Christophorus Columbus

Christophorus Columbus (Italiaans: Cristoforo Colombo, Spaans: Cristóbal Colón, Portugees: Cristóvão Colombo, gebore tussen 31 Oktober 1450 en 30 Oktober 145120 Mei 1506) was 'n Italiaanse seevaarder, ontdekkingsreisiger en handelaar wat in 1492 oor die Atlantiese Oseaan gevaar het en die Amerikas bereik het. Met die hulp van Spanje het hy vier reise onderneem op soek na 'n nuwe seeroete na Indië.

Christopher Columbus
Christophorus Columbus
House of Colon COA (2)
Columbus se wapen, soos uitgebeeld in sy Boek van Voorregte (1502)

Vroeër, onder die Pax Mongolica (Mongoolse vrede), was veilige deurgang vanaf Christelike Europa regdeur tot in China moontlik. Dit het egter verander toe die Ottomaanse Turke die Mongoolse Ryk verslaan het en tot Islam bekeer het. In breë konteks het Columbus se verhaal nie soseer met 'n individu te doen nie, maar met hoe die Europeërs see toe gedwing is om die gewilde sy en speserye van die ooste weer te bekom. Portugal was op soek na 'n manier rondom Afrika, maar Columbus het 'n ander plan gehad.

Columbus was nie die eerste persoon wat die Amerikas bereik het nie – hy het dit bevolk gevind. Hy was ook nie die eerste Europeër wat die kontinent bereik het nie – die Wikings het Noord-Amerika al in die 11de eeu besoek. Hulle het egter gedink dat hulle bloot nog 'n eiland gevind het, en niks het gekom van hulle ontmoeting met die inwoners nie. Die landing van Columbus het egter gelei tot die botsing van mense van Amerika, Europa en Afrika en die erfenis van globalisering.

Soos vooraf afgespreek met die Spaanse monarge, het Columbus goewerneurskap van die nuwe gebiede verklaar. Alhoewel party hom gesien het as 'n uitstekende navigator, het baie van sy tydgenote hom gesien as 'n swak administrateur en hy is in 1500 van sy goewerneurspos onthef.

Columbus bly steeds 'n kontroversiële persoon. Party, soos die Amerikaanse inboorlinge, sien hom as verantwoordelik, direk en indirek, vir die dood van tiene tot honderde duisende inboorlinge, uitbuiting van die Amerikas deur Europa en slawerny in die Wes-Indiëse eilande. Ander vereer hom vir die massiewe hupstoot wat sy loopbaan aan Westerse ontwikkeling en kultuur gegee het. As Columbus dit nie gedoen het nie, sou iemand anders egter een of ander tyd wel die Amerikas ontdek het. Columbus het dit egter eerste gedoen.

Christophorus Columbus
’n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Postuum portret van Christophorus Columbus deur Sebastiano del Piombo in 1519. Daar is geen bekende outentieke portrette van Columbus nie.[1]

Gebore Tussen 31 Oktober 1450 en 30 Oktober 1451
Genua, Republiek van Genua (tans Italië)
Oorlede 20 Mei 1506
Valladolid, Kroon van Kastilië, (tans Spanje)
Nasionaliteit Royal Banner of the Crown of Castille (15th Century Style)-Variant.svg Kastilië
Titel Admiraal van die Oseaniese See; Visekoning en Goewerneur van die Indiese
Beroep Ontdekkingsreisiger
Bekend vir Ontdekking van die Amerikas
Religie Rooms-Katolieke Kerk
Huweliksmaat Filipa Moniz Perestrelo
Kind(ers) Diego
Fernando
Handtekening
Columbus Signature

Vroeëre lewe

Daar is nie konsensus oor sy herkoms nie en amper niks is bekend van sy lewe voor 1476 nie. Hy het egter self gesê dat hy van Genua, Italië, gekom het en hieroor blyk daar min twyfel te wees. In Spaans is sy naam Christóbal Colón, en in Italiaans Cristoforo Colombo. Columbus is die Latynse vorm van sy van.

Ontdekkingsreise

Columbus word tradisioneel beskou as die eerste Europeër wat Amerika ontdek het. Hy het in 1492 per ongeluk daar beland terwyl hy in ’n westelike rigting van Spanje af geseil het, op soek na ’n nuwe roete na Asië. Die Spaanse koning en koningin, Ferdinand en Isabella, het sy vaart gefinansier.[2]

Die kaarte hieronder wys die vier verskillende ontdekkingsreise wat Columbus afgelê het. Die plekname is in Spaans, soos hulle in Columbus se tyd bekend gestaan het.

Columbus1

Eerste tog van 3 Augustus 1492 tot 15 Maart 1493

Columbus2

Tweede tog van 25 September 1493 tot 11 Junie 1496

Columbus3

Derde tog van 30 Mei 1498 tot 25 November 1500

Columbus4

Vierde tog van 9 Mei 1502 tot 7 November 1504

Plekke wat na Christophorus Columbus genoem is

Bibliografie

  • Swart, Marius J.: Nogtans leiers. Kaapstad: Nasou, 1969.

