Hebreeus

Hebreeus (עברית, Iwriet, [ʔivˈʁit], of [ʕivˈɾit] ) is 'n Semitiese taal wat deur baie Jode in Israel as moedertaal gebesig word. Hebreeus word in die Hebreeuse alfabet geskryf. Hebreeus is saam met Arabies die amptelike taal van Israel.

Israel in Hebrew
Die woord "Israel" in Hebreeus
Hebrew Language in the State of Israel and Area A, B and C
Verspreiding van Hebreeus in Israel en die Palestynse Grondgebiede:

   >50% Hebreeussprekend

   25%–50% Hebreeussprekend

   <25% Hebreeussprekend

Hebreeus is die liturgiese taal van Judaïsme en byna elke Jood het ten minste 'n basiese kennis van Hebreeus en kan die Hebreeuse alfabet lees. Judaïsme se heilige skrifte die Tanag (die Ou Testament vir Christene, insluitende die Tora, die Pentateug vir Christene) en die Talmoed (bestaande uit Misjna en Ghemara) is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf.

Bybelse Hebreeus, kan minstens in Oud-Hebreeus, Middel-Hebreeus en Laat-Hebreeus onderverdeel word. Verdere ontwikkelinge van die Hebreeuse taal is Rabbynse Hebreeus, wat bekend is vir heelwat Aramaïsmes (Aramese leenwoorde), Middeleeuse Hebreeus en Moderne Hebreeus. Laasgenoemde het opgebloei met die opkoms van die moderne Staat Israel. Buite Israel word soms na Moderne Hebreeus as "Iwriet" (of "Ivrit") verwys, wat niks anders is nie as die Hebreeuse woord vir "Hebreeus".

Hebreeus
עברית
Iwriet 
Uitspraak: [(ʔ)ivˈʁit] – [(ʔ)ivˈɾit]
Gepraat in: Vlag van Israel Israel
Palestinian flag Palestynse Owerheid 
Gebied: Wes-Asië
Totale sprekers: 9,3 miljoen (waarvan 5,4 miljoen moedertaalsprekers in Israel)
8,3 miljoen (eerste of tweede taal in Israel)[1] 
Rang: 77
Taalfamilie: Afro-Asiaties
 Semities
  Wes-Semities
   Hebreeus 
Skrifstelsel: Hebreeuse alfabet 
Amptelike status
Amptelike taal in: Vlag van Israel Israel
Gereguleer deur: Akademie van die Hebreeuse taal
האקדמיה ללשון העברית
(HaAkademía laLasjon ha'Iwriet)
Taalkodes
ISO 639-1: he
ISO 639-2: heb
ISO 639-3: heb 
Verspreiding van Hebreeus

Galery

Alphabet Hebrew

Die Hebreeuse alfabet geïnterpreteer in die konteks van die Dawidster

Annava165

Israeliese padtekens met Hebreeus, Arabies en Engels op

Sien ook

Verwysings

  1. (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Hebrew". Ethnologue. Besoek op 16 Mei 2019.

Eksterne skakels

Afro-Asiatiese tale

Die Afro-Asiatiese taalfamilie verwys na 'n groep verwante tale wat in Noord-Afrika en die Midde-Ooste sedert antieke tye gepraat word. Dié taalfamilie is so genoem omdat dit oor Afrika en Asië streek. Die grootste moderne taal wat tot die Afro-Asiatiese taalfamilie behoort is Arabies, wat gepraat word vanaf die Atlantiese kus van Afrika tot by die grense van Iran, en geïsoleerd op vele ander plekke.

Die belangrikste onderafdelings van dié familie is:

Tsjadies (waaronder Biu-Mandara en Hausa)

Semitiese taalfamilie (waaronder Amharies, Arabies, Aramees, Hebreeus, Maltees en Tigrinya)

Egipties, die taal van Antieke Egipte (bestaan as Kopties voort en word deur die Kopte as liturgiese taal van die Kopties-Ortodokse Kerk gebruik)

Berbertale (waaronder Kabilies)

Omotiese tale (waaronder die Ethiopiese taal Dizi)

Koesjitiese tale (waaronder Oromo en Somalies).Die tale in dié familie kom meerendeels in Afrika voor, in plaas van Asië. Trouens is al die ondergroepe in Afrika gekonsentreerd – selfs die Semitiese, waarvan slegs twee tale (Arabies en Hebreeus) 'n beduidende verspreiding op die Asiatiese vasteland het.

