Ekonomie

Ekonomie is die sosiale wetenskap wat die produksie en verbruik van meetbare middele bestudeer. Dit behels die analise van die produksie, verspreiding en verbruik van goedere en dienste. Volkshuishouding is 'n verouderde term vir ekonomie.

Ekonomie word "positief" genoem wanneer dit poog om die gevolge van verskillende keuses aan die hand van 'n stel aannames te verduidelik en "normatief" wanneer dit 'n sekere aksie voorskryf.

Die onderwerp word breedweg verdeel in twee hoof vertakkings: mikro-ekonomie, wat gemoeid is met indiwiduele instansies, soos huishoudings en ondernemings, en makro-ekonomie, wat die ekonomie as 'n geheel beskou (insluitende inflasie, werkloosheid, industriële produksie en die rol van die regering). Aangeleenthede wat spesifiek aandag in ekonomie geniet is hulpbrontoedeling, produksie, verspreiding, handel en mededinging. Ekonomie kan in beginsel (en word toenemend) aangewend word om probleme wat keuses onder toestande van skaarsheid behels, of met die bepaling van waarde.

Market-Chichicastenango
Kopers bie vir goeie pryse, terwyl verkopers hulle beste voet voorsit in 'n mark in Chichicastenango, Guatemala.

Geskiedenis

Ekonomiese aktiwiteite vind al duisende jare lank plaas en handel was reeds in antieke beskawings en vir antieke volke belangrik. Die eerste skrifstelsel van die wêreld het waarskynlik in Mesopotamië ontstaan om rekord te hou van al die handelstransaksies wat plaasgevind het. Wêreldryke (van die bekende wêreld van daardie tyd) soos die Romeinse Ryk se invloed het wyd gestrek en het vrye beweging van mense en goedere gestimuleer, wat verdere uitbreiding van handel meegebring het. Mettertyd het die lande in Europa se eie bruikbare hulpbronne min begin raak en het hulle elders na addisionele hulpbronne begin soek. Eers is daar handel gedryf met lande wat ander of addisionele hulpbronne nodig gehad het, maar toe is daar besluit dat dit baie goedkoper sou wees om eerder sulke lande te koloniseer. Slegs twee lande in Afrika - Ethiopië en Liberië - het kolonisasie vrygespring. Die res is almal deur 'n vreemde moondheid gekoloniseer en in die proses van hul hulpbronne gestroop.

Daar word dikwels na Europese lande se motivering om ander lande te koloniseer verwys as die drie G's: godsdiens, goud en gierigheid. Die hoofmotivering was om goud en ander minerale, edelstene en ook produkte soos speserye, tabak en tee te vind en vir die moederlande te verbou. 'n Bymotief was om die kolonies se bevolkings te kersten en op te voed, soos blyk uit die talle sendingstasies en sendingskole wat daar gevestig is. Europese lande meen dat kolonisasie ook vir die geokkupeerde lande voordele ingehou het en wys op die infrastruktuur, mynboubedrywighede en nywerhede wat gevestig is, die landboubedrywighede wat begin is en die tegnologie, kundigheid en opleiding wat die produkte was van hul okkupasie.

Studievelde in die ekonomie

Ekonomie word gewoonlik verdeel in twee hoof vertakkinge:

  • Mikro-ekonomie, wat die ekonomiese gedrag van indiwiduele rolspelers soos besighede, huishoudings en indiwidue bestudeer, met die oog om die besluitneming te midde van skaarsheid te verstaan asook die gevolge van sodanige besluite.
  • Makro-ekonomie, bestudeer die ekonomie as 'n geheel met die doel om die wisselwerking tussen ekonomiese maatstawwe te verstaan soos onder andere nasionale inkomste, werksgeleenthede en inflasie.

Pogings om hierdie twee vertakkinge saam te versmelt of om die onderskeid tussen hulle te weerlê is belangrike motiverings in heelwat onlangse ekonomiese gedagtes, veral in die laat 1970's en vroeë 1980's. Vandag bestaan eenstemmigheid oor die standpunt dat goeie makro-ekonomie 'n sterk mikro-ekonomiese grondslag moet hê; dit wil sê die uitgangspunte moet 'n teoretiese en bewese ondersteuning in mikro-ekonomie geniet.

Ekonomie kan ook verder onderverdeel word wat nie altyd netjies inskakel by die makro/mikro verdeling nie. By hierdie ondervertakkinge word ingesluit: internasionale ekonomie, arbeidsekonomie, welsynsekonomie, hulpbronekonomie, omgewingsekonomie, bestuursekonomie, finansiële ekonomie, stedelike ekonomie en ekonomiese aardrykskunde.

Daar bestaan ook metodologieë wat deur ekonome gebruik word waarvan die onderliggende teorieë baie belangrik is.

  • Die mees betekenisvolle voorbeeld hiervan mag dalk ekonometrie wees, wat statistiese tegnieke gebruik om ekonomiese data te bestudeer. Ekonometriese tegnieke word ook aangewend om vooruitskattings van makro-ekonomiese groothede te bepaal. Berekeningsekonomie is afhanklik van wiskundige metodes wat ekonometrie dan insluit.
  • 'n Ander meer onlangse tendens en nader verwant aan mikro-ekonomie, is om sosiale sielkundige begrippe (gedragsekonomie) en metodes (eksperimentele ekonomie) te gebruik in die studie van ekonomie.

Ander onderverdelings is ook moontlik. Finansies is tradisioneel as deel van ekonomie beskou– aangesien die inhoud en die resultate daarvan natuurlik uit mikro-ekonomie spruit – die vakgebied is egter effektief as 'n onafhanklik dog verwante dissipline gevestig.

Daar bestaan 'n toenemende tendens om idees en metodes van ekonomie in 'n wyer konteks toe te pas. Aangesien ekonomiese analise op besluitneming fokus, kan dit toegepas word (met wisselvallige resultate) op ander velde waar mense alternatiewe moet oorweeg – opvoeding, huwelik, gesondheid ens.

Die velde wat ondersoek word in Ekonomie oorvleuel dus dikwels met ander sosiale wetenskappe insluitend politieke wetenskap en sosiologie. Sien politiese ekonomie vir die studie van ekonomie in die politieke konteks. Die oorheersende politiese ekonomie word losweg kapitalisme genoem.

Ekonomiese aannames

Vraag en aanbod

Supply-demand-P
Die vraag en aanbod model beskryf hoe pryse varieer as gevolg van die balans tussen produk beskikbaarheid en die vraag daarna. Die grafiek beeld 'n toename in vraag vanaf D1 tot D2 met die gevolglike toename in prys en hoeveelheid benodig om 'n nuwe ewewigspunt op die aanbodkurwe (S) te bereik.