Verwysings

  1. (en) Portraits of Christopher Columbus – COLUMBUS MONUMENTS PAGES. Vanderkrogt.
  2. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  • Jack Forbes, Columbus and Other Cannibals, Autonomedia, 1992.
  • Samuel Eliot Morison, Admiral of the Ocean Sea: A Life of Christopher Columbus, Little, Brown and Company, 1991, trade paperback, 680 bladsye, ISBN 0-316-58478-9 (9 ander uitgawes beskikbaar in harde- en sagteband). 'n Biografie wat simpatiek is tenoor Columbus, maar nie blind vir die geweld deur Columbus en sy bemanning nie.
  • Brian Fagan: Clash of the Cultures, AltaMira Press 1997. Bied 'n minder gunstige blik.
  • Felipe Fernandez-Armesto: Columbus, Oxford University Press 1991. Wetenskaplike werk, versigtig om alle stellings te staaf met bronne.
  • Sherburn Cook en Woodrow Borah: Essays in Population History Volume I, University of California Press, 1971
  • John Noble Wilford and Ashbel Green, The mysterious history of Columbus: an exploration of the man, the myth, the legacy, Knopf, 1991, hardeband: ISBN 0-679-40476-7, sagteband: ISBN 0-679-73832-0.
  • J.M. Cohen: The Four Voyages of Christopher Columbus: Being His Own Log-Book, Letters and Dispatches With Connecting Narrative Drawn from the Life of the Admiral by His Son Hernando Colon and Others, Penguin Classics, 1992.
  • James Loewen. Lies My Teacher Told Me: Everything Your American History Textbook Got Wrong. New Press, 1995.

Eksterne skakels

1492

Die jaar 1492 was 'n skrikkeljaar wat volgens die Gregoriaanse kalender op 'n Vrydag begin het. Dit was die 92ste jaar van die 15de eeu n.C. In teenstelling met gewone jare het die jaar 366 dae en 'n 29 Februarie gehad.

Amerikaanse Maagde-eilande

Die Amerikaanse Maagde-eilande (Engels: United States Virgin Islands, USVI, ook American Virgin Islands), amptelik die Maagde-eilande van die Verenigde State (Virgin Islands of the United States), is 'n eilandgroep in Noord-Amerika en 'n eilandgebied van die Verenigde State van Amerika met 'n oppervlakte van 346,36 km² en 'n bevolking van 106 405 in 2010.

Die Amerikaanse Maagde-eilande behoort geografies tot die Maagde-eilande van die Klein Antille. Dit is in die noordoostelike Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Die Amerikaanse Maagde-eilande grens in die weste aan Puerto Rico en in die ooste aan die Britse Maagde-eilande. Dit bestaan uit die hoofeilande Saint Croix, Saint John, Saint Thomas en ander eilande. Die hoofstad en grootste stad is Charlotte Amalie, wat op die eiland Saint Thomas geleë is.

Die Maagde-eilande is in 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en ná die heilige Ursula van Keulen en haar maagd-volgelinge Santa Ursula y las Once Mil Vírgenes ("St. Ursula en haar 11 000 maagde") genoem. Alhoewel die Maagde-eilande deur die Spaanse Ryk opgeëis is, is dié eilande nooit deur Spanjaarde gekoloniseer nie. Tydens die volgende twee eeu was die Maagde-eilande onder beheer van verskeie Europese magte soos Groot-Brittanje, Nederland, Frankryk en Denemarke-Noorweë. Die Deense Wes-Indiese Kompanie het in 1672 Saint Thomas gekoloniseer, gevolg deur Saint John in 1694; Saint Croix is in 1733 van Frankryk gekoop. Terselfdertyd het Groot-Brittanje die nabygeleë eilande Anegada, Jost van Dyke, Tortola en Virgin Gorda van Nederland verower. Die Deense Maagde-eilande is volgens die Deens-Wes-Indië-verdrag op 31 Maart 1917 vir VS$25 miljoen aan die Verenigde State verkoop. Dié eilande is onder die Hersienende Organisasiewet van 22 Julie 1954 georganiseer en vorm tans 'n nie-geïnkorporeerde, georganiseerde grondgebied van die Verenigde State. Die Amerikaanse Maagde-eilande word deur die Verenigde Nasies as 'n gebied sonder eie regering beskou.Krieket was eens die gewildste sportsoort in die Amerikaanse Maagde-eilande, maar Amerikaanse sportsoorte soos Amerikaanse voetbal, basketbal en bofbal word nou meer beoefen. Spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Dié eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.

