Ensiklopedie

'n Ensiklopedie is 'n geskrewe versameling van menslike kennis. Die term kom van die Griekse woorde εγκύκλιος παιδεία, enkyklios paideia ("in 'n sirkel van onderrig").

Geskrifte met 'n ensiklopediese omvang is al sedert die vroeë menslike geskiedenis saamgestel, maar die term, ensiklopedie, is eers vanaf die 16de eeu gebruik om daarna te verwys.

Alhoewel onderwerpe in enige ensiklopedie dikwels 'n definiërende beskrywing bevat, kan die aspek van 'n woordeboek – naslaanwerk met 'n alfabetiese lys van woorde of terme en inligting daaromtrent – nie met die ingesteldheid van 'n ensiklopedie verwar word nie.

Brockhaus Lexikon
Die bekende Duitse Brockhaus Konversationslexikon uit die jaar 1902

Klassifikasie

Daar is verskeie soorte ensiklopedieë:

  • Algemene ensiklopedieë, soos byvoorbeeld die bekende "Encyclopædia Britannica", wat artikels oor onderwerpe in 'n wye verskeidenheid vakgebiede bevat.
  • Gespesialiseerde ensiklopedieë wat alleen artikels oor sekere vakgebiede bevat, byvoorbeeld mediese ensiklopedieë.
Encyclopedie de D'Alembert et Diderot - Premiere Page - ENC 1-NA5
Die Franse Encyclopédie van 1751

In die klassieke Griekse oudheid is kennis gewoonlik mondeling oorgedra; die interdissiplinêre kennis of enkyklios paideia wat as belangrik vir die onderwys van jong mense beskou is, het kunste en wetenskappe ingesluit.

Die eerste bekende stelselmatige versameling van kennis is in die Romeinse Ryk saamgestel – die geleerde Marcius Terentius Varro, 'n tydgenoot van Marcus Tullius Cicero, het in sy Disciplinarum libri IX vir die eerste verskillende leerstellings en spekulatiewe teorieë uit vakgebiede soos retoriek, grammatika, musiek, geneeskunde, geometrie en sterrekunde in een werk saamgevat.

Hierdie stelselmatige versameling van kennis het later die aanleiding gegee tot die Sewe Vrye Kunste of Artes liberales, 'n kanon van kennis wat onder meer op inisiatief van die kerkvader Augustinus saamgestel is.

Die eerste naslaanwerk of ensiklopedie in die moderne sin was die 37 boekdele van Plinius die Ouere (23-79 n.C.) se Naturalis Historiae. Die werk is uit duisende Griekse en Romeinse natuurkundige bronne saamgestel en verteenwoordig 'n volledige versameling van die destydse wetenskaplike kennis wat volgens vakgebiede soos biografie en geografie gekategoriseer is. Die werk het tot in die 19de eeu die basis van die natuurwetenskappe gevorm, alhoewel Plinius ook spekulatiewe verhale soos dié oor Skitiese kannibale as wetenskaplike kennis beskou het.

Een van die laaste ensiklopedieë, wat die wetenskaplike kennis in kategorieë onderverdeel het, was Francis Bacon se Instauratio magna (omstreeks 1620). Bacon het 'n poging onderneem om die tradisionele Vrye Kunste op 'n nuwe moderne manier te kategoriseer. Vanaf die tweede helfte van die 17de eeu was ensiklopedieë alfabeties van aard.

