Bronstydperk

Die Bronstydperk is 'n tyd in die geskiedenis wat daardeur gekenmerk word dat die mens met koper- en bronswerktuie begin werk het, eerder as klipwerktuie. Beskawings het begin vorm, mense het in stede begin saamwoon en skrif het as kommunikasiemiddel begin ontwikkel.

Collier de Penne
Bronstydperk (Muséum de Toulouse).

Groot beskawings van die Bronstydperk

  • Sumeries 3400 v.C.
  • Egipties 3050 - 322 v.C.
  • Minoïes 2500 - 1400 v.C.
  • Indus 2600 - 2000 v.C.
  • Hetities 1750 - 1200 v.C.
  • Babilonies 1782 - 1595 v.C.
  • Shang-Chinees 1600 - 1027 v.C.
  • Miceens 1500 - 1300 v.C.
  • Zhou-Chinees 1027 - 256 v.C.
  • Fenisies 1000 - 574 v.C.
  • Olmek 1000 - 600 v.C.
  • Chavin 1000 - 200 v.C.
  • Etruskies 900 - 100 v.C.
  • Assiries 883 - 612 v.C.
Antieke Egipte

Antieke Egipte was die beskawing aan die Nylrivier, waar die hedendaagse Egipte lê, tussen omstreeks 3100 v.C. en die verowering van Egipte deur Alexander die Grote in 332 v.C. Dit was een van die wêreld se ses beskawings wat in die 31ste eeu v.C. onafhanklik ontstaan het, en wel ná die vereniging van Bo- en Benede-Egipte onder die eerste farao. Die geskiedenis van Antieke Egipte strek oor 'n paar stabiele koninkryke: die Ou Ryk van die Vroeë Bronstydperk, die Middelryk van die Middel-Bronstydperk en die Nuwe Ryk van die Laat Bronstydperk. Hulle is afgewissel met tydperke van relatiewe onstabiliteit wat die "Oorgangstydperke" genoem word.

Egipte het die hoogtepunt van sy mag tydens die Nuwe Ryk bereik, in die tyd van die Ramses-farao's, toe dit net so sterk soos die Hetitiese, Assiriese en Mitanni-ryk was. Daarna het dit geleidelik verswak. Egipte is in die Derde Oorgangstydperk en die Laat Tydperk deur verskeie ander volke binnegeval of verower, soos die Kanaäniete/Hyksos, Libië, Nubië, Assirië, Babilonië en Antieke Griekeland. Ná die dood van Alexander die Grote het een van sy generaals, Ptolemeus Soter, hom as heerser van Egipte gevestig. Dié Griekse Ptolemeïese Dinastie het tot 30 v.C. oor Egipte regeer, toe dit onder Cleopatra deur die Romeinse Ryk verower is en 'n Romeinse provinsie geword het.Die sukses van die Antieke Egiptiese beskawing is deels te danke aan die land se vermoë om by die toestande van die Nylriviervallei aan te pas. Die voorspelbare oorstromings en beheerde besproeiing van die vrugbare vallei het groot oeste tot gevolg gehad, en dit het weer gelei tot 'n digter bevolking, sosiale ontwikkeling en uitgebreide kultuur. Met ekstra bronne tot sy beskikking kon die regering hom wend tot mineraalontginning in die vallei en omringende woestynstreke, en dit het ook die ontwikkeling van 'n vroeë skryfstelsel, die organisering van kollektiewe bouwerk en landbouprojekte, handel met ander streke en die opbou van 'n militêre mag moontlik gemaak. Dit alles was onder beheer van farao's met behulp van 'n uitgebreide godsdiensstelsel.Onder die baie prestasies van Antieke Egipte was 'n stelsel wat die bou van enorme piramides, tempel en obeliske moontlik gemaak het, asook 'n wiskundestelsel, 'n praktiese en doeltreffende medisynestelsel, besproeiing- en landboustelsels, die eerste bekende skepe, glastegnologie, nuwe vorme van letterkunde en die eerste bekende vredesverdrag (met die Hetiete).Antieke Egipte het 'n blywende nalatenskap gehad. Sy kuns en argitektuur is wyd nageboots en sy oudhede is tot in al die uithoeke van die aarde versprei. Sy monumentale ruïnes inspireer reisigers en skrywers al eeue lank. 'n Nuutgevonde respek vir oudhede en uitgrawings in die vroeë moderne tyd het gelei tot Egiptologie (die wetenskaplike ondersoek van die Antieke Egiptiese beskawing) en 'n groter waardering vir sy kulturele nalatenskap.