Antigua en Barbuda

Antigua en Barbuda (Engels: Antigua and Barbuda, [ænˈtiːɡ(w)ə ... bɑːrˈb(j)uːdə], ; Spaans vir: "antiek" en "bebaard") is 'n eilandnasie in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 440 km² en 'n bevolking van 100 963 in 2016. Die land bestaan uit drie eilande: Antigua, Barbuda en die onbewoonde Redonda wat tot die Klein Antille behoort.

Antigua en Barbuda is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is in die ooste van Saint-Martin en St. Kitts en Nevis en in die noorde van Guadeloupe en Montserrat geleë. Die hoofstad en grootste stad is St. John’s, wat op die hoofeiland Antigua geleë is.

Die eilande van Antigua en Barbuda is in 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en die groter eiland is deur hom ná Santa Maria de la Antigua genoem. Die Spanjaarde het dié eilande weens 'n gebreek aan vars water nie gekoloniseer nie, maar siektes uit Europa en Afrika, wanvoeding en slawerny het waarskynlik die inheemse bevolking uitgeroei. In 1632 het die Engelse op Antigua gevestig en in 1684 op Barbuda. Dié eilande is by die Britse Ryk ingelyf en slawe is ná dié eilande se suikerrietplantasies gebring. In 1833 is slawerny deur die Britte verbied. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie.

Op 1 November 1981 het Antigua en Barbuda van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. Dit is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. Al drie eilande is laag bo seespieël en bestaan uit koraal en kalksteen. Die eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.Krieket is Antigua en Barbuda se gewildste sportsoort en word as nasionale sport beskou. Spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Saam met Barbados, Grenada, Guyana, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia en Trinidad en Tobago het dié eilandnasie die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, wat deur Australië gewen is. Antigua en Barbuda lewer beroemde krieketspelers soos Viv Richards en Curtley Ambrose.

Bahamas

Die Bahamas (Engels: The Bahamas, [bəˈhɑːməz], ), amptelik die Gemenebes die Bahamas (Commonwealth of the Bahamas), is 'n eilandnasie in die Noord-Atlantiese Oseaan. Die land sluit bykans 3 000 eilandjies in en bestaan uit lang, lae koraalformasies en lae heuwels. Die Bahamas-eilande is oos van Florida, noordoos van Kuba, noordwes van die Turks- en Caicoseilande en Hispaniola, en suidwes van Bermuda geleë. Die hoofstad en grootste stad is Nassau. Dit het 'n oppervlakte van 13 878 km² en het 'n bevolking van 391 232 in 2016 gehad. Die Bahamas is naas Kuba, die Dominikaanse Republiek en Haïti die vierde grootste eilandnasie van die streek. Danksy die plek se mooi strande en warm weer is dit 'n gewilde toeristebestemming.

Die naam van die Bahamas is óf van die Taino-word ba ha ma ("groot boonste middelland") wat deur die inheemse Indiane gebruik is, óf van die Spaanse baja mar ("vlak water of see" of "laagwater") vir die vlak water van die gebied, afgelei. Die Bahamas is net een van twee lande waarvan die algemene Engelse naam met 'n lidwoord begin, die ander is Gambië (The Gambia).Christophorus Columbus het die Nuwe Wêreld in 1492 vir die eerste keer betree en die Bahamas vir Europa ontdek, maar dit het nooit 'n Spaanse kolonie geword nie. In 1648 is dié eilandgroep deur Engelse koloniste bevolk en het in 1718 'n Britse kroonkolonie geword. Na die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog het die kroon duisende Amerikaanse lojaliste op die eilandgroep gevestig waarheen hul slawe saamgebring het. In 1834 is slawerny amptelik afgeskaf. Vandag maak die nasate van slawe en vrye-Afrikane byna 90% van die Bahamas se bevolking uit. Op 10 Julie 1973 het die Bahamas van die Verenigde Koninkryk onafhanklik verkry.

Die Bahamas is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. Volgens die bruto binnelandse produk per kapita is die Bahamas een van die rykste lande van die Amerikas (naas Kanada en die Verenigde State). Die ekonomie is veral op toerisme en finansiële dienste gebaseer.Krieket is die gewildste sportsoort en is in 1973 as nasionale sport van die Bahamas gelys. Die Bahamas vorm nie deel van die Wes-Indiese Krieketraad nie en vervolgens kan krieketspelers van dié eilandnasie nie vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf nie.

Britse Maagde-eilande

Die Britse Maagde-eilande (Engels: British Virgin Islands, BVI), amptelik die Maagde-eilande (Virgin Islands), is 'n eilandgroep in Noord-Amerika en 'n oorsese gebied van die Verenigde Koninkryk met 'n oppervlakte van 153 km² en 'n bevolking van 27 800 in 2012.

Die Britse Maagde-eilande behoort geografies tot die Maagde-eilande van die Klein Antille. Dit is in die noordoostelike Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Die Britse Maagde-eilande grens in die weste aan die Amerikaanse Maagde-eilande en in die ooste aan Anguilla. Dit bestaan uit die hoofeilande Anegada, Jost van Dyke, Tortola, Virgin Gorda en ander eilande. Die hoofstad en grootste stad is Road Town, wat op die eiland Tortola geleë is.