In mikro-ekonomiese teorie poog vraag en aanbod om die prys en hoeveelheid goedere wat in kompeterende markte verkoop word te beskryf, verduidelik en te voorspel. Dit is een van die mees fundamentele ekonomiese modelle, wat oraloor gebruik word as 'n basiese bousteen tot 'n wye reeks meer gedetailleerde ekonomiese modelle en teorieë.

Die teorie beweer oor die algemeen dat waar goedere in 'n mark verhandel word teen 'n prys waar verbruikers meer goedere aanvra as wat die ondernemings bereid is om te verskaf, die tekort sal neig om die prys van die goedere op te stoot. Die verbruikers wat bereid is om meer te betaal sal die markprys hoër bie. Teenoorgesteld sal die pryse geneig wees om te val as die hoeveelheid goedere wat aangebied word die vraag daarna oorskry. Hierdie prys/hoeveelheid aanpassingsmeganisme veroorsaak dat die mark 'n ewewigspunt nader, 'n punt waar daar nie meer enige druk vir verandering bestaan nie. Hierdie teoretiese punt van stabiliteit word gedefinieer as die punt waar produsente bereid is om presies dieselfde hoeveelheid goedere te verskaf as wat die verbruikers wil koop.

Die teorie van vraag en aanbod is belangrik in die werking van 'n markgerigte ekonomie in soverre dit die meganisme verduidelik aan die hand waarvan besluite oor hulpbron toewysings gemaak word.

Prys

Ten einde die eb en vloed van vraag en aanbod te meet is 'n meetbare waarde nodig. Die oudste en mees algemeen gebruikte is Prys, of dan die heersende ruilkoers tussen kopers en verkopers in 'n mark. Prysteorie volg die beweging van meetbare hoeveelhede oor tyd na asook die verwantskap tussen prys en ander meetbare hoeveelhede. In Adam Smith se Wealth of Nations is daar verwys na die kompromis tussen prys en gerief. Ekonomiese teorie is tot 'n groot mate gebaseer op die prys en die vraag en aanbod teorie. In ekonomiese teorie vind die mees effektiewe kommunikasie plaas wanneer veranderinge in die ekonomie plaasvind deur middel van prys, waar 'n ooraanbod lei tot laer pryse en 'n te hoë vraag lei tot hoër pryse.

In baie praktiese ekonomiese modelle, word 'n mate van "prysvastheid" by die model ingesluit om voorsiening te maak vir die waarneembare feit dat in baie markte pryse nie vloeibaar is nie. Ekonomiese beleid wentel dikwels rondom argumente oor wat die "ekonomiese wrywing" of prysvastheid veroorsaak, wat op sy beurt die ewewig tussen vraag en aanbod verhoed.

'n Ander omstrede ekonomiese aangeleentheid is of waarde korrek deur prys gemeet word aldan nie. In hoofstroom markgerigte ekonomie, waar daar beduidende tekorte bestaan wat nie in prys vervat is nie word daar gesê dat daar 'n eksternalisasie van koste bestaan. Markgerigte ekonomie voorspel dat skaars goedere wat te laag geprys is oorverbruik word (Sien sosiale koste). Hierdie begrip lei tot die openbare goedere teorie.

Skaarsheid

Omdat skaarsheid en besluitneming sentrale begrippe is in ekonomiese teorie, is die vraag oor watter die basiese kompromieë is, van kardinale belang. In elke ekonomiese teorie vind daar 'n basiese uitruiling van twee of meer skaars goedere plaas. Adam Smith het dit gedefinieer as die ruil van tyd of gerief vir geld. 'n Persoon kan byvoorbeeld naby 'n dorp bly en meer betaal vir sy huis of verder weg bly en minder betaal maar die met "ongerief betaal" vir die verskil.

NYSE-floor
Handelstransaksies op die vloer van die New York Aandelebeurs behels altyd onderhandelinge van aangesig tot aangesig. Daar is een podium op die vloer vir elkeen van die beurs se ongeveer drieduisend aandele.

Die uitgangspunt dat die primêre kompromie in ekonomie tussen tyd en geld is, het verskeie opponente. Elkeen hiervan baseer hulle standpunt oor skaarsheid op verskillende fundamentele kompromieë. 'n Klein aantal ekonome verkies om ekonomie te definieer as die studie van hoe en waarom mense handel dryf; hierdie definisie impliseer egter relatiewe skaarsheid.

Marginalisme

In marginalistiese ekonomiese teorie word die prysvlakke bepaal deur die marginale koste en marginale gebruikswaarde. Die prys van alle goedere sal die koste wees van die maak van die laaste een wat mense nog sal koop, die prys van alle werkers in 'n onderneming sal die koste wees van die laaste een wat die onderneming benodig. Marginalisme ondersoek besluite gebaseer op die grense, wat die koste van produksie van die volgende eenheid is teenoor hoeveel wins dit sal lewer. Wanneer marginale opbrengs op 'n aksie nul bereik, sal die aksie stopgesit word. Marginale gebruikswaarde is die hoeveelheid genieting of nut 'n indiwidu put uit 'n aankoop van 'n item teenoor die aankoop van een minder daarvan. Marginale beloning is dikwels onderhewig aan verminderende opbrengste, die verkryging van 'n verlaagde beloning uit meer produksie of verbruik – die tiende lekkertjie smaak nie so lekker soos die eerste nie en bring dus 'n verminderde marginale gebruikswaarde mee.

Marginalisme het toenemend belangrikheid in ekonomiese teorie verkry in die laat 19de eeu en is 'n tegniek wat gebruik word om te analiseer hoe ekonomiese stelsels sal reageer. Marginale koste van produksie verdeel die kostes in vaste kostes wat betaal moet word onafhanklik van hoeveel goedere geproduseer word, en veranderlike kostes. Die marginale koste is die veranderlike koste van die laaste eenheid plus die persentasie van die vaste koste. Marginalisme veronderstel dat wanneer die wins uit van die volgende eenheid nul bereik, dat die eenheid nie geproduseer sal word nie.

Bekende persone in die ekonomie

Neuroekonomie:

  • Paul J. Zak
  • Ernst Fehr
  • Daniel Kahneman
  • Vernon L. Smith

Waarde

Daar kan beweer word dat onderliggend tot ekonomiese teorie daar 'n teorie oor waarde moet wees. Waarde kan gedefinieer word as die onderliggende aktiwiteite wat ekonomie meet en beskryf.

Us-gold-certificate-1922
Verteenwoordigde geld soos hierdie 1922 VSA $100 goudnoot kon deur die draer vir goud omgeruil word

Adam Smith het arbeid as die onderliggende bron van waarde gedefinieer en die arbeidsteorie van waarde vorm die grondslag van Karl Marx , David Ricardo en vele ander klassieke ekonome se werk. Die arbeidsteorie van waarde voer aan dat goedere of dienste se waarde gemeet kan word aan die arbeid wat dit neem om dit te vervaardig. Hierdie waarde bepaal dan die kommoditeitsprys. Die arbeidsteorie van prys en die naverwante koste-van-produksie teorie van waarde oorheers die werk van die meerderheid klassieke ekonome, maar dit is by verre nie die enigste aanvaarde basis vir waardebepaling nie. Die neo-klassieke ekonome en die Oostenrykse leerskool ekonome verkies die marginale teorie van waarde.