Beiroet

Beiroet (Arabies: بيروت‎‎ Bayrūt; Bybelse Hebreeus: בְּאֵרוֹת Be'erot; Hebreeus: ביירות Beyrut; Latyn: Berytus; Frans: Beyrouth; Turks: Beyrut; Armeens: Պէյրութ Beyrut) is die hoofstad en grootste stad van Libanon. Die stat het 'n bevolking van 361 366 in 2012 gehad en het 'n oppervlakte van 20 km². Die stad word soms Parys van die Midde-Ooste genoem.

Boek van Tobit

Die Boek van Tobit is 'n Ou Testamentiese apokriewe boek en vertel die verhaal van Tobit, 'n man uit die stam van Naftali, wat deur die vyand as gevangene na Nineve weggevoer is. Dit handel oor Tobit, sy vrou, Sara, en hulle seun Tobias. In die verhaal kruis hulle paaie ook met die engel Rafael en ook met die jong meisie Sara, op wie die duiwel Asmodeus verlief is. Asmodeus vermoor die mans wat met haar trou een vir een.

Die skrywer van die boek is onbekend en daar word vermoed dat die boek tussen die jare 225 en 175 v.C. geskryf was. Die boek is oorspronklik in Hebreeus of in Aramees geskryf.

Brief van Jeremia

Die Brief van Jeremia is 'n Ou Testamentiese apokriewe boek. Die titel van die boek is misleidend want die boek is nie deur die profeet Jeremia geskryf nie en is ook nie waarlik 'n brief nie. Dit is eintlik net 'n satire op die afgode en afgodediens. Die skrywer, asook die datum wat die boek geskryf is, is onbekend. Die boek is oorspronklik in Hebreeus geskryf.

Bybel

Die Bybel is die heilige boek van die Christelike en Joodse geloof. Die Joodse Bybel of Tenach het 39 dele en vertel die verhaal van God se verhouding met die Joodse mense in antieke tye. Dié 39 dele is ook deel van die Christelike Bybel en word die Ou Testament genoem. Die Christelike Bybel het nog 27 dele, wat die Nuwe Testament genoem word. Daarin word die verhaal van Jesus vertel.Die woord 'Bybel' stam van die Griekse woord βιβλια biblia (boeke), wat 'n meervoud is van βιβλιον biblion (wat oorspronklik papirus beteken en later gebruik is as aanduiding van papier, geskrif, boek(rol)). Die Bybel bevat drie verskillende versamelings boeke:

Die Ou Testament, ook die Hebreeuse Bybel genoem. Dit is geskryf gedurende die eeue heen en dit bestaan oorspronklik vir die grootste deel in Hebreeus met enkele Aramese paragrawe. (Die Tanach is anders georden)

Die Apokriewe boeke, boeke buiten die kanon van Nicea.

Die Nuwe Testament, geskryf gedurende die tweede helfte van die eerste eeu na Christus, in moderne Grieks (koinè-Grieks).In breë trekke gaan die Bybel oor hoe God as skepper met die mens in tyd en ruimte omgegaan het, die plek van die mens in verhouding tot die skepping, die skepper en die heelal en inbreek van ewigheid (domein van God) in die tyd (domein van die mens).

Met 'n geraamde verkope van meer as 5 miljard kopieë word die Bybel algemeen as die topverkoper boek van alle tye beskou. Na raming word 100 miljoen Bybels jaarliks verkoop. Dit is uniek in baie opsigte, waarvan vertaling en skrywers net 'n paar is. Dit het ook 'n groot invloed op letterkunde en die geskiedenis, veral in die Weste, uitgeoefen.

Eksodus

Hierdie artikel handel oor die tweede boek van die Tora en die Ou Testament. Vir die oorsprongsmite van die Israeliete sien Exodus.

Eksodus (Grieks: Εξοδος = uittog; Hebreeus: שמות sjemot = naam) is die tweede boek van die Hebreeuse Bybel. Die boek vertel van die uittog van Jakob se nageslag uit Egipte onder leiding van Moses en Aäron. God het sy volk gered uit die mag van die farao, soos die Egiptiese konings genoem is.

