Emosie

'n Emosie kan beskryf word as 'n innerlike belewenis of gevoel van byvoorbeeld vreugde, angs, boosheid of verdriet wat spontaan te voorskyn kan kom of deur 'n bepaalde situasie opgewek kan word. Emosies gaan egter nie net met subjektiewe gevoelens gepaard nie, maar ook met liggaamlike reaksies en bepaalde gedrag. In 'n biologiese sin kan mens 'n emosie ook definieer as 'n reaksie van ons brein op 'n gemoedsprikkel. Dié kom sowel by mense as diere feitlik outomaties in 'n bepaalde gedragspatroon tot uiting (byvoorbeeld om op die vlug te slaan of toenadering te soek) asook in fisiologiese reaksies. Die gevoel kan dan beskou word as 'n spesiale uiting of vorm van emosie wat tipies is vir mense, naamlik die bewuste belewenis of geestesrefleksie van 'n emosie.

Emosie is enige bewuste ervaring wat deur intensiewe breinaktiwiteit en 'n bepaalde graad van genot of misnoeë gekarakteriseer word. Wetenskaplike diskoers skep ander betekenisse en daar is geen konsensus oor 'n definisie vir emosie nie. Emosie word dikwels met bui, temperament, persoonlikheid, gesindheid en motivering vervleg. Volgens sommige teorieë is kognisie of kennis 'n belangrike aspek van emosie. Wanneer mense primêr emosioneel optree lyk dit dalk asof hulle nie dink nie, maar verstandelike prosesse is steeds noodsaaklik, veral in die interpretasie van gebeure. Byvoorbeeld, die besef dat jy jouself in 'n gevaarlike situasie bevind en die gevolglike opwekking van jou liggaam se senuweestelsel (vinnige hartklop en vlak asemhaling, sweet, gespanne spiere) is integraal tot die ervaring van vrees. Ander teorieë beweer egter dat emosie apart van kognisie is en dat emosie kognisie voorafgaan. Deur 'n emosie bewustelik te ervaar, word 'n kognitiewe verteenwoordiging van daardie emosie vanuit 'n vroeëre of hipotetiese ervaring blootgelê, wat weer na 'n toestand van genot of misnoeë terugverwys.

Emosies is ingewikkeld. Volgens party teorieë lei emosies tot fisiese en sielkundige veranderinge wat ons gedrag beïnvloed. Die fisiologie van emosies hou nou verband met die opwekking van die senuweestelsel. Ekstroverte mense is meer sosiaal en druk hul emosies beter uit, terwyl introverte mense hul emosies versteek. Emosies is dikwels die dryfkrag agter motivering, of dit nou positief of negatief is.

Emosies bestaan uit verskillende komponente, soos subjektiewe ervaring, sielkundige en fisiologiese veranderinge, en instrumentale gedrag. Die verskillende komponente van emosies wort verskillende gekategoriseer, afhangend van die akademiese dissipline ter sprake. In sielkunde en filosofie sluit emosies tipies ʼn subjektiewe, bewuste ervaring in wat primêr deur sielkundige en fisiologiese uitdrukkings, biologiese reaksies en geestestoestande gekarakteriseer word. ʼn Soortgelyke multi-komponent beskrywing van emosies word in sosiologie gevind. Volgens Peggy Thoits behels emosies byvoorbeeld fisiologiese komponente, kulturele of emosionele etikette (woede, verras wees ens.), betekenisvolle liggaamlike aksies en die beoordeling van situasies en kontekste.

Navorsing oor emosie het oor die afgelope twee dekades aansienlik toegeneem met talle velde wat bydraes lewer, insluitende sielkunde, neurologie, endokrinologie, mediese wetenskap, geskiedenis, sosiologie en rekenaarwetenskap. Die talle teorieë wat die ontstaan, neurobiologie, ervaring en funksie van emosies probeer omskryf het tot meer intensiewe navorsing op dié gebied gelei. Huidige navorsingsareas oor die konsep van emosie sluit in die ontwikkeling van materiale wat emosie stimuleer en ontlok.

Emosies kan gedefinieer word as ʼn positiewe en negatiewe ervaring wat met ʼn bepaalde patroon of sielkundige aktiwiteit verband hou. Emosies lei tot verskillende sielkundige, gedrags- en kognitiewe veranderinge. Die oorspronklike rol van emosies was om aanpasbare gedrag aan te moedig wat in die verlede tot die oorlewing van die mensdom sou bydra. Emosies is reaksies op belangrike interne en eksterne gebeure.

Bipolar Dyptych 1 365
Persoon wat verskillende emosies toon.

Etimologie, definisies, geskiedenis en onderskeiding

Die woord “emosie” dateer uit 1579, aangepas uit die Franse woord émouvoir, wat “om opskudding te veroorsaak” beteken. Die begrip ‘emosie’ is in akademiese gesprekke ingevoer as ʼn oorkoepelende term vir passie, sentimentaliteit en toegeneentheid. Die woord ‘emosie’ is die in vroeë 1800’s deur Thomas Brown verdig, terwyl die moderne konsep van emosie om en by die 1830’s na vore getree het.

Volgens een woordeboek dateer die vroegste voorgangers van die woord waarskynlik terug na die oorsprong van taal. Die moderne woord ‘emosie’ is heterogeen. Soms verwys dit na intensiewe gevoelens wat op iets of iemand gemik is. Aan die ander kant kan ‘emosie’ gebruik word om na matige toestande te verwys (soos geïrriteerd of tevrede) en na toestande wat nie op enige iets gemik is nie (soos angs en depressie). Een navorsingslyn bestudeer die betekenis van die woord ‘emosie’ in alledaagse taal en dié gebruik verskil heelwat van die akademiese diskoers daaroor. Nog navorsing fokus op ander tale as Engels en een interessante bevinding is dat daar ʼn soortgelyke, maar nie identies nie, term in talle tale voorkom.

Emosies is al deur sommige teoretici beskryf as diskrete en bestendige reaksies tot interne en eksterne gebeure waarin die organisme ʼn bepaalde belang het. Emosies is kortstondig en bestaan uit ʼn gekoördineerde stel reaksies, wat verbale, fisiologiese, gedrags- en neurale meganismes insluit. Psigoterapeut Micheal C. Graham sê alle emosies bestaan op ʼn kontinuum van intensiteit. So kan vrees wissel van matige besorgdheid tot angs en verskrikking, of skaamte kan wissel van klein verleentheid tot toksiese skaamte. Emosies is ook al as biologies oorerflik en as gevolg van evolusie beskryf. Buie is gevoelens wat minder intensief as emosies is en waar kontekstuele stimuli dikwels ontbreek.

Emosies kan van ʼn aantal soortgelyke konstrukte op die gebied van affektiewe neurowetenskap onderskei word: • Gevoelens word beskryf as ʼn subjektiewe uitbeelding van emosies, eie aan die individu wat dit ervaar. • Buie is onreëlmatige affektiewe toestande wat in die algemeen heelwat langer as emosies duur en gewoonlik ook minder intens as emosies is. • Aandoening (affect) is ʼn omvattende term wat gebruik word om emosies, gevoelens en buie saam te beskryf, hoewel dit algemeen verwisselend met emosie gebruik word.

Eksterne skakels

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.