Bul (sterrebeeld)

Vir ’n artikel oor die sterreteken, sien Bul (sterreteken).Die Bul of Stier (Latyn: Taurus) is ’n sterrebeeld in die noordelike hemelruim. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemaeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde.

Die Bul is een van die sterrebeelde van die diereriem en een van die oudstes. Dit was reeds in die vroeë Bronstydperk bekend, toe dit die ligging van die son aangedui het tydens die lentenagewening. Dit is opgeneem in die Antieke Babiloniese, Egiptiese en Griekse mitologie.

Die Bul het verskeie interessante aspekte. Twee van die naaste oop sterreswerms aan die Aarde kom hierin voor: die Plejades en die Hiades, wat albei met die blote oog gesien kan word. Die rooi reus Aldebaran is die helderste ster in die sterrebeeld. In die noordwestelike deel is die supernova-oorblyfsel Messier 1, beter bekend as die Krap-newel. Die veranderlike ster T Tauri is die prototipe van ’n klas voor-hoofreekssterre, die T Tauri-sterre. Verskeie meteoorreëns kom in die sterrebeeld voor.

Grieke

Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Grieks.

Die Grieke (afgelei van Latyn: Graeci, letterlik: "Griekstalige volke"; Grieks: Έλληνες, Éllines, [ˈelines], letterlik: "Hellene") is 'n Indo-Europese etniese groep en nasie inheems aan Griekeland en omliggende eilande, Siprus, Albanië, Turkye, Suid-Italië en ander streke. Hulle deel 'n gemeenskaplike Griekse kultuur, afkoms en praat Grieks as moedertaal. Grieke vorm die titulêre nasie van Griekeland, waar hulle omtrent 95% van die bevolking uitmaak. Die meeste Grieke is aanhangers van die Grieks-Ortodokse Kerk (98%).Sedert die Antieke tydperk bewoon Grieke die kus van beide die Egeïese en die Ioniese See, waar die Griekse taal sedert die Bronstydperk gepraat word. Die Antieke Grieke het vroeg met hul stigting van kolonies rondom beide die Middellandse en die Swartsee begin en handel bedryf. Vroeë kulturele sentrums sluit in Athene, Sparta, Thebe, Thessaloniki, Alexandrië, Smyrna en Konstantinopel. Die Grieke is bekend vir hul bydraes tot kultuur, kuns, verkenning, letterkunde, filosofie, politiek, argitektuur, musiek, wiskunde, wetenskap en tegnologie, besigheid, kookkuns en sport. Die Griekse mitologie is een van die mees bekende en het die latere Romeinse mitologie sterk beïnvloed.

Wêreldwyd leef tussen 14 en 17 miljoen Grieke, veral in Griekeland (10,8 miljoen), gevolg deur die Verenigde State (tussen 1,3 en 3 miljoen), Siprus (650 000), Duitsland (395 000), Australië (378 000), die Verenigde Koninkryk (tussen 290 000 en 345 000), Kanada (252 960) en Albanië (200 000). Nadat Wes-Duitsland in die 1950's en 1960's sy grootste ekonomiese opswaai beleef het, die sogenaamde "Wirtschaftswunder", is Grieke saam met Turke en ander nasies van die Middellandse See genooi om in dié land te gaan werk en woon. Tans leef sowat 45 000 Grieke in Suid-Afrika, veral in groot stede soos Kaapstad, Johannesburg en Pretoria.

