aan dié van Isjtar se groot liefde, Tammoez, wat as 'n skaapwagter “oor die heuwels spring” (Walton et al, 1997, Hoogl. 8:14 ). Die beeld word taamlik gereeld in Hooglied geskets, (vlg Hoogl 2:17; 8:14). Mens kan hieruit aflei dat, soos die persoon vrolik is en oor die heuwels spring, die liefde hom ook vrolik maak en plesier verskaf. Daarom word dié metafoor so gereeld in Hooglied gebruik.

Slot

Met hierdie agtergrond tot 'n mens se beskikking, is dit ongetwyfeld heelwat makliker om die rede vir die spesifieke aanhalings in die teks van Hooglied beter te begryp. Nie net is dit geweldig interessant nie, maar 'n mens kan ook 'n baie meer insiggewende boodskap van die kansel af bring as iemand wat bloot net op die teks self fokus. Hiermee moet die waarde van die teks self geensins onderskat of afgekraak word nie; die teks self bring altyd kos vir die siel. Wat egter onthou moet word en beslis nie van geen waarde geag moet word nie, is dat 'n prediker met agtergrondkennis die gemeente op 'n baie beter reis kan neem na die wêreld van die Ou- en Nuwe Testament, en iets duideliker en meer verstaanbaar kan maak vir sy hoorders. Hierdie agtergrond is natuurlik ook van waarde vir gemeentelede wat belangstel daarin om dieper kennis van die Antieke Bybelskrywers se wêreld op te doen.

Daar is natuurlik nog 'n hele enorme skatkis rakende die agtergrond van die hele Bybel; hierdie was slegs twee hoofstukke en 'n enkele ander vers se agtergrond en 'n hele referaat werd. Dit bevestig sekerlik dat die agtergrond, hoewel dit nooit die primêre bron van die Bybel boodskap mag wees nie, beslis nie weggegooi kan word of buite rekening gelaat kan word as sekondêre bron nie. Om die agtergrond te laat los staan van die teks, is beslis nie baie wys nie; om dit deel te maak van die teks, sal vir die prediker self, sowel as sy gemeente, geweldige waarde dra en lig op sake bring waarop die teks self juis nie ingaan nie.

Bronnelys

  • Die Bybel: Nuwe vertaling (Bybelgenootskap van Suid-Afrika)
  • Arnold et al, 1999-12: NIV Application Commentary: Old Testament
  • Hess et al, 2005-12: Baker Commentarry On The Old Testament
  • Odendaal et al, 2009: Handboek Van Die Afrikaanse Taal
  • Walton et al, 1997: The IVP Bible

Eksterne skakels

Bybel

Die Bybel is die heilige boek van die Christelike en Joodse geloof. Die Joodse Bybel of Tenach het 39 dele en vertel die verhaal van God se verhouding met die Joodse mense in antieke tye. Dié 39 dele is ook deel van die Christelike Bybel en word die Ou Testament genoem. Die Christelike Bybel het nog 27 dele, wat die Nuwe Testament genoem word. Daarin word die verhaal van Jesus vertel.Die woord 'Bybel' stam van die Griekse woord βιβλια biblia (boeke), wat 'n meervoud is van βιβλιον biblion (wat oorspronklik papirus beteken en later gebruik is as aanduiding van papier, geskrif, boek(rol)). Die Bybel bevat drie verskillende versamelings boeke:

Die Ou Testament, ook die Hebreeuse Bybel genoem. Dit is geskryf gedurende die eeue heen en dit bestaan oorspronklik vir die grootste deel in Hebreeus met enkele Aramese paragrawe. (Die Tanach is anders georden)

Die Apokriewe boeke, boeke buiten die kanon van Nicea.

Die Nuwe Testament, geskryf gedurende die tweede helfte van die eerste eeu na Christus, in moderne Grieks (koinè-Grieks).In breë trekke gaan die Bybel oor hoe God as skepper met die mens in tyd en ruimte omgegaan het, die plek van die mens in verhouding tot die skepping, die skepper en die heelal en inbreek van ewigheid (domein van God) in die tyd (domein van die mens).

Met 'n geraamde verkope van meer as 5 miljard kopieë word die Bybel algemeen as die topverkoper boek van alle tye beskou. Na raming word 100 miljoen Bybels jaarliks verkoop. Dit is uniek in baie opsigte, waarvan vertaling en skrywers net 'n paar is. Dit het ook 'n groot invloed op letterkunde en die geskiedenis, veral in die Weste, uitgeoefen.

Cas Vos

Cas Vos is ’n Afrikaanse digter, teoloog en akademikus en professor in Teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Etienne Leroux

Etienne Leroux (*13 Junie 1922,Oudshoorn - †20 Desember 1989, Bloemfontein) was ’n internasionaal bekende Afrikaanse skrywer en een van die mees prominente Sestigers, wat die Hertzogprys meer as een keer en verskeie ander toekennings vir sy skryfwerk ontvang.