Markteorie beweer weer dat daar nie 'n waarde anders as prys is nie, dat die mark al die beskikbare inligting in prys vervat, en solank as wat die markte oop bly sal die prys en waarde dieselfde wees. Hierdie teorie berus op die begrip van die rasionele ekonomiese speler.

'n Ander stel teorieë berus op die begrip dat daar 'n basiese eksterne skaarsheid bestaan en dat waarde die verwantskap tot daardie basiese skaarsheid verteenwoordig. Teorieë gebaseer op ekonomie wat beperk word deur die beskikbaarheid van energie of 'n goudstandaard val in hierdie kategorie.

Al hierdie teorieë maak deel uit van hedendaagse ekonomiese studies.

Ekonomiese taal en redenasies

Ekonomie maak staat op nougesette redenasiestyle, meer as enige ander sosiale wetenskap. Ekonomiese metodologie het verskeie wisselwerkende onderverdelings;

  • Die versameling van ekonomiese data. Hierdie data bestaan uit meetbare waardes van prys en veranderinge in pryse van meetbare goedere. Byvoorbeeld: die koste om 'n werker vir 'n week te huur of die koste van spesifieke goedere en hoeveel daarvan verbruik word.
  • Formulering van modelle van ekonomiese verwantskappe, byvoorbeeld, die verwantskap tussen algemene prysvlakke en die algemene indiensnemingsvlakke. Dit sluit waarneembare vorme van ekonomiese aktiwiteite in: geld, verbruik, voorkeure, koop, verkoop, pryse ens. Sommige modelle is eenvoudige rekeningkundige modelle, terwyl ander veronderstellings maak rondom spesifieke tipe ekonomiese gedrag, soos bv. Die maksimering van gebruikswaarde of van wins. 'n Voorbeeld van 'n model wat beide die aspekte illustreer is die klassieke wiskundige formulering van die Keynesiese stelsel wat die verbruiksfunksie en die nasionale inkomste gelykheid insluit. In hierdie artikel word na sulke modelle as formele modelle verwys al is hulle nie formeel in die sin van formele logika nie.
  • Skep van Ekonomiese statistiek. Die data wat versamel is word in die model ingevoer om 'n verteenwoordiging van die ekonomiese aktiwiteit te skep. Byvoorbeeld: die algemene prysvlak is 'n teoretiese idee algemeen in makro-ekonomiese modelle. Die voorspelling van 'n spesifieke inflasiekoers behels die neem van meetbare pryse en 'n model van mense se verbruiksgewoontes om sodoende 'n algemene prysvlak te bepaal vanuit die beskikbare inligting in die model. Veronderstel byvoorbeeld dat petrol 4 Rand 'n liter kos: om die prysvlak te bereken sal 'n model vereis van hoeveel petrol die gemiddelde persoon verbruik en hoeveel van sy inkomste daarvoor opsygesit word —maar dit vereis ook 'n model van hoe mense petrol verbruik en watter ander goedere/dienste plaasvervangers daarvoor is.
  • Beredenering vanuit die ekonomiese modelle. Die proses van beredenering (sien die artikels oor informele logika, logiese beredenering) kan soms gevorderde wiskunde insluit. Byvoorbeeld, 'n gevestigde tradisie onder ekonome is om ekonomiese veranderlikes aan die hand van twee-dimensionele grafieke te beredeneer, waar die kurwes wat die verwantskappe verteenwoordig tussen die asveranderlikes in verskeie indekse vervat word. Soos algemeen in wetenskap kan die gevolgtrekkings wat gemaak word deur die beredenering 'n voorspellende asook 'n bevestigende (of weerleggende) waarde hê. 'n voorbeeld van voorspellende waarde van ekonomiese teorie is die voorspelling van die uitwerking van huidige begrotingstekort op rentekoerse vir die volgende 10 jaar. 'n Voorbeeld van die bevestigende waarde van ekonomiese teorie sal die bevestiging (of weerlegging) van teorieë wees oor die verwantskap tussen marginale belastingkoerse en die begrotingstekort.

Formele modellering is gegrond op die algemene beginsels van konsekwentheid en volledigheid.

Die ontwikkeling van ekonomiese denke

Die begrip ekonomie is rondom 1870 gevorm en gewild gemaak deur neo-klassieke ekonome soos Alfred Marshall en het politiese ekonomie vervang. Die begrip politiese ekonomie is deurgaans gebruik in die 18-19de eeue deur denkers soos Adam Smith, David Ricardo en Karl Marx. Ekonomie word afgelei vanuit die Griekse woord oikos- wat huis of nedersetting beteken en nomos vir wette of norme.

Ekonomiese denkrigtings kan rofweg in drie fases verdeel word: Voormodern (Grieks, Romeins, Arabies), Vroeë modern en Modern (sedert Adam Smith in die laat 18de eeu). Sistematiese ekonomiese teorie is hoofsaaklik in die moderne tyd ontwikkel.

Denkrigtings van ekonomie

Daar was al verskeie wedywerende ekonomiese denkrigtings jeens kapitalisme van die laat 18de eeu tot op hede gewees. Belangrike denkrigtings is klassieke ekonomie, Marxistiese ekonomie, Keynesiese ekonomie, Neo-klassieke ekonomie en Nuwe klassieke ekonomie. Daar bestaan ook ander denkrigtings. Hierdie denkrigtings is oor verskeie jare ontwikkel, en verskil fundamenteel met mekaar.

Neo-klassieke ekonomie

Neo-klassieke ekonomie gaan van die veronderstelling uit dat hulpbronne skaars is en dat dit nodig is om te kies tussen wedywerende alternatiewe. Dit wil sê, ekonomie het te doen met kompromieë. Met skaarsheid behels die kies van 'n alternatief die opsegging van 'n ander alternatief – ook genoem die geleentheidskoste. Die geleentheidskoste skep 'n inbegrepe prysverwantskap tussen wedywerende alternatiewe. Verder word skaarsheid eksplisiet gekwantifiseer deur prysverwantskappe in beide die markgerigte en beplande ekonomieë.

Die verstaan van keuses wat deur indiwidue en groepe gemaak word is van kernbelang. Ekonome glo dat aansporings en begeertes 'n belangrike rol speel in besluitneming. Begrippe van die nuttigheidsleer filosofiese denkrigting word gebruik as analitiese begrippe in ekonomie, al verstaan ekonome dat die gemeenskap nie nuttigheidsleer doelwitte sal aanneem nie. Een voorbeeld hiervan is die idee van die gebruikswaardefunksie, wat aanvaar word as die wyse waarop indiwiduele ekonomiese spelers besluit wat hulle gelukkig maak en watter besluite hulle maak in die nastrewe van daardie geluk.