Helladiese tydperk

Helladies is ’n moderne argeologiese term vir ’n reeks tydperke in die kultuur van die vastelandse Antieke Griekeland tydens die Bronstydperk. Dit word gewoonlik in argeologie en kunsgeskiedenis gebruik as aanvulling van twee parallelle terme: "Sikladies", met verwysings na min of meer dieselfde reeks in die Egeïese Bronstydperk, en "Minoïes", met verwysing na die beskawing van Kreta.

Die skema word veral vir pottebakkersware gebruik as ’n dateringstelsel. Kunsartikels kan in Vroeg-, Middel- en Laat-Helladies ingedeel word, na aanleiding van die styl en tegniek. Laat-Helladies (LH) en Vroeg-Helladies (EH) word weer verdeel in I, II en III en dié nog verder (sien onder Tydperke). Sekere datums word aan die verskillende fases geheg, hoewel die term begin gebruik is voor die uitvinding van radiokoolstofdatering.

Die drie terme "Helladies", "Sikladies" en "Minoïes" verwys na die plek van oorsprong. Middel-Minoïese voorwerpe kan dus in die Siklade ontdek word, maar dit maak hulle nie Middel-Sikladies nie.

Hellenistiese Griekeland

In die Griekse geskiedenis stem Hellenistiese Griekeland ooreen met die tydperk tussen die dood van Alexander die Grote in 323 v.C en die anneksasie van die Klassieke Griekse hartland deur Rome in 146 v.C.

Tydens die Hellenistiese tydperk het die belangrikheid van Griekeland in die Griekssprekende wêreld skerp gedaal. Die twee grootste sentrums van dié tyd was Alexandrië en Antiochië. Stede soos Pergamon, Efese, Rhodos en Seleucië was ook belangrik, en die toenemende verstedeliking van die Middellandse See-gebied was kenmerkend van die tydperk.

Hetiete

Die Hetiete (soms ook Hettiete, Hittiete of Chetiete genoem) was 'n volk met 'n Indo-Europese taal wat aan die begin van die 2de millennium v.C. vanuit die ooste na Anatolië gemigreer het en hier tussen die 18de en 16de eeu v.C. 'n magtige ryk met die hoofstad Hattuša (naby die huidige Turkse dorp Boğazköy in die noordelike Sentraal-Anatolië) gevestig het.

Omstreeks 1600 v.C. het 'n Hetitiese koning met sy strydmag in die Eufraatgebied opgeruk en Babilon geplunder, maar later na sy Anatoliese bergplato teruggetrek. Teen die middel van die 15de eeu v.C. was die Hetitiese Ryk een van die groot moondhede in die Nabye Ooste en het naas Anatolië groot dele van Noordwes-Sirië oorheers. Hul militêre oorwinnings was dikwels aan hul gesofistikeerde strydwaens te danke.

Die mag van die Hetitiese konings het in die 14de eeu v.C. onder die regering van Suppiluliuma I 'n hoogtepunt bereik toe hulle Sirië suidwaarts tot by die monding van die Litani-rivier in die huidige Libanon, die grootste deel van Klein-Asië, dele van die noordelike Levant en Bo-Mesopotamië oorheers het.

Ná 'n groot veldslag tussen Hetitiese en Egiptiese magte naby Kadesj in 1285/1286 v.C. het dié twee moondhede 'n vredesooreenkoms gesluit waarin hulle hul invloedsfere langs 'n grenslyn dwarsdeur Sirië afgebaken het.

Die Hetitiese kultuur weerspieël enkele van hierdie soort kontakte met vreemde volke. Alhoewel die Hetiete oor hul eie Anatoliese hiërogliewe beskik het, het hulle die Mesopotamiese wigskrif oorgeneem en amptelike dokumente in Akkadies geskryf, die destydse verkeerstaal. In die Hetietiese kuns kan invloede uit Egipte aangetoon word, waaronder motiewe soos die sfinks en die gevleuelde sonskyf, maar ook ontlenings uit die Siriese en Babiloniese kuns.Die Hetitiese kuns het nogtans sy eie unieke kenmerke ontwikkel. Hul belangrikste bydraes tot die kuns en kultuur van die Nabye Ooste is indrukwekkende reliëfskulpture en massief versterkte nedersettings. Vir hul klein dierskulpture het Hetitiese kunstenaars naas brons ook elektrum gebruik, 'n goud-silwer-legering. Hul grootste prestasie was egter die gebruik van yster wat vanaf die 15de eeu v.C. in Anatolië vervaardig is.

