Deuteronomium

Deuteronomium (Grieks Δευτερονόμιον = die tweede wet; Hebreeus devarim דְּבָרִים ‎ = woorde) is die vyfde boek van die Hebreeuse Bybel. Die naam Deuteronomium hou verband met die verkeerde vertaling van Deut 17:18 waar daar sprake is van 'n afskrif van die wet en nie van 'n tweede wet nie:

Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom 'n afskrif van hierdie wet maak.

Die eerste sin van die boek is:

In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.

Michelangelo Mose 2007
Michelangelo Buonarroti: Moses in San Pietro in Vincoli, Rome, Italië

Hooftrekke van die boek

  • 'n Oorsig oor en lesse uit die trek van Egipte af tot by die Jordaanrivier 1:1-4:43
  • Die tien gebooie en aansporing tot gehoorsamheid aan die Here 4:44-11:32
  • Godsdienstige en samelewingsreëls 12:1-28:68
  • Vernuwing van die verbond 29:1-30:20
  • Moses se laaste woorde 31:1-33:29
  • Moses sterf op Neboberg 34:1-12

Bronne

Eksterne skakels

Bybel

Die Bybel is die heilige boek van die Christelike en Joodse geloof. Die Joodse Bybel of Tenach het 39 dele en vertel die verhaal van God se verhouding met die Joodse mense in antieke tye. Dié 39 dele is ook deel van die Christelike Bybel en word die Ou Testament genoem. Die Christelike Bybel het nog 27 dele, wat die Nuwe Testament genoem word. Daarin word die verhaal van Jesus vertel.Die woord 'Bybel' stam van die Griekse woord βιβλια biblia (boeke), wat 'n meervoud is van βιβλιον biblion (wat oorspronklik papirus beteken en later gebruik is as aanduiding van papier, geskrif, boek(rol)). Die Bybel bevat drie verskillende versamelings boeke:

Die Ou Testament, ook die Hebreeuse Bybel genoem. Dit is geskryf gedurende die eeue heen en dit bestaan oorspronklik vir die grootste deel in Hebreeus met enkele Aramese paragrawe. (Die Tanach is anders georden)

Die Apokriewe boeke, boeke buiten die kanon van Nicea.

Die Nuwe Testament, geskryf gedurende die tweede helfte van die eerste eeu na Christus, in moderne Grieks (koinè-Grieks).In breë trekke gaan die Bybel oor hoe God as skepper met die mens in tyd en ruimte omgegaan het, die plek van die mens in verhouding tot die skepping, die skepper en die heelal en inbreek van ewigheid (domein van God) in die tyd (domein van die mens).

Met 'n geraamde verkope van meer as 5 miljard kopieë word die Bybel algemeen as die topverkoper boek van alle tye beskou. Na raming word 100 miljoen Bybels jaarliks verkoop. Dit is uniek in baie opsigte, waarvan vertaling en skrywers net 'n paar is. Dit het ook 'n groot invloed op letterkunde en die geskiedenis, veral in die Weste, uitgeoefen.

Cats

Cats is ’n musiekblyspel wat in 1981 deur Andrew Lloyd Webber gekomponeer is. Dit is gegrond op T.S. Eliot se bundel “Old Possum's Book of Practical Cats”. Cats is een van die gewildste musiekteaterstukke nóg. Miljoene mense het dit al gesien.Die eerste vertoning van Cats het op 11 Mei 1981 in die New London-teater in Londen se West End plaasgevind. Op 7 Oktober 1982 maak die blyspel sy Broadway-debuut in die Winter Garden-teater. Dit het eers op 11 Mei 2002 (na 8,949 vertonings) in Londen en op 10 September 2000 (na 7,485 vertoning) op Broadway ten einde geloop. Hiermee was dit die musiekblyspel met die langste speelvak ooit in beide Londen en Broadway gewees. Die première van die Duitse weergawe van die blyspel het op 24 September 1983 in die Theater an der Wien in Wene plaasgevind.

Dit was aanvanklik ook die langslopende vertoning op Broadway gewees, maar die The Phantom of the Opera het dit in Januarie 2006 verbygesteek. Dieselfde het in Londen gebeur, waar Les Misérables later meer vertonings gelewer het.