Sien ook

Eksterne skakels

Bruto binnelandse produk

'n Gebied se Bruto binnelandse produk of BBP, is een van die meganismes waarmee die grootte van die ekonomie daarvan gemeet kan word. Die BBP van 'n land word gedefinieer as die algehele markwaarde van al die finale goedere en dienste wat binne 'n land geproduseer word in 'n gegewe tydperk, gewoonlik 'n kalenderjaar. Dit word ook beskou as die som van waarde toegevoeg in elke produksiestadium van al die finale produkte en dienste wat oor 'n gegewe tydperk binne 'n land geproduseer word.

Die mees algemene benadering tot die meting en verduideliking van BBP is die uitgawe metode:

BBP = verbruik + bruto belegging + regeringsbesteding + uitvoere − invoere,"Bruto" beteken waardevermindering van kapitaalvoorraad word nie afgetrek nie. As bruto belegging deur netto belegging vervang word (wat bruto belegging minus waardevermindering is) in die bostaande vergelyking word die formule vir Netto binnelandse produk verkry. Verbruik en belegging in hierdie vergelyking is uitgawes op finale goedere en dienste. Die uitvoere minus invoere deel van die vergelyking (baie keer netto uitvoere genoem) pas dit dan aan deur die deel van besteding wat nie binnelands geproduseer word nie (die invoere) af te trek, en dan die binnelandse gedeelte (die uitvoere) terug te voeg.

Ekonome verkies om die verbruik gedeelte in twee dele te deel; private verbruik, en openbare sektor (of regerings-) besteding. Twee voordele van die benadering in teoretiese makro-ekonomie is:

Privaat verbruik is 'n sentrale aangeleentheid van welvaartekonomie. Die private belegging en handel gedeeltes van die ekonomie word uiteindelik (in hoofstroom ekonomiese modelle) bepaal deur stygings in lang-termyn privaatverbruik.

Wanneer dit van endogene privaatverbruik geskei word kan regeringsverbruik as eksogeen beskou word sodat verskillende openbare besteding vlakke sinvol binne 'n makro-ekonomiese raamwerk beskou kan word.

Gauteng

Gauteng is die provinsie van Suid-Afrika met die hoogste bevolkingskonsentrasie met 'n sterk handel- en nywerheidsontwikkeling. Die vernaamste stede is Pretoria en Johannesburg.

Gauteng is voorheen die PWV genoem (Pretoria-Witwatersrand-Vereeniging). Die naam Gauteng is 'n Sotho-woord wat "Plek van goud" beteken en is 'n ontlening aan Afrikaans "goud". Die provinsie het in Mei 1994 tot stand gekom toe die ou provinsie Transvaal in vier verskillende provinsies verdeel is.

Die provinsiale hoofstad Johannesburg is die grootste stad in Suid-Afrika. Pretoria, sowat 50 km noord van Johannesburg, is Suid-Afrika se administratiewe hoofstad. Nog belangrike plekke is Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Centurion (deel van Tshwane Metropool (Pretoria)), Germiston, Heidelberg, Kemptonpark, Krugersdorp, Midrand, Randburg, Roodepoort, Springs, Soweto (deel van Johannesburg), Vanderbijlpark en Vereeniging.

Griekeland

Griekeland (Grieks: Ελλάδα = Elláda), amptelik die Helleense Republiek (Ελληνική Δημοκρατία, Ellinikí Dimokratía), is 'n republiek in Suidoos-Europa, bestaande uit die suidelikste deel van die Balkanskiereiland en 'n groot aantal eilande. Hierdie eilande vorm saam ongeveer 'n vyfde van die totale landoppervlakte van Griekeland.

Griekeland word dikwels as 'n land van berge en die see beskryf. Geen plek is verder as 80 kilometer vanaf die kus geleë nie, en dit is langs die kuslyn waar die meeste groot nedersettings ontstaan het. Sowat 'n derde van die Griekse bevolking is in Groter Athene saamgetrek, 'n uitgestrekte metropolitaanse gebied wat uit die hoofstad en sy seehawe Piraeus bestaan. Ook Thessaloniki, die tweede grootste stad, is 'n belangrike seehawe vir sowel Noord-Griekeland asook die suidelike Balkanskiereiland. 'n Derde van die Griekse bevolking woon in kleiner landelike nedersettings.

Die natuurskoon van Griekeland kontrasteer met die swak grond wat landbouaktiwiteite beperk. Tradisioneel het baie Grieke 'n bestaan van vissery gemaak, en vis was al 'n belangrike stapelvoedsel vir die bewoners van antieke Griekse stadstate. Seevaart was ewe belangrik. In die bloeitydperk van klassieke Griekeland, vanaf 1000 v.C., het Griekse setlaars 'n groot aantal kolonies langs die kuste van die Middellandse See en die Swartsee gestig.

Vir 'n kort tydperk het die Makedoniese heerser Alexander die Grote in die 4de eeu v.C. selfs 'n Griekse ryk gestig wat vanuit die Donaurivier na die huidige Turkye en die Midde-Ooste en verder ooswaarts na die Indiese Indus-vallei gestrek het.

Daarnaas het die antieke Grieke belangrike bydraes tot die westerse filosofie, beeldhoukuns, argitektuur en literatuur gelewer. Die Griekse stadstate word as die bakermat van die westerse beskawing en sy demokratiese regeringstelsel beskou.

Israel

Israel, ook Israël (Hebreeus: יִשְׂרָאֵל‎‎ Yisrā'el; Arabies: إِسْرَائِيل‎‎ Isrāʼīl), amptelik die Staat Israel (Hebreeus: מְדִינַת יִשְׂרָאֵל‎‎ Medīnat Yisrā'el [mediˈnat jisʁaˈʔel] (); Arabies: دولة إِسْرَائِيل‎‎ Dawlat Isrāʼīl [dawlat ʔisraːˈʔiːl]), is 'n demokratiese republiek in die Midde-Ooste en antieke tuisland van die Jode. Dit oorvleuel gedeeltelik met Palestina, tuisland van die Palestyne. Israel word begrens deur Sirië en Libanon in die noorde, Jordanië in die ooste, Egipte in die suidweste en die Middellandse See in die weste.

Italië

Italië (Italiaans: Italia, [iˈtaːlja], ), amptelik die Italiaanse Republiek (Repubblica Italiana, [reˈpubblika itaˈljaːna]), is 'n land in Suid-Europa wat – naas die Povlakte in Noord-Italië – grotendeels uit die stewelvormige Appenyne-skiereiland sowel as twee ander groot eilande in die Middellandse See bestaan: Sisilië (Sicilia) en Sardinië (Sardegna). Daarbenewens behoort kleiner eilande in die Middellandse See soos Capri en Elba ook tot Italië. Die land het 'n gematigde Sentraal-Europese klimaat in die noorde en 'n Mediterreense in die suidelike landsdele.