Die boek begin met die sin:

Hier volg die name van die Israeliete wat saam met Jakob na Egipte toe gekom het, elkeen met sy gesin: Ruben, Simeon, Levi en Juda, Issakar, Sebulon en Benjamin; Dan, Naftali, Gad en Aser.

Hebreeuse Wikipedia

Die Hebreeuse Wikipedia is die Hebreeuse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is op 8 Julie 2003 begin.

Dit het tans 250 494 artikels.

Israel

Israel, ook Israël (Hebreeus: יִשְׂרָאֵל‎‎ Yisrā'el; Arabies: إِسْرَائِيل‎‎ Isrāʼīl), amptelik die Staat Israel (Hebreeus: מְדִינַת יִשְׂרָאֵל‎‎ Medīnat Yisrā'el [mediˈnat jisʁaˈʔel] (); Arabies: دولة إِسْرَائِيل‎‎ Dawlat Isrāʼīl [dawlat ʔisraːˈʔiːl]), is 'n demokratiese republiek in die Midde-Ooste en antieke tuisland van die Jode. Dit oorvleuel gedeeltelik met Palestina, tuisland van die Palestyne. Israel word begrens deur Sirië en Libanon in die noorde, Jordanië in die ooste, Egipte in die suidweste en die Middellandse See in die weste.

Jerusalem

Jerusalem (Hebreeus: ירושלים Jeroesjalajim, ; Oud-Grieks: Ἱεροσόλυμα; Latyn: Hierosolyma; Arabies: القدس, al-Quds (asch-Scharif), , letterlik: „die Heilige“ of amptelik: أورشليم القدس, Urshalim-al-Quds; Turks: Kudüs) is die hoofstad en grootste nedersetting van Israel met 'n bevolking van 933 113. Die stad lê tussen die Middellandse See in die weste en die Dooie See in die ooste. Jerusalem is die Heilige stad van die drie Abrahamitiese gelowes Judaïsme, Christendom en Islam. Jerusalem is saam met Hebron, Safed en Tiberias een van die vier heilige stede binne Judaïsme. In Islam is Jerusalem die derde heiligste stad net na Mekka en Medina.

In die ou stad lê die Klaagmuur, die Grafkerk en die Rotskoepel. Oos-Jerusalem is onderdeel in 'n Joodse, 'n Christen-, 'n Moslem- en 'n Armeense kwartier. Oos-Jerusalem word deur Palestyne opgeëis as hoofstad van 'n toekomstige Staat Palestina, 'n belangrike element in die Israel-Palestina-konflik. Israel verwys egter met reg daarop dat sy burgers, ongeag hulle geloofsoortuigings, tussen 1948 en 1967 deur die destydse Jordaanse owerheid toegang tot Oos-Jerusalem geweier is.

Een van Israel se Fundamentele Wette, die Jerusalem-wet van 1980, verwys na Jerusalem as die land se onverdeelde hoofstad. Alle regeringsliggame van Israel is hier gesetel, insluitende die parlement (Knesset), die ampswonings van die eerste minister (Beit Aghion) en die staatspresident (Beit HaNassi) en die Hooggeregshof. Die de facto-status van Jerusalem as hoofstad van Israel is weerspieël deur die feit dat die Verenigde State hul ambassade in 2018 hierheen verskuif het – in ooreenstemming met die Amerikaanse Kongres se Jerusalem Embassy Act van 1995. Ander state soos Guatemala en Paraguay het hierdie voorbeeld intussen gevolg.

Die historiese stadskern van Jerusalem word sedert 1981 deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys.

Jode

Die woord Jood (Hebreeus: יְהוּדִים Jehudim, [jehuˈdim]) word op verskillende maniere gebruik, maar verwys mees algemeen na 'n navolger van die Joodse geloof, 'n kind van 'n Joodse moeder, of 'n lid van die Joodse kultuur of etnisiteit en gereeld 'n kombinasie van hierdie kenmerke. Hierdie artikel bespreek die etniese groep; vir 'n oorweging van die geloof, kyk gerus na Judaïsme.