Die 18de en 19de eeu was die klassieke ensiklopediese tydperk waarin nasionale en universele ensiklopedieë ontstaan het. Die Encyclopédie ou Dictionnaire raisonné des arts en métiers van Diderot, d'Alembert en ander, wat vanaf 1751 verskyn het, is in die gees van die Verligting geskryf en was baie neutraal ten opsigte van die feite wat aangebied is, maar was nogtans selektief by die keuse van sy materiaal en vol van kommentare. Die skrywers het die belangrikheid van die ambagte en wetenskappe beklemtoon en tegelykertyd skerp en ironiese of selfs blasfemiese kommentaar op irrasionele onderwerpe soos godsdienste gelewer. Die artikel oor kannibalisme het byvoorbeeld 'n verwysing na die Christelike eucharistie bevat.[1]

Later ensiklopedieë soos die Duitse Brockhaus-ensiklopedie, wat wêreldwyd as 'n voorbeeld vir 'n universele ensiklopedie beskou is, was eerder objektief en neutraal en daarop gemik om wetenskaplike kennis ook vir leke toeganklik te maak.

Groot ensiklopedieë

Antieke tydperk

  • Naturalis historia (Plinius)

Middeleeue

  • Suda (Bisantynse ensiklopedie uit die 11de eeu)
  • Speculum maius (Vincent de Beauvais)

Moderne ensiklopedieë

  • Novum organum scientiarum (1620, Francis Bacon)
  • Encyclopédie, ou Dictionnaire Raisonné des Sciences, des Arts et des Métiers (1751–1780, Denis Diderot en Jean le Rond d'Alembert, 35 boekdele)
  • Encyclopaedia Britannica (vanaf 1768)
  • Groot Sowjetse Ensiklopedie (vanaf 1926, 65 boekdele)
  • Enciclopedia Italiana (1929–1949, 36 boekdele)
  • Elektroniese ensiklopedieë

Wikipedia is in 2001 tot stand gebring deur Jimbo Wales as 'n vrye, elektroniese ensiklopedie. Dit beteken dat letterlik enigeen tot die databasis kan toetree en teks, beeld en klank daaraan toevoeg. Hierdie deelname is onderworpe aan die GNU/FDL-lisensie.

'n Riglyn en voorvereiste vir die skryf van bydraes, is die Wikipedia:Neutrale standpunt wat bydraers moet handhaaf. Hierdie begrip is grondliggend tot die oop en vrye proses van deelname wat Wikipedia uniek maak. Hierdie instelling staan reg teenoor die tradisionele uitgangspunt wat skryf en publisering van 'n gesaghebbende kennisbron, waarvoor 'n ensiklopedie hom ten doel stel, aanneemlik en gesaghebbend maak. Tradisioneel is 'n ensiklopedie saamgestel deur skrywers wat spesifiek vir daardie doel aangestel is. Die skrywers is gewoonlik akademies onderleg en 'n wetenskaplike grondslag word gevestig.

Die vryheid vir enigeen om deel te neem aan die uitbouing van Wikipedia, skep die geleentheid vir beide die leek en kundige om die forum van kennis te verbreed. Sodoende ontplooi 'n gesaghebbende kennisbron. Boonop ontleen bydraers oor en weer artikels by Wikipedia in ander tale (daar was in 2016 reeds meer as 290 erkende tale in Wikipedia gevestig) en publiseer dit in vertaalde vorm op die Wikipedia van daardie bydraer se voorkeur.

Die Wikipedia in al sy vertaalde weergawes vorm een elektroniese ensiklopedie met miljoene artikels en is wêreldwyd toeganklik.

Elektroniese ensiklopedieë

Wikipedia-logo-v2
Wikipedia is een van die eerste ensiklopedieë wat deur sy eie gebruikers saamgestel is.

Die hiërargie van die ensiklopedie en die ontwikkelingsgang daarvan is besonder aanpasbaar by 'n rekenaarmedium-gebaseerde formaat. Aanlyn (lewendige) formaat is in verskeie gevalle reeds toeganklik. Alle hoofstroom meervoudige onderwerp ensiklopedieë wat voorheen in gedrukte vorm uitgegee is, bied reeds sedert die einde van die 20ste eeu inligting in elektroniese formaat.