Cats het in 1982 die Laurence Olivier-toekenning vir Beste Nuwe Musiekblyspel gewen, asook die Tony Award vir Beste Musiekblyspel 1983.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret (8–2 v.C. tot 29–36 n.C.), ook algemeen bekend as Jesus, is die sentrale figuur in die Christendom en is ook 'n belangrike figuur in verskeie ander gelowe. Daar word ook na hom verwys as Jesus Christus, waar "Christus" afkomstig is vanaf die Griekse Χριστός (Christós) wat "Gesalfde een" beteken en verwant is aan die Hebreeus-afgeleide "Messias". Die naam "Jesus" is afkomstig van die vernederlandse vorm van die Griekse Ίησους (Iesoûs), wat self 'n Hellenisering van die Hebreeus-Aramese ישוע (Jesjoea of Jesjoe) is, wat beteken "JHWH red".

Christelike sienings oor Jesus fokus op die geloof dat Jesus die Messias is wie se koms in die Ou Testament van die Bybel voorspel word en dat hy opgestaan het uit die dood. Die meeste Christene glo dat Jesus die verpersoonliking van God is en dat hy gekom het om verlossing en versoening met God te bied. Nie-trinitaristiese Christene erken verskeie ander interpretasies rakende Jesus se goddelikheid.

Jesus het self geen geskrewe werke nagelaat nie en die hoofbronne van inligting rakende Jesus se lewe en sy leerstellings is die vier kanonieke Evangelies van die Nuwe Testament: Matteus, Markus, Lukas en Johannes en 'n aantal apokriewe skrifte. Meeste geleerdes van geskiedenis van Bybelstudie stem saam dat Jesus 'n Galilese Jood was, dat hy as 'n leraar en 'n geneser beskou was, dat hy deur Johannes die Doper gedoop was en gekruisig was in Jerusalem onder die bevel van die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, na beskuldigings van opruiing teen die Romeinse Ryk. Baie min moderne geleerdes glo dat Jesus se bestaan bevraagteken kan word of 'n mite is, terwyl ander geleerdes op teenkanting teen hierdie bewerings fokus.In Islam word Jesus (oor die algemeen getranslitereer as Isa) as een van God se mees geliefde en belangrikste profete beskou, asook 'n bringer van heilige skrifte, 'n wonderwerker en die Messias. Moslems deel egter nie die Christelike geloof in die kruisiging of die goddelikheid van Jesus nie, maar glo dat Jesus se kruisiging 'n goddelike illusie was en dat hy liggaamlik in die hemel opgeneem is. Uit die Koran: 4:157: "en omdat hulle sê: Ons het die Messias, Jesus, die seun van Maria, die boodskapper van Allah, omgebring ~ en hulle het hom nie gedood nie, en ook nie tot die dood toe gekruisig nie, maar dit het vir hulle gelyk asof dit so is. En hulle wat hieroor verskil, twyfel voorwaar daaraan. Hulle het geen kennis daaromtrent nie, maar volg slegs ’n vermoede, en hulle het hom beslis nie doodgemaak nie." Die meeste Moslems glo ook dat hy na die aarde sal terugkeer saam met die Mahdi, wanneer die aarde met sonde en onreg gevul word met die koms van Islam se Antichris-agtige Dajjal.

Judaïsme

Judaïsme (vanaf Latyn: Iudaismus, afgelei van Grieks: Ἰουδαϊσμός, oorspronklik van Hebreeus: יהודה, Jehoedá, "Judah"; in Hebreeus: יהדות, Jahadoet) of Jodedom is die godsdiens van die Jode met omtrent 15 miljoen volgelinge wêreldwyd in 2006. Dis een van die eerste monoteïstiese godsdienste wat opgeteken is, en een van die oudste tradisies wat nog gevolg word. Judaïsme verskaf ook die waardes en historiese agtergrond tot ander godsdienste, soos Christendom en Islam. Daarbenewens kan die term Judaïsme ook na die Jode se tradisies en leefwyse, hul filosofie en gewoonlik ook hul kulture verwys asook na die Jode as 'n groep. Jerusalem, Hebron, Safed en Tiberias vorm die vier heilige stede van Judaïsme. Chanoeka, Jom Kippoer, Pesach, Poerim, Rosj haSjana, Sabbat, Sjawoe'ot, Soekot en Tisj'a be'Aw (alfabetiese volgorde) is van die vernaamste feeste en herdenkings in die Joodse kalender.

