1-2 Kronieke

1-2 Kronieke is die 13de en 14de boeke van die Hebreeuse Bybel.

1 Kronieke

Die boek begin met 'n reeks geslagsregisters waaruit blyk dat die Here sy beloftes van Genesis 1:28 en 12:2 gehou het en dan word gebeure wat reeds in Samuel en Konings beskryf is, oorvertel. Ander gegewens word bygebring om die besondere boodskap wat in die boek na vore kom, te beklemtoon: die goeie sorg van God vir sy volk onder die leiding van koning Dawid en sy nasate. In die boek val die klem sterk op wat Dawid gedoen het vir die tempeldiens in Jerusalem.

2 Kronieke

Die boodskap van 1 Kronieke word hier voortgesit: God se goeie sorg vir sy volk onder die leiding van Dawid en sy nasate. Dawid is die maatstaf waarvolgens die regering van die konings van Juda – Jerusalem beoordeel word. Groot klem val op die bou en inwyding van die tempel deur Salomo, die hervormings deur Asa, Josafat, Hiskia en Josia, en die mag wat koning Agab van Israel se afgodsdiens ook in Juda uitgeoefen het, 'n mag wat gebly het ten spyte van hervormingspogings en wat uiteindelik gelei het tot die ondergang van die ryk.

Bron

Asjkenasiese Jode

Asjkenasiese Jode (Hebreeus: אַשְׁכְּנַזִּים‬, Asjkenasim, [ˌaʃkəˈnazim]; eenvoud: Asjkenasi, [ˌaʃkəˈnazi]; Moderne Hebreeus: [aʃkenaˈzim] of [aʃkenaˈzi]; ook יְהוּדֵי אַשְׁכְּנַז‬, Jehoedéj Asjkenas, letterlik: "Jode van Asjkenas") is 'n Joodse diasporabevolking wat rondom die einde van die eerste millennium in die Heilige Romeinse Ryk ontstaan het. Die naam is afgelei van Asjkenas (אשכְּנז), 'n seun van Gomer, kleinseun van Jafet en agterkleinseun van Noag in Genesis van die Hebreeuse Bybel. Jeremia verwys egter na 'n koninkryk Asjkenas wat saam met Ararat (Urartu) en Minni (Manneërs) oorlog teen Babilon moes voer om dié stad te vernietig. In die Middeleeuse Rabbynse literatuur het dié term na Duitsland verwys.

Asjkenasiese Jode vorm die grootste en derde oudste groep binne die Joodse diaspora (Jode buite Israel) met 'n geskiedenis van meer as 2000 jaar. Rondom 200 v.C. het Palestynse Jode 'n gemeente in Rome gestig. As gevolg van die nederlae tydens die Joodse oorlog (70 n.C.) en die Bar Kochba-opstand (130 n.C.) is nog meer Palestynse Jode as slawe na Italië gebring. Baie van hul nasate het hulle later in gebiede noord van die Alpe gevestig, terwyl ander na die Islamitiese verowering van Jerusalem in die 7de eeu na Palestina teruggekeer het. Met die verowering van Germania Inferior en Germania Superior onder keiser Augustus het Jode hulle saam met Romeine in dié twee provinsies gevestig. Die riviere Ryn en Donau het grense van die Romeinse Ryk geword en dus was die Joodse vestiging in stede suid en wes van dié riviere beperk. Vroeë sentra was Augusta Treverorum (Trier), Mogontiacum (Mainz), Colonia Claudia Ara Agrippinensium (Keulen), Borbetomagus (Worms) en Noviomagus Nemetum (Speyer).