Die Maagde-eilande is in 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en ná die heilige Ursula van Keulen en haar maagd-volgelinge Santa Ursula y las Once Mil Vírgenes ("St. Ursula en haar 11 000 maagde") genoem. Alhoewel die Maagde-eilande deur die Spaanse Ryk opgeëis is, is dié eilande nooit deur Spanjaarde gekoloniseer nie. Tydens die volgende twee eeu was die Maagde-eilande onder beheer van verskeie Europese magte soos Groot-Brittanje, Nederland, Frankryk en Denemarke-Noorweë. Die Nederlanders het in 1648 'n permanente nedersetting op Tortola gestig en in 1672 het Engeland dié eiland van Nederland verower, gevolg deur die anneksasie van Anegada en Virgin Gorda in 1680. Terselfdertyd het Denemarke tussen 1672 en 1733 beheer oor die nabygeleë eilande Saint Thomas, Saint John en Saint Croix oorgeneem. Die Deense Maagde-eilande is volgens die Deens-Wes-Indië-verdrag op 31 Maart 1917 vir VS$25 miljoen aan die Verenigde State verkoop. Die Britse Maagde-eilande is eers as deel van die Britse Leeward-eilande en later saam met St. Kitts en Nevis geadministreer. Dié eilande het in 1960 aparte koloniale status ontvang en in 1967 outonoom geword. Die Britse Maagde-eilande word deur die Verenigde Nasies as 'n gebied sonder eie regering beskou.Krieket was eens die gewildste sportsoort in die Britse Maagde-eilande, maar Amerikaanse sportsoorte soos Amerikaanse voetbal, basketbal en bofbal word nou meer beoefen. Spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Dié eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.

Colombia

Colombia of Kolombië (Spaans: Colombia, [koˈlombja], ), amptelik die Republiek Colombia (Spaans: República de Colombia, ), is 'n land in die noordweste van Suid-Amerika. Dit grens in die noorde aan die Karibiese See, in die ooste aan Venezuela, in die suidooste aan Brasilië, in die suide aan Peru en Ecuador, en in die weste aan Panama en die Stille Oseaan. Colombia is na Christophorus Columbus, wat die Amerikas in 1492 vir Europa ontdek het, genoem.Bekende Colombiane sluit in die Nobelprys vir Letterkundewenner, Gabriel García Márquez, popsangeres Shakira, Juanes, Formule 1renjaer Juan Pablo Montoya en dwelmbaron Pablo Escobar, wat in 1993 met die hulp van die Amerikaners in 'n koeëlreën uit die weg geruim is. Die land is dan ook berug vir die verbouing van kokaïen en die kombinasie van dwelmhandel en verbouing met 'n gewelddadige politiese stryd teen FARC dra daartoe by dat Colombia die hoogste per kapita moordsyfer in die wêreld het.

Columbia

Columbia is die hoofstad en grootste stad van die deelstaat van Suid-Carolina in die Verenigde State van Amerika. Dit is ook die administratiewe sentrum van Richland County. Columbia is sentraal geleë in die middel van die deelstaat. Die Broad- en Salusa-riviere vloei deur Columbia na die Congaree-rivier. Die stad het 'n bevolking van sowat 124 818 mense.

Columbia is vernoem na Christophorus Columbus, die bekende Spaanse ontdekkingsreisiger.

Conquistador

Die conquistadores (die Spaanse term vir veroweraars) was die soldate, ontdekkingsreisigers en avonturiers wat 'n groot deel van Latyns-Amerika en die Filippyne tussen die 15de en 17de eeu onder Spaanse beheer gebring het.

Nadat Christophorus Columbus die Amerikas ontdek het, het Spanje spoedig ekspedisies uitgestuur om die Nuwe Wêreld te evangeliseer. Vele van hierdie deelnemers was hidalgo's en het tot verarmde adel behoort. Deur na Latyns-Amerika te reis, het hulle gehoop om die fortuin te maak wat hulle in Europa nie kon kry nie. Baie conquistadores het uit Extremadura gekom.

Aanvanklik het baie conquistadores die inheemse bevolking van die streek op gruwelike wyse mishandel. Die Indiane is uitgemoor, misbruik en tot slawerny gebring, en hul stede is vernietig. Hierdeur het vele belangrike kulturele sentra van onder meer die Inkas en die Mayas verdwyn.

Daar was egter ook Spanjaarde wat teen hierdie misdade in opstand gekom het. As gevolg daarvan is in 1542 'n nuwe koloniale wet aangeneem, waarmee gepoog is om die Indiane in Latyns-Amerika beter te beskerm. Vir vele Indiaanse gemeenskappe het hierdie wetgewing egter te laat gekom.