Alhoewel die Hetiete algemeen as 'n volk van die bronstydperk gedefinieer kan word, was hulle nogtans voorlopers van die Ystertydperk wat reeds in die 14de eeu v.C. met die vervaardiging van ystervoorwerpe begin het, soos uit briewe blyk waarin vreemde heersers sulke goedere aangevra het.

Ysterertse word dwarsoor die wêreld aangetref, maar min beskawings van die Bronstydperk het oor die benodigde voorrade van koper en tin beskik om bronslegerings te vervaardig. Meestal is tenminste een van die twee metale uit ander gebiede ingevoer. Die buitelandse handel was 'n koninklike voorreg, terwyl die heersers ook oor 'n monopolie op die mynbou beskik het sodat hulle die vervaardiging van bronswapens en ander goedere volledig kon kontrolleer.

Om yster te vervaardig, was naas die maklik toeganklike ystererts net eenvoudige steenkooloonde en tegniese kennis nodig. Die Hetiete het ontdek dat ystererts onder invloed van hitte tot 'n poreuse massa verander wat deur hamerslae tot stawe gevorm en daarna tot sekels, ploegskare, lanse en swaarde gesmee kon word.Vanaf omstreeks 1180 v.C. het die Hetitiese Ryk in 'n aantal kleiner onafhanklike stadstate verbrokkel waarvan sommige tot in die 8ste eeu v.C. bestaan het.

Horiete

Die Horiete, Hoerriete of Choerriete (Horities: Ḫu-ur-ri) was tydens die Bronstydperk ’n volk in die Nabye Ooste. Hulle het ’n Horities-Oerartiese taal, Horities, gepraat en in Anatolië en Noord-Mesopotamië gewoon. Die grootste en invloedrykste Horitiese nasie was die multi-etniese koninkryk Mitanni, wat waarskynlik gevorm is deur ’n Indo-Europeessprekende heersersklas wat oor ’n hoofsaaklik Horitiese bevolking regeer het. Die bevolking van die Indo-Europeessprekende Hetitiese Ryk in Anatolië het ’n groot getal Horiete ingesluit en daar is ’n aansienlike Horitiese invloed op die Hetitiese mitologie.

Teen die vroeë Ystertydperk was die Horiete in ander volke opgeneem, behalwe miskien in die koninkryk Urartu.

Kanaän

Kanaän (Noordwes-Semities: knaʿn; Hebreeus: כנען, Knaʿn; Masoreties: כְּנָעַן, Kənā'an) was in die laat 2de millennium v.C. ’n streek in die Antieke Nabye-Ooste. Volgens beskrywings in die Bybel het dit min of meer met die Levant ooreengestem, veral die suidelike dele (Israel en Palestina) waar die vertellings in die Hebreeuse Bybel afspeel.

Knossos

Knossos (Grieks: Κνω(σ)σός, Knōs(s)os) is die grootste Bronstydperk argeologiese terrein op Kreta en is Europa se oudste stad genoem. Opgrawings hier het baie bygedra tot kennis oor die Minoïese beskawing.

In die 19de eeu is materiaal van ’n terrein suid van die Kretensiese hoofstad, Heraklion, weggedra om huise in die stad te bou. Daar is vermoed dat die ruïnes van die kolossale Minoïese paleis van Knossos op die terrein geleë was en in 1878 het die Engelse argeoloog Arthur John Evans besluit om ondersoek in te stel voor al die boumateriaal weggedra word. Hy het met uitgrawings by Knossos begin en dit het gou duidelik geword dat ’n Minoïese paleis wel hier gestaan het, waarskynlik die paleis van die legendariese koning Minos.

Evans het die westelike vleuel van die paleis ontdek en baie erdewerk, vase en kanne is hier gevind, asook ’n belangrike fresko.