Publikasie via elektroniese media (tipies CD-ROM formaat) is kostevoordelig en is gebruiksdoelmatig. 'n Nuutjie is die media wat in tradisionele formaat nie moontlik is nie: nabootsing, klank en video. Skakels tussen begripsverwante onderwerpe is 'n betekenisvolle voordeel. Aanlynensiklopedieë, soos Wikipedia, bied ongekende dinamiese potensiaal: nuwe inligting word onmiddellik aangebied, bykans soos wat gebeure plaasvind, wat nie moontlik is met statieseformaatmedia nie, bv. rekenaarskyf of drukwerk.

'n Gedrukte ensiklopedie word dikwels opdateer met 'n jaarlikse aanvullende bundel in 'n poging om bywerkings van onlangse gebeure bekend te stel. Dit is natuurlik 'n gedeeltelike oplossing van die probleem met gedrukte media, maar die proses is moeisaam, selfs duur en word in effektiwiteit oortref met aanlynrekenaartoegang tot toonaangewende publikasies. Die ontwikkeling van rekenaarskyfopdatering (subskripsie) en interaksie of integrasie met bestaande inhoud op die gebruiker se rekenaarapparatuur, bied 'n oplossing wat geensins moontlik is met 'n ensiklopedie in gedrukte formaat nie.

Die inhoudsamestelling van tradisionele gedrukte ensiklopedieë geskied merendeels volgens 'n hiërargie, waar die onderwerp alfabeties georden word. Elektroniese formaat beskik egter oor 'n dinamika wat enige voorafopgestelde struktuur oorbodig maak.

Nieteenstaande hierdie nuttige eienskap van elektroniese ensiklopedieë is 'n organisatoriese onderwerpsindeling by die meeste ingestel, waarvolgens bv. onderwerpsgroepering te vinde is. CD-ROM en internet-gebaseerde ensiklopedieë bied ruimer soek- en navorsingsgeleenthede as die tradisionele bron. Soekfasiliteite volgens 'n sleutelwoord oortref enige gevorderde indeksering wat in gedrukte bronne beskikbaar is, en stel selfs verwysing na die soekwoord in kleiner of geringer artikels tot beskikking van die gebruiker.

Verwysings

  1. ORF (Oostenrykse Uitsaaikorporasie) – Gevaarlike kennis

Eksterne skakels

Afrikaanse Wikipedia

Die Afrikaanse Wikipedia is die Afrikaanse weergawe van die webgebaseerde vrye-inhoud-ensiklopedie Wikipedia ("vrye" verwys in hierdie geval na die kopielinkse lisensiëring van die projek). Die projek is op 16 November 2001 begin en dit was die 11de Wikipedia wat geskep is. Dit beskik tans oor ongeveer 84 810 artikels en is die 69ste grootste Wikipedia volgens die getal artikels. Benewens Suid-Afrika en Namibië word die Afrikaanse Wikipedia gebruik en in stand gehou deur gebruikers in Europa, Noord-Amerika en Oseanië.

Volgens Greenman se webjoernaal van Mei 2013 is die Afrikaanse Wikipedia wel die derde grootste Afrikataal-Wikipedia, maar is dit wat inhoud betref moontlik die beste. Daar is konstante aktiwiteit, groei en 'n gesonde gemeenskap.Die Afrikaanse Wikipedia het tans 256 853 bladsye, waarvan 84 812 artikels is. Dit het 114 734 geregistreerde gebruikers, waarvan 179 as aktief gereken word. Hierdie gebruikers het al 2 038 340 wysigings aangebring en 8 970 lêers opgelaai.

Die Wikipedia gebruik tans MediaWiki weergawe 1.34.0-wmf.23 (b2b9fbf).Beide die adresse af.wikipedia.org en wikipedia.co.za kan gebruik word om die Afrikaanse Wikipedia te besoek.

Aragonese Wikipedia

Die Aragonese Wikipedia is die Aragonese uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie. Dit het tans ongeveer 35 900 artikels en is die 98ste grootste Wikipedia.

Birmaanse Wikipedia

Die Birmaanse Wikipedia is die Birmaanse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie. Dit het tans ongeveer 44 900 artikels, en is die 94ste grootste Wikipedia.