Die tradisionele diasporataal van Asjkenasiese Jode is Jiddisj ('n Germaanse taal met elemente van Hebreeus en Aramees) wat ontwikkel nadat hulle in Noord-Europa ingetrek het: Beginnende met Duitsland en Frankryk in die Middeleeue. Oor eeue heen het hulle Hebreeus slegs as 'n liturgiese taal gebruik, tot die herlewing van Hebreeus as 'n amptelike taal in Israel. Dwarsdeur hul tyd in Europa het Asjkenasiese Jode baie belangrike bydraes tot filosofie, geleerdheid, letterkunde, kuns, musiek en wetenskap gelewer.Die term "Asjkenasiese Jode" verwys na Joodse setlaars wat tydens die Middeleeue gemeentes tussen die riviere Loire in Noord-Frankryk en die Rynrivier in Wes-Duitsland gestig het. Toe hulle hulle daar gevestig het, het hulle hul tradisies aangepas wat van Babilon, die Heilige Land en die Wes-Mediterreense gebied na hul nuwe omgewing saamgeneem is. Die Asjkenasiese ritus het in stede soos Mainz, Worms en Trier ontwikkel. Die vooraanstaande rabbi Shlomo Itzhaki (Rashi) sou 'n beduidende invloed op die Joodse godsdiens hê.

In die laat Middeleeue, as gevolg van godsdienstige vervolging soos tydens die Kruistogte en ander pogromme, het die meerderheid van die Asjkenasiese bevolking geleidelik ooswaarts verskuif en uit die Heilige Romeinse Ryk na die gebiede van die latere Pools-Litause Gemenebes (bestaande uit dele van die hedendaagse Wit-Rusland, Letland, Litaue, Pole, Rusland en Oekraïne) beweeg. In die loop van die laat 18de en 19de eeu het daardie Jode wat in die Duitse lande gebly of teruggekeer het, 'n kulturele heroriëntering opgedoen; onder die invloed van die Haskalá en die stryd om emansipasie sowel as die intellektuele en kulturele gis in stedelike sentrums het hulle geleidelik die gebruik van Jiddisj laat vaar en Duits as taal aangeneem en gelyktydig nuwe vorme van Joodse godsdienstige lewe en kulturele identiteit ontwikkel.Die Holocaust van die Tweede Wêreldoorlog het die Asjkenasiese Jode probeer vernietig en lede van feitlik elke Joodse familie is vermoor. Volgens ramings het die Asjkenasiese Jode in die 11de eeu drie persent van die totale wêreldwye Joodse bevolking gevorm, terwyl volgens 'n skatting van 1930 (naby dié bevolking se piek) hulle 92 persent van die wêreldwye Jode gevorm het. Onmiddellik voor die Holocaust was die getal Jode wêreldwyd ongeveer 16,7 miljoen. Statistiese syfers wissel vir die kontemporêre demografie van Asjkenasiese Jode en streek van 10 tot 11,2 miljoen. Sergio Della Pergola het in 'n ruwe skatting van Sefardiese en Mizrachi-Jode geraam dat Asjkenasiese Jode nie meer as 74% van die Joodse bevolking wêreldwyd verteenwoordig nie. Volgens ander ramings maak die Asjkenasiese Jode sowat 75% van die Jode wêreldwyd uit. Die meeste Jode in Suid-Afrika is van Asjkenasiese Jode afkomstig.

Volgens genetiese studies oor Asjkenasiese Jode – wat beide hul vaderlike en moederlike afstamming ondersoek het – beskik hulle oor 'n oorheersende hoeveelheid gedeelde Midde-Oosterse voorgeslagte, aangevul deur verskillende persentasies van Europese invloed. Hierdie studies het aangekom by uiteenlopende gevolgtrekkings met betrekking tot beide die graad en die bronne van hul Europese afkoms en het oor die algemeen gefokus op die mate van die Europese genetiese oorsprong wat in Asjkenasiese Jode se moederstamme waargeneem is.Asjkenasiese Jode (met hul tradisionele taal Jiddisj) word onderskei van Sefardiese Jode (met hul tradisionele taal Ladino), wat afstam van Jode wat hulle in die Iberiese Skiereiland gevestig het, en Mizrachi-Jode (met tradisionele tale soos Aramees, Arabies en Persies), wat afstam van Jode wat in die Midde-Ooste gebly het. Die belangrikste verbindende elemente is die gemeenskaplike geloof, Judaïsme, en die gebruik van Hebreeus as liturgiese taal.