Dominica

Dominica (Engels: [ˌdɒmɪˈniːkə], ; Frans: Dominique), amptelik die Gemenebes Dominica (Engels: Commonwealth of Dominica; Frans: Commonwealth de la Dominique), is 'n eilandnasie in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 750 km² en 'n bevolking van 73 543 in 2016. Dit behoort tot die Klein Antille.

Dominica is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit grens in die noorde aan Guadeloupe en in die suide aan Martinique. Die hoofstad en grootste stad is Roseau.

Dominica is op 3 November 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en ná die Latynse woord vir Sondag (dies Dominica – "dag van die Here"), die weeksdag van die ontdekking, genoem. Die Spanjaarde het probeer om op dié eiland te vestig, maar hulle is deur die inheemse bevolking uitgestoot. In 1632 het die Franse Compagnie des Îles de l'Amérique Dominica en ander Petites Antilles vir Frankryk opgeëis, maar eers in 1690 is eerste permanente nedersettings gestig. Franse houtkappers van Martinique en Guadeloupe het in Dominica gevestig en hulle het slawe uit Wes-Afrika na dié eiland gebring. Tydens die Sewejarige Oorlog het die Britte in 1761 Dominica en ander Franse eilande in die Karibiese gebied verower en dié eiland is volgens die Verdrag van Parys in 1763 deur Frankryk aan Groot-Brittanje afgestaan.

Tydens die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het Frankryk in 1778 met ondersteuning van die inheemse bevolking probeer om Dominica te verower, maar is deur die Britte verslaan en dié oorlog is met die Vrede van Parys in 1783 beëindig. Weens grootskaalse weerstand deur die bevolking kon die Verenigde Koninkryk eers in 1805 met die kolonisering van dié eiland begin en Dominica is by die Britse Ryk ingelyf. In 1833 is slawerny deur die Britte verbied. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie.

Op 3 November 1978 het Dominica van die Verenigde Koninkryk onafhanklik en 'n republiek binne die Britse Statebond geword. Krieket is Dominica se gewildste sportsoort en spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Dié eiland is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.

Grenada

Grenada (Engels: [ɡrɪˈneɪdə], ) is 'n eilandnasie in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 348,5 km² en 'n bevolking van 107 317 in 2016. Dit bestaan uit die hoofeiland Grenada en die suidelike eilande van die Grenadines soos Carriacou; almal behoort tot die Klein Antille.

Grenada is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is in die noordweste van Trinidad en Tobago, in die noordooste van Venezuela en in die suidweste van St. Vincent en die Grenadine geleë. Die hoofstad en grootste stad is St. George’s, wat op die hoofeiland Grenada geleë is.

Grenada is in 1498 deur Christophorus Columbus tydens sy derde reis vir Europa ontdek en La Concepción genoem, ná Maria se onbevlekte ontvangenis van Jesus van Nasaret. Dié eiland is later deur Spaanse matrose ná die Spaanse stad Granada hernoem na Grenada. Alhoewel dit as deel van die Spaanse Ryk beskou is, is dié eiland nooit deur Spanjaarde gekoloniseer nie. In 1650 het egter Frankryk met die kolonisasie van Grenada begin en Franse burgers het op dié eiland gevestig. Op 10 Februarie 1763 is Grenada volgens die Verdrag van Parys in 1763 aan Groot-Brittanje afgestaan en by die Britse Ryk ingelyf. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie. Op 3 Maart 1976 het Grenada volle outonomie oor sy binnelandse sake ontvang en 'n geassosieerde land van die Verenigde Koninkryk geword.

Op 7 Februarie 1974 het Grenada van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. Tydens die Grenada-rewolusie is die regering op 13 Maart 1979 met Kubaanse ondersteuning omvergewerp en die grondwet ontbind. Ná 'n intervensie deur die Verenigde State is die grondwet op 4 Desember 1984 herstel en die regering weer ingesit. Dit is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. Dié eiland is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.Krieket is Grenada se gewildste sportsoort en spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Saam met Antigua en Barbuda, Barbados, Guyana, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia en Trinidad en Tobago het dié eilandnasie die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, wat deur Australië gewen is.

Guyana

Guyana (Engels: [ɡaɪˈɑːnə] of [ɡaɪˈænə], ), amptelik die Koöperatiewe Republiek Guyana (Co-operative Republic of Guyana) is 'n land in die noorde van Suid-Amerika net noord van die ewenaar met 'n oppervlakte van 214 970 km² en 'n bevolking van 773 303 in 2016. Dit word begrens deur Venezuela in die weste, Brasilië in die suide, Suriname in die ooste en die Atlantiese Oseaan in die noorde. Die hoofstad en grootste is Georgetown, wat aan die noordelike kus geleë is.