Hy is gebore as Stephanus Petrus Daniël le Roux, maar verwerf bekendheid as skrywer onder die skuilnaam Etienne Leroux. Van sy bekendse werke sluit in: Sewe dae by die Silbersteins en 'Magersfontein, O Magersfontein!'

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret (8–2 v.C. tot 29–36 n.C.), ook algemeen bekend as Jesus, is die sentrale figuur in die Christendom en is ook 'n belangrike figuur in verskeie ander gelowe. Daar word ook na hom verwys as Jesus Christus, waar "Christus" afkomstig is vanaf die Griekse Χριστός (Christós) wat "Gesalfde een" beteken en verwant is aan die Hebreeus-afgeleide "Messias". Die naam "Jesus" is afkomstig van die vernederlandse vorm van die Griekse Ίησους (Iesoûs), wat self 'n Hellenisering van die Hebreeus-Aramese ישוע (Jesjoea of Jesjoe) is, wat beteken "JHWH red".

Christelike sienings oor Jesus fokus op die geloof dat Jesus die Messias is wie se koms in die Ou Testament van die Bybel voorspel word en dat hy opgestaan het uit die dood. Die meeste Christene glo dat Jesus die verpersoonliking van God is en dat hy gekom het om verlossing en versoening met God te bied. Nie-trinitaristiese Christene erken verskeie ander interpretasies rakende Jesus se goddelikheid.

Jesus het self geen geskrewe werke nagelaat nie en die hoofbronne van inligting rakende Jesus se lewe en sy leerstellings is die vier kanonieke Evangelies van die Nuwe Testament: Matteus, Markus, Lukas en Johannes en 'n aantal apokriewe skrifte. Meeste geleerdes van geskiedenis van Bybelstudie stem saam dat Jesus 'n Galilese Jood was, dat hy as 'n leraar en 'n geneser beskou was, dat hy deur Johannes die Doper gedoop was en gekruisig was in Jerusalem onder die bevel van die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, na beskuldigings van opruiing teen die Romeinse Ryk. Baie min moderne geleerdes glo dat Jesus se bestaan bevraagteken kan word of 'n mite is, terwyl ander geleerdes op teenkanting teen hierdie bewerings fokus.In Islam word Jesus (oor die algemeen getranslitereer as Isa) as een van God se mees geliefde en belangrikste profete beskou, asook 'n bringer van heilige skrifte, 'n wonderwerker en die Messias. Moslems deel egter nie die Christelike geloof in die kruisiging of die goddelikheid van Jesus nie, maar glo dat Jesus se kruisiging 'n goddelike illusie was en dat hy liggaamlik in die hemel opgeneem is. Uit die Koran: 4:157: "en omdat hulle sê: Ons het die Messias, Jesus, die seun van Maria, die boodskapper van Allah, omgebring ~ en hulle het hom nie gedood nie, en ook nie tot die dood toe gekruisig nie, maar dit het vir hulle gelyk asof dit so is. En hulle wat hieroor verskil, twyfel voorwaar daaraan. Hulle het geen kennis daaromtrent nie, maar volg slegs ’n vermoede, en hulle het hom beslis nie doodgemaak nie." Die meeste Moslems glo ook dat hy na die aarde sal terugkeer saam met die Mahdi, wanneer die aarde met sonde en onreg gevul word met die koms van Islam se Antichris-agtige Dajjal.

Maria Magdalena

Maria Magdalena of Maria van Magdala is volgens die Nuwe Testament en belangrike apokriewe evangelies 'n vroulike apostel van Jesus van Nasaret. Die vier evangeliste van die Nuwe Testament beskryf haar as die getuie en verkondiger van Jesus van Nasaret se opstanding, 'n verwysing na die onsterflikheid van sy spirituele boodskap. Vanweë haar sentrale rol in die Christendom is sy deur Middeleeuse Bybel-eksegete met die bynaam apostolorum apostola ("apostel van die apostels") vereer. Sy is die enigste belangrike vrou in die Nuwe Testament wat in haar eie reg genoem word en nie net as eggenote of moeder van 'n belangrike manlike figuur nie. Sy is volgens sommige navorsers moontlik die skrywer van die Evangelie volgens Johannes.Volgens Gnostiese apokriewe tekste het Jesus haar as sy mees geliefde apostel beskou en haar as sy opvolger en vroulike leier van sy sendingwerk, die spirituele vernuwing van die Joodse religie, gekies. Die belangrike rol wat Maria Magdalena in die vroeë Christendom gespeel het, is tans die onderwerp van verskeie wetenskaplike debatte. Veral feministiese Amerikaanse teoloë het in die lig van die ontdekking van Christelik-Gnostiese tekste die rol wat vroue – en spesifiek Maria Magdalena – in Jesus van Nasaret se sendingwerk gespeel het, begin herdefinieer.

Volgens haar bynaam is Maria Magdalena waarskynlik 'n boorling van Magdala (tans Migdal) aan die Meer van Genesaret.