Die meeste Jode beskou hulleself as 'n volk, lede van 'n nasie, en die voorvaders van Joodse nasionale identiteit word deurgetrek vanaf die Bybelse patriarg Abraham (Avraham), sy seun Isaak en veral Jakob (Ja'akov), Isak (Jitshak) se seun, asook deur die persone wat mettertyd by hulle aangesluit het as bekeerdes (sien ook Israeliete). Die term Jood ("Jahudi") se oorsprong begin by die verdeling van die Koninkryk van Israel (Jisra'el) in die noordelike Koninkryk van Israel en die suidelike Koninkryk van Juda (Jahuda). Daarom is die Israeliete (wat later deur die Assiriërs verwoes is) afkomstig vanuit die noordelike koninkryk, en die Jode (Jahudim) – wat oorleef het – van die suidelike koninkryk. Algaande het die woord Jood begin verwys na dié van die Joodse geloof eerder as dié wat van Juda afkomstig is. Etniese Jode sluit sogenaamde "gelowige Jahudim" (die wat Judaïsme beoefen) asook "sekulêre Jahudim" (dié wat nie Judaïsme as 'n geloof beoefen nie), maar nog steeds hulleself as Jode in 'n kulturele of etniese sin identifiseer) in.

Joodse kalender

Die Joodse kalender (Hebreeus: הלוח העברי, ha-loeag ha-iwri), ook Joodse jaartelling of Hebreeuse kalender genoem, is 'n maansonkalender, oftewel lunisolêre kalender, wat deur Jode gebruik word en begin met die jaar waarin glo – volgens die Bybelse berekening – die skepping van die wêreld (of die Anno Mundi) plaasgevind het. Volgens die Tanag het die skepping van die wêreld deur God in die jaar 3761 v.C. (Gregoriaanse kalender) in die maand Tisjrie (herfs) plaasgevind. Gevolglik begin die nuwe jaar op Rosj haSjana (hoof van die jaar), 'n belangrike tweedaagse periode van gebed en inkeer, wat in September of Oktober volgens die Gregoriaanse kalender plaasvind. Die Joodse jaar begin egter in die maand Nisan (lente), dié maand van verlossing, toe die Volk van Israel uit Egipte vertrek het. Tot vandag toe word die verlossing hoër geag as die skepping, dus word vir godsdienstige gebruik Nisan as die eerste maand in die Joodse kalender beskou, terwyl Tisjrie as sewende maand beskou word.

Die Joodse kalender beskik altesaam oor vier nuwejaarfeeste, waarvan Rosj haSjana die vernaamste is. Die drie ander nuwejaarfeeste is Toe biSjwat ("nuwejaar van bome"), Rosj haSjana LaBehemá ("nuwejaar van plaasdiere") en 1 Nisan vir die telling van die maande en bepaling van die groot feeste asook vir die berekening van die jare van 'n Joodse koning se regering. Die einde van die jaarlikse leessiklus van die Tora en die begin van 'n nuwe leessiklus in die sinagoge word op Simgat Tora gevier.

Die begin van maande in die Joodse kalender word altyd na die maan bereken. 'n Maanmaand duur 29,5 dae, 12 ure, 44 minute, en ongeveer 3 sekondes (29,5305941 dae) – dus het die Joodse maande afwisselend 29 of 30 dae. Aangesien daar 12 Joodse maande is, het 'n gewone Joodse jaar 354 dae, sowat 11 dae minder as die sonjaar. Hierdie probleem word opgelos deur – binne 'n wederkerende periode van 19 jaar – sewe keer 'n skrikkelmaand by te voeg, in die 3de, 6de, 8ste, 11de, 14de, 17de en 19de jaar. Hierdie skrikkelmaande het as 'n reël 30 dae waardeur die kalender na 19 jaar weer in pas met die sonkalender sal wees. Die naam van die skrikkelmaand is Adar alef (Adar 1), oftewel eerste Adar, en dit gaan die gewone maand Adar vooraf. Dié word in 'n skrikkeljaar Adar bet (Adar 2), oftewel tweede Adar, genoem. As gevolg van dié aanpassing is die Joodse kalender 'n maan- en sonkalender, terwyl die Christelike kalender 'n suiwer sonkalender en die Islamitiese kalender 'n suiwer maankalender is. Die maandname is van Galdeeuse oorsprong en dateer uit die tydperk van die Babiloniese ballingskap.