Bulgaarse Wikipedia

Die Bulgaarse Wikipedia is die Bulgaarse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is op 6 Desember 2003 begin.

Dit het tans ongeveer 255 900 artikels, en is die 34ste grootste Wikipedia.

Encyclopedia of Life

Die Encyclopedia of Life (EoL) is ’n gratis aanlyn ensiklopedie wat probeer om al 1,9 miljoen lewende spesies wat aan die wetenskap bekend is, te dokumenteer. Dit word saamgestel uit bestaande databasisse en bydraes deur kenners en niekenners dwarsoor die wêreld.Dit wil ’n bywerkbare bladsy opstel vir elke spesie met video's, foto's, klankgrepe, grafika en teks.

Encyclopædia Britannica

Die Encyclopædia Britannica (Latyn vir "Britse Ensiklopedie") is 'n algemene Engelstalige ensiklopedie gepubliseer deur Encyclopædia Britannica, Inc., 'n private maatskappy. Artikels is gemik op geletterde volwassenes, en word geskryf deur ongeveer 100 voltydse redakteurs en meer as 4 000 spesialisbydraers. Dit word beskou as die mees deskundig-onderlegde ensiklopedie.Die Britannica is die oudste Engelstalige ensiklopedie wat steeds in druk is. Dit is vir die eerste keer gepubliseer tussen 1768 en 1771 in Edinburg, Skotland, en het toegeneem in gewildheid en omvang, sodat die derde uitgawe (1797) en aanhangsel daarvan (1801) twintig bande beslaan het. Die opgang in aansien het bygedra tot die werwing van toonaangewende bydraers, en die 9de uitgawe (1875–1889) en die 11de uitgawe (1911) was 'n baken in terme van geleerdheid en letterkundige styl. Beginnend by die 11de uitgawe, is die Britannica se artikels verkort en vereenvoudig ter wille van groter aanvaarding in die Noord-Amerikaanse mark. In 1933, het die Britannica die eerste ensiklopedie geword om "deurlopende hersiening" te aanvaar, waarvolgens die ensiklopedie onverpoos herdruk word, en elke artikel geskeduleerd opdateer word.Die mees onlangse uitgawe, die 15de, beskik oor 'n unieke drieledige samestelling: 'n 12-bundel Micropædia met kort artikels (meestal minder as 750 woorde), 'n 17-bundel Macropædia met langer artikels (twee tot 310 bladsye) en 'n enkelband Propædia wat 'n rangordelike raamwerk van kennis verskaf. Die Micropædia is gemik op vinnige naslaan van feite en as 'n gids tot die Macropædia; lesers word aangeraai om die Propædia-raamwerk te raadpleeg om die onderwerp se konteks te verstaan en sodoende meer spesifieke artikels na te spoor. Die grootte van die Britannica het vir 70 jaar min of meer konstant gebly, en bevat ongeveer 40 miljoen woorde en 'n halfmiljoen onderwerpe. Alhoewel dit sedert 1901 in die Verenigde State gepubliseer word, het die Britannica Britse spelwyse behou.Die Britannica het moeite ondervind om winsgewend te bly. Sekere artikels in vroeëre uitgawes is gekritiseer betreffende sorgvuldigheid, vooroordeel of ongekwalifiseerde bydraers. Die akkuraatheid van dele van die 15de uitgawe is eweneens onder verdenking geplaas, maar die bestuur van Britannica het teenargumente op die kritiek gelewer.

Ensiklopedie van Suidelike Afrika

Die Ensiklopedie van Suidelike Afrika is 'n beknopte ensiklopedie deur Eric Rosenthal wat fokus op inhoud oor suidelike Afrika. Die ensiklopedie is oorspronklik in Engels saamgestel, maar is deur J.H.L. (Jan) en E.M. (Elsa) Pretorius in Afrikaans vertaal. Die eerste uitgawe is in 1967 gepubliseer en het uit 'n enkele deel van 610 bladsye bestaan. Latere weergawes is in twee volumes gepubliseer: volume 1 met onderwerpe van A-L, en volume 2 bevat M-Z.