Leviraatshuwelik

'n Leviraatshuwelik (Engels: levirate marriage) is 'n verpligte huwelik tussen die broer van 'n kinderloos gestorwe man met dié se weduwee. Voorbeelde daarvan kan in die Bybel gevind word in Genesis 38, Deuteronomium 25:5-10 en Rut 3-4. Die term is afgelei van die Latynse woord levir, wat "broer se vrou" beteken.

Moses

Moses (Hebreeus: מֹשֶׁה, Mōšæ; Arabies: مُوسَى, Mūsā; Grieks: Μωυσῆς en Μωσῆς, Mō(y)sēs) is naas Abraham die tweede sentrale figuur in die geskiedenis van die volk Israel. Volgens die Bybel is hy die vernaamste profeet, wat die Israeliete uit Egipte gelei het. Hy word beskou as die stigter van die Israelietise godsdiens en is volgens die Bybel die ontvanger van die Tien Gebooie op die berg Sinai. Moses was ook die aanvoerder van die volk Israel tydens die deurtog deur die woestyn tot aan die grense van Kanaän.

Moses is een van die belangrikste figure in die Joodse volksgeskiedenis en onder sy leiding is die Israeliete weggevoer uit die slawerny in Egipte na die beloofde land Kanaän, die land van hul voorvaders. Volgens die Bybelse geskiedenis het Moses op die berg Sinai die Tora van God ontvang.

Die lewensgeskiedenis van Moses word vertel in die Bybelboeke Sjemot/Eksodus tot en met Dwarim/Deuteronomium en is ten nouste verweef met die verhaal van die uittog van die Israeliete (Jode) uit Egipte. Moses is gebore op 'n tydstip toe die verdrukking van die Israeliete in Egipte 'n hoogtepunt bereik het, waarskynlik onder die bewind van farao Seti I (1318–1304 v.C.). Seti I het 'n wet uitgevaardig ingevolge waarvan alle Hebreeuse seuntjies wat gebore word, doodgemaak moes word.

Volgens oorlewering het Moses se ouers, Amram en Jogebed, hom aanvanklik in hul huis versteek en later in 'n mandjie van biesies langs die Nylrivier. Die farao se dogter, wat hier kom bad het, het Moses in sy mandjie gevind en hom saam met haar na die paleis gebring, waar hy as 'n Egiptiese prins grootgemaak is. Tydens 'n geskil tussen ’n Israelitiese slaaf en 'n Egiptenaar het Moses so woedend geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan en na Midian in die noorde van die Arabiese Skiereiland gevlug het.

Daar het hy die skaapwagter van die priester van Midian, Jetro (Réhuel), geword en met een van sy dogters, Sippora, getrou. Volgens die Bybelse verhaal het God op 'n dag in 'n brandende doringbos wat nie uitgebrand het nie (die brandende doringbos, Sjemot/Eksodus 3,2), aan Moses verskyn. Hy het opdrag ontvang om sy volk uit die slawerny in Egipte te bevry.

Moses het homself as onbekwaam beskou vir hierdie bomenslike taak, maar God het hom verseker dat Hy altyd met Moses sou wees deur Hom bekend te maak as JHWH. In Egipte het Moses kwaai weerstand van die farao (waarskynlik Ramses II, 1290–1224 v.C.) ondervind. Met die hulp van God, wat tien plae oor Egipte laat kom het, en met die bystand van sy broer Aäron het Moses daarin geslaag om sy opdrag uit te voer.

By die berg Sinaï (of Horeb), waar Moses die opdrag ontvang het om sy volk te bevry, het die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die Joodse volk plaasgevind: God het aan die Joodse volk sy wil bekend gemaak deur aan hulle die Tora te gee. Volgens die Bybelse verhaal het Moses by hierdie openbaring 'n sentrale rol gespeel: God het met hom gepraat omdat die volk die aanblik van God nie sou kon verduur nie. God het twee kliptafels waarop die Tien Woorde geskryf gestaan het, aan Moses gegee sodat hy die volk kon onderrig.