Aan die noordekant word dit begrens deur die Alpe, en grens aan Frankryk in die noordweste, Switserland en Oostenryk in die noorde en Slowenië in die noordooste. Suid van die Italiaanse vasteland is die eilandnasie Malta geleë wat nie deel uitmaak van Italië nie.

Dikwels word Italië as 'n land van besondere skoonheid beskryf – met 'n veeldvuldigheid aan landskapsvorme. Die noorde van die land word deur die ruwe bergwêreld van die Alpe beslaan. Die hoogste bergpieke is in die Monte Rosa-massief langs die grens met Switserland en in die Mont Blanc-massief in die Frans-Italiaanse grensgebied geleë. Net suid van die westelike Alpe het gletsers diep valleie in die bergrotse gesny en 'n Alpynse landskap van mere geskep wat suidwaarts tot die Povallei en die Piemont strek.

Toskane, 'n historiese landskap in westelike Sentraal-Italië, is een van die belangrikste kultuurlandskappe van Europa met 'n ryk geskiedenis. As kernland van die Renaissance het dit kulturele invloed ver buite Italië se grense uitgeoefen. 'n Tweede groot bergreeks, die Appenyne, strek vanaf die die Sentraal-Alpe suidwaarts. In die omgewing van Rome strek oor byna die hele wydte van die Italiaanse stewel-skiereiland. Dit vernou in Suid-Italië waar twee wye kusvlaktes aan weerskante van die berge geleë is – een langs die Tirreense See, die ander langs die Adriatiese See.

Groot dele van die suidelike Appenyne het as byna ongerepte wildernis bewaar gebly. Hierdie landskap is die habitat van dierspesies wat elders in Europa nog nouliks aangetref word, soos wolwe en bere. Tektonies is die suidelike Appenyne-bergwêreld een van die mees onstabiele streke in Europa met aktiewe vulkane, waaronder die majestueuse Vesuvius wat 'n konstante bedreiging vir die miljoenestad Napels en eilande in die Golf van Napels inhou. Wes en suidwes van Italië is die land se twee grootste eilande geleë, Sardinië en Sisilië.

Vanaf die eerste 1ste eeu v.C. tot die 5de eeu was Italië in 'n enkele ryk verenig, die Romeinse Ryk. Italië se besonderse topografie het vervolgens oor eeue heen die politieke geskiedenis en geografie van die land bepaal. Die bou van paaie is deur ontoeganklike bergterrein belemmer sodat kommunikasie, handel en ander betrekkinge tussen die verskeie landsdele dikwels tot 'n minimum beperk was. In Italiaanse stede en streke is sodoende 'n sterk onafhanklike gees geskep. Stadstate soos Venesië en Genua het hulle liewer tot die see gewend om handel met ander Mediterreense gebiede te dryf. Elke streek het sy spesifieke dialek van Italiaans en sy eie kookkuns ontwikkel.

Nog in 1847 was die land in politieke opsig verdeel in agt onafhanklike state en kon die Oostenrykse staatsman en minister van buitelandse sake Klemens von Metternich sy beroemde en omstrede uitspraak doen waarvolgens Italië eintlik geen nasie was nie, maar net une expression géographique, 'n suiwer geografiese term, terwyl die Italiaanse skrywer Umberto Eco in 'n onderhoud met die Franse dagblad Le Monde taal as die band beskryf het wat die verskillende streke van Italië en hul bewoners saamsnoer.In teenstelling met byvoorbeeld Frankryk en Engeland, wat reeds vroeg in hul geskiedenis as eenheidstate gevestig is, en net soos Duitsland, is die verskillende landsdele van Italië eers betreklik laat met die 19de eeuse Risorgimento-beweging in 'n gemeenskaplike monargie verenig wat tussen 1861 en 1946 deur die Huis van Savoje geregeer is. Vinnige industrialisering het bygedra tot die land se nuut verworwe status as een van Europa se groot moondhede wat vanaf die 1880's 'n koloniale ryk in Noord- en Oos-Afrika gevestig het.

Groot verliese is in die Eerste Wêreldoorlog gely waarin Italië tussen 1915 en 1918 aan die kant van die geallieerdes teen die Duitse Keiserryk en Oostenryk-Hongarye geveg het. Alhoewel die staatsgebied met die insluiting van Suid-Tirol vergroot is, het sosiale en politieke onluste 'n klimaat geskep wat die weg gebaan het vir die magsoorname deur die fascistiese beweging onder Benito Mussolini in 1922. As bondgenoot van die Spilmoondhede – die Duitse Ryk en Japan – het Italië 'n verpletterende neerlaag gely. Koloniale besittings in Afrika het ná die oorlog verlore gegaan, terwyl 'n klein gebied in die noordooste aan Joego-Slawië afgestaan moes word. In Junie 1946 is die monargiese regeringstelsel in 'n referendum verwerp en die Republiek Italië geproklameer.

Italië is 'n stigterslid van die Europese Unie en die NAVO asook 'n lidland van die Verenigde Nasies. Dit maak deel uit van die Eurosone.

Kalifornië

Kalifornië (Engels en Spaans: California) is 'n deelstaat aan die suidelike weskus van die Verenigde State van Amerika (VSA). Dit is die grootste deelstaat ten opsigte van sy bevolking van sowat 39,3 miljoen (soos op 1 Januarie 2016) en die derde grootste ten opsigte van sy oppervlak (410 000 vierkante kilometer), na Alaska en Texas. Die staat grens in die ooste aan Nevada, in die noorde aan Oregon, en in die suidooste aan Arizona. Die Kaliforniese Kanaaleilande maak ook deel uit van die deelstaat.

Die gebied is deur stamme van die Eerste Nasies bewoon toe Europese ontdekkers die gebied in die 16de eeu geleidelik begin verken het. Die Spaanse navigeerder Juan Rodríguez Cabrillo was die eerste seevaarder wat in 1542 langs die Kaliforniese kus geseil het. Die eerste Spaanse sendingstasie in die gebied van die huidige San Diego is egter eers in 1769 gevestig. Dekades later het Kalifornië met die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog in 1821 die juk van kolonialisme afgeskud en deel van die Eerste Meksikaanse Keiserryk geword.

In die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog tussen 1846 en 1848 het die Meksikane 'n verpletterende neerlaag teen Amerikaanse magte gely. Volgens die Verdrag van Guadalupe Hidalgo is uitgestrekte gebiede in Noord-Meksiko aan die Verenigde State afgestaan. Kalifornië is reeds in 1847 aan Amerikaanse magte onder die bevel van John C. Frémont oorhandig. Op 24 Januarie 1848 het James W. Marshall naby Sutter's Mill goud ontdek. Gedurende die goudstormloop, wat hy ontketen het, het sowat 90 000 setlaars na die gebied gestroom. In 1850 het Kalifornië as 31ste deelstaat by die Verenigde State aangesluit.