Kreasionisme

Kreasionisme of skeppingsleer (afgelei van die Latynse creatio "skepping") is 'n religieuse geloof in die feit dat die Mensdom, lewe, die Aarde en die heelal deur God (die Skepper), geskep is. Die term word egter meer gereeld gebruik om te verwys na die religieuse verwerping van evolusie, ten gunste van 'n interpretering van die skeppingverslag in die Bybel as 'n verduideliking wat die geskiedenis, diversiteit en ingewikkeldheid van lewe op aarde verklaar. Hierdie teenstryd staan as die kreasionisme-ewolusie-omstredenheid bekend. In Christelike kringe word kreasionisme gewoonlik op 'n letterlike interpretering van die skeppingsverhaal in die eerste boek van die Bybel, Genesis, gebaseer. Kreasionisme word sterk aan die Christelike religie gekoppel, alhoewel ander religieë ook Skepper-geleide skeppingsverhale het, maar wat tot variërende mates van die Christelike weergawe verskil.

Noag

In Abrahamitiese gelowe was Noag (Hebreeus: נֹחַ, Nōaḥ; Siries: ܢܘܚ, Nukh; Amharies: ኖህ, Noḥ; Arabies: نُوح, Nūḥ; Grieks: Νῶε, Nôe) die tiende en laaste van die voor-vloedse patriarge. Sy verhaal is in die Hebreeuse Bybel in Beresjiet/Genesis se hoofstukke 5–9 opgeneem. Beresjiet/Genesis se vloedverhaal is van die bekendste in die hele Bybel. Noag word ook uitgebeeld as "die eerste landbouer van die grond' en die "uitvinder van wyn".

Volgens Beresjiet/Genesis het Noag getrou gewerk om sy Noag se ark op God (JHWH/Allah) se bevel te bou, om uiteindelik nie net sy eie gesin nie, maar die hele mensdom en alle landdiere van uitsterwing tydens die groot vloed te red. Daarna het God 'n Bond met Noag gesluit en belowe om nooit weer die aarde se wesens met 'n vloed te vernietig nie. Die vloedverhaal word gevolg deur die verhaal van die vloek van Gam.

Bykomende tot Beresjiet/Genesis word Noag in die Hebreeuse Bybel se 1-2 Kronieke, die Boek van Tobit, die Boek van Wysheid, Sirag, Jesaja, Esegiël, 2 Esdras, 4 Makkabeërs genoem. Daarbenewens word na hom in die Nuwe Testament se Evangelie volgens Matteus en Evangelie volgens Lukas, die Brief aan die Hebreërs, 1 Petrus en 2 Petrus verwys. Noag was ook die onderwerp van latere Abrahamitiese gelowe se Heilige skrifte soos die Koran (Soeras 71, 7, 1, en 21) en die Baha’i se Kitáb-i-Íqán.

Volgens die Bybel is die hele hedendaagse mensdom van Noag se drie seuns Sem, Gam en Jafet afkomstig. Sem word as die voorvader van die Semitiese volke soos Amhare, Arabiere, Arameërs, Assiriërs, Galdeërs, Hebreërs en Tigrinya beskou. Ham was die voorvader van die Hamitiese volke soos Koesjiete en Egiptenare. Van Jafet stam glo die Indo-Europese volke af. Volgens hierdie stelsel het Noag se drie seuns se afstammelinge die drie destyds bekende vastelande Afrika, Asië en Europa ná die sondvloed bevolk. Dié teorie word algemeen as verouderd beskou.

Staat Palestina

Palestina (Arabies: فلسطين, Filasṭīn), amptelik die Staat Palestina (Arabies: دولة فلسطين, Dawlat Filasṭīn), is 'n land met omstrede status, geleë in Wes-Asië, en word deur Israel beset en geëis. Die Staat Palestina is deur die Palestynse Bevrydingsorganisasie verklaar op 15 November 1988 en word deur meer as 134 lande erken. Op 31 Oktober 2011 het Palestina 'n lid van Unesco geword en op 29 November 2012 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies met 'n groot meerderheid vir die opname van Palestina as waarnemer gestem. Palestina bestaan uit die Gasastrook en die Wesoewer.