Moses was die geestelike leier van die volk en is ook later Mosje Rabbenoe ("Moses, ons leraar") genoem. Hierin lê die verskil tussen Moses as die eerste profeet en die latere profete. Die volk het uit die hand van Moses die Tora ontvang en hy het 'n klomp slawe saamgesnoer tot 'n volk wat tot vandag toe sy identiteit behou het. Latere profete het in hul vermaninge en aansporinge steeds na Moses en sy werk terugverwys.

Moses moes voortdurend vir sy volk intree by God wanneer hulle verkeerd gedoen, in afgodery teruggeval en in opstand gekom het. Na 'n omswerwing van 40 jaar het Moses die volk tot op die grens van die beloofde land gebring. Hier het hy die leiding aan sy vertroueling Josua oorgedra en kort daarna gesterf. "Hy het vir Moses begrawe in 'n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie." (Dwarim/Deuteronomium 34,6).

Ou Testament

Die term Ou Testament (van Latyns testamentum, 'n vertaling van respektiewelik die Hebreeuse בְּרִית (berît) en Griekse διαθήκη (diathēkē) – "verbond", ook: Eerste Testament) verwys in die Christelike teologie sedert omstreeks 180 na die Heilige Skrifte van die Jodedom wat daar sedert omstreeks 100 as Tanach bekend staan, asook 'n aantal skrifte uit die Septuagint wat vanaf 250 v.C. ontstaan het. Dit is oorspronklik in Hebreeus geskryf (vandaar die alternatiewe name Hebreeuse Skrifte of Hebreeuse Bybel), afgesien van kleiner gedeeltes in Bybelse Aramees.

Die eerste Christene het hierdie skrifte as die "Woord van God" beskou wat Jesus van Nasaret as Messias van Israel en die wêreld se ander volke verkondig. Afhangende van die skrifte se uitlegging word Jesus as die verlosser beskryf. Die Ou Kerk het die Hebreeuse Skrifte as openbaring teen kleiner Christelike minderhede verdedig wat hierdie opvatting nie gedeel het nie.

As kanon is die Ou Testament tot 350 saamgestel en die volgorde van sy boeke vasgelê om saam met die Nuwe Testament as Christelike Bybel te dien. Nogtans verskil die groot Christelike kerke oor die aantal boeke wat tot die kanon behoort. Terwyl Protestantse kerke dit tot die boeke van die Tanach beperk het, erken die Rooms-Katolieke Kerk net soos Ortodokse Christene daarnaas ook verskillende skrifte uit die Septuagint.

Pentateug

Die Pentateug is die eerste vyf boeke van die Ou Testament in die Bybel. Penta is Grieks vir 5 en Teuchos is Grieks vir boek. Pentateug beteken dus die "vyf boeke" of "vyf boekrolle." Hierdie vyf boeke staan ook as die Torah of Boeke van Moses bekend. Hulle is:

Genesis

Eksodus

Levitikus

Numeri

DeuteronomiumDie Pentateug vertel die verhaal van die skepping van die wêreld tot die dood van Moses en die Israeliete se voorbereiding om die land Kanaän in te gaan. Die verhaal word in drie dele vertel. Die eerste deel (Gen. 1-11) is oor die skepping en die begin van die mensdom op aarde. Die tweede deel (Genesis 12-50) vertel die stories van die Israeliete se voorsate, hoofsaaklik Abraham, Isak, Jakob en Josef. Die derde deel, wat met die boek van Eksodus begin, beskryf hoe die Israeliete Egipte verlaat en die vroeë geskiedenis van Israel as 'n volk. Dit bevat verskeie wette oor hoe die Israeliete hulle samelewing moet reël en bou. Deuteronomium is hoofsaaklik Moses se finale toespraak aan sy volk asook 'n opsomming van die Pentateug.

Die Pentateug is die oudste deel van die Bybel, maar skoliere weet nie presies wanneer hierdie boeke geskryf is nie. Die vroegste dele is moontlik meer as 1000 jaar voor die finale dele geskryf. Moderne argeologiese vondse dui daarop dat sommige van die oudste stories in Genesis tot drie duisend jaar terug kan dateer.