Judaïsme

Judaïsme (vanaf Latyn: Iudaismus, afgelei van Grieks: Ἰουδαϊσμός, oorspronklik van Hebreeus: יהודה, Jehoedá, "Judah"; in Hebreeus: יהדות, Jahadoet) of Jodedom is die godsdiens van die Jode met omtrent 15 miljoen volgelinge wêreldwyd in 2006. Dis een van die eerste monoteïstiese godsdienste wat opgeteken is, en een van die oudste tradisies wat nog gevolg word. Judaïsme verskaf ook die waardes en historiese agtergrond tot ander godsdienste, soos Christendom en Islam. Daarbenewens kan die term Judaïsme ook na die Jode se tradisies en leefwyse, hul filosofie en gewoonlik ook hul kulture verwys asook na die Jode as 'n groep. Jerusalem, Hebron, Safed en Tiberias vorm die vier heilige stede van Judaïsme. Chanoeka, Jom Kippoer, Pesach, Poerim, Rosj haSjana, Sabbat, Sjawoe'ot, Soekot en Tisj'a be'Aw (alfabetiese volgorde) is van die vernaamste feeste en herdenkings in die Joodse kalender.

Judit

Judit is 'n Ou Testamentiese apokriewe boek en vertel die verhaal van Judit, 'n Israelitiese heldin en wys dat God die Israeliete van hulle vyand red as hulle in Hom glo en dapper is.

Dit lyk asof die boek oorspronklik in Hebreeus geskryf is en later in Grieks vertaal is. Die skrywer van die boek is onbekend maar daar word vermoed dat die boek in die eerste eeu voor Christus geskrywe is. Die boek is nie akkuraat nie en daar is botsings met gebeure in dié verhaal en gebeure in ander betroubare bronne.

Levitikus

Levitikus (Grieks: το Λευιτικόν βιβλίον, letterlik: "boek van die Leviete"; Hebreeus: ויקרא, Wajikra, letterlik: "en hy het geroep") is die derde boek van die Hebreeuse Bybel. Sy naam dui aan dat die nageslag van Levi, die priesters en Leviete, 'n belangrike funksie het in dié faset van Israel se godsdiens wat in hierdie boek beskryf word.

Die eerste sin van die boek is:

Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê: Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here 'n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.

Maandag

Maandag is die weeksdag tussen Sondag en Dinsdag. Die naam is afkomstig van Mona, die Sakse maangod, en beteken "Mona se dag".

Maandag is somtyds gesien as die eerste dag van die week (veral in moderne Europa, sien ISO 8601), en somtyds as die tweede dag van die week (tradisioneel vanaf antieke Jode en steeds amptelik in die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika). Om hierdie rede is die naam in Arabies, Grieks, Hebreeus en Portugees almal tweede dag.

Moderne kulture beskou Maandag as die begin van die werksweek, omdat dit algemeen is dat volwassenes teruggaan werk toe en kinders skool toe gaan, ná die naweek.

Garfield, die tekenprentkat, verpes Maandae.

Numeri

Numeri( Grieks Αριθμοί = getalle; Hebreeus bemidbar מדבר = in die woestyn) is die vierde boek van die Hebreeuse Bybel. Die naam Numeri verwys na die sensusgetalle in die eerste deel van die boek. Dit word gevolg deur 'n verskeidenheid rigtingswysers vir die volk Israel se eiesoortige lewenswyse en 'n beskrywing van die tweede paasfeesviering. Vervolgens word die trek van Sinaiberg af tot by Paran beskryf. Die trek is gekenmerk deur die volk se opstandigheid teen die Here en die Here se troue sorg vir hulle. Die rebelsheid van die volk word uiteindelik gestraf. Die volk Israel moet veertig jaar lank in die woestyn bly. Dan trek die volk om Edom en Moab tot by die Jordaanrivier.

Die eerste sinne van die boek is:

Die Here het met Moses gepraat in die tent van ontmoeting in die Sinaiwoestyn. Dit was op die eerste dag van die tweede maand, in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het.