Kalifornië was sedertdien een van die vernaamste bestemmings vir immigrante. In 1964 het Kalifornië New York verbygesteek om die mees bevolkte Amerikaanse deelstaat te word. In die 20ste en 21ste eeu het Kalifornië veral nuwe aankomelinge uit Asië, Meksiko en die Stille Oseaangebied ontvang.

Kalifornië het 'n hoogs-ontwikkelde ekonomie, en dit sou as 'n onafhanklike staat met sy bruto geografiese produk die sesde grootste ekonomie ter wêreld wees (die elfde grootste volgens koopkragpariteite). Met 'n bruto binnelandse produk (BBP) van 2,2 biljoen (2 200 miljard) € het die deelstaat in 2015 ondanks sy betreklik kleiner bevolking (39 miljoen) by die Europese Unie se tweede grootste ekonomie, Frankryk (met 'n BBP ter waarde van 2,12 biljoen € en 'n bevolking van 66 miljoen) verbygesteek. Die deelstaat se aandeel aan die VSA se BBP het in 2015 13,9 persent beloop.Kalifornië het meer as 'n vyfde bygedra tot die Verenigde State se ekonomiese groei sedert 2010 - meer as sy aandeel aan die totale bevolking of nasionale ekonomie. Nogtans is die deelstaat se ekonomie en arbeidsmark kwesbaarder as dié van die hele Verenigde State - die verlies aan werksgeleenthede tydens 'n resessie is groter as die Amerikaanse gemiddeld. Daarenteen groei die Kaliforniese ekonomie vinniger tydens 'n opswaaifase.

Die belangrikste sektore van die plaaslike ekonomie is landbou, die vermaaklikheidsbedryf, ligte nywerhede (waaronder vervoertoerusting, masjienbou en elektronika), biotegnologie, ruimtevaarttegnologie, wapenvervaardiging en toerisme. Enkele streke in die deelstaat word met bepaalde sektore verbind, soos Los Angeles en Hollywood met vermaak; die Central Valley (Sentraalvallei) met landbou; die Silicon Valley met inligtings- en hoëtegnologie (tegnologie- en internetreuse soos Intel, Oracle, Apple, Google en Facebook het hier hulle hoofkwartiere); en die Kaliforniese Wynlande met wynbou. Belangrike natuurlike hulpbronne, wat in die deelstaat aangetref word, sluit hout, olie, sement en natuurgas in.

Kalifornië vorm nie net die Verenigde State se demografiese en ekonomiese swaartepunt nie, maar was en is ook die deelstaat waar kwessies van nasionale belang opgewerp en nuwe leefstyle gevolg word. Die Universiteit van Kalifornië se Berkeley-kampus was in die 1960's die bakermat van die Amerikaanse Free Speech Movement en die stadsbuurt Haight Ashbury in San Francisco het tot 'n mekka van die hippie-beweging ontwikkel. Tans is die deelstaat onder meer 'n nasionale leier op die gebied van alternatiewe energiebronne.

Koopkragpariteit

Koopkragpariteit is 'n ekonomiese teorie wat op die beginsel berus dat die ware wisselkoers tussen twee geldeenhede bepaal kan word deur wat met 'n eenheid van elk van die geldeenhede gekoop kan word.

Pariteit bestaan wanneer dieselfde met elke eenheid gekoop kan word. Die ware koopkrag van 'n geldeenheid kan aan baie kommoditeite of produkte gemeet word. 'n Gewilde manier is om te kyk hoeveel MacDonalds se Big Mac-burger in verskeie lande in die inheemse geldeenheid kos. As die burger byvoordeeld twee Amerikaanse dollar kos en 14 Suid-Afrikaanse rand, en die wisselkoers is R7 vir $1, beteken dit daar bestaan koopkragpariteit tussen die Amerikaanse dollar en Suid-Afrikaanse rand volgens die sogenaamde Big Mac-indeks, wat deur die Britse saketydskrif The Economist uitgedink is.

Die teorie wil dit hê dat wisselkoerse moet aanpas om koopkragpariteit te bereik. As 'n burger in Suid-Afrika dus minder as $2 kos, beteken dit die Suid-Afrikaanse rand is te swak en sal vroeër of later moet versterk om nader aan die dollar se waarde te beweeg.

KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal of KwaZoeloe-Natal (uitgespreek /kwɑːˌzuːluː nəˈtɑːl/) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Pietermaritzburg en Durban is die grootste stad.

Limpopo

Hierdie artikel handel oor die provinsie in Suid-Afrika. Vir die gelyknamige rivier, sien Limpopo (rivier).Limpopo is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Polokwane (voorheen Pietersburg). Die provinsie kry sy naam van die Limpoporivier, wat die mees noordelike rivier in Suid-Afrika is, en die grens met Zimbabwe vorm.

Limpopo het vroeër as die Noordelike Provinsie en voor 1994 as Noord-Transvaal bekend gestaan. Sedert 1994 sluit dit ook die voormalige tuislande Venda, Gazankulu en Lebowa in.

Belangrike plekke is Polokwane, Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Musina, Phalaborwa, Mokopane (Potgietersrus), Thabazimbi, Tzaneen en Bela Bela (voorheen Warmbad).

Lys van lande volgens BBP (nominaal)

BBP verwys na die totale van finale goedere en dienste, wat binne die grense van 'n land geproduseer word in 'n spesifieke priode, gewoonlik 1 jaar.

Private verbruiks besteding +

Investering (Belê in vaste bates) +

Staatsbesteding +

Uitvoere -

Invoere =

BBP

Mpumalanga

Hierdie artikel handel oor 'n provinsie in Suid-Afrika. Vir die dorp in KwaZulu-Natal, sien Mpumalanga, KwaZulu-Natal.Mpumalanga is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Nelspruit (sedert 2009 ook bekend as Mbombela). Mpumalanga, wat "die plek waar die son opkom" beteken, was vroeër bekend as Oos-Transvaal. Behalwe dat dié provinsie uit 'n deel van die ou provinsie Transvaal gekerf is, is dit ook saamgestel uit dele van vier gewese Bantoestans (tuislande): KaNgwane, KwaNdebele, Gazankulu en Lebowa.

Nederland

Hierdie artikel handel oor die land in Europa, wat deel uitmaak van die Koninkryk van die Nederlande, vir ander gelyknamige state, sien Nederland (dubbelsinnig).Nederland (Nederlands: [ˈneːdə(r)lɑnt] of [ˈneɪ̯də(r)lɑnt], ; Wes-Fries: Nederlân) is 'n land in die noordweste van die Europese vasteland. Dit word begrens deur die Noordsee in die noorde en weste, België in die suide en Duitsland in die ooste. Die hoofstad is Amsterdam en die regeringsetel is Den Haag. Die Karibiese eilande Bonaire, Saba en Sint Eustatius maak ook deel van Nederland uit. Saam met die Karibiese eilande Aruba, Curaçao en Sint Maarten vorm Nederland die Koninkryk van die Nederlande.