Guyana is die enigste lidland van die Britse Statebond op die vasteland van Suid-Amerika, hoewel dit dikwels beskou word as deel van die Karibiese gebied weens sy sterk kulturele, historiese en politieke bande met die Karibiese lande. Dit is ook die enigste onafhanklike land van Suid-Amerika met Engels as amptelike taal. Guyana se bevolking bevat 'n groot verskeidenheid van Indiese, Afrika-, Amerindiese en veelrassige groepe.

Guyana se naam is afgelei van die Guyanas, 'n groot hoogland noord van die Amasonerivier en oos van die Río Orinoco; guiana beteken "land van water". Die Guyanas het voorheen dele van Brits-Guyana (Guyana), Frans-Guyana ('n Franse oorsese gebied), Nederlands-Guyana (Suriname), Portugees-Guyana (die Brasiliaanse deelstaat Amapá) en Spaans-Guyana (die Venezolaanse streek Guyana) ingesluit.

Guyana is in 1498 deur Christophorus Columbus tydens sy derde reis vir Europa ontdek en Walter Raleigh het dié gebied in 1596 beskryf. Die Nederlanders het as eerste verskeie kolonies in dié gebied gestig: Essequibo (1616), Berbice (1627) en Demerara (1752). Nadat die Britte die gebied in 1796 oorgeneem het, het die Nederlanders die gebied in 1814 formeel aan die Verenigde Koninkryk afgestaan. In 1831 is die drie kolonies tot Brits-Guyana saamgesluit. Sedert sy onafhanklikheid eis Venezuela die oostelike gebied van Guyana as Guayana Esequiba op.

Op 26 Mei 1966 het Guyana van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword en op 6 Oktober 1980 'n republiek binne die Britse Statebond. Krieket is Guyana se gewildste sportsoort en spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Saam met Antigua en Barbuda, Barbados, Grenada, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia en Trinidad en Tobago het dié land die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, wat deur Australië gewen is.

Hispaniola

Hispaniola (Spaans: La Española, die Spaanse; Taíno: Kiskeya / Quisqueya; Haïtiaanse Kreools: Ispayola) is ná Kuba die tweede grootste eiland van die Groot Antille tussen die Atlantiese Oseaan in die noorde en die Karibiese See in die suide en bestaan tans uit twee lande: Haïti in die weste en die Dominikaanse Republiek in die ooste. Die eiland lê in die suide van die Turks- en Caicos-eilande, in die suidooste van die Bahamas, in die ooste van Kuba, in die noordooste van Jamaika en in die weste van Puerto Rico. Hispaniola is op 5 Desember 1492 deur Christophorus Columbus vir Spanje ontdek en in besit geneem. Die eiland het 'n bevolking van 18 943 000 in 2005 gehad en het 'n oppervlakte van 76 480 km². Hispaniola is veral bekend as eerste Europese kolonie in Amerikas en die oudste Europese nedersettings, wat nou Santo Domingo is.

Jamaika

Jamaika (Engels: Jamaica, [dʒəˈmeɪkə], ) is 'n eilandnasie van die Groot Antille met 234 kilometer in lengte en 80 kilometer in breedte. Jamaika is in die noorde van die Karibiese See geleë en is naas Kuba, die Dominikaanse Republiek, Haïti en die Bahamas die vyfde grootste eilandnasie van die streek. Jamaika beslaan 'n oppervlakte van 10 991 km² en het 'n bevolking van 2 890 299 in 2016 gehad. Jamaika is in die suide van Kuba, in die weste van Hispaniola en in die suidooste van die Kaaimanseilande geleë. Die hoofstad en grootste stad is Kingston. Ander bekende nedersettings sluit in May Pen, Montego Bay en Spanish Town.

Die inheemse bevolking, die Taíno, het die eiland in Arawak Xaymaca genoem, wat "land van woud en water" of "land van fonteine" beteken. Jamaika is in 1494 deur Christophorus Columbus vir Europa ontdek en Santiago genoem. Dit het in 1509 'n Spaanse kolonie geword en is by Nieu-Spanje ingelyf. Die meeste lede van die inheemse Arawak- en Taíno-volke het aan siektes beswyk en die Spanjaarde het slawe uit Wes-Afrika ná die eiland gebring. In 1655 is die eiland deur Engeland verower en na Jamaica hernoem. Jamaika het 'n basis vir kapers geword wat Spaanse skepe op pad na Europa geplunder het. In 1833 is slawerny in die Britse Ryk verbied. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie.

Op 6 Augustus 1962 het Jamaika van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. Jamaika is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. Bekende Jamaikane sluit in die sanger Bob Marley (1945–1981) en die naelloper Usain Bolt (* 1986). Die Jamaikaanse kultuur is vir sy Reggae-musiek en Rastafarianisme bekend. Die eiland is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op buitelandse bankdienste, toerisme en mynbou gebaseer.Krieket is die nasionale sport van Jamaika en ook die eiland se gewildste sportsoort. Spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Wes-Indië kon tot dusver vir elke krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer en ook die eerste twee toernooie (in 1975 en 1979) wen. Saam met Antigua en Barbuda, Barbados, Grenada, Guyana, St. Kitts en Nevis, St. Lucia en Trinidad en Tobago het Jamaika die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, wat deur die verdedigende kampioen Australië gewen is.