Poerim

Poerim (Hebreeus: פּוּרִים, Pûrîm, ‬, afgelei van פור‬ poer, letterlik: "lot", verwant aan Akkadies: pūru; Jiddisj: Purim of Pirem) is 'n Joodse fees wat die redding van die Jode uit die hande van Haman herdenk. Haman was volgens die Hebreeuse Bybel van plan om al die Jode binne die Achaemenidiese Ryk te vermoor. Die hele Bybelse boek Ester (Hebreeus: מגילת אסתר,‬ Megillat Ester) beskryf dié verhaal en die jaarlikse viering van dié fees word in Ester 9,20–23 bepaal. Dit word op 14 Adar in die Joodse kalender gevier en val daarmee in die vroeë lente van Israel. In skrikkeljare word dit op 14 Adar II gevier. In stede wat in die tyd van die Tweede Tempel ommuur was, word Poerim een dag later, op 15 Adar – die sogenaamde Sjoesjan Poerim – gevier; hedendaags is dit net in Jerusalem en 'n paar ander stede die geval.

Nes Chanoeka is Poerim een van die kleiner (na-Bybelse) Joodse feeste en bedags is dit 'n gewone werkdag.

Rut

Rut is die agste boek van die Hebreeuse Bybel en handel oor 'n ou gebruik, dié van losser.

Toe Naomi na haar man en seuns se dood in Moab terugkeer Betlehem toe, kom Rut, haar een Moabitiese skoondogter, saam. Rut ontmoet vir Boas op sy koringland buite Betlehem en trou later met hom. Die mooi verhaal vertel hoe 'n ou gebruik, dié van losser, in die vroeë geskiedenis van Israel toegepas is. Wanneer 'n man gesterf het, moes sy naaste manlike bloedverwant die weduwees en weeskinders onder sy sorg neem. Hy moes toesien dat hulle versorg word en dat die familiegrond wat in vreemde hande geval het, losgekoop word. Daarom is hy die losser genoem.

Verder verduidelik die boek ook hoe dit gebeur het dat daar Moabitiese bloed in Dawid se are gevloei het, en dit ten spyte van die bepaling van Deuteronomium 23:3-6.

Sabbat

Die Sabbat (Hebreeus: שַׁבָּת, [ʃa'bat]; letterlik: "rus" of "verposing"; meervoud: Sjabbatót, שבתות) se ontstaan is so oud soos die mens en die skepping self, ten minste vir diegene wat die Bybelse beskrywing van die skepping aanvaar. Volgens Beresjiet/Genesis 2 verse 2 en 3 sien ons die instelling van die Sabbat waar JHWH, die skepper, op dié dag rus, dit seën en afsonder. Die naam Sabbat kom van die Hebreeuse woord sjawat (שבת) wat beteken "om te rus" of "om op te hou".

Jom Kippoer en Sabbat is die heiligste dae in Judaïsme; altwee staan ook bekend as Sjabbat Sjabbaton ("'n groot groot Sabbat"). Jom Kippoer is die enigste vasdag wat selfs op 'n Sabbat gehou kan word; die ander vasdae word verskuif indien hulle op 'n Sabbat sou val. Die Sabbat-gebedsdiens omvat verskeie unieke aspekte. Een daarvan is die spesifieke getal gebedsdienste. Anders as gewone dae, waarop daar drie gebedsdienste is (Ma'ariew (מעריב), die aandgebed; Sjagariet (שחרית), die oggendgebed; en Mienga (מִנְחָה), die namiddaggebed), het die Sabbat nes ander Jamim Towim vier gebedsdienste (Ma'ariew (מעריב); Sjagariet (שחרית); Moesaf (מוסף), die bykomende gebed; en Mienga (מִנְחָה)); net Jom Kippoer beskik met vyf gebedsdienste (Ma'ariew (מעריב); Sjagariet (שחרית); Moesaf (מוסף); Mienga (מִנְחָה); en Ne'ila (נעילה), die afsluitingsgebed) oor meer as enige ander Joodse fees of herdenking. Tydens elke gebedsdiens is die Amidá (עמידה) die sentrale gebed. Sjema Jisrael, die Joodse geloofsbelydenis, word in Ma'ariew en Sjagariet geresiteer.