Mense verwys dikwels na Nederland as Holland — die naam van die ou provinsie Holland en die gesamentlike naam van die twee huidige provinsies Noord- en Zuid-Holland, maar Holland is net 'n deel van Nederland, soos Engeland net 'n deel van die Verenigde Koninkryk is.

Nederland is 'n stigterslid van die Europese Unie en van die NAVO. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer, in 2002 Euro-banknote en -muntstukke.

Noord-Kaap

Die Noord-Kaap (Engels: Northern Cape, Tswana: Kapa Bokone, Xhosa: Mntla-Koloni) is die grootste en mees ylbevolkte provinsie van Suid-Afrika. Die hoofstad en grootste stad is Kimberley. Die provinsie is gestig toe die ou Kaapprovinsie in 1994 in die drie nuwe provinsies Wes-, Oos- en Noord-Kaap verdeel is.

Ander belangrike plekke is Upington, Carnarvon, Colesberg, De Aar, Kuruman en Springbok. Suid-Afrika se koudste dorp, Sutherland, het 'n sterrewag wat al hoe belangriker word as 'n astronomiese observasiesentrum van wêreldklas.

Noordwes

Noordwes (Engels: North West, Tswana: Bokone-Bophirima) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Mahikeng (heet tot onlangs Mafikeng en nog algemeen gebruik). Noordwes is in 1994 gevorm deur die samevoeging van die ou Wes-Transvaal en die "tuisland" Bophuthatswana (uitgesluit die deel wat in die Vrystaat geleë was) en 'n noordoostelike deel van die ou Kaapprovinsie.

Die provinsiale hoofstad Mahikeng vorm 'n eenheid met Mmabatho, wat voorheen die hoofstad van Bophuthatswana was.

Ander belangrike plekke in Noordwes is onder meer Potchefstroom, Klerksdorp, Brits, Rustenburg, Lichtenburg en Vryburg.

Oos-Kaap

Die Oos-Kaap (Engels: Eastern Cape, Xhosa: IPhondo yaMpuma-Koloni) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Bhisho. Die provinsie is in 1994 gevorm met die samevoeging van die oostelike deel van die voormalige Kaapprovinsie en die "tuislande" Ciskei en Transkei.

Die stede en belangrikste dorpe is Port Elizabeth, Oos-Londen, Grahamstad, King William's Town, Queenstown, Uitenhage, Jeffreysbaai, Mthatha (voorheen Umtata), Aliwal-Noord, Graaff-Reinet en Cradock.

Singapoer

Singapoer (Chinees: 新加坡, pinyin: Xīnjiāpō; Engels: Singapore, [ˈsɪŋɡəpɔːr], ; Maleis: Singapura; Tamil: சிங்கப்பூர், Ciṅkappūr), amptelik die Republiek Singapoer (Chinees: 新加坡共和国, pinyin: Xīnjiāpō Gònghéguó; Engels: Republic of Singapore; Maleis: Republik Singapura; Tamil: சிங்கப்பூர் குடியரசு, Ciṅkappūr Kuṭiyaracu), is die kleinste land in Suidoos-Asië met 'n oppervlakte van 704 vierkante kilometer en 'n bevolking van 5,6 miljoen in 2016. Singapoer is 'n eiland- en stadstaat wat behalwe vir die hoofeiland Singapoer uit 63 kleiner eilande bestaan. Met sy strategiese ligging het Singapoer reeds vir die Britte as 'n belangrike seehawe gedien waarvandaan hulle die Seestraat van Malakka kon oorheers.

Toe Singapoer-eiland in 1819 danksy sir Thomas Stamford Raffles onder Britse bewind gekom het, het sy bevolking slegs 150 mense beloop. Nogtans was Singapura (letterlik "Die Leeustad") reeds in die 14de eeu 'n beduidende nedersetting wat as gevolg van die oorloë tussen die koninkryke Madjapahit (Java, Indonesië) en Siam (die huidige Thailand) verniel is.

Die moderne Singapoer het volgens 'n plan ontstaan wat deur sir Thomas Stamford Raffles persoonlik ontwerp is. Die stad het tot by die jaar 1959 'n Britse besitting gebly en het daarna volgens 'n ooreenkoms 'n selfregerende stad gevorm. Singapoer het in 1963 by die Federasie van Maleisië aangesluit, maar etniese en ander geskille het tot die afskeiding van Maleisië gelei, sodat Singapoer in 1965 'n onafhanklike republiek geword het.

Die stad word vandag as een van die merkwaardigste ekonomiese en industriële suksesse beskou. Singapoer se ekonomie, wat naas die nywerheidsektor op sy seehawe en vryehandel steun, was steeds op die wêreldmark gemik. Dit is 'n moderne stad met wolkekrabbers in sy sentrum en is die digbevolkste land in Suidoos-Asië, wat met sy besige seehawe tot die logistieke en handelsentrum van die streek ontwikkel het.

Die fenomenale ekonomiese groei van Singapoer was steeds aan die outoritêre bewind van die People's Action Party (PAP) gekoppel wat volgens sy beleid van 'n sosialistiese markekonomie 'n moderne welvaartstaat geskep het, maar het as gevolg van Singapoer se verkiesingswette die parlement al dekades lank oorheers en ook in die verkiesing van 6 Mei 2006 weer 'n oorweldigende meerderheid van 82 setels in die parlement behaal, teenoor slegs een setel elk vir die twee opposisiepartye Workers' Party en Singapore Democratic Alliance.Singapoer se strafwette, waarvolgens die doodstraf onder meer vir die onwettige besit van bepaalde hoeveelhede dwelmmiddels outomaties opgelê word, word veral deur Westerse regerings en organisasies gekritiseer. In verhouding tot sy bevolking is in Singapoer sedert 1991 die hoogste aantal teregstellings aangeteken.Die inwoners van Singapoer is 'n mengelmoes van verskillende etniese groepe, alhoewel etniese Han-Chinese meer as driekwart van die totale bevolking verteenwoordig. Ander belangrike groepe sluit Maleiers, Indiërs, Pakistani's en Sri Lankane in. Meer as veertig persent van die bevolking is Boeddhiste, terwyl Moslems en Christene 14 persent, Taoïste sowat agt en Hindoes vier persent van die bevolking verteenwoordig.

Singapoer is naas die Republiek China op Taiwan een van twee gebiede buite die Chinese stamland wat in politieke opsig deur Han-Chinese oorheers word.