Kolchis

Kolchis of Colchis (Georgies: კოლხეთი, Kolcheti; Grieks: Κολχίς, Kolchis) was ’n streek en koninkryk in die Suid-Kaukasus. Dit was geleë aan die ooskus van die Swartsee, waar die hedendaagse Georgië is.

Die inwoners was waarskynlik die voorouers van die huidige Swan-, Mingreliese en Laz-volk. Hulle het reeds in die Middel-Bronstydperk aan die Swartsee gewoon. Kolchis was eeue lank ’n onafhanklike koninkryk, tot met sy anneksasie in 164 v.C. deur Pontus.

In die Griekse mitologie was Kolchis die plek waar die Goue Vlies was wat deur Jason en die Argonoute gesoek is. Die Goue Vlies in die mite is geskoei op die destydse gebruik onder die plaaslike inwoners om goudstof uit riviere deur vliese te sif.

Koper

Koper is 'n chemiese element in die periodieke tabel met die simbool Cu en atoomgetal van 29.

Mesopotamië

Mesopotamië is die vrugbare vallei om en tussen die Eufraat- en die Tigris-rivier in die Midde-Ooste. Die woord Mesopotamië is van Grieks afgelei en beteken letterlik "land tussen die riviere". Die grootste gedeelte van die gebied is vandag in Irak geleë, maar dele daarvan is in Koeweit, Sirië, Turkye en Iran.

Die gebied word dikwels die "bakermat van die beskawing" genoem. Die ou skryfstelsel spykerskrif is vir die eerste keer omstreeks 3000 v.C. hier deur die Sumeriërs gebruik. Hulle het in stadstate gewoon (stede met ’n onafhanklike regering). Volgens Genesis in die Ou Testament het Abraham in Mesopotamië gewoon voordat hy na Kanaän getrek het.

Die histories belangrike stede in Mesopotamië is Uruk, Nippur, Nineve en Babilon, sowel as groot territoriale state soos die Akkadiese Ryk, die Derde Dinastie van Ur en die Assiriese Ryk. Van die histories belangrikste Mesopotamiese leiers is Ur-Nammu (koning van Ur), Sargon (wat die Akkadiese Ryk begin het), Hammoerabi (wat die Ou Babiloniese staat ingestel het) en Tiglat-Pileser I (wat die Assiriese Ryk gestig het).

Die antieke Sumeriërs en Mesopotamiërs het aansienlike tegnologiese vooruitgang bewerkstellig, onder andere besproeiing, vloedbeheer en die gebruik van riviere vir handel.

Volgens die vroegste rekords het die Mesopotamiërs landbou beoefen en mak diere, of vee, aangehou. Babilon is waarskynlik die eerste stad wat deur gevestigde mense gebou is. Mesopotamië is ook die plek waar die wiel die eerste keer gebruik is. Aanvanklik is dit vir pottebakkery aangewend; later het die Sumeriërs dit vir vervoer aangepas.

Neolitikum

Die Neolitikum was die laaste deel van die Steentydperk en beteken "Nuwe Steentydperk". Dit was ’n tydperk van primitiewe tegnologie en sosiale ontwikkeling. In die Neolitikum het vroeë dorpe ontwikkel, asook landbou, die mak maak van diere, gereedskap en die eerste tekens van oorlogvoering. Die tydperk het sowat 10 000 jaar gelede begin en met die begin van die Bronstydperk geëindig. Die Sumeriërs het eerste begin boer, in omstreeks 9500 v.C. Teen 7000 v.C. het landbou afsonderlik in Indië en Peru ontwikkel; teen 6000 v.C. in Egipte; teen 5000 v.C in China en omstreeks 2700 v.C. in die noordelike Suid-Amerika.

Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk (Latyn: IMPERIVM ROMANVM) verwys na die gebied wat tussen 27 v.C. en die 5de en 6de eeu n.C. deur 'n reeks van keisers geregeer is. Dit was een van die grootste ryke in die wêreldgeskiedenis en die bevolking het gegroei tot 'n geskatte 50 tot 90 miljoen. Gebiede wat 'n deel van die ryk was, het gestrek vanaf Brittanje tot Egipte en het vele nasies en kulture ingesluit.