Volgens die Heilige Skrif (Tanag) se getuienis het JHWH die Sabbat deur Mosje (Moses) in die woestyn aan Jisra'él (Israel) opgedra (Sjemot/Eksodus 16:23) nog voordat die Tien Woorde aan hulle gegee is. Dit is ook 'n teken van die verbond tussen JHWH en Jisra'él (Sjemot/Eksodus 31:13).Naas die verskeie bepalings wat oor die Sabbat in die Tora gevind word, is dit ook die vierde gebod in die Tien Woorde en ons vind dit opgeteken in Sjemot/Eksodus 20 verse 8 – 11 en Dwarim/Deuteronomium 5 verse 12-15. Na aanleiding van Beresjiet/Genesis 2 voel sommige mense dat die Sabbatgebod vir alle mense gegee is. Die redenasie is dat indien die Sabbat slegs vir Hebreërs en hedendaagse Jehoedim (Jode) was dan sou die opdrag eers met die Verbond in die woestyn bekend geword het.

Sabbat begin soos al die ander dae van die Joodse kalender volgens Beresjiet/Genesis 1,5 met die aand en duur vanaf sononder op Vrydag tot aandskemer van die volgende Saterdag. Tydens Sabbat mag mens nie werk verrig nie, omdat dit 'n rusdag is (Sjemot/Eksodus 20,10). Die Joodse tradisie van 'n rusdag ná ses dae se werk is later deur Christene en Moslems oorgeneem en is die oorsprong van 'n vyf- of sesdaagse werkweek met 'n aansluitende naweek en die wêreldwye stelsel van 'n week met altesaam sewe dae. In die meeste Europese tale is die plaaslike woord vir Saterdag afgelei van die Hebreeuse woord Sjabbat. In Afrikaans en Nederlands is Saterdag egter na Saturnus genoem.

Sjawoe'ot

Sjawoe'ot () of Sjawoe'os (Jiddisj: שבועות, ) in Asjkenasiese gemeenskappe, Sjawoe'ot in Sefardiese en Mizrachi-gemeenskappe (Hebreeus: שבועות, letterlik: "Weke"), ook bekend as Wekefees, Fees van die weke of Pinkster (Grieks: πεντηκοστὴ [ἡμέρα], pentēkostē [hēméra], letterlik: "vyftigste [dag]"), is 'n Joodse fees.

Sjawoe'ot word na 49 dae se Omertelling op die 50ste dag, dus sewe weke en een dag na Pesach, gevier. Dit val op die sesde en sewende dag van die maand Siwan volgens die Joodse kalender. Saam met Pesach en Soekot is Sjawoe'ot een van die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj regalim). Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem getrek om daar offers te bring.

Sjawoe'ot het 'n dubbele betekenis. Dit dui op die eerstelinge van die koringoes in Israel (Sjemot/Eksodus 34,22) en herdenk die dag toe God die Tora aan die versamelde volk Israel by die berg Sinai gegee het. Die verhouding tussen die ontvangs van die Tora (Matan Tora) en Sjawoe'ot blyk duidelik uit die Bybelse teks (Sjemot/Eksodus 19,1; 19,3–7; 19,8,10–11; 19,21–25; Wajikra/Levitikus 23,15).

Sjema Jisrael

Sjemá Jisra'él (of Sjma Jisra'él; שְׁמַע יִשְׂרָאֵל; "Hoor, Israel"), die Joodse geloofsbelydenis, is die eerste twee woorde (die aanhef) van 'n vers van die Tora, en is die naam van 'n gebed (wat soms bloot as sjema of sjma afgekort word) wat onmiddelik voor die Amidá (עמידה) in die Joodse oggend- en aandgebedsdienste geresiteer word. Die eerste vers bevat die monoteïstiese kern van die Jodedom: "Hoor, Israel: יהוה [is] ons God; יהוה [is] een" (שְׁמַע יִשְׂרָאֵל יְהוָה אֱלֹהֵינוּ יְהוָה אֶחָֽד׃), wat aangetref word in Dwarim/Deuteronomium 6,4, waarby die naam van God (יהוה) nie uitgespreek word nie, maar as Adonái (letterlik: "my Here") weergegee word. Die Afrikaanse Bybelvertalings gee die vers weer as "Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here" (1933/1953) en "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here" (1983).Die term "sjema" verwys by implikasie ook na al drie gedeeltes van die daaglikse gebed wat begin met Sjema Jisra'él. Hierdie gedeeltes van die Tora omvat Dwarim/Deuteronomium 6:4–9, Dwarim/Deuteronomium 11:13-21 en Bemidbar/Numeri 15:37–41. Dit word gelees in die parasjot (of weeklikse Tora-skriflesings) wat onderskeidelik as We'etganan ("ek het gesmeek"), Ékew ("ten gevolge van"), en Sjelág ("stuur!") bekend staan. Die Sjema Jisra'él word tydens elke dag se aandgebed (Ma'ariew, מעריב) en oggendgebed (Sjagariet, שחרית) geresiteer.