Volgens die voorwoord is dit die eerste ensiklopedie wat uitsluitlik aan hierdie subkontinent toegewy is. Dit sluit onderwerpe van Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe, Malawi, Botswana, Lesotho, eSwatini (Swaziland) en Mosambiek in.

Dit is 'n volledige vertaling van die Engelse Encyclopaedia of Southern Africa.

Esperanto Wikipedia

Die Esperanto Wikipedia is die Esperanto uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is in Desember 2001 begin.

Dit het tans 268 943 artikels.

Estniese Wikipedia

Die Estniese Wikipedia is die Estniese uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die Wikipedia is in 24 Julie 2002 begin.

Dit het tans 201 386 artikels en is die 43ste grootste Wikipedia.

Finse Wikipedia

Die Finse Wikipedia is die Finse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is laat in 2002 begin.

Dit het tans 468 809 artikels, die 22ste grootste wikipedia.

Hebreeuse Wikipedia

Die Hebreeuse Wikipedia is die Hebreeuse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is op 8 Julie 2003 begin.

Dit het tans 250 494 artikels.

Hongaarse Wikipedia

Die Hongaarse Wikipedia is die Hongaarse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is op 8 Julie 2003 begin.

Dit het tans 457 242 artikels, en is die 25ste grootste Wikipedia.

Poolse Wikipedia

Die Poolse weergawe van Wikipedia is die negende weergawe van Wikipedia en is op 26 September 2001 geskep. Die ensiklopedie het tans 1 360 600 artikels en is die 10de grootste Wikipedia, en die tweede grootste Slawiese Wikipedia.

Die Poolse Wikipedia begin eers as 'n onafhanklike projek onder die domein wiki.rozeta.com.pl. Op versoek van die Engelse Wikipediane word die webwerf op 12 Januarie 2002 by die internasionale Wikipedias gevoeg as pl.wikipedia.com en op 22 November 2002 as pl.wikipedia.org. Om domeinkaping te voorkom het die Poolse Wikipedia ook sy eie domein, www.wikipedia.pl wat 'n aanstuur is na pl.wikipedia.org.

Die woorde "Wikipedia, die vrye ensiklopedie" in Pools is: Wikipedia, wolna encyklopedia, wat uitgespreek word as /vʲikʲiˈpɛdʲa ˈvɔlna ɛntsɨklɔˈpɛdʲa/.

Serwiese Wikipedia

Die Serwiese Wikipedia is die Serwiese uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is op 16 Februarie 2003 begin.

Dit het tans 624 564 artikels.

Slowaakse Wikipedia

Die Slowaakse Wikipedia is die Slowaakse uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie.

Die wikipedia is in Oktober 2003 begin.

Dit het tans 231 137 artikels en is die 38ste grootste Wikipedia.

Standard Encyclopaedia of Southern Africa

Die Standard Encyclopaedia of Southern Africa (SESA) is ’n ensiklopedie in 12 dele van sowat 640 bladsye elk wat van 1970 tot 1976 uitgegee is deur Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou) Bpk., ’n filiaal van die Nasionale Pers. Dit is die grootste privaat publikasie wat tot dusver in Suid-Afrika aangepak is maar, ondanks die hoë lof wat die projek ontvang het, het talle stelle van die eerste en enigste oplaag van 6 500 nie verkoop nie. Weens geldelike oorwegings en die louwarm verkope het die beplande Afrikaanse stel nooit verskyn nie. Die twaalfde deel bevat, buiten die indeks, artikels oor gebeure wat plaasgevind het nadat die voorafgaande elf dele gedruk is en ook oor mense wat gesterf het in die tussentyd. Dis die omvangrykste ensiklopedie wat tot dusver oor Suider-Afrika verskyn het en bly selfs 30 jaar nadat dit gepubliseer is, 'n vertroude, gesaghebbende naslaanbron.