Verenigde Koninkryk

Hierdie artikel handel oor die land in Europa. Vir die eiland, sien Groot-Brittanje, en vir ander gelyknamige state, sien Verenigde Koninkryk (dubbelsinnig).Die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland (Engels: United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland) is die grootste eilandnasie in Europa wat uit die vier lande (in Engels nations genoem) Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland bestaan, dikwels ook kort Verenigde Koninkryk (United Kingdom, kort UK, VK) of Brittanje genoem. Dit is noordwes van die Europese vasteland op die hoofeiland Groot-Brittanje geleë en beslaan daarnaas ook sowat 'n sesde van sy westelike buureiland Ierland (Noord-Ierland). Die staatsgebied word omring deur die Noordsee in die ooste, die Engelse Kanaal in die suide en die Atlantiese Oseaan in die weste en die noorde. As gevolg van sy koloniale verlede is daar nog steeds talle kleiner oorsese besittings.

Die historiese oorspronge van die Verenigde Koninkryk strek terug tot in die tydperk van die Angel-Saksiese koning Athelstan wat in die vroeë 10de eeu n.C. oorheersende invloed oor aangrensende Keltiese koninkryke begin uitoefen het. In die volgende eeue het ook verder af geleë koninkryke deur militêre verowering onder Engelse gesag gekom.

Wallis, 'n losse verbond van Keltiese koninkryke in die suidweste van Groot-Brittanje, is deur die sogenaamde Uniewette (Acts of Union) van 1535 en 1542 formeel met Engeland verenig. Skotland, wat al sedert 1603 deur 'n Engelse monarg geregeer word, is in 1707 formeel met Engeland en Wallis verenig om die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje te vorm (Acts of Union 1707). Sedertdien is na die verskillende volke binne die Verenigde Koninkryk as Britte verwys.

Ierland het vanaf die 17de eeu geleidelik onder Engelse gesag gekom en is in 1800 volgens die Uniewet (Act of Union) formeel met Groot-Brittanje verenig. Die grootste deel van Ierland, 'n merendeels Rooms-Katolieke land, het in 1922 sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verwerf, maar ses van die historiese provinsie Ulster se nege graafskappe met 'n oorwegend Protestantse bevolking het as Noord-Ierland deel van die Verenigde Koninkryk gebly.

Betrekkinge tussen die vier landsdele van die Verenigde Koninkryk is verskeie kere deur politieke, ekonomiese en kulturele spanning vertroebel. So het die regerende party in Skotland, die Skotse Nasionale Party, laat in 2014 'n vergeefse poging aangewend om Skotse onafhanklikheid deur middel van 'n referendum te bewerkstellig. Die Britse regering het politieke ontevredenheid met die tendensieel sentralistiese regeringstelsel in die laat 20ste eeu deur die skepping van streeksparlemente met sekere bevoeghede in Noord-Ierland, Skotland en Wallis probeer teenwerk.

Britse entrepreneurs, tegnici en wetenskaplikes het beslissende bydraes tot die wêreldekonomie en tegnologiese vooruitgang gemaak. So was die Verenigde Koninkryk die eerste land ter wêreld wat die nywerheidsomwenteling ondergaan het. In die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog het die land sy internasionale invloed veral op kulturele gebied laat geld, waaronder literatuur, toneelkuns, film, televisie en popmusiek. Die lang lys van suksesvolle uitvoere sluit die Engelse taal in wat vandag orals op aarde as die leidende medium en lingua franca van ekonomie, wetenskap, kuns en kultuur gebesig word.

Van die Verenigde Koninkryk se huidige totale bevolking van 65,1 miljoen is die oorgrote meerderheid (sowat 54,8 miljoen of 84,2 persent) in Engeland saamgetrek. Die bevolking van Wallis word op 3,1 miljoen beraam (vyf persent van die VK se totale bevolking), dié van Skotland op 5,4 miljoen (agt persent) en dié van Noord-Ierland op 1,85 miljoen (drie persent). Die gemiddelde bevolkingsdigtheid vir die hele Koninkryk is 265 inwoners per km².

Die Verenigde Koninkryk is 'n stigterslid van die Britse Statebond, die NAVO en die Verenigde Nasies en sedert 1 Januarie 1973 'n lidland van die Europese Unie. Ontevredenheid met die EU se beleid van politieke integrasie en massa-immigrasie uit Oos-Europese EU-lidlande, wat buitengewone druk op gesondheidsdienste en die behuisings- en arbeidsmark geplaas het, was van die hoofredes vir 'n meerderheid Britse kiesers om in 'n referendum op 23 Junie 2016 teen die land se voortgesette EU-lidmaatskap te stem.

Vrystaat

Die Vrystaat (Suid-Sotho: Foreistata, Engels: Free State) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Sy hoofstad is Bloemfontein wat ook Suid-Afrika se geregtelike hoofstad is.

Op 'n landkaart lyk die Vrystaat nog net soos die ou Boererepubliek van die negentiende eeu, die Oranje-Vrystaat – in die landelike hartland van Suid-Afrika. Maar in die twintigste eeu is sy landelikheid veral in die noorde dramaties verander deur die ontdekking van goud en die vervaardiging van olie uit steenkool. Die ou naam Oranje-Vrystaat is in Junie 1995 tot Vrystaat verkort.

Zimbabwe

Zimbabwe, amptelik die Republiek Zimbabwe (Engels: Republic of Zimbabwe), is 'n landingeslote land geleë in Suider-Afrika en begrens deur Zambië in die noordweste, Mosambiek in die noordooste, Suid-Afrika in die suide en Botswana in die suidweste. Die land het eers as Suid-Rhodesië, 'n Britse kolonie, bekendgestaan en van 1965 af as Rhodesië, genoem ná Cecil John Rhodes. In 1965 het Suid-Rhodesië eensydig sy onafhanklikheid verklaar en in 1970 'n republiek geword. Ná 'n jare lange vryheidsoorlog en daaropvolgende onderhandelinge het Suid-Rhodesië in 1980 amptelik Zimbabwe-Rhodesië geword en aansluitend die Republiek Zimbabwe.

Zimbabwe beslaan 'n oppervlakte van 390 757 km² en het 'n bevolking van 16 150 362 in 2016 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Harare, tot 1980 Salisbury. 'n Ander belangrike stad is Bulawayo.

Zimbabwe is 'n multi-etniese land en die Mashona vorm die belangrikste inheemse etniese groep, gevolg deur die Ndebeles. Dié land het 16 amptelike tale, waaronder Engels, Shona en Noord-Ndebele die mees verspreide tale vorm.

Op 15 November 2017, na een jaar se protes teen sy regering asook Zimbabwe se vinnig dalende ekonomie, is Mugabe tydens 'n staatsgreep deur dié land se gewapende magte onder huisarres geplaas. Op 19 November 2017 het ZANU-PF Robert Mugabe gedwing om as partyleier af te dank en deur die voormalige adjunkpresident Emmerson Mnangagwa vervang. Op 21 November 2017 het Mugabe sy bedanking aangebied voordat die vervolgingsverrigtinge voltooi is.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.