Geloofsvaste Jode beskou die sjema as 'n belangrike deel van hul gebedsdiens, en die tweedaaglikse resitasie daarvan word as 'n mitswa (מִצְוָה), oftewel 'n godsdienstige gebod geag. 'n Joodse gebruik bestaan om die sjema as jou laaste woorde te uiter, en Joodse ouers leer hulle kinders om dit te resiteer voordat hulle gaan slaap. In die aangehaalde gedeeltes van die Tora word verskeie gebooie aangespreek wat belangrik is vir die praktyk van die Joodse geloof:

die daaglikse resitasie van Sjemá Jisra'él,

die gebruik van Tefillien (תפילין; gebedsrieme),

die tsitsijót (ציציות; tossels),

die mezoezá (מזוזה; perkamentrol-koker teen die kosyn), en

die oordrag van die gebooie aan die volgende geslag.

Tempelberg

Die Tempelberg (Hebreeus: הַר הַבַּיִת Har HaBáyit, Arabies: الحرم الشريف al-Ḥaram al-Šarīf) is ’n heuwel in Jerusalem en een van die belangrikste godsdiensterreine in die wêreld. Dit word al duisende jare in die Judaïsme, Christendom en Islam as ’n heilige plek beskou.

Die huidige terrein word oorheers deur drie groot geboue uit die vroeë Omajjadiese tydperk: die al-Aqsa-moskee, Rotskoepel en Kettingkoepel, sowel as vier minarette. Herodiaanse mure en poorte is later aangevul met strukture uit die laat Bisantynse en die vroeë Islamitiese tydperk. Dit kan bereik word deur 11 poorte, 10 vir Moslems en een vir nie-Moslems, en word deur die Israeliese polisie beheer.

Tien Gebooie

Die Tien Gebooie of Tien Woorde (Hebreeus: עשרת הדיברות, Aseret ha'Dibrot), ook Dekaloog (Grieks: δεκάλογος, dekálogos), is 'n lys godsdienstige en morele verpligtinge, wat volgens die Bybel deur God aan Moses gegee is op die berg Sinai (Eksodus 19:23) of Horeb (Dewerim/Deuteronomium 5:2). Die Joodse fees Sjawoe'ot herdenk die ontvangs van die Tien Woorde deur Moses op die berg Sinai.

Tora

Jode glo God praat met die individu sowel as met die Joodse volk deur die Tora (Hebreeus: תּוֹרָה, "onderwysing", "leerstelling", "ontwerp"), die Heilige Skrifte van Judaïsme wat beskou word as God se geopenbaarde wil of instruksies. Die Tora bestaan uit vyf boeke wat die eerste gedeelte van die Tanag vorm en staan in die Jodedom as gamisjá goemsjei torá, "die vyf vyfdes van die Tora" bekend. Die Griekse benaming is Πεντάτευχος (Pentáteuchos), Latyn: Pentateuchus of Pentateuchum, Afrikaans: Pentateug, letterlik: "vyf boeke" of "vyf boekrolle".

In sy breedste betekenis verwys die woord Tora na al die Joodse bepalings en leringe, wat die Tanag sowel as die Talmoed insluit. In die nou betekenis van die woord verwys dit net na die eerste vyf boeke (Pentateug) van die Bybel wat op die berg Sinai deur God aan Moses geopenbaar is.

Vergelykings (taalkunde)

In taalkunde is 'n vergelyking 'n vorm van beeldspraak wat die eksplisiete ooreenkoms tussen die onderwerp en iets totaal anders noem. Dit word gevorm met die woord "soos" / "as", die tweede naamval of 'n koppelwerkwoord.

Bybelboeke
Hoofklassifikasie
Sekondêre klassifikasie
Manuskripte

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.