SESA is 'n streeksensiklopedie oor Suider-Afrika waarin die klem val op Suid-Afrika en sy buurstate. Mense oor wie afsonderlike biografiese artikels ingesluit is, was almal reeds oorlede voor hulle insluiting. Die ensiklopedie het 'n breë omskrywing van noemenswaardigheid gevolg en bevat biografieë van mense wat 'n genoegsame indruk op hul tydgenote gemaak het, om blywend onthou te word. Die werk is die gevolg van noue samewerking tussen die redakteurs en meer as duisend medewerkers, van wie sommige slegs een artikel geskryf het en ander honderde.

Viëtnamese Wikipedia

Die Viëtnamese Wikipedia is die Viëtnamese uitgawe van Wikipedia, 'n gratis aanlyn ensiklopedie. Die wikipedia is in November 2002 begin.

Dit het tans 1 236 350 artikels wat dit die 12de grootste Wikipedia maak.

Wikipedia

Wikipedia is 'n veeltalige "kopielinkse" ensiklopedie ontwerp om deur enigiemand gelees, verbeter en uitgebrei te word. Dit berus op samewerkende verandering en onderhoud deur duisende gebruikers deur middel van wiki-sagteware, en word verskaf en ondersteun deur die nie-winsgewende Wikimedia Stigting. Waarnemers beskou die tweeledige bestuur, waarin 'n informele gemeenskap van aktiewe gebruikers die gesag oor 'n globale digitale projek met 'n stigting deel en sodoende formele met informele organisasiestrukture verbind word, as 'n eksperiment wat steeds aan die gang is.Afgesien van tipiese ensiklopedie-inskrywings sluit Wikipedia ook inligting in wat meer algemeen verbind word met almanakke, aardrykskundige woordeboeke en spesialis-tydskrifte, asook dekking van huidige gebeure.

Daar bestaan tans Wikipedia weergawes in 190 tale en daar is ongeveer 114 000 aktiewe gebruikers (meer as 27 miljoen geregistreerde gebruikers) wat saamwerk aan die Engelse uitgawe van Wikipedia, wat dit moontlik gemaak het om die ensiklopedie in minder as vier jaar te laat groei tot die wêreld se grootste ensiklopedie, tans met meer as vyfmiljoen artikels (wat steeds groei teen 'n tempo van duisende per dag). As die weergawes in al die tale bymekaar getel word, bevat Wikipedia byna 38 miljoen artikels.

Wikipedia is een van die gewildste verwysingswerwe op die Web, met ongeveer 80 miljoen besoeke per dag. Wikipedia ontvang lof vanweë die feit dat dit vrylik toeganklik is en 'n wye reeks onderwerpe in diepte dek. Dit is al gekritiseer vir die potensiaal wat dit het om onakkurate inligting te bevat, die gebrek aan gesaghebbendheid teenoor 'n tradisionele ensiklopedie, vir 'n sistematiese vooroordeel en vir gebreke in die meer tradisionele ensiklopediese onderwerpe. Vandalisme is 'n gereelde probleem, hoewel dit oor die algemeen vinnig opgemerk en artikels maklik en gou herstel word.

Wêreldspektrum

Wêreldspektrum is 'n Afrikaanse ensiklopedie met 30 boekdele wat in 1983 deur Ensiklopedie Afrikana (Edms) Bpk uitgegee is. Die ensiklopedie is alfabeties volgens onderwerp gerangskik, met die laaste boek, deel 30, wat die indeks bevat. Feitlik 50% van die ruimte is aan volkleur beelde en illustrasies gewy. Naas die hoofensiklopedie is daar ook 'n Junior wêreldspektrum, Wêreldspektrum Woordeboek (2 dele), Wêreldspektrum Woordeskat (3 dele) en verskeie jaarboeke (1985 tot 1996) gepubliseer.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.