Geskiedkundiges verdeel die geskiedenis van die Romeinse Ryk meestal in drie groot tydperke - die monargie of koningstyd, die republiek en die keiserryk. Die geskiedenis van die Romeinse monargie, wat eeue lank bestaan het, is in 'n wasigheid gehul. Groot dele daarvan is net in die vorm van stigtingsmites oorgelewer waarin Rome se bestaan vir latere generasies gelegitimeer is. Argeologiese vondse dui daarop dat die gebied van Rome ten minste vanaf die tweede millennium v.C., die Bronstydperk dus, bewoon was. Antieke Romeine gee die stigtingsdatum van hul stad en die regentskap van die eerste Romeinse koning, Romulus, as die middel van die 8ste eeu v.C. aan.

Die Romeinse Keiserryk het na die burgeroorlog, wat na Julius Caesar se dood uitgebreek het, uit die Romeinse Republiek en die daaropvolgende Prinsipaat onder Augustus ontstaan. Alhoewel die Romeinse Ryk bestaan het tot die jaar 476, het die Ryk vir alle praktiese doeleindes geskei tussen die ooste en weste.

Wat Rome se groei tot 'n wêreldryk van ongekende formaat des te meer opspraakwekkend maak, is die feit dat die Romeine betreklik laat tot die toneel van Mediterreense moondhede toegetree het. Hul opstyging tot 'n streeksmoondheid in die laaste eeue v.C. val saam met 'n lang tydperk van algemene instabiliteit in die Mediterreense wêreld. Op 'n baie geskikte moment in die geskiedenis het Rome met sy fondament van republikeinse instellings en sy gedissiplineerde strydmag die kans gegryp om sy mededingers een na die ander met die militêre slaankrag van sy legioene uit te skakel.'n Verskeidenheid teorieë is deur wetenskaplikes ontwikkel aangaande die krisis en ondergang van die Wes-Romeinse Ryk en die Mediterreense beskawing in die laat antieke tydperk. Kyle Harper, professor in die departement van klassieke lettere aan die Universiteit van Oklahoma het in sy werk The Fate of Rome, wat in 2017 gepubliseer is, 'n ander, opspraakwekkende verklaring gelewer. Hy verduidelik die samehang tussen die antieke klimaatoptimum, wat tot omstreeks 150 n.C. voortgeduur het, en die bloeitydperk van die Romeinse Ryk. In die daaropvolgende oorgangstydperk het volgens hom ingrypende veranderinge plaasgevind as gevolg van klimatiese veranderinge, natuurrampe, epidemieë en hongersnode waartydens die Mediterreense bevolking gehalveer is.

Sikladiese beskawing

Die Sikladiese of Kukladiese beskawing is die Bronstydperk-kultuur van die Siklade in Griekeland, in die Egeïese See. Dit het geduur van omstreeks 3200 tot 2000 v.C.

Siprus

Die Republiek Siprus, ook Ciprus (Grieks: Κυπριακή Δημοκρατία / Kypriakí Dimokratía, Turks: Kıbrıs Cumhuriyeti), is 'n eilandnasie op die eiland Siprus in die noordooste van die Middellandse See, sowat 70 km suid van Turkye, 100 km wes van Sirië, en 500 km oos van Griekeland. Siprus is die derde grootste eiland in die Middellandse See ná Sisilië en Sardinië. Dit het vlaktes aan die suidkus en ’n sentrale vlakte met berge noord en suid daarvan. Die hoofstad en grootste stad is Nicosia (Grieks: Levkosía en Turks: Lefkoşa). Ander belangrike stede op die eiland is Limassol, Larnaca, Paphos, Famagusta en Kyrenia.

Soria

Soria is die hoofstad van die gelyknamige, yl bevolkte Spaanse provinsie in die ooste van die Outonome Gemeenskap van Kastilië en León. Soria is met 'n bevolking van 40 147 mense (2012) die tweede kleinste provinsiale hoofstad in Spanje ná Teruel. Sowat veertig persent van die totale bevolking van die provinsie is in Soria saamgetrek.