Meso-Amerika

Meso-Amerika (Spaans: Mesoamérica; letterlik "Sentraal-Amerika" in Grieks) is 'n historiese kultuurlandskap in die huidige Sentraal-Amerika, waar vergelykbare beskawings tot die ontdekking van Amerika deur Christophorus Columbus in 1492 en die daaropvolgende Spaanse verowering in die 15de en 16de eeu bestaan het.

Hierdie beskawings sluit in die Nahua (Asteke, Tlaxcalteke en Tolteke), Boruca, Chichimeke, Huaxteke, Huichole, Maja (Lacandone), Mayangna, Mazateke, Mixe, Mixteke, Olmeke, Otomí, Purépecha, Totonake en Zapoteke.

Die gebied van Meso-Amerika maak deel uit van die huidige lande Meksiko, Belize, Guatemala, El Salvador, Honduras, Nicaragua en die noorde van Costa Rica.

Volgens die OESO se definisie is Meso-Amerika in ekonomiese opsigte 'n multinasionale streek in Sentraal-Amerika, wat uit die lande Belize, Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras, Nicaragua en Panama, asook die nege suidoostelike Meksikaanse deelstate Campeche, Chiapas, Guerrero, Oaxaca, Puebla, Quintana Roo, Tabasco, Veracruz en Yucatán bestaan.

Nuwe Wêreld

Die begrip Nuwe Wêreld verwys na die kontinente wat deur die Europeërs vanaf 1492 ontdek is. Die woorde Nuovo Mundo is deur die ontdekkingsreisiger Amerigo Vespucci vir die eerste keer gebruik om aan te dui dat sy voorganger, Christophorus Columbus, in teenstelling tot wat hy self dog, nie Asië via die westelike roete bereik het nie, maar 'n gehele "Nuwe Wêreld".

Sentraal-Amerika

Sentraal-Amerika (Engels: Central America, Spaans: América Central, Centroamérica) word soms as die suidelikste deel van Noord-Amerika beskou en soms as 'n aparte gebied in sy eie reg; in elk geval vorm dit 'n landbrug tussen Noord- en Suid-Amerika. Dit streek vanaf Meksiko in die noordweste tot Colombia in die suidooste. Sentraal-Amerika word deur die Karibiese See in die noordooste en die Stille Oseaan in die suidweste begrens, albei seë word deur die Panamakanaal met mekaar verbind. In Nicaragua is die Nicaraguameer geleë, Sentraal-Amerika se grootste meer.

Sentraal-Amerika het oorspronklik deel uitgemaak van die Meso-Amerikaanse kultuurlandskap, met bekende Majastede soos Copán, Joya de Cerén, Quiriguá en Tikal; almal Unesco-wêrelderfenisgebiede. Sentraal-Amerika is, nadat Christophorus Columbus die Amerikas in 1492 vir Europa ontdek het, deur Spanje verower. Tussen 1519 en 1821 het dit deel uitgemaak van Nieu-Spanje, toe na die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog in 1821 die Eerste Meksikaanse Keiserryk gestig is, wat behalwe vir Belize (vanaf 1798 deel van die Britse Ryk) en Panama (deel van Groot-Colombia) ook oor die Sentraal-Amerikaanse lande gestrek het. Nadat die Meksikaanse Keiserryk in 1823 ontbind is, het die Sentraal-Amerikaanse lande hul onafhanklikheid van Meksiko verklaar en die Federale Republiek van Sentraal-Amerika gestig. As gevolg van 'n burgeroorlog het die Federale Republiek van Sentraal-Amerika in 1838 verbrokkel en Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras en Nicaragua het onafhanklike republieke geword. Tussen 1904 en 1914 is die Panamakanaal onder toesig van die Verenigde State gebou en verbind sedertdien die Atlantiese met die Stille Oseaan. Tussen 2007 en 2016 is die kanaal uitgebrei.

Lande wat in Sentraal-Amerika geleë is:

Belize

Costa Rica

El Salvador

Guatemala

Honduras

Nicaragua

Panama

Sevilla

Sevilla (Spaans: [seˈβiʎa], ) is 'n stad in Suid-Spanje en die hoofstad van die Outonome Gewes Andalusië en die Provinsie Sevilla. Sevilla is aan die oewers van die bevaarbare Guadalquivirrivier in 'n uitgestrekte en vrugbare vlakte geleë. Die stad is volgens 'n antieke legende deur die Griekse held Herakles gestig.