Rooisee

Die Rooisee (Arabies: البحر الأحمر, al-Bahr al-ahmar of الخليج العربي, Arabiese Golf; Hebreeus: 'ים סוף, Yam Suf; Tigrinya: ቀይሕ ባሕሪ, QeyH baHri, Latyn: Maris Erythraei) is 'n see van die Indiese Oseaan tussen Noordoos-Afrika en die Midde-Ooste. Dit is 1 930 km lank, tot 2 211 m diep en het 'n oppervlakte van sowat 450 000 km². Die Griekse naam is Ἐρυθρὰ θάλασσα, wat Eritreïese See beteken en die antieke naam is.Daar is agt lande aan die Rooisee geleë, naamlik Egipte (oor die Golf van Suez), Israel (die Golf van Eilat), Jordanië (die Golf van Akaba), Saoedi-Arabië, Jemen, Djiboeti (Bab-el-Mandeb), Eritrea en Soedan. Dié see word deur die Golf van Akaba en die Suezkanaal met die Middellandse See en deur die Golf van Aden met die Indiese Oseaan verbind.

Aan die noordekant verdeel die Rooisee in twee om die Sinaiskiereiland; in die weste is die Golf van Suez en in die ooste die Golf van Akaba.

Die Rooisee is een van vier seë wat in Afrikaans en ander tale ná kleure genoem is – die ander is die Geel-, Swart- en Witsee. Die naam van dié see is moontlik afgelei van die seisoenale blomme van die rooi-gekleurde Trichodesmium erythraeum naby die wateroppervlak.

Die Rooisee is 'n gewilde toeristebestemming, veral die noordelike kus van Egipte, Israel en Jordanië. Bekende kusstede sluit in Eilat, Hurghada, Sharm el-Sheikh en Suez. In die Rooisee kan mens snorkel en skubaduik.

Taalfamilie

Tale word opgedeel in taalfamilies op grond van ooreenkomste tussen tale en 'n oorsprong wat hulle deel. Die klassifikasie van tale is deur August Schleicher (1821–1868) begin met sy 'Stammbaumtheorie' (of stamboomteorie).

Hier is die belangrikste taalfamilies:

Afro-Asiaties (bv. Berbertale, Arabies en Hebreeus)

Austro-Asiaties (bv. Viëtnamees en Khmer)

Austronesies (bv. Malgassies, Maleis en Polinesiese tale)

Drawidies (bv. Telugu, Tamil, Kannada en Malayalam)

Eskimo-Aleoeties (bv. Groenlands en Inuktitut)

Indo-Europees (Afrikaans, Engels, Frans, Grieks, Russies, Sanskrit, Hindi ens.)

Kartwelies (bv. Georgies, Zan, Svan)

Khoisan (bv. Khoi en San)

Niger-Kongo (bv. Joroeba, Igbo, Shona, Zoeloe, Xhosa en Sotho)

Nilo-Saharies (bv. Luo, Kanuri en Masai)

Oeral-Altaïes (bv. Fins, Hongaars, Turks en Oesbekies, moontlik Japannees en Koreaans) – dikwels onderverdeel in die Fins-Oegries (Europese) en Altaïese (Asiatiese).

Palaeo-Siberies (bv. Chukchi en Korjak)

Sino-Tibettaans (bv. Chinees, Birmaans en Tibettaans)

Tai-Kadai (bv. Thai en Laosiaans)

Turks (bv. Turks en Kasaks)

Indo-Pasifies (bv. die tale van die binneland van die eiland Nieu-Guinee)

Noord-Amerikaanse tale (bv. Navajo en Cherokee)

Suid-Amerikaanse tale (bv. Aymara, Guaraní en Quechua)

Inheemse Australiese tale

Gebaretaal

Geïsoleerde tale (bv. Baskies)

Kunsmatig (bv. Esperanto)

Kreools bv. Haïtiaanse Kreools, Papiaments en Sango)

Pidgin (bv. Fanagalo)

Wysheid van Ben Sirag

Die Wysheid van Ben Sirag is 'n Ou Testamentiese apokriewe boek en gee die wysheid van Ben Sirag weer, 'n wysheidsleraar. Die boek is in 190 v.C. deur Jesus ben Eleasar ben Sirag in Hebreeus geskryf. Sy kleinseun het dit omtrent 60 jaar later na Grieks vertaal. Die boek is ook later in Latyn en Siries vertaal. Die boek is saamgestel uit 'n klomp los spreuke.

Vlag van Pole Tale van Pole
Amptelike tale
Minderheidstale
Amptelik
Nie-amptelike tale
genoem in die
Grondwet van 1996
Ander

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.