Soria, wat aan die boloop van die Duero-rivier geleë is, pronk met 'n ryk erfenis van Romaanse bouwerke, waaronder veral stadsmure en kerkgeboue. Die konkatedraal San Pedro, wat in die 16de eeu in die platereske styl omgebou is, behoort met sy klooster en kruisgang saam met die kloosterkerk Santo Domingo en die bouvalle van die kerk en kruisgang van die klooster San Juan de Duero tot die belangrikste argitektoniese besienswaardighede in Soria.

San Pedro dien sedert die jaar 1959 as die tweede biskopskerk van die bisdom Osma-Soria, naas die katedraal in El Burgo de Osma sowat 60 kilometer van Soria af. Twee 18de eeuse bedevaartskerke in die Barokstyl, die Ermita de la Virgen del Mirón en die Ermita de San Saturio, wat aan Soria se beskermheilige gewy is, kan aan die stadsrand besigtig word.

Die bouvalle van Numantia is agt kilometer noord van Soria naby Garray geleë. Hierdie Keltiberiese oppidum dateer oorspronklik uit die Bronstydperk en is in 133 v.C. ná 'n reeks aanvalle en 'n lang beleg deur Romeinse troepe onder die bevel van die Jongere Scipio Aemilianus ingeneem en verniel. Die bouvalle staan oop vir die publiek, terwyl die argeologiese vondse uit die gebied in die Museo Nmantino in Soria besigtig kan word.

Volgens 'n hofbesluit van die Soriaanse statevergadering, die Cortes, uit die jaar 1380 is die Joodse bevolking hul reg ontneem om hul eie strafsake te bereg. Daarnaas is 'n dekreet van wyle koning Hendrik II van Kastilië († 1379) bevestig waarvolgens Jode van loopbane in die koninklike administrasie en adellike huise uitgesluit was. Hierdie besluite het die grondslag vir die haatpreke van die aartsdiaken Ferran Martinez gevorm wat in 1391 tot bloedige anti-Joodse pogroms gelei het.

Steentydperk

Die Steentydperk is die deel van die geskiedenis van die wêreld wat die eerste wydverspreide gebruik van tegnologie in menslike evolusie aantoon, asook die verspreiding van die mens van die grasvelde van Oos-Afrika na die res van die wêreld. Die tydperk eindig met die ontwikkeling van landbou, die temming van sommige diere en die smelting van kopererts om metaal te vervaardig. Daar word na dié tydperk verwys as voorgeskiedenis, aangesien die mensdom nog nie kon skryf nie en daar dus geen opgetekende rekords uit die tydperk dateer nie.

Die Steentydperk strek oor 'n tydperk van ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede (2,3 miljoen jaar v.C.) tot ongeveer 3500 v.C. Die datums is egter slegs 'n riglyn, aangesien die oorgang tot die bronstydperk (en in sommige kulture direk na die ystertydperk) van streek tot streek verskil. Die Steentydperk bestaan uit die Paleolitikum (ook genoem die Ou of die Vroeë Steentydperk) en die Neolitikum (ook genoem die Nuwe Steentydperk). In sommige gebiede was daar ook 'n tussenfase wat bekend staan as die Mesolitikum of die Epipaleolitikum.

Ystertydperk

Die Ystertydperk is die periode wat volg op die Bronstydperk en word gekenmerk deur die bewerking van yster en die maak van ystergereedskap. Daar is nie ’n wêreldwye begintyd van die periode nie, aangesien mense in verskillende streke op verskillende tye begin het om ystergereedskap te maak.

In Griekeland, die Levant en Indië het die Ystertydperk omstreeks 1200 v.C. begin en in Wes-Europa omstreeks 800 v.C.

Van die voorwerpe wat in dié periode van yster gemaak is, sluit in wapentuie en gereedskap omdat die metaal sterker en makliker bewerkbaar was as brons. Brons, wat onbelangriker was, is gebruik vir die maak van versierings en perdetuie.

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.