Sedert die begin van die Palestynse Burgeroorlog tussen die Fatah en Hamas is die Grondgebiede verdeel: Die Fatah beheer die Wesoewer, terwyl die Hamas die Gasastrook regeer. Die Fatah is 'n lid van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, maar nie die Hamas nie. Nes die Suid-Afrikaanse ANC en die Namibiese SWAPO is die Fatah 'n lid van die Sosialistiese Internasionaal (SI), terwyl die Hamas deur verskeie lande as 'n terroristiese organisasie gelys word.Die PLO het op 15 November 1988 in Algiers die onafhanklikheid van die Staat Palestina met Jerusalem as hoofstad verklaar, wat deur 137 (van 'n total van 193) VN-lidlande erken word en geniet sedert 2012 die status as 'n waarnemer-land sonder lidmaatskap in die Verenigde Nasies – wat die erkenning van staatskap impliseer. Dit is 'n lidland van die Arabiese Liga, Organisasie van Islamitiese Samewerking, G77 en die Internasionale Olimpiese Komitee asook ander internasionale organisasies.

Tiglat-Pileser I

Tiglat-Pileser I (uit Hebreeus: תִּגְלַת פִּלְאֶסֶר; Akkadies: 𒆪𒋾𒀀𒂍𒊹𒊏 Tukultī-apil-Ešarra, "my vertroue is in die seun van Ešarra") was ’n koning van Assirië tydens die Middel-Assiriese tydperk (1114-1076 v.C.). Volgens die Assirioloog Georges Roux was hy "een van die twee of drie groot Assiriese monarge sedert die dae van Shamshi-Adad I".Hy was bekend vir sy uiteenlopende militêre veldtogte, sy entoesiasme vir bouprojekte en sy belangstelling in wigskrif-tabletversamelings. Onder sy bewind het Assirië een van die groot magte van die Antieke Nabye Ooste geword, ’n posisie wat die koninkryk vir die volgende sowat 500 jaar behou het. Hy het Assiriese beheer tot in Anatolië en Sirië en tot aan die oewers van die Middellandse See uitgebrei. Uit inskripsies wat bewaar gebly het, lyk dit of hy versigtig ’n vrees by beide sy onderdane en sy vyande ingeboesem het.

Tiglat-Pileser III

Tiglat-Pileser III (uit Hebreeus: תִּגְלַת פִּלְאֶסֶר; Akkadies: 𒆪𒋾𒀀𒂍𒊹𒊏 Tukultī-apil-Ešarra, "my vertroue is in die seun van Ešarra") was in die 8ste eeu v.C. (745-727 v.C.) ’n prominente koning van Assirië wat gevorderde burgerlike, militêre en politieke stelsels in die Nieu-Assiriese Ryk ingestel het.Hy het die Assiriese troon tydens ’n burgeroorlog oorgeneem en die koninklike familie vermoor. Hy het groot veranderings in die regering teweeggebring en die doeltreffendheid en sekuriteit daarvan grootliks verbeter. Hy het Assirië se eerste vaste leër op die been gebring.Tiglat-Pileser III het ’n groot deel van die Antieke Nabye Ooste onderwerp; in die suide sy mede-Mesopotamiërs in Babilonië en Galdea, asook verskeie volke van die Arabiese Skiereiland; in die suidweste Israel, Juda, Filistea, Samarra, Moab, Edom, die Suteërs en Nabatea; in die noorde Urartu, Armenië en Skitië in die Kaukasus, Krimmerië aan die Swartsee, en Nairi; in die noordweste ’n groot deel van oostelike en suidwestelike Klein-Asië, insluitende die Hetiete, Frigië en Karië; in die weste die Grieke van Siprus en Aram (die hedendaagse Sirië), en die Mediterreense stadstate Fenisië/Kanaän; in die ooste Persië, Medië, die Gutiërs, die Manneërs en Elam. Later tydens sy bewind is hy ook in Babilonië as koning gekroon.

Tiglat-Pileser III het opstand teen die Assiriese bewind ontmoedig deur middel van die gedwonge deportasie van duisende mense dwarsoor sy ryk. Hy was een van die suksesvolste militêre aanvoerders in die wêreldgeskiedenis – hy het die grootste deel van die wêreld verower wat aan die Assiriërs bekend was.

Bybelboeke
Hoofklassifikasie
Sekondêre klassifikasie
Manuskripte

Ander tale

This page is based on a Wikipedia article written by authors (here).
Text is available under the CC BY-SA 3.0 license; additional terms may apply.
Images, videos and audio are available under their respective licenses.