Meester Eckhart

Eckhart von Hochheim, bekend as Meester Eckhart (in die buurt van Gotha – Hochheim, Tambach of Wangenheim rondom 1260 – Avignon of Keulen, vóór 30 April 1328) was 'n laat-middeleeuse teoloog en filosoof. Hy behoort tot die orde van die Dominikane. Eckhart se gedagtegoed het 'n groot, deels indirekte, invloed op die laat-middeleeuse spiritualiteit in die Duitse en Nederlandse streke uitgeoefen. Tog word daar selde uitdruklik na hom verwys, omdat 'n deel van sy leer al kort na sy dood deur die Kerk veroordeel is. Sedert die 19de eeu neem akademici weer van hom kennis. Hy verwerf die status van invloedryke mistikus binne die kontemporêre spirituele kringe, en trek aandag as prominente middeleeuse skolastiese teoloog en filosoof.

Nardus

Nardus (Nardostachys grandiflora of Nardostachys jatamansi; ook genoem muskus) is 'n blomplant van die Valeriaan-familie wat groei in die Himalaja-berge van China, Indië en Nepal. Die plant groei tot omtrent 1 m in hoogte en het pienk, klok-vormige blomme. Nardus risome (onderstok) kan vergruis word en gedistilleer word in 'n intens aromatiese amberkleurige eteriese olie met 'n baie taai konsistensie. Nardus-olie word gebruik as 'n parfuum, 'n wierook, 'n kalmeermiddel, en 'n kruie medisyne wat glo slapeloosheid, geboorte probleme en ander klein kwale beveg.

Laventel (genus Lavandula) was ook bekend by die antieke Grieke as naardus, nard, geneem van die Siriese stad Naarda.

Ou Testament

Die term Ou Testament (van Latyns testamentum, 'n vertaling van respektiewelik die Hebreeuse בְּרִית (berît) en Griekse διαθήκη (diathēkē) – "verbond", ook: Eerste Testament) verwys in die Christelike teologie sedert omstreeks 180 na die Heilige Skrifte van die Jodedom wat daar sedert omstreeks 100 as Tanach bekend staan, asook 'n aantal skrifte uit die Septuagint wat vanaf 250 v.C. ontstaan het. Dit is oorspronklik in Hebreeus geskryf (vandaar die alternatiewe name Hebreeuse Skrifte of Hebreeuse Bybel), afgesien van kleiner gedeeltes in Bybelse Aramees.

Die eerste Christene het hierdie skrifte as die "Woord van God" beskou wat Jesus van Nasaret as Messias van Israel en die wêreld se ander volke verkondig. Afhangende van die skrifte se uitlegging word Jesus as die verlosser beskryf. Die Ou Kerk het die Hebreeuse Skrifte as openbaring teen kleiner Christelike minderhede verdedig wat hierdie opvatting nie gedeel het nie.

As kanon is die Ou Testament tot 350 saamgestel en die volgorde van sy boeke vasgelê om saam met die Nuwe Testament as Christelike Bybel te dien. Nogtans verskil die groot Christelike kerke oor die aantal boeke wat tot die kanon behoort. Terwyl Protestantse kerke dit tot die boeke van die Tanach beperk het, erken die Rooms-Katolieke Kerk net soos Ortodokse Christene daarnaas ook verskillende skrifte uit die Septuagint.

Sensuurwet (Wet op Publikasies en Vermaaklikhede van 1963 en 1974)

Die sensuurwet onder Apartheid verwys na die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede wat sedert 1963 deur die parlement aanvaar is om binnelandse publikasies aan sensuur te onderwerp. Die bepaling van hierdie wet kon 'n publikasie ongewens verklaar indien die werk, of deel daarvan, onbetaamlik, onwelvoeglik, aanstootlik of skadelik vir die openbare sedes en/of godslasterlik sou wees en dit enige bevolkingsdeel van die Republiek van Suid-Afrika belaglik of veragtelik sou maak.

Tora

Jode glo God praat met die individu sowel as met die Joodse volk deur die Tora (Hebreeus: תּוֹרָה, "onderwysing", "leerstelling", "ontwerp"), die Heilige Skrifte van Judaïsme wat beskou word as God se geopenbaarde wil of instruksies. Die Tora bestaan uit vyf boeke wat die eerste gedeelte van die Tanag vorm en staan in die Jodedom as gamisjá goemsjei torá, "die vyf vyfdes van die Tora" bekend. Die Griekse benaming is Πεντάτευχος (Pentáteuchos), Latyn: Pentateuchus of Pentateuchum, Afrikaans: Pentateug, letterlik: "vyf boeke" of "vyf boekrolle".

In sy breedste betekenis verwys die woord Tora na al die Joodse bepalings en leringe, wat die Tanag sowel as die Talmoed insluit. In die nou betekenis van die woord verwys dit net na die eerste vyf boeke (Pentateug) van die Bybel wat op die berg Sinai deur God aan Moses geopenbaar is.

Bybelboeke
Hoofklassifikasie
Sekondêre klassifikasie
Manuskripte

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.