Vandag is Sevilla die vierde grootste stad in Spanje en 'n beduidende nywerheids- en handelstad asook 'n gewilde toeristebestemming. Die stadshorison word deur talle historiese torings oorheers. Die oorspronklike stadsentrum is aan die oostelike oewer van die Guadalquivir geleë, terwyl die groot voorstad Triana aan die linkeroewer ontstaan het.

Aangesien Andalusië sowat agt eeue lank onder Moorse heerskappy gestaan het, toon Sevilla se boukuns veral hulle argitektoniese invloede. Die stad was egter al voor die Moorse verowering 'n beduidende kulturele sentrum. Die warm klimaat en die vrugbare land het Fenisiërs, Kartagers en Romeine na die gebied gelok. Twee Romeinse keisers, Trajanus en Hadrianus, was boorlinge van hierdie streek. Later het Christophorus Columbus vanuit 'n nabygeleë seehawe sy ontdekkingsreis begin waartydens hy onbewustelik die Nuwe Wêreld sou ontdek.

Op kulturele gebied word Sevilla vandag met die legendariese vroueheld "Don Juan", Prosper Merimée se opera Carmen (die naamgewende hoofkarakter is 'n werker in Sevilla se ou tabakfabriek wat intussen tot 'n universiteit omskep is), stiergevegte en die beroemde flamenco-dans vereenselwig.

Spaanse verowering van Yucatan

Die Spaanse verowering van Yucatan was 'n baie belangrike onderdeel van die Spaanse kolonisering van die Amerikas. Die koms van die Spanjaarde het die einde vir die laaste Majastede beteken. Die veldtogte teen die Majas is ná die Ontdekking van die Amerikas onder Christophorus Columbus deur die conquistador Hernán Cortés in die vroeë 16de eeu begin en het ook die verowering van Guatemala saam met Petén ingesluit. In teenstelling met die Spaanse verowering van die Asteekse Ryk en die Spaanse verowering van die Inka-ryk is die totale verowering van Yucatan eers in 1697 beëindig. Met die verowering is die skiereiland is die Vise-Koninkryk Nieu-Spanje gestig en by die Spaanse Ryk ingelyf.

St. Kitts en Nevis

St. Kitts en Nevis (Engels: Saint Kitts and Nevis, ), amptelik die Federasie St. Kitts en Nevis of Federasie St. Christopher en Nevis (Federation of Saint Christopher and Nevis of Federation of Saint Kitts and Nevis), is 'n eilandnasie in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 261 km² en 'n bevolking van 54 821 in 2016. Dit bestaan uit twee eilande: St. Kitts en Nevis wat tot die Klein Antille behoort.

St. Kitts en Nevis is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is in die suidooste van Sint Eustatius, Saba, Sint Bartolomeus‎, Saint-Martin/Sint Maarten en Anguilla, in die suidweste van Antigua en Barbuda en in die noordweste van Montserrat geleë. Die hoofstad en grootste stad is Basseterre, wat op die hoofeiland St. Kitts geleë is.

Die eilande St. Kitts en Nevis is in 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek; hulle is onderskeidelik San Martín (vir Nevis) en Sant Yago (vir St. Kitts) genoem. Die naam van sy beskermheilige San Cristóbal is deur Christophorus Columbus nie aan St. Kitts gegee nie, maar aan die eiland Saba, sowat 20 myl verder noordwes. Dit het egter deur 'n karteringsfout by St. Kitts beland en die Engelse het die vertaling daarvan – St. Christopher – vir dié eiland gebruik. In die 17de eeu was "Kit(t)" 'n algemene bynaam vir Christophorus, waaruit St. Kitts vir dié eiland ontstaan het.

In 1623 het Engelse op dié eilande gevestig, binnekort gevolg deur Franse, en albei het saamgestem om dié eilande te deel. St. Kitts en Nevis het die beginpunt vir die kolonisasie van die Engelse en die Franse in die Karibiese gebied geword. Die Britte het vanaf hier Antigua en Barbuda, Montserrat en Anguilla gekoloniseer en die Franse Guadeloupe en Martinique. Tydens die laat 17de eeu het die Engelse en Franse oor die beheer van dié eilande gebaklei en dit is in 1713 deur Frankryk aan Engeland afgestaan. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie. Op 27 Februarie 1967 het St. Kitts en Nevis volle outonomie oor sy binnelandse sake ontvang en 'n geassosieerde land van die Verenigde Koninkryk geword.

Op 19 September 1983 het St. Kitts en Nevis van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. St. Kitts en Nevis is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. St. Kitts en Nevis is die kleinste soewereine land in die Amerikas en die Westelike Halfrond, sowel volgens oppervlak asook bevolking. Dié eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.Krieket is St. Kitts en Nevis se gewildste sportsoort en spelers mag vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan uitdraf. Saam met Antigua en Barbuda, Barbados, Grenada, Guyana, Jamaika, St. Lucia en Trinidad en Tobago het dié eilandnasie die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, wat deur Australië gewen is.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.